Kerkorde

DIE KERKORDE (2015) met Namibiese Bepalings en Reglemente (2016)

 

Inhoudsopgawe

DIE KERKORDE (2015) met Namibiese Bepalings (2016)

HOOFSTUK 1.

DIE BELYDENIS, AARD EN ORDE VAN DIE KERK.

HOOFSTUK 2.

DIE AMPTE VAN DIE KERK.

2.1      Algemene bepalinge.

2.2      Predikante.

HOOFSTUK 3.

DIE VERGADERINGE VAN DIE KERK.

3.1      Algemene bepalinge.

3.2      Besondere bepalinge.

3.2.1       Die kerkraad.

3.2.2       Die ring.

3.2.3       Die sinode.

3.2.4       Die Algemene Sinode.

HOOFSTUK 4.

DIE ARBEID VAN DIE KERK.

4.1      Die openbare erediens 

4.2      Die sakramente.

               Die Doop.

               Die Nagmaal

4.3      Die Jeugbediening.

4.4      Die Herderlike sorg.

4.5      Gemeentebediening.

4.6      Gestuurdheid (Missio Dei)

4.7      Diens van barmhartigheid.

4.8      Die Dienswerk van die gelowiges.

4.9      Leer en aktuele sake.

4.10    Rentmeesterskap.

4.11    Diensverhoudinge.

HOOFSTUK 5.

KERKLIKE OPSIG, TUG EN DISSIPLINE.

Doel en voorskrifte.

Kerklike opsig en tug.

Tugwaardige sondes.

Lidmate, ampsdraers, gelegitimeerdes en werknemers

Kerklike dissipline.

Tug- en dissiplinêre maatreëls.

               Dooplidmate.

               Belydende lidmate.

               Ouderlinge en diakens.

               Predikante, emeriti en proponente/werknemers met verslag aan die Algemene Taakspan Predikantesake in die geval van gelegitimeerdes

Appèl

Opheffing van tug- en/of dissiplinêre maatreëls

               Lidmate.

               Ouderlinge en diakens.

HOOFSTUK 6.

6.1      Kerk en staat

6.2      Kerk, maatskappy en vrye vereniging.

6.3      Kerk en onderwys.

6.4      Kerk en ekumeniese betrekking.

6.5      Tussen-orde.

REGLEMENTE.

  1. Reglement vir die bestuur van eiendomme, goedere en fondse.
  2. Reglement vir Diensgroep vir Administrasie (DGA)
  3. Reglement vir vermeerdering, kombinering, eenwording en samesmelting van gemeentes.
  4. Reglement vir die prosedure wat gemeentes volg by die voorgestelde wysiging van belydenis.
  5. Reglement vir die bestuur van diensverhoudinge by ongeskiktheid en onvermoë.
  6. Reglement vir die Actuarius Synodi
  7. Reglement vir Appèl en beswaar
  8. Reglement van orde.
  9. Reglement vir die Ringskommissie.
  10. Reglement vir die Namibiese Kuratorium.
  11. Reglement vir tug en dissipline.
  12. Reglement vir die tussen-kerklike diensgroep Namibië.
  13. Reglement vir die Skriba van die ringskommissie.
  14. Reglement vir die bevoegdheid van predikante, proponente en emeriti
  15. Reglement vir beroeping, bevestiging, demissie en emeritaat van predikante.
  16. Reglement vir die verlof van predikante. 
  17. Reglement vir voltyds-onbepaalde termynposte.
  18. Reglement vir tentmakerposte. 
  19. Reglement vir vaste termynposte. 
  20. Reglement vir die gebeurlikheidsfonds. 
  21. Reglement vir die salarisondersteuningsfonds. 
  22. Reglement vir die teologiese opleiding en vormingsfonds. 
  23. Reglement vir die Vennootskapstrustfonds. 

BELEIDSBESLUITE.

  1. Bevoegdheid van Geestelike werkers (2006) 
  2. Homoseksualiteit (2016) 
  3. Namibiese Roepingsverklaring (2003) 

4     Namibiseringsbeleid (1991) 

5     Verskillende benaminge vir predikantsposte, (2006) 

6     Gesindheid by tughandeling (2006) 

RIGLYNE EN REËLS. 

  1. Riglyne vir die beslegting van kerklike geskille. 
  2. Riglyne vir gemeentes wat te klein word om volle pos vir predikant te dra. 
  3. Inspraak deur lidmate by kerkvergaderinge. 
  4. Riglyne vir die invul van registers. 
  5. Reëls van die Mediese Fonds. 
  6. Die Ned Geref Kerk en ander Christelike kerke en groepe. 

 

 

 

DIE KERKORDE (2015) met Namibiese Bepalings (2016)

 

HOOFSTUK 1

DIE BELYDENIS, AARD EN ORDE VAN DIE KERK

Artikel 1

Die Nederduitse Gereformeerde Kerk staan gegrond op die Bybel as die heilige en onfeilbare Woord van God. Die leer wat die Kerk in ooreenstemming met die Woord van God bely, staan uitgedruk in die Formuliere van Eenheid soos vasgestel op die Sinode van Dordrecht in 1618-1619, naamlik die sewe en dertig artikels van die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die vyf Dordtse Leerreëls.

Bepaling 1: Belydenis

1.1  Die kerk erken ook die historiese belydenisskrifte van die Christelike Kerk naamlik:

1.1.1       Die Apostoliese Geloofsbelydenis,

1.1.2       Die geloofsbelydenis van Nicea, en

1.1.3       Die geloofsbelydenis van Athanasius;

1.2  Die Bepalinge van die Kerkorde van Dordrecht word, wat die kerkregtelike handelinge en optrede van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Namibië betref, as ʼn gesaghebbende bron beskou.

Artikel 2

Die Nederduitse Gereformeerde Kerk is deur God Drie-enig geroep om deel te neem aan die missie van God in die wêreld. Die Kerk word deur die Heilige Gees opgebou om God se eer te dien en verkondig die bediening van versoening en die heil van Christus.

Artikel 3

3.1  Waar die Woord van God eis dat in die gemeente van Christus alles welvoeglik en ordelik moet toegaan (1 Kor 14:40), word in die volgende artikels ’n aantal bepalinge gegee vir die lewe en werk van die Kerk met die oog op die volbrenging van haar taak en roeping ooreenkomstig die Heilige Skrif en die Belydenis.

3.2  Hierdie bepalinge handel oor die ampte in die Kerk, die vergaderinge van die Kerk, die werksaamhede van die Kerk, regering en tug van die Kerk en die betrekkinge van die Kerk na buite.

3.3  Die Nederduitse Gereformeerde Kerk reël haar eie interne orde op grond van haar onvervreembare roeping en interne bevoegdheid as kerk van Jesus Christus en ook op grond van haar reg tot vryheid van godsdiens.

Bepaling 3: Samestelling en lidmaatskap

3.1   Samestelling

3.1.1   Die Kerkverband van die Ned Geref Kerk in Namibië sluit in al die gemeentes van die Kerk wat binne die geografiese grense van Namibië geleë is, met uitsondering van die gemeente Zambezi te Katima Mulilo.  Hierdie gemeentes behoort tot die kerkverband op grondslag van die aanvaarde belydenis, Kerkorde en Aanvullende Bepalinge en Reglemente van die Ned Geref Kerk in Namibië.

3.1.2   Elke gemeente het vasgestelde grense en ʼn naam en bestaan uit lidmate soos beskryf in Bep 3.3 (NGKN Riglyn 6: 3.4 en Alg Sin 2015 Funksionele Besluit 28).

3.1.3   Grenswysiginge en naamsveranderinge van gemeentes geskied deur (die) ring(e), met kennisgewing aan die skriba van die Moderamen en die Kerkbode met die oog op publikasie.

3.1.4   In buitengewone gevalle kan die sinode / Moderamen op aanbeveling van die ring, goedkeur dat ʼn gemeente vir andertaliges of ʼn bestaande gemeente met ʼn wyk vir andertaliges, sonder geografiese grense funksioneer.

3.2   Lidmate van die Kerk

Elke gemeente bestaan uit:

3.2.1   die belydende lidmate wat binne die bepaalde grense vir die gemeente deur die ring vasgestel, woonagtig is en wie se lidmaatskap deur die kerkraad in ooreenstemming met die Kerklike Bepalinge daaromtrent erken en aangeteken is;

3.2.2   belydende lidmate uit ander kerkverbande met volle lidmaatsregte wat in buitengewone omstandighede tydelik (per reis-attestaat/getuigskrif) lid wil word van die gemeente omdat daar geen gemeente vir hulle bestaan waar hulle kan assosieer nie.

3.2.3   die dooplidmate, dit wil sê die gedoopte kinders van belydende lidmate wat binne die gemeentegrense woon en wie se lidmaatskap deur die kerkraad aangeteken is.

3.2.4   die nog ongedoopte kindertjies van belydende lidmate wat kragtens die verbond van God in betrekking tot die gemeente staan.

3.2.5   persone buite die geografiese grense van die gemeente wat langs die ordelike weg (sien Vorm 1.1) lidmaatskap van die gemeente verkry het.

3.3   Beëindiging van Lidmaatskap

ʼn Persoon in Bep 3.2 beskrywe,

3.3.1   bly ʼn lidmaat van die gemeente waar hy assosieer totdat hy hom met ʼn ander gemeente assosieer;

3.3.2   se lidmaatskap word beëindig indien:

3.3.2.1   hy skriftelik by die plaaslike gemeente bedank en die bedanking deur die kerkraad aanvaar is;

3.3.2.2   die kerkraad bewus word dat hy hom van die gemeente afgeskei het deur gedrag of andersins;

3.3.2.3   hy langs die weg van die kerklike tug, en na raadple­ging van die ring, van die gemeente afgesny is en die kerkraad dit aan die gemeente bekend gemaak en in die register aangeteken het (Vorm 1.9).

3.4   Lidmate wat verhuis

ʼn Lidmaat wat verhuis:

3.4.1     staan onder die opsig en tug van die kerkraad van die gemeente waar hy assosieer;

3.4.2     moet sy lidmaatskap binne ses maande indien by die nuwe gemeente waar hy assosieer;

3.4.3     geniet geen lidmaatsregte alvorens sy lidmaatskap nie aangeteken is in die registers van die gemeente nie;

3.4.4     verbeur alle lidmaatsregte in die gemeente(s) waar hy voorheen geassosieer het, selfs al staan sy lidmaatskap nog daar aangeteken.

3.5   Lidmate wat elders skoolgaan, studeer of opleiding ondergaan

3.5.1       Bediening van dooplidmate in skoolkoshuise

3.5.1.1   Ouers, tuisgemeentes van koshuiskinders, sowel as gemeentes waarin die koshuis val, moet steeds gesamentlik, met wedersydse oorleg­ple­ging en ooreenkoms volgens Algemene Sinode riglyne, die verantwoordelikheid teenoor elke kind aanvaar vir:

3.5.1.1.1    volledige en ononderbroke kategese

3.5.1.1.2    gereelde Woordbediening

3.5.1.1.3    doeltreffende pastorale versorging

3.5.1.1.4    heelhartige kerklike meelewing en

3.5.1.1.5    effektiewe kerklike toesig

3.5.1.2     Onderlinge ooreenkoms volgens Algeme­ne Sinode riglyne moet op inisiatief van die ouers en die kerkraad van die tuisgemeente met die kerkraad van die gemeente binne wie se grense die koshuis geleë is, getref word ten einde die beste pastorale versorging en toesig te verskaf (AS1990).

3.5.1.3     Dooplidmate in skoolkoshuise word vir statistiese doeleindes gereken tot die gemeente waar hul ouers woon.

3.5.1.3.1    Bogenoemde bepaling geld nie in die volgende uitsonderlike gevalle nie: Gekommitteerde kinders in pleegsorg en kinders vanuit die buiteland.  Hulle word gereken tot dooplid­mate van die koshuisgemeente.

3.5.1.4     Wanneer ʼn dooplidmaat 5 dae per week in ʼn skoolkoshuis woon en elke naweek huis toe gaan, katkiseer hy in die gemeente waar sy ouers woon. Gedurende die week val hy onder die toe­sig en sorg van die kerkraad van die gemeente binne wie se grense die koshuis val. Midweekse katkisasie is ʼn onderlinge reëling.

3.5.1.5     Dooplidmate wat net enkele naweke per kwar­taal huis toe gaan, val onder die toesig en sorg van die kerkraad van dié gemeente binne wie se grense die koshuis is.  Hulle katkiseer ook daar en mag met die verlof van die kerkraad elders belydenis van geloof aflê.

3.5.2       Bediening van Belydende Lidmate in Opleiding

Belydende lidmate wat skoolgaan, studeer of een of ander vorm van opleiding ondergaan, behoort tot die gemeente waar hulle woon of loseer terwyl hulle skoolgaan, studeer of met opleiding besig is.

3.6   Aansoek om Lidmaatskap

In alle gevalle van aansoek om lidmaatskap van ʼn Ned Geref Gemeente handel die kerkraad volgens die voorskrifte van die Algemene Sinode.

3.7   Attestaat

3.7.1       Oorplasing met attestaat

Lidmate word deur middel van attestaat oorge­plaas na ander gemeentes van die Ned Geref Kerkverband.

3.7.2       Verlore attestaat

Indien ʼn attestaat verlore raak, word ʼn duplikaat uitgereik met ʼn aantekening dat dit ʼn duplikaat is.

3.7.3       Inhandiging van attestaat

Die lidmaatskap van ʼn nuwe lidmaat word aan­vaar deur die gemeente waar die lidmaat hom met inhandiging van ʼn attestaat aangemeld het.

3.7.4       Heropname van persone wat hulle afgeskei het

Persone wat hulle van die gemeente afgeskei het, met of sonder aansluiting by kerkgenootskappe soos omskrywe in NGKN Riglyn 6, mag weer as lidmate opge­neem word indien hulle:

3.7.4.1     bewys gelewer het van opregte berou oor die dwaling;

3.7.4.2     tot bevrediging van die kerkraad geant­woord het op ʼn ondersoek deur die kerkraad;

3.7.4.3     weer in die openbare erediens of voor ʼn kommissie van die kerkraad bevestigend geant­woord het op die vrae in die formulier vir die Openbare Belydenis van Geloof.

3.7.5       Attestaat vir predikant

Die akte van demissie geld as attestaat vir ʼn predikant wat van standplaas verwissel.

3.7.6       Attestaat vir Proponente

Proponente moet attestate aanvra van die gemeentes waar hulle gewoon het en dit inlewer vóór bevestiging.

3.8    Kerklike Voorregte

Die vergunning aan lidmate om hulle kerklike voorregte in ʼn ander gemeente te geniet, sien alleen op erediensbywoning, kategesebywo­ning (doop­lidmate) en die gebruik van die sakramente.

3.9      Lidmaatsregte

Lidmaatsregte is

3.9.1       die gebruik van die sakramente;

3.9.2       die voorreg om ʼn kerklike amp te beklee;

3.9.3       die uitoefening van stemreg;

3.9.4       die reg om besware en klagtes in te dien;

3.9.5       die reg om geraadpleeg te word deur kerklike vergaderings;

3.9.6       die reg om inspraak te lewer by kerklike vergaderings (vgl NGKN Riglyn 3).

 

HOOFSTUK 2

DIE AMPTE VAN DIE KERK

2.1 Algemene bepalinge

Artikel 4

4.1   Christus verrig al die dienswerk in sy kerk en koninkryk deur sy Woord en Gees. Hy doen dit ondermeer deur gebruik te maak van:

4.1.1 die dienswerk[1] van die drie besondere ampte in die kerk, te wete:

  • dié van predikant[2],
  • dié van ouderling,
  • dié van diaken,

om die gelowiges toe te rus vir hulle dienswerk in die kerk en die wêreld; én

4.1.2 die dienswerk van al die gelowiges[3].

4.2  Die drie besondere ampte is gelykwaardig, maar word in opdrag en werk onderskei. By die uitoefening van hulle roeping mag geen ampsdraer oor ander ampsdraers heerskappy voer nie, aangesien Christus die enigste Hoof, Koning en Meester van sy kerk is.

Artikel 5

Niemand mag in die kerk van Christus in een van die besondere ampte dien sonder dat die persoon

  • op wettige wyse beroep (of verkies) is,
  • die nodige approbasie verkry het, en
  • bevestig is nie.

2.2 Predikante

Artikel 6

6.1   Vir die toelating tot die bediening van die Woord word vereis:

6.1.1 geskiktheid vir die amp[4];

6.1.2 deeglike teologiese opleiding[5]; en

6.1.3 ondertekening van die legitimasieverklaring waarin die ondertekening van die Formuliere van Eenheid vervat is.

6.2   Die Algemene Sinode bepaal die vereistes vir die opleiding, die aard en die toesig daaroor en die plekke waar dit moet geskied op aanbeveling van die Algemene Taakspan Teologiese Opleiding.

6.3   Die Algemene Kuratorium word saamgestel deur die Algemene Sinode volgens die Reglement vir die Algemene Taakspan Teologiese Opleiding.

6.4   Wanneer meer as een sinode om historiese of ander redes by ’n plaaslike kuratorium betrokke is, reël die betrokke sinodes onderling die wyse waarop die kuratorium saamgestel word. Ander sinodes het die reg om op eie koste elk een verteenwoordiger in die kuratorium te benoem.

6.4.1 Die sorg vir, asook die beheer en toesig oor die opleiding van evangeliedienaars word deur ’n plaaslike kuratorium behartig.

6.4.2 Die plaaslike kuratorium is verantwoordelik vir die keuring, begeleiding, toesighouding oor, eksaminering en aanbeveling vir toelating tot die evangeliebediening van teologiese studente. Hierdie verantwoordelikhede kan namens die Kuratorium deur (’n) kommissie(s) van die kuratorium behartig word.

6.4.3 Die NG Kerkdosenteraad is meer bepaald vir die akademiese opleiding van die studente verantwoordelik.

6.4.4 Een lid van die NG Kerkdosenteraad het met adviserende stem sitting in die plaaslike kuratorium.

6.5 Die kuratorium benoem ’n proponentskommissie wat bestaan uit soveel lede as wat hy nodig ag uit bevoegde persone voorgelê aan die kuratorium deur die onderskeie sinodes en wat nie noodwendig lede van die kuratorium hoef te wees nie. Die proponentskommissie het as opdragte:

6.5.1 Die keuring en aanbeveling by die kuratorium van kandidate ná voltooiing van hul teologiese studies.

6.5.2 Die afneem van colloquium doctum.

Bepaling 6: Reëling oor vulling van poste vir predikant

6.1   Omruil van standplase

6.1.1     Leraars wat weens buitengewone om­stan­dig­hede daartoe verplig word of wat ʼn omruiling van standplaas begeer, kan in oorleg met die betrokke kerkrade reëlings tref vir die omruiling van hulle standplase.

6.1.2     Sodanige reëlings moet met ʼn geskrewe ooreenkoms deur die betrokke kerkrade goedge­keur word waarna dit vir goedkeuring aan die ring / rings­kommissie voorgelê word.

6.1.3     Hierdie ooreenkoms tot omruiling moet eers deur die betrokke ringskommissies goedge­keur word voordat uitvoering daaraan gegee mag word.

6.1.4     Kennisgewing hiervan word in die Kerkbo­de gegee.

6.1.5     Die bepalinge ten opsigte van die bevestiging van ʼn predikant in ʼn gemeente is ook hier van toepassing. (Sien ook die Alg Sin 2015 Funksionele Besluit  10)

6.2   Aanvang van Vakature

ʼn Vakature ontstaan:

6.2.1     in ʼn nuutgestigte gemeente op die datum van stigting;

6.2.2     in ʼn bestaande gemeente op die datum van afsterwe, emeritaat, demissie, bedanking, ontslag in gevolge Art 64.5.4, afsetting of losmaking ingevolge Art 12 van die Kerkorde.

6.2.3     by vermeerdering van poste vir predikant op die datum waarop die ring/ ringskommissie die kerkraad se versoek tot die skepping van so ʼn pos goedgekeur het.

6.3   Beroeping / Uitstel van Beroep

6.3.1     Wanneer ʼn vakature ontstaan, of skriftelik kennis ontvang is dat ʼn vakature sal ontstaan, moet die kerkraad so spoedig moontlik ʼn beroep uitbring, met dien verstande dat die beroepsbrief meld wat die vroegste datum van diensaanvaarding sal wees.

6.3.2     Indien ʼn beroep nie binne drie maande na ontstaan van die vakature of die bedanking van ʼn beroep uitgebring kan word nie, moet die toe­stemming van die ring/ringskommissie gevra word.

6.4   Wie is Beroepbaar?

6.4.1     Slegs Predikante en proponente wat deur die Algemene Steunspan Predikantesake tot die bediening toegelaat is, is beroepbaar.

6.4.2     Indien ʼn beroep ongeldig verklaar word op grond van die feit dat die beroepende kerkraad vooraf onbehoorlik beïnvloed is, mag die betrokke beroepene nie weer vir dieselfde vakature genomineer word nie.

6.4.3     Kerkrade neem die Namibiseringsbeleid (vgl NGKN Beleidsbesluit 4) van die sinode in ag tydens beroeping.

6.5   Prosedure by beroeping

6.5.1     Die beroeping van predikante/ proponente geskied vol­gens die prosedure beskryf in NGKN Regl 8: 7.2 en NGKN Regl. 15:4.

6.5.2    Predikante in diens van meer as een gemeente

6.5.2.1     Waar twee of meer gemeentes ooreen­kom om ʼn predikant te beroep, hetsy in die geval van kombinasie-gemeentes of waar twee of meer gemeentes ʼn bepaalde werksaamheid gesamentlik onderneem, word die beroep uitgebring deur ʼn kieskollege wat bestaan uit ʼn gekombineerde vergadering van die kerkrade van die betrokke gemeentes.

6.5.2.2     ʼn Geskrewe ooreenkoms, wat bepaal watter deel van die lewensonderhoud van die predikant deur elke samewer­kende gemeente gedra sal word, aan watter gemeente die predikant kerk­regtelik as predikant verbonde sal wees en in watter gemeente(s) hy deur die ring as konsulent benoem sal moet word, moet vooraf opgestel word (kyk Bep. 8.3.5 en NGKN Regl 3).

6.5.3    Predikante afgesonder vir sending

Predikante wat afgesonder word vir diens in die sending, word beroep deur een of meer kerkrade (in lg geval ook met inagneming van die voorskrifte in Bep 6.5.2.1 en 6.5.2.2 waar van toepassing), of deur ʼn gemeente per ooreen­koms daartoe versoek deur die kerkverband (kyk Bep 6.5.4).

6.5.4    Predikante in diens van die kerkverband

Predikante wat benodig word vir diens in rings- of sinodale verband, word per oor­eenkoms met ʼn gemeente deur ʼn gemeente be­roep en bevestig met opdrag diens in kerkver­band.  Die inisiatief vir die aangaan van die ooreenkoms gaan uit van die betrokke ring of kommissie van die sinode wat toesig het oor die bepaalde arbeidsterrein waarin die beroepene benodig word.  Sodanige predikante neem normaalweg sitting in meerdere vergadering kragtens hulle bevestiging in ʼn gemeente.  (Sien ook Bep 6.11 en 8.3.6)

6.6   Tentmakerposte

Die voorskrifte vir Tentmakerposte is vervat in NGKN Regl 18.

6.7   Vaste Termynposte

Vergelyk.Reglement vir Vaste Termynposte soos vervat in NGKN Regl 19.

6.8   Pligte van Voorsitter in verband met Beroeping

Die Voorsitter van die beroepende vergadering

6.8.1     bring Alg Sin 2013 Funksionele Besluit 5 sowel as punte 7.2 en 7.3 van NGKN Regl 8 (Reglement van Orde) onder die aandag van die vergadering;

6.8.2     sien toe dat die vereistes van die plegtige legitimasieverklaring van predikante stiptelik in ag geneem word, en dat daar geen ooreenkoms of afspraak hoegenaamd by die beroeping moet wees nie (uitgesonderd egter ʼn ooreenkoms in terme van Bep 6.5.2.2, 6.5.3, 6.5.4 en 6.11).  Kerkraadslede is verplig om enige ongerymdheid in hierdie verband onder die  aandag van die voorsitter te bring;

6.8.3     bring die reëlings van Bep 13 (oor lewensonderhoud, pensioen- en mediese fonds, verlof, aanvang van verantwoordelikheid en verhuisingskoste) onder die aandag van die beroepende vergadering

6.8.4     gee dadelik aan die beroepene kennis van die beroep wat op hom uitgebring is, reël vir die afkondiging daarvan in die erediens op twee agtereenvolgende Son­dae en stuur ook berig van die beroeping, aanname en bedanking aan die Kerkbode;

6.8.5     sien toe dat die beroep op twee agter­eenvolgende Sondae in die gemeente bekend­gestel word vir goedkeuring;

6.8.6     besorg onmiddellik na die tweede afkondiging van die beroep en nadat die tyd vir besware deur die gemeente verstreke is, die volgende stukke aan die voorsitter/skriba van die rings­kommissie waaronder die beroepende gemeente ressorteer, vir bevestiging, namens die ring, dat daar aan al die vereistes vir die uitbring van die beroep voldoen is:

+ die beroepsbrief / konsep diensooreen­koms,

+ ʼn verklaring dat

= alles in verband met die beroeping volgens die kerklike voorskrifte geskied het;

= die beroep twee keer in die gemeente afgekondig is;

= geen besware in verband met die beroeping ontvang is nie, of dat besware wat ontvang is, volgens die kerklike voorskrifte hanteer is;

6.8.7     Stuur, nadat goedkeuring vir die beroep van die gemeente en die ring/ ringskommissie verkry is, onverwyld die beroepsbrief / konsep­diensooreen­koms aan die beroepene, en versoek hom om ontvangs daarvan sonder versuim  te erken en om binne een week na ontvangs van die beroepsbrief / konsepdiensooreenkoms skriftelik aan te dui of hy die beroep aanvaar/ bedank of verder oor die diensooreenkoms wil onderhandel. Hierdie onderhandelinge moet binne ʼn redelike tydperk afgehandel word.

6.8.8     Indien die beroepene ʼn werkpermit benodig om in Namibië te werk moet hy in kennis gestel word om nie demissie uit sy vorige werkkring te neem alvorens hy nie in besit van ʼn wettige werkpermit is nie.

6.9   Besware teen Beroep

6.9.1     Enige belydende lidmaat van die besleende ge­meente wat nie onder sensuur is nie, het die reg om voor die tweede afkondiging van ʼn be­roep ʼn skriftelike beswaar met opgawe van redes by die ring in te dien, op grond van bepaalde klag­tes teen die leer of wandel van die beroepene, of op grond van enige onreëlmatigheid by die uitbring van die beroep.

6.9.2     Beswaar teen ʼn beroep kan ook uit eie beweging gemaak word deur die rings­kommissie wat op grond van enige onreëlmatigheid weier om die beroep goed te keur.

6.10  Behandeling van Besware

6.10.1  Alle besware wat teen ʼn beroep ingebring word, word onmiddellik in die hande van die ring gestel, wat die besware so gou doenlik in behandeling neem en finaal daaroor beslis.

6.10.2  ʼn Beswaar op grond van ʼn onreëlmatigheid by die uitbring van die beroep, word deur die ringskommissie beslis en die beslissing word aan die kerkraad bekend gemaak.

6.10.3  Indien die beswaar in verband met die leer of wandel van die beroepene staan, doen die ring/ rings­kommissie navraag by die ring onder wie se opsig en tug die beroepene staan. Blyk dit uit die inligting wat deur daardie ring verskaf word dat die beswaar ongegrond is, beslis die ring/ringskommissie dienooreenkomstig en gee kennis dat die beroep voortgaan. Blyk dit egter dat die beswaar gegrond is, word die beroep as vervalle verklaar. Indien die beroep om hierdie rede as vervalle verklaar word, word daarvan kennis gegee aan die ring onder wie se opsig die beroepe staan.

6.10.4  Indien die ring/ringskommissie beslis dat ʼn bepaalde beroep as vervalle beskou moet word, gee die kerkraad aan die beroepene daarvan kennis en belê dadelik weer ʼn vergadering om ʼn ander beroep uit te bring.

6.11  Predikante in diens van die kerkverband

6.11.1  Beroeping

Predikante wat ingevolge Bep 6.5.4 aangestel word om die kerk in rings- of sinodale verband te dien,

6.11.1.1     word per ooreenkoms met ʼn gemeente deur ʼn gemeente beroep en bevestig met opdrag diens in kerkverband.  Die inisiatief vir die aan­gaan van die ooreenkoms gaan uit van die betrok­ke kommissie van die ring/ sinode wat toesig het oor die bepaalde arbeidsterrein waarin die beroepene benodig word.

6.11.1.2     mag benoem word onmiddellik nadat ʼn vakature ontstaan het of skriftelik kennis ontvang is dat ʼn vakature sal ontstaan, met dien verstande dat die benoemingsbrief duidelik sal meld wat die vroegste datum van diensaanvaarding sal wees;

6.11.1.3     word bevestig onderhewig aan die voorskrifte vervat in Bep 8.3.

6.11.2  Salarisse en voordele

6.11.2.1     Oor die vergoedingspakket  word oor­eengekom deur die beroepende vergadering en die beroepene.  Die rigskaal vir predikante wat jaarliks deur die Diensgroep vir Administrasie voorsien word, dien as riglyn.

6.11.2.2     Die traktement en byvoordele van predikante in sinodale diens sal gelyk wees aan dié van predikante wat ʼn gemeente bedien soos van tyd tot tyd deur die sinode goedgekeur.

6.11.2.3     Elke betrokke kerkvergadering begroot vir die volle finansiële verantwoordelikheid vir die pos volgens voorskrif van Bep 13.

6.11.2.4     Die voordele van Bep 14.2.4 en 14.3 geld ook vir sinodale amptenare en predikante in sinodale diens.

6.11.3  Toesig en beheer

6.11.3.1     Sodanige predikante arbei onder toesig van en in oorleg met die betrokke kommissies van die sinode wat toesig hou oor die bepaalde arbeidsterreine, is Amps­halwe lede en skribas van daardie kommis­sies en doen jaarliks van al hulle werksaamhede aan daardie kommissies verslag.

6.11.3.2     Wat leer en wandel betref, ressorteer hulle as bevestigde predikante in gemeentes, onder die opsig van die betrokke kerkraad.

6.11.4  Ongeordende sinodale amptenare

In gevalle waar belydende lidmate wat nie predikante of proponente is nie, in sulke sin­odale poste benoem word, word die bepalinge in soverre dit van toepassing kan wees, nagekom en die res gewysig om by die omstandighede aan te pas.

6.11.5  Diensbeëindiging/Aftrede

Die diens van ʼn sinodale amptenaar word beëin­dig by aanvaarding van beroep, bedanking, afsetting of aftrede/emeritaat.

Artikel 7

Die verlening van bevoegdheid om as predikant (Predikant) beroep te word, die behoud daarvan en die beëindiging daarvan, geskied deur die Algemene Sinode of sy gevolmagtigde.

Artikel 8[6]

8.1 ’n Predikant word vir diens aan ’n gemeente beroep deur die kerkraad van die gemeente, met approbasie deur die gemeente en goedkeuring deur die ring.

8.2 ’n Predikant word vir diens aan die kerkverband deur ’n kerkvergadering of sy gevolmagtigde benoem, met approbasie deur die kerkverband en goedkeuring deur die betrokke sinodale regs-/kerkordekommissie.

8.3 Die bevestiging van ’n predikant vir diens aan ’n gemeente geskied nadat goedkeuring daartoe verleen is deur die ring of sy gevolmagtigde.

8.4 Die bevestiging van ’n predikant vir diens aan die kerkverband geskied nadat goedkeuring daartoe verleen is deur die betrokke sinodale regs-/kerkordekommissie.

8.5 Die bevestiging van ’n proponent geskied met handoplegging.

8.6 ’n Predikant wat ’n beroep na ’n ander gemeente aangeneem het of ’n benoeming vir diens aan die kerkverband aanvaar het, ontvang ’n akte van demissie van die kerkvergadering in wie se diens gestaan is.

8.7 ’n Predikant wat emeriteer, ontvang ’n akte van emeritaat.

Bepaling 8: Reëling oor hantering van ʼn beroep

8.1   Kerkraad mag beroepe predikant adviseer

8.1.1     Die kerkraad het die reg om ʼn predikant wat ʼn beroep ontvang het, amptelik met advies te bedien.

8.1.2     ʼn Predikant wat ʼn beroep ontvang het, behoort die aange­leentheid met die kerkraad/dagbestuur van die kerkraad te bespreek voordat hy finaal oor die beroep besluit.

8.2   Demissie

8.2.1     Indien ʼn predikant ʼn beroep aanneem, stel hy die voorsitter van die kerkraad of die konsulent van die gemeente waaraan hy tot dusver verbonde was, skriftelik in kennis. Die kerkraad van genoemde gemeente ontslaan hom by ʼn kerkraadsvergadering van sy betrekking in die gemeente, en oorhandig aan hom ʼn Akte van Demissie, in duplikaat, onderte­ken deur die voorsitter en die skriba van die vergadering wat demissie verleen.  Een afskrif van die Akte word aan die vertrekkende predikant oorhandig, en die ander word in die gemeente-argief bewaar.  Die Akte van Demissie dien ook as sy attestaat.  (Kyk Vorm 2.3).

8.2.2     Aan proponente wat tydelik in ʼn gemeen­te werksaam was, oorhandig die kerkraad by hulle vertrek ʼn getuig­skrif aangaande hulle leer, lewe en arbeid.

8.2.3     Waar ʼn predikant demis­sie ontvang en van werkkring of ring binne die sinodale gebied  verwissel, verval sy lidmaatskap van alle kommissies van die ring waaruit hy vertrek en van die sinode waarop hy namens die ring gedien het.  Alle ander poste beklee hy ononderbroke.

8.2.4     Waar ʼn predikant demis­sie ontvang om van standplaas binne dieselfde ring te verwissel, bly sy posisie ten opsigte van alle kommissies en ander amptelike betrek­kinge wat hy in die ring beklee het, onaangetas.  Indien ʼn sitting van die sinode of ring tydens sy gedemit­teerde staat plaasvind, neem hy sitting as sou hy reeds in sy nuwe werkkring bevestig wees.

8.3   Bevestiging

8.3.1     Die datum en plek van bevestiging word deur die kerkraad in oorleg met die beroepene bepaal, met dien verstande dat die bevestiging moet plaasvind nadat die werkspermit ontvang is (in die geval van nie-Namibiërs – Bepl 6.8.8) binne ʼn maand ná demissie uit die vorige gemeente en binne drie maande nadat die beroep aangeneem is, tensy die ringskommissie met instemming van die beroepende kerkraad, spesiale verlof tot uitstel gee.

8.3.2     Die bevestiging geskied deur ʼn plaaslike predikant of die konsulent van die gemeente, of deur ʼn predikant van ʼn gemeente binne die ringsverband wat langs die ordelike weg daartoe versoek is en wel nadat die volgende stukke deur die beroepende kerk­raad aan die voorsitter/ skriba van die ringskom­missie voorgelê is en die ringskommissie bevestig het dat aan al die toepaslike vereistes voldoen is, te wete:

8.3.2.1     die finale diensooreenkoms;

8.3.2.2     die antwoord waarin die beroepene verklaar dat die beroep aanvaar word in terme van die bepalinge van die diensooreenkoms;

8.3.2.3     ʼn verklaring van die Pensioenfonds dat die te bevestigde predikant se pensioen in orde is (geen verklaring word vereis by die ordening van proponente nie);

8.3.2.4     die Akte van Demissie van die vorige gemeente of, in die geval van proponente, die Akte van Legitimasie en ʼn getuigskrif soos in Bep 8.2.2 vereis.

8.3.2.5     voorlegging van ʼn wettige werkpermit indien van toepassing.

8.3.3    Bevestigingsrede

8.3.3.1     Die predikant wat ʼn beroep aangeneem het, mag met goedkeuring van die beroepende kerkraad, ʼn predikant van die Ned Geref Kerk nooi om die bevestigingsrede waar te neem.

8.3.3.2     Die beroepende gemeente is verantwoor­delik vir die koste in die verband.

8.3.4     Die voorsitter van die kerkraad of konsu­lent gee be­tyds in die Kerkbode kennis van die bevestiging en, waar van toepassing, handop­legging, en roep die predikante in die ring daartoe op.  Enige diensdoende predikant, sendeling of emeritus van die Nederduitse Gereformeerde Kerk kan aan die hand­oplegging deelneem.

8.3.5     In die geval genoem in Bep 6.5.2, word die predikant bevestig as predikant van een van die gemeentes soos ooreengekom, en word hy deur die ring benoem tot die konsulent van die ander kontrakterende gemeentes waar dit van toepassing mag wees.

8.3.6     Leraars afgesonder vir diens in die sen­ding volgens Bep 6.5.3 word bevestig in die gemeente deur wie hulle uitgestuur word, of in ʼn gemeente wat daarvoor uitgekies word wanneer meer as een kerkraad saam, of die getuienis­diensgroep van die ring of sinode hulle uitstuur.

8.4   Prosedure na Bevestiging

8.4.1     Die konsulent moet onmiddellik na bevestiging

8.4.1.1     aan die ringskriba kennis gee van die datum waarop die bevestiging plaasgevind het;

8.4.1.2     aan die aktuarius van die sinode, in geval die bevestigde ʼn proponent is, die Akte van Legitima­sie deurstuur met vermelding van die datum van die bevestiging, die naam van die gemeente en die ringsverband en die name van die predikante wat aan die handoplegging deelgeneem het;

8.4.1.3     aan die sinodale kantoor kennis gee van die bevestiging, met die oog op  aanstelling as huweliksbevestiger.  Die volgende gegewens moet vermeld word:

8.4.1.3.1      volle naam en adres van applikant

8.4.1.3.2      land en datum van geboorte

8.4.1.3.3      nasionaliteit

8.4.1.3.4      paspoortnommer

8.4.1.3.5      identiteitsnommer

8.4.1.3.6      gesertifiseerde afskrifte van sertifikate van hoogste opvoedkundige kwalifikasies

8.4.1.3.7      naaste landdroskantoor

8.4.1.3.8      die streek waarvoor aansoek gedoen word (bv Auas, Karas, ens.)

8.4.1.3.9      getal gedoopte lidmate van die gemeente wat deur die applikant as huweliks­bevestiger bedien sal word,

8.4.1.3.10    afskrif van paspoort sowel as werks­permitstempel waar van toepassing.

8.4.2     Na ontvangs van die Akte van Legitimasie (Bep 8.4.1.2), reik die aktuarius ʼn Akte van Beves­tiging uit op die voorgeskrewe vorm (Vorm 2.1) en stuur ʼn afskrif aan die Algemene Steunspan Predikantesake.

Artikel 9

9.1 Die amp van die predikant fokus op die bediening van die Woord in al sy gestaltes.

9.2 Die predikant is geroep om ’n volgeling van Christus te wees en sy lewe te wy in diens van die Here en sy kerk.

9.3 Die predikant funksioneer in ’n gemeente, in die kerkverband en in die diens van die kerk in die wêreld.

9.4 In die gemeente aanvaar die predikant verantwoordelikheid vir onderskeiding, die bestudering en verkondiging van die Woord van God, die bediening van die sakramente, die diens van die gebede en dissipelskap. Die predikant is ook saam met die ander ampte verantwoordelik vir:

  • eredienste,
  • die opbou van die gemeente,
  • onderrig en toerusting van gelowiges vir hulle dienswerk,
  • die gemeente se dienswerk in die wêreld,
  • leiding en organisering van die gemeente,
  • uitoefening van Christelike liefde en tug,
  • pastorale versorging,
  • kerkplanting,
  • die voortdurende ontwikkeling van bedieningsvaardighede.

Die kerkraad onderskei en bepaal, saam met die predikant, die wyse waarop dié verantwoordelikhede, in lyn met bepaalde begaafdhede, uitgeleef word en vervat dit in ’n diensooreenkoms.

9.5 Die predikant neem ook deel aan die gesamentlike bediening van die kerkverband in die onderskeie kerklike vergaderinge en ekumeniese verhoudings.

9.6 As deel van die dienswerk van die kerkverband aan die wêreld tref die kerkverband reëlings oor wyses waarop die predikant diensbaar is in die kerk en in die wêreld.

Bepaling 9: Predikant – verdere ampspligte

9.1    Benewens die pligte in die Kerkorde vermeld, behartig die predikant ook nog die volgende, naamlik om

9.1.1     hom in sy prediking te hou by die kerkjaar;

9.1.2     huwelike te bevestig en begrafnisse waar te neem;

9.1.3     Die finale ondersoek tot belydenis van geloof deur voornemende lidmate saam met ʼn kommissie van die kerkraad te behartig.

9.1.4     kerkraadslede te bevestig en die aflegging van be­lydenis van geloof deur voornemende lidmate te behartig.

9.1.5     ʼn dooponderhoud met voornemende doopouers te voer en die doopregistrasie te doen.

9.1.6     verantwoordelik te wees vir jeugleiding;

9.1.7     die besoek van siekes en vertroosting van bedroefdes, eensames, weduwees en wese waar te neem;

9.1.8     die besluite van meerdere vergaderinge, met die nodige toeligting, aan die kerkraad en lidmate te kommunikeer.

9.2    Die kerkraad/beherende kommissie mag nie sonder die instemming van die predikant besluite neem wat ver­meerdering van sy dienste tot gevolg kan hê nie.

Artikel 10

’n Predikant mag geen ampspligte (vergelyk Artikel 9 van die Kerkorde) onder lidmate van ’n ander gemeente verrig sonder die toestemming van daardie kerkraad nie.

Bepaling 10: Ampsbevoegdheid in plaaslike gemeentes

10.1    Slegs persone wat deur die Algemene Steunspan Predikantesake tot die bediening toegelaat is (KO Arts 6, 7) en teologiestudente wat daarvoor kwalifiseer, mag, met die verlof van die kerkraad, die funksies van ʼn predikant verrig in ʼn gemeente van die Ned Geref Kerk in Namibië, met inagneming van KO Art 48.3.4

10.2    Wanneer ʼn gemeente vir ʼn bepaalde tyd uitstel van beroeping van die ring / ringskom­mis­sie verkry en sodanige gemeente iemand met bevoegdheid van predikant in ʼn vaste termynpos aanstel, of ʼn meerkoppige gemeente iemand met bevoegdheid van predikant in ʼn vaste termynpos aanstel om ʼn bepaalde kop van die gemeente te bedien, mag die ring / ringskommissie toestemming aan sodanige predikant verleen om vir die tydperk van die kontrak leiding te neem by die aflegging van geloofsbelydenis (vgl Bep 50.3.1), op voorwaarde dat die lidmaatskap van die betrokke predikant eers in die lidmaat­regis­ter van die gemeente aangeteken is.

10.3    Geen lidmaat mag, sonder die goedkeu­ring van die kerkraad, iemand vir geestelike werk in die ge­meente inbring of help inbring nie.

Artikel 11

11.1 ’n Predikant kan die kerklike bediening slegs om ernstige en gewigtige redes verlaat. Die persoon hou op om predikant te wees indien diens in die gemeente/kerkverband verlaat word om ’n ander betrekking te aanvaar. Die persoon kan egter vooraf van die Algemene Taakspan Predikantesake verlof ontvang om proponentsbevoegdheid te behou.

11.2 Sodanige behoud van bevoegdheid kan alleen verleen word indien die betrekking wat aanvaar word, ’n geestelike karakter dra wat regstreeks met die verkondiging van die Woord in verband staan en ten bate van die Nederduitse Gereformeerde Kerk geag word.

11.3 Indien daar ander gewigtige redes is, kan sodanige behoud van bevoegdheid alleen verleen word indien die Algemene Taakspan Predikantesake, op grond van aanbevelings van die kerkraad en die ring, oordeel dat daar genoegsame bona fide redes[7] is om ’n ander betrekking[8] te aanvaar.

Bepaling 11: Bedanking as predikant

11.1      Indien ʼn predikant besluit om uit die bediening te bedank, moet hy handel volgens die voorskrifte van die Reglement vir die reëling van die bevoegdheid van predikante, proponente en emeriti.

11.2      By bedanking van ʼn predikant uit die bediening gee die konsulent onmiddellik skriftelik kennis aan die aktuarius.  ʼn Fotokopie van die bedankingsbrief en ʼn verduideliking van die omstandighede by bedanking, asook die Akte van Legitimasie indien die oorspronklike dokument nie reeds by die aktuarius ingehandig is nie, moet ingesluit word.

11.3      Aan ʼn predikant wat uit die bediening bedank het, word geen akte van demissie uitgereik nie.

Artikel 12

12.1 Die predikant word vir die uitvoering van die amp of bediening deur ’n kerkvergadering (kerkraad, ring, sinode, Algemene Sinode) in diens gestel.

12.2 Die predikant is, as geroepene van die Here deur sy kerk, aan die Here én aan die betrokke kerkvergadering verantwoording verskuldig.

12.3 Die kerkvergadering gee aan die predikant die respek en ondersteuning wat ’n geroepene van die Here en sy kerk in staat kan stel om die amp en bediening effektief uit te voer.

12.4 Indiensneming en diensbeëindiging geskied deur die betrokke kerkvergadering in wie se diens die predikant staan.

12.5 Slegs persone wat die nodige ampsbevoegdheid het (vergelyk Artikel 7 van die Kerkorde) kan in ’n gemeente of in die kerkverband as predikant dien.

12.6 Die predikant se dienste word met onmiddellike effek beëindig by verlies van bevoegdheid ingevolge die Reglement vir die Reëling van die Bevoegdheid van Predikante, Proponente en Emeriti.

12.7 Die betrokke kerkvergadering kan die dienste van ’n predikant in die volgende gevalle beëindig[9]:

12.7.1      op grond van wangedrag;

12.7.2      op grond van gebrekkige bedieningsvaardigheid of dienslewering;

12.7.3      op grond van die gemeente of kerkverband se bedienings- en bedryfsvereistes.

Bepaling 12: Verantwoordelikheid rondom die werkpermitte van die predikant

Indien die werkpermit van ʼn predikant in diens van die gemeente nie deur die staat hernu word nie,

12.1.     is die gemeente as werkgewer verant­woordelik vir die repatriasiekoste van die predikant,

12.2.     maar die kerkraad kan by die sinode aan­soek doen om finansiële hulp vir die repatriasie van die predikant.

Artikel 13

Die gemeente of kerkverband in wie se diens ’n predikant staan, sien om na die persoon se geestelike, emosionele en fisieke behoeftes, is medeverantwoordelik vir die bedieningsontwikkeling en is verantwoordelik vir die lewensonderhoud soos ooreengekom[10].

Bepaling 13: Versorging van predikante

13.1     Lewensonderhoud

13.1.1    Oor die vergoedingspakket van ʼn beves­tigde predikant word ooreen­ge­kom deur die betrokke kerkvergadering en die predikant.  Die rigskaal vir predikante wat jaarliks deur die sinode voorsien word, dien as riglyn vir kontant­vergoe­ding.

13.1.2    By die berekening van die salariskerf neem die kerkraad/ diensgroep voltydse sekulêre diens wat verrig is voordat met teologiese studie ʼn aan­vang gemaak is in berekening teen een kerf vir elke voltooide twee jaar van sodanige diens.  Erkenning vir verdere voltydse teologiese studie na voltooiing van die kursus sal verleen word teen een kerf vir elke voltooide studiejaar tot ʼn maksimum van vyf kerwe.

13.1.3    Predikante is verder geregtig op die toelaes en voorregte vermeld in sinodebesluite sowel as ander toelaes en voorregte waarop die sinode mag besluit.

13.1.4    Indien ʼn gemeente nie finansieel in staat is om ʼn bestaande pos vir predikant langer ten volle te dra nie, mag die gemeente:

13.1.4.1     Hulp vra uit die Salarisondersteunings­fonds (NGKN Regl 21);

13.1.4.2     In kombinasie gaan met ʼn ander gemeente  (NGKN Regl 3);

13.1.4.3     Met verlof van die volle ring, oorgaan tot die skepping van ʼn tentmakerpos (vgl NGKN Regl 18 en Bep 31.3.6) of ʼn vaste termynpos (vgl NGKN Regl 19)

13.1.4.4     tot eenwording / samesmelting met ʼn ander gemeente oorgaan (NGKN Regl 3).

13.1.5    Indien ʼn gemeente ʼn pos vir meerdere bediening skep, maar nie in staat is om die pos vir predikant ten volle te dra nie, mag daar met verlof van die volle ring tot die beroe­ping van ʼn Tentmaker oorgegaan word (vgl Bep 31.3.6 en NGKN Regl 18).

13.1.6    In gevalle van deeltydse bediening, word die finansiële verpligtinge van die gemeente teenoor die predikant, bepaal in die kontraktuele ooreenkoms (vgl NGKN Regl 18).

13.2  Verpligte deelname aan Pensioen­fonds

Die kerkvergadering voorsien vir elke werknemer in sy diens ʼn pensioen in die Dutch Reformed Church Retirement Fund. Die werkgewer en werknemer onderhandel, in ooreenstemming met die reëls van dié fonds, oor die pensioenbydrae.

13.3  Mediesefonds

13.3.1    Werknemers wat nie deur middel van ʼn gade dekking geniet onder ʼn NAMAF-geregis­treerde privaat mediesefonds nie, is verplig om by sodanige fonds aan te sluit. ʼn Werkgewer kan as alternatief ook dekking deur ʼn geregistreerde mediese versekeringskema aanvaar as genoegsame dekking.

13.3.2    Werkgewers betaal minstens 50% van die premie van alle werknemers.

13.3.3    Werkgewers bring in die bepaling van sy subsidie vir die mediesefondspremie van veral laer besoldigde werkers die bekostigbaarheid van premies vir die lid in berekening deur op ʼn ruimer subsidie te besluit.

13.4     Verlof

Aan die predikant word vakansie‑, siekte‑, en studieverlof sowel as sabbatstyd toegeken ooreenkomstig die Regle­ment vir die verlof van predikante en Sinodale Amptenare. (NGKN Regl 16).

13.5  Aanvang van Verantwoordelikheid

13.5.1    Die beroepende liggaam neem volle ver­antwoordelikheid vir die beroepene vanaf datum van sy demissie in die vorige werkkring (in die geval van Namibiese burgers), of vanaf datum van goedkeuring van ʼn werkpermit (in die geval van nie-Namibiese burgers), onderworpe aan Bep 6.8.8 en Bep. 8.3.1.

13.5.1.1     Indien die kerkraad in gebreke gebly het om die beroepene in te lig ten opsigte van die werkpermit (in die geval van nie-Namibiese burgers), neem hulle verantwoordelikheid ʼn aanvang met sy demissie.

13.5.2        In die geval van ʼn proponent neem genoemde verantwoordelikheid ʼn aanvang vanaf die datum waarop die beroep aangeneem is (in die geval van Namibiese burgers), of vanaf datum van goedkeuring van werkpermit (in die geval van nie-Namibiese burgers), onderworpe aan Bep 8.3.1, met dien verstande dat hy binne een maand ná aanname van beroep of goedkeuring van werkpermit bevestig word.

13.5.3        Die beginsel vervat in Bep 13.5.1 en 13.5.2 geld ook ingeval die beroepene voor die datum van bevestiging te sterwe kom.

13.6  Verhuisingskoste

Die beroepende gemeente dra die koste van:

13.6.1    Die predikant en sy gesin en één motor bereken teen ʼn bedrag per kilometer soos die sinode van tyd tot tyd mag besluit vanaf sy vorige standplaas of vaste woonplek, tesame met daggeld vir hom en elke afhanklike lid van die gesin, bereken teen die bedrag soos die sinode van tyd tot tyd mag besluit.  (Die kerkraad is nie verantwoordelik vir die vervoer van ʼn tweede motor of woonwa nie.)

13.6.2    Die verpakking, versekering en vervoer van die meubels en persoonlike besittings van die predikant.

13.6.3    Die belasting op die invoer van een motorvoertuig en meublement van die predikant.

13.7  Bevestigingsrede

Sien Bep 8.3.3.1 en 8.3.3.2.

Artikel 14

14.1 ’n Predikant emeriteer op die ouderdom soos deur die Algemene Sinode bepaal[11].

14.2 ’n Predikant wat weens verswakte gesondheid, ouderdom of andersins uit die diens tree en daarvoor kwalifiseer, ontvang die voordele volgens die bepalinge van die betrokke pensioenfonds. Daar behoort ook voldoende voorsiening gemaak te word vir die weduwee/wewenaar en wese van die predikant.

14.3 ’n Emeritus kan, met goedkeuring van die ring, vir ’n bepaalde termyn en vir ’n bepaalde taak beroep word[12].

14.4 ’n Emeritus wat weens verswakte gesondheid emeriteer het, moet eers weer beroepbaar gestel word deur die Algemene Taakspan Predikantesake.

Bepaling 14: Emeritering

14.1  Aftree‑ouderdom van predikante

14.1.1    Die aftree ouderdom van alle bevestigde predikante word op enige ouder­dom tussen die predikant se 60ste en 65ste verjaardae, beide verjaardae ingesluit, maar nie later nie as ses maande ná die bereiking van die ouderdom van 65, gestel.

14.1.2    Dit staan ʼn predikant vry om voor bereiking van die ouderdom van 60 jaar af te tree waar die Pensioenfonds daarvoor voor­siening maak.

14.2  Demissie by Emeritaat

14.2.1    Wanneer ʼn predikant beoog om af te tree, moet hy ten minste drie maande vóór die beoogde datum van uittrede skriftelik, met vermelding van redes, aan die kerkraad / kommissie daarvan kennis gee.

14.2.2    Die kerkraad gee onverwyld kennis aan die Hoofbeampte van die NG Kerk in Namibië Pensioenfonds van die voorgenome aftrede.

14.2.3    Die kerkraad sien toe dat alles in verband met die aftrede in orde is, en verleen aan die betrokkene demissie (Vorm 2.2) op ʼn datum en plek soos onderling ooreengekom.

14.2.4    Indien besware teen die beoogde aftrede ingebring word deur lidmate of lede van die beheerdiensgroep, hanteer die ring dit na oorleg met, en verslag aan die kerkraad of die betrokke kommissie.

14.2.5    Die gemeente/kommissie is verantwoor­delik vir eenmalige verhuisingskoste van die afgetrede predikant op voorwaarde dat sy plek van aftrede nie buite Namibië of Suid‑Afrika geleë is nie.

14.3  By die dood van ʼn predikant

14.3.1    Ingeval van die dood van ʼn predikant word die gewone traktement (motor­toelae uitgesluit) vir ses maande na sy dood aan sy weduwee betaal of aan sy boedel ingeval hy ʼn wewenaar was en daar afhanklike kinders benede die ouderdom van 21 jaar is.

14.3.2    Die weduwee en/of minderjarige kinders sal vir ses maande geregtig wees op die vrye en onbelem­merde gebruik van die pastorie.

14.3.3    Indien die weduwee en/of minderjarige kinders dit verkies, of die kerkraad dit nodig ag, kan die volgende alternatiewe reëlings getref word:

14.3.3.1     huurgeld vir ses maande kan betaal word, bereken teen die heersende koers vir soortgelyke huise in daardie omgewing, of –

14.3.3.2     geskikte alternatiewe behuising mag deur die kerkraad verskaf word.

14.3.4    Wanneer ʼn predikant in diens van die Ned Geref Kerk in Namibië te sterwe kom, moet die vergadering in wie se diens hy te sterwe gekom het, aan sy agtergeblewenes volgens die voorsiening van Bep 13.6.1, eenmalig voorsiening maak vir hul trekonkoste vanaf hul plek van verblyf tot op die plek van hul vestiging, mits laasgenoemde plek in Namibië of die RSA is.

14.3.5    Bep 14.3.1 tot 14.3.4 is ook van toe­pas­sing op predikant in diens van die kerkverband.

14.4  Emeritaat as gevolg van verswakte gesondheid

14.4.1    Indien ʼn predikant van oordeel is dat hy vanweë verswakte gesondheid of verswakte lig­gaam­like of geestelike vermoëns nie meer in staat is om sy dienswerk behoorlik te verrig nie, gee hy aan die betrokke vergadering hiervan kennis en lê ʼn sta­wende mediese sertifikaat en/of psigiatriese verslag voor.

14.4.2    Die kerkraad verleen demissie aan die betrokke predikant nadat skriftelike bevestiging ontvang is dat pensioen aan hom betaal sal word en gee aan die Algemene Steunspan Predikantesake kennis dat die betrokke predikant eervol uit die diens van die betrokke vergadering ontslaan is.

14.4.3    Die verantwoordelike vergadering mag ʼn mediese sertifikaat / psigiatriese verslag eis van enige predikant onder sy opsig, indien daar rede is om te vermoed dat sodanige predikant vanweë verswakte gesondheid nie meer in staat is om sy ampspligte behoorlik na te kom nie.

14.5  Hertoelating van Emeriti

14.5.1    ʼn Emeritus tot en met 69 wat begeer om tot die aktiewe bediening terug te keer, moet saam met ʼn gemo­tiveerde aansoek ʼn getuigskrif van die kerkraad waar hy sy vaste verblyf het, sowel as ʼn mediese en psigiatriese sertifikaat dat hy in staat en geskik is om weer voltyds diens te aanvaar, aan die kerkraad wat aan hom demissie verleen het, vir oorweging voorlê.

14.5.2    Indien die aansoek goedgekeur word, moet die betrokke kerkraad die aktuarius daarvan kennis gee.

14.5.3    Na ontvangs van die goedkeuring van die betrokke kerkraad, stuur die aktuarius die inligting van die betrokkene aan die Algemene Steunspan Predikantesake vir bekendstelling in die Kerkbode.

2.3     Ouderlinge en diakens

Artikel 15

15.1 Ouderlinge en diakens onderskryf met hulle bevestiging hulle instemming met die Belydenis van die Kerk.

15.2 Daar behoort ’n gereelde aftrede van ouderlinge en diakens te wees. Die dienstyd van ouderlinge en diakens word deur die kerkraad gereël.

Bepaling 15: Kerkraadslede

15.1  Verkiesing

15.1.1    In bestaande gemeentes

15.1.1.1     Kerkraadslede word verkies op ʼn gewo­ne of buitengewone vergadering van die kerkraad uit ʼn groslys wat gevorm is deur nominasies wat vooraf deur belydende lidmate van die gemeente ingehandig en deur die kerkraad gesuiwer en aangevul is.

15.1.1.2     Die verkiesing vind plaas volgens die prose­dure in punt 7.2.1 van NGKN Regl 8 voorgeskryf.

15.1.1.3     Die verkosenes moet sonder versuim skrifte­lik daarvan in kennis gestel word, en hulle name moet op twee agtereenvolgende Sondae by die openbare erediens afgekondig word.

15.1.1.4     Die verkosenes moet binne agt dae ná die tweede afkondiging skriftelik aanvaar of bedank, in laasgenoemde geval met vermelding van redes.

15.1.2    In nuutgestigte gemeentes

Kerkraadslede word verkies volgens die prose­dure in punt 1.1.7 van NGKN Regl 3 voorgeskryf.

15.2  Approbasie

15.2.1    Die name van alle persone wat verkies en herkies is, word op twee agtereenvolgende Sondae aan die gemeente bekend gemaak vir approbasie.

15.2.2    Belydende lidmate van die gemeente het die reg om voor die tweede afkondiging skriftelik, en met vermelding van die redes, beswaar aan te teken teen enige verkosene.

15.2.3    Indien geen besware ingebring word nie, word die verkosenes beskou as lede wat behoorlik deur die gemeente verkies is.

15.2.4    Indien ʼn beswaar teen ʼn verkosene ingedien word, belê die voorsitter so spoedig moont­lik ʼn kerk­raadsvergadering om die beswaar te oorweeg.  Vind die kerkraad die beswaar gegrond, verval die verkiesing van die be­trokke persoon en bestaan daar weer ʼn vakature.  Indien die kerkraad die beswaar ongegrond bevind, gaan die bevestiging van die betrokke persoon voort.  Die klaer en die aangeklaagde het die reg tot appèl.

15.3  Wie is verkiesbaar?

15.3.1    Ongesensureerde lidmate van die gemeente (sien Bep 3.2) is verkiesbaar.

15.3.2    Diakens is as ouderlinge en ouderlinge as diakens verkiesbaar.

15.4  Dienstyd van kerkraadslede

15.4.1    In bestaande gemeentes

15.4.1.1     Kerkraadslede word vir ʼn termyn soos deur die kerkraad bepaal verkies (tot ʼn maksimum van vyf [5] jaar).  By die verstryking van hierdie termyn kan die betrokkene herkies word.  Die beginsel van kontinuïteit en afwisseling moet nagestreef word.

15.4.1.2     Kerkrade besluit self of hulle die diens­tyd van kerkraadslede bereken (a) vanaf die datum van die betrokkene(s) se bevestiging, of (b) vanaf die jaarlikse bevestiging van kerkraadslede.

15.4.1.3     Vakatures in ʼn kerkraad ontstaan agv afsterwe, vertrek uit die gemeente, bedanking of skorsing van ʼn dienende kerkraadslid of as ʼn dienende kerkraadslid nie herkies word of nie die herkiesing aanvaar nie.

15.4.1.4     Kerkraadslede wat bedank moet dit skriftelik doen met opgaaf van redes.

15.4.2    In nuutgestigte gemeentes

Die dienstermyn word bepaal volgens die voor­skrif in die voetnoot by punt 1.1.7 van NGKN Regl 3.

15.5    Bevestiging

15.5.1    Verkose kerkraadslede wat die verkiesing aanvaar het en teen wie geen besware inge­bring is nie of aangaande wie bevind is dat die besware teen hulle ongegrond is, word so gou moontlik ná hulle verkiesing in hulle amp bevestig.

15.5.2    Die bevestiging geskied namens die kerk­raad deur die plaaslike predikant of die konsulent. Die kerkraad, of in die geval van ʼn vakature, die konsulent in oorleg met die kerk­raad, kan ook ʼn predikant van ʼn ander gemeente in die sinodale gebied versoek om die bevestiging waar te neem.

15.5.3    Verkosenes mag nie in hulle ampte beves­tig word alvorens hulle attestate ontvang en hulle lidmaatskap in die register aangeteken is nie.

15.5.4    Kerkraadslede wat herkies word vir ʼn verdere termyn word nie weer bevestig nie, tensy hulle tot ʼn ander amp verkies word.

Artikel 16

16.1 Die amp of bediening van die ouderling is gerig op geestelike onderskeiding en leiding, versorging, bestuur en toesig, en omvat:

16.1.1      die toerusting van lidmate vir hulle dienswerk;

16.1.2      die regering van die gemeente;

16.1.3      die doen van huisbesoek;

16.1.4      die uitoefening van opsig en tug;

16.1.5      waaksaamheid oor die suiwerheid van die leer;

16.1.6      medeverantwoordelikheid vir die kategetiese onderwys;

16.1.7      die roeping om ander na Christus te lei;

16.1.8      die lei van eredienste waar die kerkraad en die ring daartoe vergunning gegee het[13];

16.1.9      dissipelskap; en

16.1.10     ander opdragte wat deur die kerkraad bepaal word in die lig van 16.1.

16.2 Die kerkraad bepaal met inagneming van Artikel 16.1.1 tot 16.1.10 van die Kerkorde die bedienings-verantwoordelikheid van elke ouderling.

Bepaling 16: Ouderlinge – verdere ampspligte

Die amp van ouderling omvat ook

16.1    die doen van siekebesoek in die gemeen­te;

16.2    om saam met die diakens te sorg vir die middele tot die instandhouding van die eredi­ens en die administrasie van die fondse en eiendom­me van die gemeente;

Artikel 17

17.1 Die amp of bediening van die diaken is gerig op praktiese dienswerk. Dit begin in die erediens, en gaan vandaar uit na die gemeente en die wêreld waarin die lidmate leef. Die diakenamp omvat:

17.1.1      die toerusting van lidmate vir hulle dienswerk;

17.1.2      die opheffing, vertroosting en ondersteuning van almal wat in een of ander opsig barmhartigheidsdiens benodig;

17.1.3      die insameling en besteding van middele wat vir die diakonale werk nodig is;

17.1.4      die organisering en leiding van die barmhartigheidsbediening van die gemeente;

17.1.5      ander opdragte wat deur die kerkraad bepaal word in die lig van 17.1.

17.2 Die kerkraad bepaal met inagneming van Artikel 17.1.1 tot 17.1.5 van die Kerkorde die bedieningsverantwoordelikheid van elke diaken.

Bepaling 17: Diakens – verdere ampspligte

Die amp van diaken omvat ook om saam met die ouderlinge te sorg vir die administrasie van die fondse en eiendomme in die gemeente.

HOOFSTUK 3

DIE VERGADERINGE VAN DIE KERK

3.1 Algemene bepalinge

Artikel 18

Daar is vier kerkvergaderinge: kerkraad, ring, sinode en Algemene Sinode.

Artikel 19

Die opsig oor, die regering van en die tug en/of dissipline in die Kerk word aan hierdie vergaderinge toevertrou.

Artikel 20

20.1 Die vergaderinge het, elkeen na sy eie aard en funksie, ’n kerklike gesag[14] deur  Christus aan hulle toevertrou.

20.2 Die gesag van die ring, na aanleiding van sy aard en funksie, oor die kerkraad is dieselfde as dié van die sinode en die Algemene Sinode, na aanleiding van elkeen se eie aard en funksie, oor die kerkverband.

Artikel 21

Die kerkvergaderinge behandel sake vanuit kerklike perspektief, in die lig van die Woord van God en op kerklike wyse.

Bepaling 21: Reglement van Orde

Alle kerklike vergaderings word gehou in ooreen­stemming met die bepalings in die Reglement van Orde. (NGKN Regl 8).

Artikel 22

22.1 In meerdere vergaderinge word alleen die sake behandel wat daar tuis hoort of daarheen verwys is deur mindere vergaderinge en wat nie in mindere vergaderinge afgehandel kon word nie.

22.2 ’n Meerdere vergadering het die bevoegdheid om ’n saak wat ’n mindere vergadering moes afhandel onder die volgende omstandighede te hanteer:

22.2.1      waar ’n mindere vergadering nie bestaan nie; en

22.2.2      in die geval van onvermoë of wanbestuur by die mindere vergadering.

Artikel 23

23.1 Die besluite van vergaderinge of hulle gevolmagtigdes is bindend, maar daaroor kan in appèl na ’n meerdere vergadering of die meerdere vergadering se gevolmagtigde gegaan word.[15]

23.2 Lidmate, ampsdraers en predikante in diens van die kerkverband van die Nederduitse Gereformeerde Kerk mag hulle nie tot die burgerlike hof wend in hulle beswaar teen ’n kerkvergadering se besluit(e) nie, voordat hulle nie eers die kerklike middele tot hulle beskikking aangewend en uitgeput het nie.

Bepaling 23: Appèlliggaam vir sinode

Die sinodale taakspan regte is die sinode se gevol­magtigde appèlliggaam.  Die taakspan kan kun­diges betrek.

Artikel 24

Die handelinge van elke vergadering word daagliks met Skriflesing en gebed begin en met danksegging beëindig.

Artikel 25

Elke vergadering het ’n voorsitter wat verantwoordelik is vir die leiding en ordelike verloop van die vergadering, en ’n skriba wat die handelinge van die vergadering opteken.

Bepaling 25: Kerkvergaderings

Kerkvergaderings kan van staande, tydelike en ad hoc diensgroepe, taak- en aksiespanne ge­bruik maak om hom te adviseer en opdragte uit te voer. Kerkvergaderings kan hiervoor ook lidmate wat nie lid van die betrokke vergadering is nie, gebruik. Taak- en aksiegroepe is beperk tot hulle opdrag en moet aan die betrokke kerkvergadering verslag van hulle werksaamhede doen. (vgl punt 11.7 van NGKN Regl 8)

3.2 Besondere bepalinge

3.2.1 Die kerkraad

Artikel 26

26.1 Elke gemeente het ’n kerkraad aan wie die opsig oor, die regering van en die tug en/of dissipline in die gemeente toevertrou is.

26.2 Die kerkraad bestaan uit al die predikante, asook die ouderlinge en diakens[16].

Bepaling 26:  Die kerkraad

26.1    Die Taak van die kerkraad:  Algemeen

26.1.1      Die toerusting en leiding van die gemeen­te in die diens van die Here (Efes. 4:11‑16);

26.1.2      die reël van die openbare eredienste, waaronder die doop en die nagmaal (vgl Art 48, 49 en Bep 48, 49);

26.1.3      die opsig oor die belydenis en wandel van die lidmate van die gemeente en die handhaw­ing van die kerklike opsig en tug (vgl Art 59‑66.);

26.1.4      die opsig oor die kategese en ander jeugwerk in gemeenteverband (vgl Art 50, 69 en Bep 50);

26.1.5      die opsig oor die bevordering van sending­/getuienis in en deur die gemeente (vgl Art 53);

26.1.6      die opsig oor die behartiging (veral deur die diakens) van barmhartigheidswerk (vgl Art 54);

26.1.7      gemeentebediening (vgl Art 52);

26.1.8      die opsig oor en bevordering van die kerk­like dienswerk van gelowiges (vgl Art 55);

26.1.9      die bestudering van die kerk se leer en ander aktuele sake en voorligting aan die gemeente (vgl Art 56);

26.1.10    om agendas en besluite van meerdere vergaderinge aan lidmate te kommunikeer, en om terugvoering van lidmate aan meerdere vergaderinge te kommunikeer.

26.1.11    die behartiging van ekumeniese skakeling in ooreenstemming met die ekumeniese beleid van die sinode (sien Art 70 en AS Regl 22);

26.1.12    die reëling en bevordering van die kerk­like bevestiging van huwelike en die bepaling van huweliksfooie (vgl. Art 51.2);

26.1.13    die opsig oor die gemeentelike admini­strasie deur:

26.1.13.1     die hou van behoorlike registers van doop-­ en belydende lidmate;

26.1.13.2     die voorsiening van ʼn toereikende vergoedingspakket wat ʼn behoorlike huis- of huistoelaag, motortoelaag, ʼn pensioen- en mediesevoordeel vir predikante insluit;

26.1.13.3     die voorsiening van ʼn toereikende besoldig­ing en toepaslike voordele aan amptenare en werknemers van die kerkraad;

26.1.13.4     behoorlike beheer oor die eiendomme en fondse van die gemeente onderhewig aan NGKN Regl 1 (Bestuur van eiendomme, goedere en fondse);

26.1.13.5     die insameling van en stiptelike verantwoord­ing aan die administratiewe bestuurder van alle sinodale en spesiale kollektes deur die sinode bepaal en die eweredige bydraes;

26.1.13.6     die bewaring van die gemeentelike argief.

26.2  Die Taak van die kerkraad ten opsigte van die ring

26.2.1    Die kerkraad voorsien die ring by elke ge­wone vergadering van die volgende stukke:

26.2.1.1     die geloofsbrief van die afgevaardigde predikant(e) en ouderling(e)/diaken(s) met hulle secundi (Vorm 4.2);

26.2.1.2     die begroting en die balansstaat en staat van inkomste‑ en uitgawes opgestel deur ʼn geoktrooieerde rekenmeester/ouditeur;

26.2.1.3     gesertifiseerde afskrifte van die doop‑ en lidmaatregisters vir die voorafgaande kerkjaar/jare (Vgl. NGKN Riglyn 4, pt 4);

26.2.1.4     Gemeentes kan onder die volgende voorwaardes van ‘n goedgekeurde gesertifiseerde finansiële rekenmeester (CFA) gebruik maak:

26.2.1.4.1      ’n Gemeente se jaarlikse inkomste moet nie meer wees as N$ 1 miljoen nie;

26.2.1.4.2      Gemeentes wat van die vergunning gebruik wil maak, moet vooraf ’n skriftelike, gemotiveerde versoek tot die D.G.A. rig vir toestemming;

26.2.1.4.3      Die D.G.A. behou die reg voor om ’n voorgestelde CFA af te keur;

26.2.1.4.4      Dit sal van die CFA verwag word om die stel state, aan die hand van ’n vooraf ooreengekome stel riglyne soos verskaf deur die D.G.A., te ondersoek.

26.2.2    Die stukke vermeld in 26.2.1.1 tot 26.2.1.3 moet, nadat dit deur die kerkraad goedgekeur is, onderteken word deur die voorsitter en skriba van die kerkraad, en die afskrifte van die doop‑ en lidmaat­registers moet deur die Diensgroep vir Argief / ad hoc‑diensgroep vir afskrite soos volg gesertifiseer word: Parafering van elke blad aan die regterkant onder en sertifisering op die laaste bladsy in die volgende bewoording:  Gesertifiseer ʼn ware en korrekte afskrif te wees van die doop‑ en lidmaatregister van die gemeente ……….. (naam van gemeente)  vir die tydperk ………………. (aanduiding van die tydperk).

26.3  Kerkraad: Wyse van uitvoering van take

26.3.1    Vir die uitvoering van sy profetiese, priesterlike en koninklike roeping kan die kerk­raad gebruik maak van staande, tydelike (dws tydens ʼn vergadering) en ad hoc-diensgroepe en/of taakspanne om hom te adviseer of opdragte uit te voer. Diensgroepe / taakspanne kan ook lidmate en kundiges wat nie lede van die kerkraad is nie, insluit.

26.3.2    Elke kerkraad mag huishoudelike regle­mente opstel mits dit nie in stryd is met die Kerkorde van die Ned Geref Kerk en die Bepalin­ge, Reglemente en ander besluite van die Ned Geref Kerk in Namibië nie.

Artikel 27

27.1 ’n Kerkraad mag desentraliseer en aan gedesentraliseerde kerkrade[17] duidelik omskrewe bevoegdhede gee wat aan die ring vir goedkeuring voorgelê word.

27.2 Vir die behartiging van die besondere werksaamhede aan die onderskeie ampte verbonde, mag die ouderlinge en diakens gereeld afsonderlik vergader.

Bepaling 27: Samestelling van die kerkraad

27.1    In elke gemeente moet daar ʼn kerk­raad wees by wie die regering van die gemeen­te berus en wat uit ten minste drie ouderlinge en drie diakens bestaan. Die kerkraad bepaal verder self hoeveel kerkraadslede daar moet wees. Daar moet sover moontlik ewe veel ouderlinge- en diakensposte wees.

27.2    Indien daar as gevolg van bedanking of skorsing van lede minder as drie ouderlinge en drie diak­ens oorbly, gee die voorsitter van die kerkraad hiervan kennis aan die ringskommissie.  Die voorsitter/ skriba van die ringskommissie belê hierop ʼn vergadering van lidmate van die ge­meente waar die vakatures aangevul word volgens die riglyne vervat in punt 1.1.7 van NGKN Regl 3.

27.3    In die geval van nuutgestigte gemeen­tes word die reëling getref in die voetnoot by punt 1.1.7 van NGKN Regl 3 gevolg by die vasstelling van die grootte van die kerkraad.

27.4    Die ring mag met of sonder voorwaardes en in uitsonderlike omstandighede aan ʼn kerkraad vergunning verleen om met minder as 6 kerkraadslede te funksioneer.

Artikel 28

28.1 Die kerkraad vergader minstens vier keer per jaar. In buitengewone omstandighede en met die goedkeuring van die ring kan die kerkraad minder vergader.

28.2 Die kerkraad kies jaarliks ’n voorsitter uit die predikant(e) en ouderlinge.

28.3 Buitengewone vergaderings van die kerkraad word deur die voorsitter byeengeroep na oorlegpleging met die predikant(e), indien die voorsitter nie ’n predikant van die gemeente is nie.

28.4 Indien die plaaslike predikant(e) nie by ’n gewone of buitengewone kerkraadsvergadering teenwoordig kan wees nie óf indien die pos van predikant vakant is, woon die konsulent of ’n ander predikant (dienend óf geëmeriteerd), deur die ring of sy gevolmagtigde daartoe aangewys, die vergadering adviserend namens die ring by, met verslag aan die ring. Die persoon kan ook op versoek van die kerkraad as voorsitter optree.

Bepaling 28: Kerkraadsvergade­rings

28.1  Gewone Vergaderings

Gewone vergaderings van die kerkraad word deur die voorsitter belê deur afkondiging op twee agtereenvolgende Sondae, of skriftelike kennis­gewing aan alle lede veertien dae voor die vergadering.

28.2  Buitengewone Vergaderings

28.2.1    Buitengewone vergaderings word in terme van KO Art 28.3 belê deur skriftelike/ tele­foniese kennisgewing aan alle lede met vermel­ding van die redes vir die vergadering, minstens drie dae vóór die vergadering.

28.2.2    Die voorsitter is verplig om ʼn buitenge­wone vergadering te belê wanneer drie of meer lede van die kerkraad, met opgaaf van redes, hom skriftelik daarom versoek.  Die voorsit­ter moet binne ʼn redelike tyd aan so ʼn versoek uitvoering gee.

28.3  Voorsitterskap

Alle voorsitters hou hulle stiptelik aan die Reglement van Orde (NGKN Regl 8).

3.2.2 Die ring

Artikel 29

As uitdrukking van die kerkverband en met die oog op behoorlike kerklike dissipline, word naburige gemeentes onderling gegroepeer tot ringe. Hierdie groepering van gemeentes word van tyd tot tyd deur die sinode gedoen. Die ring vergader een maal per jaar of soos deur die betrokke sinode bepaal.

Bepaling 29:  Ringsvergaderings

29.1  Herindeling van ringe

29.1.1    ʼn Herindeling van ringe deur die sinode vind plaas tydens ʼn vergadering van die sinode. Onmiddellik na herindeling kom die betrokke ringe vir hulle konstitueringsverga­dering byeen.

29.1.2    Vir hierdie vergadering, sowel as die daaropvolgende buitengewone vergaderinge van die ring tot by die volgende gewone ver­gade­ring tree die afgevaardigdes na die sinode as wettige lede van die ringsvergadering op.

29.2  Tyd en Plek van ringsvergaderinge

29.2.1    Ringe vergader elke jaar waarin die sinode nie vergader nie, so gou as moontlik na die afsluiting van die finansiële jaar op ʼn tyd en plek deur die ring bepaal. Ringe vergader wel in die jaar waarin die Algemene Sinode vergader.

29.2.2    Die voorsitter van die ringskommissie kan met toestemming van die ringskommissie die bepaling insake tyd en plek verander.

29.3  Oproep na Vergaderings

ʼn Gewone en buitengewone ringsvergadering word by wyse van skriftelike kennisgewing aan al die kerkrade minstens drie weke vooraf, opgeroep.

29.4  Buitengewone Vergaderings

Buitengewone vergaderings van die ring word belê deur die voorsitter of skriba van die ringskommissie op versoek van minstens twee kerkrade uit die ringsgebied.

29.5  Ringsvergadering: Algemene Bepa­lings

29.5.1    Die kworum vir ʼn ringsvergadering word bepaal volgens punt 4.2.1 van NGKN Regl 8.

29.5.2    By die konstituering en opening van die ringsvergadering word die voorskrifte van die Reglement van Orde (NGKN Regl 8) gevolg.

29.5.3    Die ringsvergadering word deur die rings­kommissie gelei.

29.5.4    As daar gedurende enige jaar hindernisse ontstaan waardeur die voorsitter en skriba van die ringskommissie nie hulle pligte en werksaamhede kan vervul nie, tref die ring­skommissie reëlings vir die voortgang van die werksaamhede.

Artikel 30

30.1 Die ring word saamgestel uit een predikant en een ouderling/diaken as afgevaardigdes deur die kerkraad van elke gemeente binne die ringsgebied. Waar die pos vir predikant vakant is, kan ’n ouderling/diaken in die plek van die predikant afgevaardig word.

30.2 As ’n gemeente meer as een pos vir predikant het, het die kerkraad die reg om meer predikante en nog een ouderling/diaken vir elke bykomende predikant af te vaardig, indien die sinode daartoe besluit. Waar in sodanige gemeente ’n pos vir predikant vakant is, mag die kerkraad ’n ouderling/diaken vir die vakante pos afvaardig.

30.3 Vir elke afgevaardigde word ’n sekundus aangewys. ’n Ouderling/diaken mag as sekundus vir ’n predikant optree.

30.4 Alle afgevaardigdes moet van geloofsbriewe voorsien wees.

Bepaling 30:  Samestelling van ring

30.1    Gemeentes word in ringsvergaderinge verteen­woordig deur hulle predikant(e) en een ouderling / diaken vir elke pos vir predikant insluitende die van tentmakers-/vaste termynposte. Vir elke afge­vaardigde word ʼn sekundus aangewys. Primarius- en sekundus afgevaardigdes mag tydens vergaderings, met verlof van die vergadering, verwissel.

30.2    Alle afgevaardigdes moet van geloofs­briewe voorsien wees.

30.3    Die afgevaardigdes na ʼn gewone ver­gadering van die ring tree ook op as afgevaar­digdes na buitengewone vergaderings van die ring. Waar vakatures in die afvaardiging van ker­krade ontstaan, word dit aangevul met nuwe lede.  Hierdie nuwe afgevaardigdes moet van geloofs­briewe voorsien wees.

30.4    ‘n Buitengewone vergadering word gehou wanneer meer as die helfte van die gemeentes uit die ring teenwoordig kan wees.

Artikel 31

Tot die werksaamhede van die ring hoort:

31.1 kerkvisitasie;

31.2 die opsig oor die gemeentes, om toe te sien dat kerkrade en gemeentes hulle roeping nakom;

31.3 advies en hulp aan kerkrade;

31.4 die stigting van nuwe gemeentes of ontbinding van gemeentes op versoek van Kerkrade en die reëling van gemeentelike grense[18];

31.5 die behandeling van sake wat óf in eerste instansie óf op appèl voor die ringsvergadering gebring word;

31.6 die behartiging van die gemeenskaplike roeping en gesamentlike werksaamhede van die gemeentes binne die ring soos telkens deur die ring bepaal;

31.7 die opsig, tug en/of dissipline oor alle ouderlinge, diakens en predikante, wat emeriti en proponente insluit, sonder om die opsig van die kerkraad oor sy ampsdraers uit te sluit (vergelyk Artikel 62.2 van die Kerkorde);

31.8 die aanwys van konsulente;

31.9 die toekenning van beperkte bevoegdheid op versoek van Kerkrade (vergelyk Artikel 48.3.5 van die Kerkorde).

Bepaling 31: Werksaamhede van die ring

31.1  Taak van die ring

31.1.1    Die NGKN verstaan die roeping van die ring so:

+ Die ring bied aan die gemeentes in die ringsgebied die geleentheid om kerkverband te vier.

+ Die ring voer sy opsigtaak uit deur na gemeentes om te sien, hulle aan te moedig, raad te gee, by te staan en waar nodig te vermaan.

+ Die ring help gemeentes om die Roe­pings­verklaring van die sinode tot praktyk te bring

31.1.2    Die ring moet sorg dra dat al die fasette van sy roeping wat in Art 31 genoem word en die hele terrein van die kerklike lewe in die gemeen­tes (vgl Hoofstuk 4 van die Kerkorde) aandag kry en so sy profetiese, priesterlike en koninklike roeping uitvoer.

31.1.3    Die ring moet steeds op die hoogte bly van besluite en aksies van die Algemene Sinode en die Sinode van Namibië wat die kerklike lewe in die ringsgebied raak.

31.2  Kerkvisitasie: Onderlinge sorg

Die ring sien toe dat toepaslike reëlings in plek is sodat gemeentes hulle onderlinge sorg-verantwoordelikheid teenoor mekaar doel­treffend kan nakom.

31.3  Gemeentelike Aangeleenthede

31.3.1    Stigting van Gemeentes

31.3.1.1     Dit is in belang van die Koninkryk van God en die kerk dat die gemeentes deur ʼn natuur­like uitbreiding sal vermeerder en so geor­ganiseer word dat die bearbeiding van die lidmate met die meeste vrug kan geskied.

31.3.1.2     Die sinode beskou dit as wenslik dat geen gemeente uit meer as 700 doop‑ en belydende lidmate per pos vir ʼn predikant moet bestaan nie.  Waar ʼn gemeente met een pos vir ʼn predikant meer as 1000 doop‑ en belydende lidmate tel, moet die ring met die betrokke kerkraad in onder­handeling tree ten einde meerdere bediening van die gemeente te bewerkstellig.

31.3.1.3     Nuwe gemeentes word deur die ringskommissie in opdrag van die ring gestig volgens die prosedure in NGKN Regl 3 omskrywe.  Die skriba van die ringskommissie gee hiervan kennis aan die skriba van die moderamen en die Kerkbode.

31.3.2    Kombinasie, Eenwording en Same­smel­ting van Gemeentes

Die prosedure wat gevolg moet word wanneer gemeentes wil kombineer, een word of saamsmelt, word gereël deur NGKN Regl 3.

31.3.3    Wysiging van Gemeentegrense

31.3.3.1     Wysiging van gemeentegrense kan alleen op versoek van, of met die instemming van die meerderheid van die lidmate wat deur sodan­ige wysiging by ʼn ander gemeente ingeskakel word, geskied.

31.3.3.2     Wysiging van gemeentegrense mag alleen om gewigtige redes wat deur die ring(e) beoor­deel moet word, geskied. Sodanige wysiging moet eers deur die betrokke kerkrade goedgekeur en met volledige motivering aan die betrokke ring(e) voorgelê word.  Na goed­keuring deur die ring(e) gee die skriba(s) van die ringskommissie(s) hiervan kennis aan die skriba van die moderamen en die Kerkbode.

31.3.3.3     Waar ʼn groep lidmate om gegronde redes aansoek doen om deur grenswysiginge by ʼn naburige gemeente ingeskakel te word en die betrokke kerkraad of kerkrade dit weier, het hulle reg op verdere appèl.

31.3.3.4     Waar die gemeentes tussen wie die grense gewysig wens te word, onder twee ringe ressorteer, moet die goedkeuring van beide ringskommissies verkry word.

31.3.3.5     Koste verbonde aan die wysiging van die grense van bestaande gemeentes (indien enige), word deur die betrokke gemeente gedra.

31.3.4    Naamsverandering van Gemeentes

Aansoeke om naamsverandering van bestaande gemeentes moet met die nodige motivering by die ring ingedien word.  Na goedkeuring deur die ring, word kennis gegee aan die skriba van die moderamen en die Kerkbode. Alle koste in dié verband word deur die betrokke gemeente gedra.

31.3.5      Implementering van tentmaker­poste of vaste termynposte

Die tentmakerbediening word ingerig volgens NGKN Regl 18 en die vaste termynpos volgens NGKN Regl 19.

31.3.6    Ander Sake wat die ringe behandel

ʼn Ring neem alle sake in behandeling wat deur kerkrade binne die ressort, deur lede van die ring en lidmate van gemeentes op ʼn behoorlike wyse aan die ring voorgelê word.

31.4  Diensgroepe/taakspanne van die ring

31.4.1    Staande diensgroepe/ taakgroepe

Om sy profetiese, priesterlike en koninklike roeping uit te voer kan die ring, na behoefte, gebruik maak van diensgroepe en/of taakspanne. Hulle hoef nie ʼn replika te wees van die diens­groepe/taakspanne wat die sinode of Algemene Sinode gebruik nie. Die ring moet sorg dra dat aan Kerkorde Artikels 50, 52, 53 en 54 uitvoering gegee word.

31.4.2    Ringskommissie

31.4.2.1     Die ringskommissie dien vir ʼn termyn van 4 jaar.

31.4.2.2     Die ring kies aan die einde van elke vierde gewone vergadering ʼn ringskommissie bestaande uit ʼn voorsitter en twee (2) addisionele lede. ʼn Persoon mag nie meer as twee keer agtereenvolgens as voorsitter van die rings­kommissie verkies word nie. Hy / sy mag wel in ʼn ander posisie verkies word.[19]

31.4.2.3     Die ringskommissie voer opdragte van die ring uit, neem spoedeisende sake in behan­deling, gee uitvoering aan NGKN Regl 9 en doen aan die volgende ringsvergadering verslag van sy werksaamhede.

31.4.2.4     Die pligte van die skriba van die ringskommissie word in NGKN Regl 13 uiteengesit.

31.4.3    Diensgroep vir Argief

By elke gewone vergadering van die ring word ʼn Diensgroep vir Argief benoem aan wie opgedra word om verslag te doen aan die volgende gewone vergadering van die ring oor:

31.4.3.1     die afskrifte van die dooplidmaat‑ en lidmaatregisters wat deur die verskillende kerk­rade vir opsending na die argief gereed­gemaak is. (Bep 26.2.2 en punt 4 van NGKN Riglyn 4);

31.4.3.2     die ingekome aansoeke om rektifi­kasies en laat-inskrywings wat nie deur die ringskommissie afgehandel is nie (punt 2 van NGKN Riglyn 4, Vorms 1.2, 1.3, 1.4, 1.5, en 1.6);

31.4.3.3     die argiefvereistes waaraan alle verslae en verslagvorms moet voldoen volgens NGKN Riglyn 4;

31.4.3.4     die toestand van die kerklike registers van die gemeente waar die ring vergader.

31.4.4    Diensgroep vir Fondse

By elke gewone vergadering van die ring word ʼn Fondsediensgroep benoem aan wie opgedra word om verslag te doen aan die volgende gewone vergadering oor:

31.4.4.1   geouditeerde state van al die gemeentes in die ressort;

31.4.4.2   die aansoeke van gemeentes om hulp uit die Salarisondersteuningsfonds;

31.4.4.3   die verantwoording van die ringsfonds.

31.4.5    Konsulent

31.4.5.1     Die ring benoem ʼn konsulent vir elke gemeente binne sy gebied en bepaal die vergoe­ding en reistoelae wat deur gemeentes aan konsulente betaalbaar is;

31.4.5.2     Die konsulent vervul in alle opsigte die pligte van die plaaslike predikant in geval van ʼn vakature (vgl. Art 9 en Bep 9);

31.4.5.3     Die konsulent doen skriftelik verslag van sy konsulentewerk aan die ringskommissie.

31.4.6    Koste van diensgroepe/taakspanne van die ring

Tensy anders bepaal, word die koste verbonde aan die werk van diensgroep/taakspan van die ring uit die ringsfonds betaal. Die ringskommissie moet in alle sodanige gevalle die nodige magtiging vir uitbetaling verleen.

31.4.7    Tydelike diensgroepe/taakspanne

Die ring mag tydelike diensgroepe/taakspanne benoem wat die gewone vergadering van die ring tydens die vergadering met aanbevelings dien.

3.2.3 Die sinode

Artikel 32

Die sinode word saamgestel uit afgevaardigdes van gemeentes wat geografies ’n eenheid vorm en maklik vergader. Die groepering kan deur die Algemene Sinode/Algemene Sinodale Moderamen gewysig word op versoek en met goedkeuring van die betrokke sinode(s)/sinodale kommissie(s).[20]

Artikel 33

33.1 Sinodes word op een van die volgende maniere, waaroor elke sinode self besluit, saamgestel:

33.1.1      uit een predikant en een ouderling/diaken as afgevaardigdes deur die kerkraad van elke gemeente binne die sinodale gebied. Waar die pos vir predikant vakant is, kan ’n ouderling/diaken in die plek van die predikant afgevaardig word; óf

33.1.2      as ’n gemeente meer as een pos vir predikant het, het die kerkraad die reg om meer predikante en nog een ouderling/diaken vir elke bykomende predikant af te vaardig, indien die sinode daartoe besluit. Waar in sodanige gemeente ’n pos vir predikant vakant is, mag die kerkraad ’n ouderling/diaken vir die vakante pos afvaardig; óf

33.1.3      ’n gelyke aantal predikante en ouderlinge/diakens uit elke ring in die sinodale gebied. Die sinode besluit op die wyse van afvaardiging en die aantal afgevaardigdes per ring.

33.2 Die teologiese opleiding word in adviserende hoedanigheid verteenwoordig deur ’n NG dosent van die Teologiese Fakulteit Stellenbosch en/of die Teologiese Fakulteit Pretoria en/of die Teologiese Fakulteit Bloemfontein.

33.3 Vir elke afgevaardigde word ’n sekundus aangewys. ’n Ouderling/diaken mag as sekundus vir ’n predikant optree.

33.4 Afgevaardigdes moet van geloofsbriewe voorsien wees.

Bepaling 33:  Die sinode

33.1  Afvaardiging

Elke kerkraad vaardig een predikant en een ouderling / diaken vir elke pos vir predikant in die gemeente af na die sinode. Vir elke afgevaardigde (sowel predikante as ouder­linge/diakens) word ʼn sekundus aangewys.

33.2  Konstituering

33.2.1    Konstituering vind plaas in terme van die Reglement van Orde (NGKN Regl 8)

33.2.2    Vervanging van Afgevaardigdes tydens Verga­derings

33.2.2.1     ʼn Primarius afgevaardigde mag ty­dens die vergadering vervang word deur die sekundus.

33.2.2.2     Reiskoste vir ʼn vervangende afge­vaardigde word deur die betrokke kerkraad gedra.

33.2.3    Buitengewone vergaderings van die sinode word saamgestel uit die afgevaar­digdes na die vorige gewone vergade­ring of hulle sekundi.  Waar afgevaar­digdes en hulle sekundi na die vorige gewone vergadering nie meer beskikbaar is nie, kies die kerkraad nuwe afgevaardigdes. Alle nuwe afgevaardigdes moet van geloofs­briewe voorsien wees.

Artikel 34

Die sinode vergader ten minste elke vier jaar, sover moontlik in die jaar na die gewone vergadering van die Algemene Sinode.

Bepaling 34:  Sinodale Vergade­rings

34.1    Die moderamen reël so dikwels as nodig die gewone vergaderings van die sinode deur uitvoering te gee aan Artikel 34. Die skriba van die moderamen roep die vergadering minstens ses maande tevore byeen deur ʼn kennisgewing aan al die kerkrade.

34.2    Buitengewone vergaderings van die sinode word minstens twee maande tevore deur ʼn kennisgewing van die skriba van die moderamen aan kerkrade byeengeroep.

Artikel 35

Tot die taak en bevoegdhede van die sinode hoort:

35.1 die opstel en wysiging van bepalings en reglemente vir die werksaamhede aan hom toevertrou, mits dit nie met die Kerkorde in stryd is nie;

35.2 die behartiging van die gemeenskaplike roeping en gesamentlike werksaamhede van die gemeentes in sy gebied, met inagneming van Artikel 22 en daarom ook Artikel 26, 31 en 43 van die Kerkorde. Die aard en omvang van hierdie sake word deur die sinode self bepaal;

35.3 die opleiding van predikante soos deur Artikel 6 van die Kerkorde bepaal;

35.4 die opbou van die nodige fondse met die oog op eie werksaamhede en die finansiering van die Algemene Sinode volgens ’n aanvaarde formule;

35.5 die behandeling van alle sake wat in eerste instansie of by wyse van appèl voor hom gebring word;

35.6 die aanwysing van afgevaardigdes na die Algemene Sinode; en

35.7  die opname van ander belydenisskrifte in die kerklike bepalinge van die sinode[21], op voorwaarde dat:

35.7.1  die Algemene Sinode vooraf bevind het dat sodanige belydenisskrif nie in stryd is met die Skrif, die Formuliere van Eenheid en die erkende ekumeniese belydenisse nie;

35.7.2  minstens twee derdes van ‘n sinode ten gunste daarvan besluit;

35.7.3  minstens twee derdes van die kerkrade van ‘n sinode ten gunste daarvan besluit en die nodige approbasie verkry is;

35.7.4  dit sonder dwang vir lidmate, ampsdraers en ander kerkvergaderinge binne die sinodale gebied geskied, en

35.7.5  dit nie as ‘n wysiging van die NG Kerk se gemeenskaplike belydenisgrondslag beskou word nie.

Bepaling 35: Werksaamhede van die sinode

35.1  Algemeen

35.1.1    Take en bevoegdhede van die vergadering

Benewens die gewone take en bevoegdhede van die sinode ooreenkomstig Artikel 35,

35.1.1.1     is die sinode daar om gemeentes daadwerklik te help om voor God en met mekaar as missionêre kerk te leef en te werk deur:

+ hoop in gemeentes te skep;

+ ondersteunende verhoudings te skep;

+ gemeentes se leierskap-, gemeente- en gemeen­skaps­roeping te bevorder.

35.1.1.2     bied die samekoms van die sinode aan gemeentes die geleentheid om die kerk verband te vier.

35.1.2      Sake vir behandeling deur die sinode

35.1.2.1     Sake vir behandeling deur die sinode moet minstens drie maande voor die datum van die aanvang van die sinode in die hande van die skriba van die moderamen wees.

35.1.2.2     Kerkrade, ringe, diensgroepe/ taakspanne van die sinode en lidmate (by wyse van versoekskrifte), kan sake vir behandeling voorlê. Die sinode besluit of laat ingekome stukke behandel sal word.

35.1.2.3     Voorleggings soos in 35.1.2.2 moet minstens drie maande voor die aanvang van die sinode by die skriba ingedien word.

35.1.2.4     Die moderatuur het die bevoegdheid om verslae wat ontvang is, te laat verkort as dit onnodig lank is.

35.1.2.5     Beskrywingspunte, voorstelle of amen­de­men­te wat veranderinge in die Kerkorde en Bepalinge ten doel het, moet, alvorens hulle bespreek kan word, in sodanige vorm wees waarin die voorstellers meen dat hulle in die bepalinge opgeneem moet word.

35.1.2.6     Die Algemene Sekretaris laat die agenda druk nadat die moderatuur insae gehad het in die stukke wat ontvang is en hy versprei die agenda minstens vier weke voor die datum van die vergadering onder die samestellende kerkrade.

35.1.3    Leiding van die vergadering

35.1.3.1     Die vergadering van die sinode word gelei deur die moderatuur.

35.1.3.2     Die moderatuur sorg vir die ordelike verloop van die vergadering en onderteken die goedgekeurde notule na elke sitting.

35.1.3.3     Behalwe die behartiging van alles wat normaalweg die taak van ʼn skriba is, gee die algemene sekretaris ook uitvoering aan alles wat ten opsigte van die skribaat van die sinode aan hom/haar opgedra is in sy/haar werkopdrag.

35.1.3.4     Die pligte van die actuarius Synodi is volledig uiteengesit in NGKN Regl 6.

35.1.4    Aanwys van afgevaardigdes na die Algemene Sinode

35.1.4.1     Die sinode wys sy afvaardiging na die Algemene Sinode in ooreenstemming met Kerkorde Art 38.1 aan. Hierdie afvaardiging bestaan uit ʼn gelyke aantal predikante en ouderlinge/diakens en sluit die moderatuur in.

35.1.4.2     Die moderamen / moderatuur mag vakatures in die afvaardiging aanvul.

35.1.5    Opskorting van Bepalinge

Die sinode mag voorskrifte van sy Bepalinge en Reglemente, in so verre dit administratiewe aangeleenthede raak, opskort of daarvan vrystelling verleen. Hiervoor is ʼn twee­derde meerderheid nodig.

35.2  Taakspanne en Diensgroep

35.2.1    Algemeen

35.2.1.1     Tydens vergaderings wys die sinode tydelike diensgroepe na behoefte aan.

35.2.1.2     Vir die uitvoering van sy koninklike, priesterlike en profetiese roeping tussen vergaderings maak die sinode, na die eis van die omstandighede, gebruik van ʼn netwerk van forums, diensgroepe, taak- en aksiespanne, persone en gemeentes wat onder leiding van die moderamen funksioneer.

35.2.2    Moderamen

35.2.2.1     Samestelling

Tydens elke gewone vergadering benoem die sinode ʼn moderamen wat bestaan uit die moderatuur plus twee lede uit elke ring, een predikant (verkieslik die voorsitter van die ringskommissie) en een ouderling / diaken. Sinodale amptenare en voorsitters van ander diensgroepe kan adviserend sitting neem in die moderamen.

35.2.2.2     Vergaderings

Die moderamen word minstens twee maal per jaar deur die moderatuur byeengeroep en vergader onder leiding van die moderatuur. Spoedeisende sake kan per rondskrywe afgehandel word. Skriftelike kennisgewing van vergaderings word minstens twee weke vooraf deur die skriba van die moderatuur aan elke lid gestuur. Wanneer minstens vyf lede skrif­telik daarvoor vra, is die moderatuur verplig om die moderamen byeen te roep.

35.2.2.3     Opdrag

Aan die moderamen word opgedra om

35.2.2.3.1    uitvoering te gee aan alle opdragte van die sinode;

35.2.2.3.2    spoedeisende sake wat tot die bevoegdheid van die sinode behoort, met inagneming van die kerklike bepalinge, te hanteer;

35.2.2.3.3    buitengewone vergaderings van die sinode byeen te roep wanneer die belange van die kerk in die algemeen of sake van groot gewig in die besonder dit vereis;

35.2.2.3.4    alle werksaamhede wat lê op die terreine van Gemeentelike Ontwikkeling, Leier­skaps­ont­wik­ke­ling en Gemeenskapsroeping te stimuleer, inisieer, koördineer en beheer.[22]

35.2.3    Moderatuur

35.2.3.1     Samestelling

35.2.3.1.1      Die sinode kies aan die einde van elke gewone vergadering, ʼn moderatuur wat bestaan uit ʼn moderator, assessor, aktuarius, skriba, twee addisionele lede, die algemene sekretaris (ampshalwe, adviserend).

35.2.3.1.2      Dieselfde persoon mag nie langer as agt (8) jaar as moderator dien nie. Die persoon mag wel in enigeen van die ander poste in die moderatuur verkies word.

35.2.3.1.3      Vakatures in die moderatuur word deur die sinode/moderamen aangevul.

35.2.3.2     Opdrag

Die moderatuur is tussen vergaderings van die sinode verantwoordelik om

35.2.3.2.1      dringende sake wat nie by een van die diensgroepe/taakspanne tuishoort nie en van algemene belang vir die kerk is, te hanteer;

35.2.3.2.2      die moderamen byeen te roep indien nodig;

35.2.3.2.3      na gelang van die tydsomstandighede dank- en biddae te bepaal;

35.2.3.2.4      in samewerking met die personeel van die sinodale kerkkantoor en ander gekoöpteerde lede die volgende vergadering van die sinode te reël ;

35.2.3.2.5      opdragte van die sinode en modera­men uit te voer;

35.2.3.2.6      alle sake op die terrein van die ekumene, met die reg van koöpsie, te hanteer;

35.2.3.2.7      as visie-draers in die sinodale gebied op te tree (hulle dui die agenda vir die kerk aan);

35.2.3.2.8      na behoefte strategiese byeenkomste in die sinodale gebied te reël;

35.2.3.2.9      amptelike gesprekke met regerings- en gemeenskapsinstansies te voer

35.2.3.2.10   kommunikasie in en van die sinode te behartig;

35.2.3.2.11   approbasie te verleen vir die wysiging/aanvulling van die personeel van taakspanne/ diensgroepe, en

35.2.3.2.12   van sy werksaamhede aan die sinode verslag te doen en aanbevelings te maak oor die pad vorentoe.

35.2.4    Diensgroep vir Administrasie

35.2.4.1     Samestelling

Die sinode wys by elke gewone vergadering ʼn diensgroep vir administrasie aan wat  bestaan uit vyf lede. Kundigheid tov finansies, menslike hulpbronne, regsaspekte en administrasie word by die benoeming in ag geneem. Sinodale amptenare neem adviserend sitting in die diensgroep.

35.2.4.2     Opdrag

Die Diensgroep vir Administrasie funksioneer volgens NGKN Regl 2.

35.2.5      Sinodale taakspan: regte

35.2.5.1     Samestelling

Die sinode benoem by elke gewone vergadering ʼn taakspan: regte wat bestaan uit sewe lede met twee sekundi. Minstens een van die lede moet ʼn regs­geleerde wees. Die aktuarius is lid en voor­sitter van die taakspan. Die algemene sekretaris is ampshalwe adviserende lid van die taakspan.

35.2.5.2     Opdrag

Aan die Sinodale taakspan regte word opgedra om

35.2.5.2.1      na behoefte ʼn uitgawe van die Namibiese Bepalinge en Reglemente by die Kerkorde van die Ned Geref Kerk voor te berei en te publiseer;

35.2.5.2.2      na afloop van elke Algemene Sinode die besluite wat veranderinge aan die bepalinge en reglemente van Namibië mee­bring, te verwerk en aan die sinode voor te lê;

35.2.5.2.3      wanneer dit verlang word, kerk­vergaderinge en/of hulle kommissies te dien met voorligting en raad in sake van kerk­regtelike aard;

35.2.5.2.4      ʼn studie te maak van sake wat deur die sinode na hom verwys is en die sinode te dien met ʼn verslag en aanbevelings in dié verband;

35.2.5.2.5      voortdurend ʼn studie te maak van die Kerkorde, Bepalinge en Reglemente in die lig van die Gereformeerde Kerkreg en kerkregering en die sinode met aanbevelings te dien; en

35.2.5.2.6      as gevolmagtigde appèlliggaam [=appèl­kommissie] van die Sinode van Namibië te dien (vgl Art 23.1, Art 65 en NGKN Regl 7: 3).

35.2.6      Verteenwoordigers van die sinode

Sinodale verteenwoordigers word soos volg aange­wys:

35.2.6.1     Kuratoria (aangewys deur die moderamen)

+ Algemene Kuratorium: Een primariuslid met sekundus.

+ Namibiese Kuratorium – vier primarius lede (waarvan minstens een uit DEGNOS) met twee sekundi.

35.2.6.2     Bybelgenootskap van Namibië: een lid met sekundus (aangewys deur die moderatuur)

35.2.6.3     Tussenkerklike Kommissie Namibië (TKKN) (aangewys deur die moderatuur)

35.2.6.4     Council of Churches in Namibia  (aangewys deur die moderatuur)

35.2.6.5     Namibia Evangelical Theological Seminary  (aangewys deur die moderatuur)

35.2.6.6     Na raadpleging met betrokke rolspelers gee die assessor die name deur van verteen­woor­digers van Namibië wat in diensgroepe/ taakspanne van die Algemene Sinode moet dien.

Artikel 36

Die samestellende kerke of sinodes behou volle seggenskap oor hul eiendomme, finansies, werksaamhede, ensovoorts, wat hulle voor toetreding tot die algemene sinodale verband gehad het of daarna verwerf, behalwe die wat volgens die Kerkorde aan die Algemene Sinode oorgedra is of sal word, of deur die Algemene Sinode in trust gehou word.

Artikel 37

Dit staan die samestellende kerke vry om met behoud van alle regte, voorregte, besittings, naam, ensovoorts, uit die algemene sinodale verband te tree wanneer hulle so ’n stap voor God in die lig van sy Woord kan regverdig.

3.2.4 Die Algemene Sinode

Artikel 38

38.1 Die Algemene Sinode bestaan uit ’n maksimum van 200 afgevaardigdes wat saamgestel word uit ’n gelyke aantal predikante en ouderlinge/diakens van die sinodes.

38.1.1      Die eerste 100 afgevaardigdes word uit 10 persone per sinode saamgestel.

38.1.2      Die oorblywende 100 word proporsioneel volgens die aantal belydende lidmate van die sinodes saamgestel.

38.2 Die teologiese opleiding word in adviserende hoedanigheid verteenwoordig deur ’n NG dosent van elk van die teologiese fakulteite van Stellenbosch, Pretoria en Bloemfontein.

38.3 Elke afvaardiging moet van ’n geloofsbrief voorsien wees.

Artikel 39

Die Moderatuur van die Algemene Sinode, bestaande uit ’n moderator, ’n assessor en ’n aktuarius, lei die Sinode (vergelyk Artikel 25 van die Kerkorde). Die algemene sekretaris tree op as skriba van die vergadering, met adviserende stem. Die Moderatuur word tydens die sinodesitting deur die moderators/voorsitters van die onderskeie sinodes bygestaan.

Artikel 40

40.1 Ter aanvang van die Algemene Sinode word die Moderatuur verkies vir die duur van die vergadering.

40.2 Lede van die Moderatuur kan nie vir meer as twee termyne in dieselfde posisie verkies word nie.

40.3 Voor die verdaging van die Algemene Sinode word die Algemene Sinodale Moderamen saamgestel[23].

Artikel 41

Die afgevaardigde predikant met die langste diens wat die oudste in jare is, open die vergadering en gaan voor totdat die moderator gekies is. Die algemene sekretaris help met die konstituering van die vergadering en die verkiesing van die moderator.

Artikel 42

42.1 Die Algemene Sinode besluit self wanneer die volgende Algemene Sinode byeenkom, met dien verstande dat die Algemene Sinode nie langer as vier jaar uitmekaar vergader nie.

42.2 Die Algemene Sinodale Moderamen roep ’n buitengewone Algemene Sinode byeen indien dit nodig geag word, óf op eie inisiatief, óf op versoek van een of meer sinodes.

Artikel 43

43.1 Tot die taak van die Algemene Sinode hoort:

43.1.1      dit wat uitdrukking gee aan die Kerk se gemeenskaplike identiteit in terme van Woord, Belydenis, Kerkorde, roeping en beleid;

43.1.2      dit wat die Kerk se nasionale en internasionale ekumeniese verhoudinge raak;

43.1.3      dit wat die Kerk se publieke getuienis op nasionale en internasionale gebied raak (vergelyk Artikel 67.4 van die Kerkorde)[24];

43.1.4      die viering van die Kerk se onderlinge verbondenheid;

43.1.5      die aanwysing van die Bybelvertaling(s) wat amptelik gebruik moet word;

43.1.6      die vasstelling van die Belydenisskrifte ooreenkomstig Artikel 44, die Kerkorde, die liturgiese formuliere en gebruike, die liederebundel(s) en die liturgiese grondlyne vir eredienste;

43.1.7      die vasstelling van die formele vereistes vir die opleiding van die predikante;

43.1.8      die administrasie van vaste eiendom en fondse van die Algemene Sinode[25];

43.1.9      die beheer oor algemene kerklike media;

43.1.10     die hantering van appèlsake wat voor die Algemene Sinode gebring word.

Artikel 44

44.1 Die wysiging van die Belydenis kan alleen geskied nadat elke sinode afsonderlik met ’n tweederdemeerderheid én twee derdes van alle kerkrade[26] elk met ’n tweederdemeerderheid ten gunste daarvan besluit het.

44.2 Artikel 44.1 en 44.2 van die Kerkorde word gewysig nadat elke sinode afsonderlik met ’n tweederdemeerderheidstem ten gunste daarvan besluit het en die Algemene Sinode daarna met ’n tweederdemeerderheidstem ten gunste daarvan besluit.

44.3 Die Algemene Sinode mag, met uitsondering van Artikel 44.1 en 44.2 van die Kerkorde, die Kerkorde wysig of aanvul met ’n tweederdemeerderheidstem.

44.4 Sake in verband met leertug, leergeskille of geskille tussen sinodes en mindere vergaderinge kan by wyse van appèl voor die Algemene Sinode dien. In gevalle van leertug en leergeskille word ’n tweederdemeerderheidsbesluit vir die bekragtiging van die uitspraak van die Algemene Sinode vereis (vergelyk Artikel 65.2 van die Kerkorde).

44.5 Indien ’n tweederdemeerderheid nie verkry word nie, mag enige van die partye ’n verdere beroep op die afsonderlike sinodes doen. Die gesamentlike volstrekte meerderheid van stemme van die afsonderlike sinodes is dan beslissend.

Artikel 45

Die Algemene Sinode mag artikels van die Kerkorde, met die uitsondering van Artikel 44.1 en 44.2 van die Kerkorde, met ’n tweederdemeerderheidstem óf opskort óf daarvan vrystelling verleen.

Artikel 46

Die Algemene Sinode organiseer sy werksaamhede na behoefte.

Artikel 47

Die Algemene Sinode mag reglemente opstel met die oog op die uitvoering van Artikel 46 van die Kerkorde.

HOOFSTUK 4

DIE ARBEID VAN DIE KERK

4.1 Die openbare erediens

Artikel 48

48.1 Die erediens is, onder die genadige werking van die Heilige Gees, die amptelike openbare samekoms van die gemeente tot ontmoeting met God en onderlinge gemeenskap van die heiliges onder leiding van die besondere ampte en deur die bediening van die Woord, die bediening van die heilige sakramente, die gebed, kerklied en dankoffers.

48.2 Die inrigting van die eredienste word deur die kerkraad vasgestel met gebruikmaking van die liturgiese grondlyne soos deur die Algemene Sinode vasgelê.

48.3 Die leiding van eredienste berus by een van die volgende persone:

48.3.1      die predikant van die plaaslike gemeente, of in die persoon se afwesigheid:

48.3.2      die konsulent;

48.3.3      ’n ander bevoegde predikant[27] van gereformeerde belydenis wat deur die kerkraad daartoe uitgenooi is;

48.3.4      ’n student van ’n teologiese fakulteit van die Nederduitse Gereformeerde Kerk (vergelyk Artikel 6.2 van die Kerkorde) wat, óf in ooreenstemming met die vereistes van die betrokke kuratorium en met toestemming van die kerkraad, deel van die praktiese opleiding in die gemeente ontvang, óf na voltooiing van die praktiese werk deur ’n kerkraad uitgenooi is;

48.3.5      ’n ouderling wat preekvergunning van die kerkraad en die ring ontvang het (vergelyk Artikel 4, 10 en 16.1.8 van die Kerkorde)[28].

48.4 Prediking:

48.4.1      met die oog op die verkondiging van die volle raad van God moet die prediking deurgaans volle reg aan die kerklike jaar en die Belydenisskrifte laat geskied; en

48.4.2      die inhoud van die prediking moet steeds ’n verklaring en toepassing van die Heilige Skrif wees.

48.5 Die Heidelbergse Kategismus, Nederlandse Geloofsbelydenis en Dordtse Leerreëls moet deurentyd sistematies in die prediking aan die orde gestel word.

Bepaling 48:  Die Erediens

48.1    Op Christelike feesdae en gedurende advents-, lydens-, paas-, pinkster- en koninkrykstyd moet die toepaslike groot heilsfeite herdenk word in die verkondiging van die Woord tydens die erediens.

48.2    Die inrigting van  huweliks‑ en begraf­nisdien­ste t.o.v. die byeenkoms, Woordver­kondiging, liturgie, sang en musiek geskied in ooreen­stemming met die Kerkorde en die beleid van die Ned Geref Kerk in dié verband.

48.3    By visitasie: onderlinge sorg word navraag gedoen oor die uitvoering van KO Art 48.5.

48.4    Elke kerkraad hou (ʼn) konsistorieboek(e) by.  Die volgende inligting oor eredienste word aangeteken: naam en preekteks van prediker, bywoningsyfer van erediens, bedrag van bank- en deuroffers ingesamel, aantekening van spesiale geleenthede soos doop, nagmaal, prediking aan die hand van Belydenisskrifte, ens.

4.2 Die sakramente

Artikel 49

49.1 Die Doop[29]

Die heilige doop word deur ’n predikant[30] bedien met gebruikmaking van water en ’n goedgekeurde liturgiese formulier. Dit word, behalwe by hoë uitsondering[31], in die amptelike openbare samekoms van die gemeente bedien.

49.2 Die Nagmaal

49.2.1      Die heilige nagmaal word minstens vier maal per jaar in elke gemeente gevier[32].

49.2.2      Tot die heilige nagmaal word toegelaat:

49.2.2.1    belydende lidmate van die gemeente;

49.2.2.2    dooplidmate van die gemeente wat deur die kerkraad toegelaat is tot die heilige nagmaal[33];

49.2.2.3    besoekers uit ander Nederduitse Gereformeerde gemeentes;

49.2.2.4    besoekers uit ander kerke[34].

Bepaling 49:  Die Sakramente

49.1  Die Heilige  Doop (Vgl ook Alg Sin 2015 Funksionele Besluite 18 en 19):

49.1.1    word tydens die erediens bedien aan kinders van belydende lidmate van die gemeente, kinders van lidmate van ander Ned Geref Gemeentes wat skriftelike verlof daartoe het en volwassenes wat na belydenis van geloof gedoop word;

49.1.2    mag by wyse van uitsondering bedien word aan die kinders van lidmate van erkende Protestantse Kerke, mits hulle daartoe skriftelike verlof ontvang het van hulle eie predikant of die verantwoordelike verteenwoordi­gers van hulle eie gemeente.

49.1.3  Toestemming tot Doop in ander Gemeentes

49.1.3.1     Indien ouers verlang om hulle kinders te laat doop in ʼn ander gemeente as dié waarvan hulle lidmate is, moet hulle skrifte­lik toestemming daartoe verkry van die predikant, of in sy afwesigheid, van die kerkraad.

49.1.3.2     Ouers wat toestemming verkry het om hul kind in ʼn ander gemeente te laat doop, moet ʼn dooponderhoud bywoon in die gemeente wat die toestemming gegee het.

49.1.3.3     Registrasie vind plaas in die gemeente waar die doop bedien word.

49.1.3.4     Toestemming tot die doop kan slegs gegee word indien die doop in ʼn gemeente van die Ned Geref Kerk bedien word.

49.1.4    Lidmate wat na herhaalde vermanings versuim om hulle kinders te laat doop, stel hulle bloot aan tugtoepassing.

49.1.5    Aangenome Kinders

49.1.5.1     Die doop mag nie aan ongedoopte kinders wat aangeneem word, bedien word voordat die aanneming wetlik afgehandel is nie.

49.1.5.2     Aannemende ouers is verplig om die doopbe­lofte na te kom wanneer kinders wat reeds gedoop is, aangeneem word.

49.1.5.3     Die doopbediening geskied in die eredi­ens en die ouers antwoord op die doopvrae soos gewoonlik.

49.1.6    Doop van kinders ouer as 7 jaar.

Van hierdie doopbediening(s) doen die ker­kraad verslag aan die ring met opgawe van redes. (Vergelyk ook Alg Sin 2015 Funksionele Besluit  18.7)

49.1.7    Persone ouer as 16 jaar wat nie as kinders gedoop is nie, kan die doop eers ontvang nadat hulle in die openbaar belydenis van geloof gedoen het deur bevestigend te ant­woord op die vrae van die toepaslike Formulier.

49.1.8    Wanneer ʼn predikant beswaar mag hê om die doop te bedien, moet hy dit aan die doopouers meedeel en so spoedig moontlik die gevoel van die kerkraad verneem en daarvolgens handel.

49.1.9    Ouers wat die doop vir hulle kinders verlang, moet hulle vóóraf aanmeld vir ʼn onderhoud oor die erns en betekenis van die sakrament (vgl. ook Bep 49.1.3.2).

49.1.10    Herdoop

49.1.10.1     Die Ned Geref Kerk herbevestig die gereformeerde geloofsoortuiging oor die genade­verbond en oor die doop wat in die vorm van grootdoop (as sendingdoop) mense buite die kerk wat tot geloof kom, in die genadeverbond inlyf, en in die vorm van die kinder doop kinders van gelowige ouers in dieselfde verbond inlyf.

49.1.10.2     Die herdoop van lidmate doen die eenmalige betekenis van die doop geweld aan. In beginsel moet dit egter as “ʼn dwaling binne die Christenskap” gesien word en daarom pastoraal hanteer word.

49.1.10.3     Die pastoraat rondom herdoop sluit ʼn algemene en persoonlike faset in wat in ooreen­stemming met die besluite van die Algemene Sinode hanteer moet word.

49.1.10.4     Indien dit tydens enige fase van die per­soonlike pastoraat duidelik word dat die oorgedoopte, en trouens enige ander lidmaat, oortuigings het wat die wese van die evangelie aantas, behoort verder met die kerklike tug teen so iemand opgetree te word, wat uiteindelik ook op die uiterste stap van afsnyding kan uitloop.

49.1.10.5     Ampsdraers wat in hierdie opsig dwaal, kan voorlopig in hulle amp gestuit word totdat die saak ondersoek en opgelos is.

49.1.11    Doop van kinders uit die buiteland

49.1.11.1     As lidmate wat net tydelik in die buiteland woon, hul kind in ʼn ander gemeente as hulle tuisgemeente in Suid-Afrika wil laat doop, moet hulle die skriftelike toestemming van hulle tuisgemeente verkry.

49.1.11.2     As lidmate wat permanent in die buiteland woon en daar by ʼn gemeente inskakel, hul kind hier wil laat doop, is die prosedure soos volg:

49.1.11.2.1     Hulle moet toestemming van hulle gemeente in die buiteland verkry

49.1.11.2.2     Daar word met hulle ʼn doopgesprek gevoer

49.1.11.3     As lidmate wat permanent in die buiteland woon nie daar by ʼn gemeente kan inskakel nie, maar hier wil laat doop, is die prosedure soos volg:

49.1.11.3.1     Die kerkraad waar hulle wil laat doop, vra hulle attestaat aan van die gemeente waar hulle lidmaat was totdat hulle geëmigreer het;

49.1.11.3.2     Daar word met hulle ʼn doopgesprek gevoer;

49.1.11.3.3     Hulle word tydens die gesprek gevra na die redes waarom hulle nie by ʼn gemeente kan inskakel nie, en hulle word aangespoor om wel by ʼn gemeente in die buiteland in te skakel.

49.2  Die Heilige Nagmaal (Vgl ook Alg Sin 2015 Funksionele Besluite 20 en 21):

49.2.1    Kerkrade moet sorg dra dat die elemente van selfondersoek en danksegging by die nag­maalsviering tot hulle reg kom in die nagmaal-­liturgie en, indien die kerkraad so besluit, óók tydens aparte voorbereidings- en dankseg­gings­dienste.

49.2.2    Die Nagmaal word deur ʼn geordende predikant bedien.

49.2.3    Die Nagmaal word, behalwe by hoë uitson­de­ring, in ʼn erediens bedien. (vgl Alg Sin 2015 Funksionele Besluit 20)

49.2.4    Die kerkraad beslis oor alle aansoeke om die nagmaal elders te vier, aan die hand van die volgende vereistes:

49.2.4.1     die Woord moet bedien word;

49.2.4.2     die ware betekenis van die Nagmaal moet verduidelik word aan die hand van die formulier;

49.2.4.3     minstens een ampsdraer (verkieslik die wyksouderling) moet teenwoordig wees;

49.2.4.4     waar moontlik word gereël dat ander medegelowiges ook die viering bywoon.

4.3 Die Jeugbediening

Artikel 50

50.1 Die jeug as wesenlike deel van die gemeente is die verantwoordelikheid van die Kerk en hierdie verantwoordelikheid is onvervreembaar en onoordraagbaar.

50.2 Die bediening aan die jeug as verbondsjeug is ’n geïntegreerde deel van die omvattende gemeentelike bediening waarin God deur sy Woord tot die jeug kom deur verkondiging, onderrig, toerusting, herderlike sorg en dienswerk. Hierdie gemeentelike bediening geskied onder die leiding van die ampte aan en deur die jeug.

50.3 Die kinders van die gemeente, asook alle buitekerklikes wat belydende lidmate van die gemeente wil word, moet onderrig word in die Woord van God en die leer van die Kerk. Hierdie onderrig geskied met die oog op belydenisaflegging waardeur hulle deel in die volle regte en verantwoordelikhede van belydende lidmate.

50.4 Waar die omvang en ander omstandighede van die werk dit vereis, word dit in kerkverband onderneem.

Bepaling 50: Openbare belyde­nisaflegging

50.1  Voorbereiding tot Belydenis­afleg­ging

50.1.1    In elke gemeente word kategeseklasse gehou en word godsdiensonderrig tot die openbare belydenis van geloof gegee.

50.1.2    Die kategeseklasse staan direk onder be­heer en toesig van die kerkraad wat verant­woor­de­lik is vir alle interne organisasie in ver­band daarmee.

50.1.3    Die kerkraad behandel jaarliks ʼn verslag oor die kategese‑arbeid en rapporteer daa­roor aan die ring.

50.1.4    Die kerkraad hou hom hoofsaaklik aan die program van lesse vir die katkisasie soos uitgegee onder toesig van die Algemene Sinode.

50.1.5    Ondersoek en Toelating

50.1.5.1     Die ondersoek en moontlike toelating tot aflegging van Belydenis vind plaas na voltooiing van die volle kategetiese leerplan, dit wil sê ses jaar in die junior kategese, vier jaar in die senior kategese en een volle jaar in die belydenisklas. (Normaalweg vind dit in die begin van die dooplidmaat se matriekjaar plaas.)

50.1.5.2     In ʼn geval waar ʼn persoon nie die normale kategetiese leerplan deurloop het nie, word hy slegs toegelaat tot ondersoek en belydenisaflegging nadat hy minstens die ouderdom van 16 jaar bereik het en die leerstof van die hele leerp­lan met hom behandel is.

50.1.6    Die predikant moet tydens die katkisasie aan elke katkisant in ʼn persoonlike gesprek die noodsaaklikheid van die bekering tot God, die persoonlike sekerheid van die genade van Christus en die persoonlike toewyding aan Christus as vereiste vir lidmaatskap van die kerk, verduidelik.

50.2    Toelating tot Geloofs­belydenis

50.2.1    Die ondersoek van die katkisante met die oog op die toelating tot openbare belydenis van geloof geskied deur die kerkraad, of ʼn kommissie van die kerkraad onder leiding van die predikant, of konsulent, of ʼn ander predikant van die kerkverband.  Dit is wenslik dat die ouers van die katkisante ook teenwoordig is.

50.2.2    Die ondersoek met die oog op aflegging van belydenis moet gaan oor die katkisante se kennis van die voorgeskrewe leerstof, sy geloofsrypheid, dit wil sê sy geloofsoortuig­ing aangaande sy lewende verbintenis aan Christus as sy persoonlike Saligmaker, sy meelewing en sy wandel gedurende sy hele kategetiese loopbaan.  Hierdie ondersoek kan mondeling of skriftelik geskied.

50.2.3    Die kerkraad het die volste reg om te reël dat ʼn kandidaat wat nie ten volle bevredig nie, moet wag tot by ʼn volgende Nagmaal wanneer hy/sy weer geleentheid tot ondersoek gegee word indien so versoek word.

50.2.4    Geen katkisant word tot die openbare be­lydenis toegelaat voordat hy die ouderdom van 16 jaar bereik het nie.

50.2.5    Gedoopte katkisante word slegs toege­laat om belydenis van geloof te doen nadat bewys van hulle dooplidmaatskap ontvang en aangeteken is.  Met ongedoopte katkisante word gehandel volgens die voorskrifte in Bep 49.1.6.

50.3      Openbare Belydenisaflegging

50.3.1    Wie toegelaat is tot die openbare belydenis, lê by geleentheid van ʼn openbare erediens belydenis van geloof af.  Katkisante moet antwoord op die vrae soos vervat in die formulier vir dié doel, wat aan hulle voorgehou word deur die plaaslike predikant of die konsulent of ʼn ander predikant van ʼn gemeente binne die rings­verband wat daartoe deur die kerkraad ver­soek is (vgl Bep 10.1).

50.3.2    Die toelating tot die belydenis en die open­bare belydenisaflegging word as een hande­ling beskou en die een mag nie langer as ses maande ná die ander geskied nie.

50.3.3    ʼn Persoon wat in een gemeente toegelaat is en in ʼn ander gemeente belydenis wil aflê, moet skriftelik bewys van toelating tot belydenis en verlof tot die bevestiging inlewer.  Die registrasie geskied in die gemeente waar belydenis afgelê is.

50.3.4    As die belydenisaflegging onmoontlik in die eredi­ens kan plaasvind, geskied dit in teenwoordigheid van die kerkraad of van ʼn kommissie uit die kerkraad vir die doel benoem, met kennisgewing aan die gemeente.

4.4 Die Herderlike sorg

Artikel 51

51.1 Die predikante, ouderlinge en diakens moet herderlike sorg verleen aan alle lidmate van die gemeente, in besonder behoeftiges, siekes en oues van dae. Hulle moet besoek, bemoedig, vertroos en ondersteun word. Voorts moet lidmate voortdurend gewaarsku word teen valse leringe en dwalinge, teen wêreldsgesindheid en goddelose lewenspraktyke.

51.2 Die Christelike huwelik as ’n instelling van God moet heilig gehou word en Kerkrade moet hieroor die nodige herderlike toesig hou.

51.3 Kerkrade sien toe dat afgestorwe lede van die gemeente op ’n Christelike wyse begrawe/veras word.

4.5 Gemeentebediening

Artikel 52

52.1 Die Kerk rig haar deur middel van gemeentebediening tot die lidmate ten einde die gemeente op te bou tot vervulling van sy dienswerk.

52.2 Die Kerk rig haar deur intensiewe gespesialiseerde gemeentebediening tot kerkvervreemdes wat formeel nog lidmate is ten einde hulle daadwerklik te bereik en hulle tot gemeenskap met Christus te bring.

52.3 Waar die omvang en ander omstandighede van die werk dit vereis, word dit in kerkverband onderneem.

4.6 Gestuurdheid (Missio Dei)

Artikel 53

53.1 Die missie van die Drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees is om lewe en volheid aan die wêreld te gee, en die kerk is in diens van God se missie.

53.2 Deur die Woord en Gees vergader God vir Hom ’n gemeente. Deur dié gemeente:

  • laat God sy Woord verkondig,
  • bring Hy die gemeenskap van heiliges uit alle nasies tot stand,
  • laat Hy diens aan die wêreld in nood lewer,
  • laat Hy sy opdrag om die skepping en lewe te bewaar sigbaar tot uitdrukking bring, en
  • word sy geregtigheid en versoening verkondig.

Só laat Hy sy koninkryk kom.

53.3 Die gestuurde kerk bedien die evangelie in al sy dimensies aan mense wat die evangelie nie ken nie of daarvan vervreemd is.

53.4 Elke gemeente is ’n gestuurde gemeente en so elke lidmaat van die gemeente.

4.7 Diens van barmhartigheid

Artikel 54

54.1 Die Kerk moet met priesterlike bewoënheid omsien na die armes en ander sorgbehoewendes deur hulle te help, te troos en geestelik op te hef.

54.2 Waar die omvang en ander omstandighede van die werk dit vereis, onderneem die gemeentes in kerkverband barmhartigheidsbediening.

Bepaling 54:Barmhartigheids­taak van die Kerk

54.1  Skriftuurlike Opdrag

Gehoorsaam aan die voorskrifte van Gods Woord en die eise van die Belydenisskrifte, aanvaar die kerk sy priesterlike roeping ten opsigte van die geestelike, maatskaplike en ekonomiese welsyn van sy naaste.  Hierdie priesterlike taak om sorgbehoe­wendes in hul nood by te staan is primêr die roeping van elke lidmaat afsonderlik (die amp van die gelowige) maar ook van die geïnstitueerde kerk in sy vergaderinge van kerkraad, ring en sinode.

54.2  Omvang en Aard

Die sorgbehoewendheid waaraan die kerk moet aand­ag gee, strek hom uit oor alle fasette van die lewe van alle mensegroepe, byvoorbeeld die geeste­like versorging van lidmate in besondere omstandighede: liggaamlike gestremdheid en behoeftes, geestesgestremd­hede en wanaanpassings.  Die dienste sal voorkoming (voorsorg), versorging van die sorgbehoewendes en nasorg aan die gerehabiliteerdes (of rehabiliterendes) insluit.  Te alle tye sal dit die karakter dra van “die liefde van Christus dring my” en hom ten doel stel om die sorgbehoe­wende sy ware noodleniging by Christus te laat vind.

4.8 Die Dienswerk van die gelowiges

Artikel 55

55.1 Die roeping van die Kerk in sy gestuurdheid na die wêreld (Missio Dei) impliseer die toegewyde dienswerk van elke gelowige.

55.2 Elke gelowige ontvang van die Here die gawes, die geleenthede en die krag van sy Gees om in hulle daaglikse lewe gestalte te gee aan God se liefde vir hierdie wêreld.

55.3 Met die oog hierop behoort die Kerk gelowiges toe te rus, te inspireer en te ondersteun.

55.4 Die Kerk skep geleenthede waar gelowiges betrek word by die uitbou van die Kerk en die uitbreiding van God se Koninkryk.

55.5 Dit staan gelowiges ook vry om ter wille van hulle dienswerk in die wêreld self aksies te begin en netwerke of vennootskappe te vorm om die Koninkryk te bevorder.

55.6 Die Kerk gee met gesonde oordeel haar seën en samewerking aan hierdie aksies, netwerke of vennootskappe wat ook in diens staan van die Missio Dei.

4.9  Leer en aktuele sake

Artikel 56

Die Kerk beywer haar vir Skrifgefundeerde beskouinge ten opsigte van aktuele, leerstellige en etiese aangeleenthede en die bevordering van ’n sedelik gesonde openbare lewe.

4.10 Rentmeesterskap

Artikel 57[35]

Elke kerkvergadering maak die nodige voorsiening vir die sorgvuldige beheer van die stoflike aangeleenthede van die Kerk en doen jaarliks verslag van sy rentmeesterskap aan die gemeente, ring, sinode of Algemene Sinode, soos die geval mag wees.

Bepaling 57: Werksaamhede van die Kerkkantoor

Die werksaamhede van die kerkkantoor, die diensgroep vir administrasie en die algemene sekretaris van die NG Kerk in Namibië moet volgens NGKN Regl. 2 verrig word.

4.11 Diensverhoudinge

Artikel 58

Werknemers, anders as predikante in diens van ’n gemeente of die kerkverband, se diensverhouding word per diensooreenkoms gereël.

 

HOOFSTUK 5

KERKLIKE OPSIG, TUG EN DISSIPLINE

Artikel 59

Doel en voorskrifte

59.1 Kerklike opsig word gehou en kerklike tug en dissipline uitgeoefen

59.1.1      tot eer van God;

59.1.2      tot heil van die Kerk;

59.1.3      tot behoud van die sondaar;

59.2 volgens voorskrifte van

59.2.1      die Woord van God;

59.2.2      die Belydenisskrifte;

59.2.3      die Kerkorde en ander bepalings[36] van die Kerk;

59.2.4      die diensooreenkoms.

Artikel 60

Kerklike opsig en tug

60.1 Die kerklike opsig en tug dra ’n geestelike karakter en pas by die kerk as ’n geloofs- en ’n liefdesgemeenskap. Opsig en tug word dus op ’n kerklike wyse en met geestelike middele uitgeoefen.

60.2 Die amptelike uitoefening van die tug deur kerkvergaderinge of hulle gevolmagtigdes vervang nie die roeping van die gelowiges tot onderlinge vermaning nie, maar vul dit aan.

60.3 Amptelike kerklike opsig en tug is pastoraal-kerkregtelik van aard en moet uit ’n Bybelse en geestelike oogpunt billik en regverdig toegepas word.

60.4 Die kerklike opsig gaan oor die hele lewenswandel (leer en lewe) van al die lidmate (doop en belydend) van die gemeente, ampsdraers ingesluit.

Artikel 61

Tugwaardige sondes

61.1 Sondes wat tot tug lei, is sondes wat indruis teen die Woord van God en die Belydenis van die Kerk.

61.2 Sondes wat openbare aanstoot gee of wat na aanleiding van die voorskrifte van Matteus 18:15 – 17 onder die aandag van die Kerk kom, stel die oortreder(s) bloot aan ’n amptelike tugondersoek.

61.3 Wangedrag deur werknemers van die kerk in terme van diensverhoudinge kan ook tugwaardige sondes wees.

Artikel 62

Lidmate, ampsdraers, gelegitimeerdes en werknemers

62.1 Alle doop- en belydende lidmate van die gemeente val onder die opsig en tug van die kerkraad.

62.2 Alle ouderlinge, diakens, predikante, emeriti en proponente staan onder die opsig en tug van die ring, sonder om die opsig van die kerkraad oor sy ampsdraers uit te sluit (vergelyk Artikel 31.7 van die Kerkorde).

62.3 Lidmate van die Kerk, wat as werknemers in diens van ’n gemeente of die kerkverband is, kan weens wangedrag getug word.

Artikel 63

Kerklike dissipline

63.1 Werknemers in diens van ’n gemeente of die kerkverband, kan in terme van hulle diensverhouding kerklik gedissiplineer word.

63.2 Kerklike dissiplinêre optrede is die gevolg van oortredings by die werkplek en het met die terme van die diensooreenkoms te doen.

63.3 Werknemers in diens van die kerkverband, staan onder die kerklike dissipline van die werkgewer.

63.4 Predikante, emeriti en proponente in diens van ’n gemeente staan onder die kerklike dissipline van die ring.

Artikel 64

Tug- en dissiplinêre maatreëls

64.1 Die onderstaande tug- en/of dissiplinêre maatreëls kan deur ondersoekliggame toegepas word.

64.2 Dooplidmate

64.2.1      ’n bestraffing in ’n privaatgesprek of ter vergadering van die ondersoekliggaam;

64.2.2      sensuur wat bestaan uit onthouding van die nagmaal en/of weerhouding van die aflegging van belydenis van geloof;

64.2.3      afsnyding van die gemeente deur die gebruik van die betrokke formulier.

64.3 Belydende lidmate

64.3.1      ’n bestraffing in ’n privaatgesprek of ter vergadering van die ondersoekliggaam;

64.3.2      sensuur wat bestaan uit die onthouding van die sakramente en die opskorting van ander lidmaatregte;

64.3.3      afsnyding van die gemeente, nadat sensuur en voortgesette herderlike sorg nie tot berou gelei het nie, en deur die gebruik van die betrokke formulier.

64.4 Ouderlinge en diakens

64.4.1      ’n bestraffing in ’n privaatgesprek of ter vergadering van die ondersoekliggaam;

64.4.2      skorsing met of sonder onthouding van die sakramente en met of sonder opskorting van lidmaatregte totdat daar bewys van grondige berou is;

64.4.3      afsetting uit die diens met opskorting van lidmaatregte en onthouding van die sakramente

64.5 Predikante, emeriti en proponente/werknemers met verslag aan die Algemene Taakspan Predikantesake in die geval van gelegitimeerdes

64.5.1      ’n bestraffing in ’n privaatgesprek of ter vergadering van die ondersoekliggaam, of ’n skriftelike waarskuwing deur die werkgewer;

64.5.2      skorsing vir ’n vasgestelde tydperk met een of meer van die volgende maatreëls:

64.5.2.1    opskorting van lidmaatregte;

64.5.2.2    onthouding van die sakramente;

64.5.2.3    gedeeltelike of volle weerhouding van lewensonderhoud en toelaes deur die werkgewer.

64.5.3      Indien die ondersoekliggaam nie oortuig is van die egtheid van die berou nie, kan hierdie skorsing verleng word.

64.5.4      Ontslag uit diens van die gemeente of uit diens van die kerkverband met een of meer van die volgende maatreëls:

64.5.4.1    opskorting van lidmaatregte vir ’n vasgestelde tydperk en/of totdat daar berou is;

64.5.4.2    onthouding van die sakramente vir ’n vasgestelde tydperk en/of totdat daar berou is;

64.5.4.3    kennisgewing aan die Algemene Taakspan Predikantesake dat die betrokke persoon se legitimasie vir ’n vasgestelde tydperk opgeskort word;

64.5.4.4    kennisgewing aan die Algemene Taakspan Predikantesake dat die betrokke persoon se legitimasie met onmiddellike effek beëindig word, wat die nietigverklaring van die Akte van Legitimasie beteken.

Artikel 65

Appèl[37]

65.1 Ooreenkomstig Artikel 23 van die Kerkorde kan daar teen die bevindinge en tug en/of dissiplinêre maatreëls van ondersoekliggame geappelleer word.

65.2 Oor leerstellige sake (vergelyk Artikel 44.4 van die Kerkorde) en oor die beëindiging van bevoegdheid (vergelyk Artikel 7 van die Kerkorde) kan tot by die Algemene Sinode geappelleer word.

65.3 Oor ander sake wat met die tug en/of dissipline verband hou, kan daar nie verder as die sinode geappelleer word nie.

Artikel 66

Opheffing van tug- en/of dissiplinêre maatreëls

66.1 Tugmaatreëls het berou en inkeer ten doel en word, met inagneming van Artikel 59.1 van die Kerkorde, opgehef in die geval van:

66.2 Lidmate

66.2.1      Wanneer ’n belydende lidmaat berou betoon nadat die persoon onder sensuur geplaas is, hef ’n ondersoekliggaam of kerkraad wat oortuig is van die egtheid van berou, die sensuur op.

66.2.2      Wanneer belydenis van geloof weerhou is, laat die kerkraad die dooplidmaat toe tot belydenisaflegging wanneer die ondersoekliggaam oortuig is van die egtheid van berou.

66.2.3      Wanneer ’n lidmaat wat van die gemeente afgesny is, berou betoon en verlang om weer in die gemeente opgeneem te word, neem die kerkraad, indien oortuig van die egtheid van berou, die persoon weer in die gemeente op met die gebruik van die betrokke formulier.

66.2.4      By dooplidmate kan hierdie stap gepaard gaan met belydenisaflegging.

66.3 Ouderlinge en diakens

66.3.1      As die ring of sy gevolmagtigde kommissie as ondersoekliggaam oortuig is van die egtheid van berou, kan die skorsing opgehef word.

66.3.2      Ouderlinge en diakens wat afgesit is, kan dan weer verkies word tot die kerkraad.

66.4 Predikante, emeriti en proponente

66.4.1      As die ring of sy gevolmagtigde kommissie as ondersoekliggaam/kerkverband as werkgewer oortuig is van die egtheid van berou, word die sensuur en skorsing as tug en/of dissiplinêre maatreël opgehef met verslag aan die Algemene Taakspan Predikantesake.

66.4.2      In geval van ontslag van ’n werknemer volgens Artikel 64.5.4 van die Kerkorde, moet die ring die opskorting van lidmaatregte en die onthouding van die sakramente ophef voor die Algemene Taakspan Predikantesake die legitimasie kan herstel.

66.4.3      Herstel in diens van die gemeente/kerkverband kan alleen geskied na geslaagde appèl en indien die appèlliggaam so beslis.

66.4.4      ’n Gelegitimeerde wie se legitimasie deur tug- en/of dissiplinêre optrede beëindig is, kan slegs na colloquium doctum by ’n proponentskommissie en na aanbeveling van ’n kuratorium deur die Algemene Taakspan Predikantesake opnuut gelegitimeer word[38].

66.4.5      In die geval van beëindiging van legitimasie deur tug- en/of dissiplinêre handeling as gevolg van ergerlike sondes/wangedrag soos owerspel, onsedelikheid, egskeiding, moord, meineed, diefstal of na beëindiging van legitimasie as gevolg van leerdwaling, mag toestemming tot legitimasie alleen by hoë uitsondering, nadat gunstige aanbevelings van alle betrokke kerkvergaderinge ontvang is, deur die Algemene Sinodale Moderamen op aanbeveling van die Algemene Taakspan Predikantesake, verleen word.

 

HOOFSTUK 6

BETREKKINGE VAN DIE KERK NA BUITE

6.1    Kerk en staat

Artikel 67

67.1 In die lig van Romeine 13 erken die Kerk die staat as ’n dienaar van God tot ons beswil. Dit is God wat aan die staat die opdrag gegee het om die reg te handhaaf en die kwaaddoeners te straf.

67.2 Die Kerk erken dat die staatsowerheid wat deur sy fisiese swaardmag in beheer van ’n bepaalde staatsgebied is, deur God beskik is en as sodanig eerbiedig moet word. Die norm vir die Kerk se deelname aan die publieke regsverkeer en uitoefening van burgerlike regte is die Woord van God.

67.3 Christus is die Hoof van die kerk. Daarom beskou die Kerk haar reg op vryheid van godsdiens, wat haar Bybels-profetiese getuienis teenoor die staatsowerheid en die wêreld waarin sy staan, insluit, as onvervreembaar. In die uitoefening hiervan maak sy aanspraak op die regsbepaalde beskerming van die owerheid.

67.4 Die Kerk nader staatsowerhede op alle vlakke op ’n ordelike wyse. Hierdie skakeling word gedoen deur haar erkende kerkvergaderinge of die kommissies wat hulle daarvoor aanwys. Skakeling oor sake wat die Kerk in haar algemene sinodale verband raak, geskied deur die Algemene Sinode se gevolmagtigde. Skakeling sonder ’n opdrag van die Algemene Sinode geskied deur die Algemene Sinodale Moderamen met verslag aan die Algemene Sinode (vergelyk Artikel 43.1.3 van die Kerkorde en die voetnota).

6.2    Kerk, maatskappy en vrye vereniging

Artikel 68

Waar moontlik, verleen die Kerk steun aan maatskaplike, nie-kerklike organisasies wat op ’n positiewe Christelike basis georganiseer is en daarop gemik is om die Koninkryk van God te bevorder. Hierdie steun geskied vanuit ’n kerklike perspektief en op ’n kerklike wyse. Die vraag of ’n bepaalde organisasie kan aanspraak maak op die steun van die Kerk, hang af van sy grondslag en doelstellings en die uitlewing daarvan in die praktyk.

6.3    Kerk en onderwys

Artikel 69

69.1 Die Kerk beywer haar daarvoor dat die Woord van God en Protestants-Christelike norme en waardes rigtinggewend sal wees in onderwys- en opvoedkundige instellings en ook vir die kultuuridioom waarin die onderwys plaasvind.

69.2 Die Kerk erken die interne bevoegdheid van onderwysinstellings om tipiese onderwysaangeleenthede (standaarde, leerinhoude, ensovoorts) te finaliseer.

69.3 Die Kerk beywer haar vir Christelike opvoeding en onderwys vir haar kinders en jongmense. Hierdie onderwys moet verantwoorde standaarde en leerinhoude insluit.

6.4    Kerk en ekumeniese betrekking

Artikel 70[39]

70.1 Die Kerk streef daarna om deur middel van haar vergaderinge op ’n verantwoorde wyse met ander Christelike kerke en kerkgemeenskappe saam te werk of te assosieer, ’n gemeenskaplike boodskap uit te dra en saam te stry vir die behoud van Christelike lewensbeginsels.

70.2 Die Algemene Sinode bepaal die aard en graad van die samewerking met ander kerke of kerkgemeenskappe deur middel van ’n gewone meerderheidstem. Wanneer ’n kerk of kerkgemeenskap by die Algemene Sinode aansoek doen om in assosiasie met die Kerk te tree, word goedkeuring verleen wanneer met ’n tweederdemeerderheidstem ten gunste daarvan beslis is. Die aard en omvang van die assosiasie word deur die assosiasie-ooreenkoms gereël.

70.3 Die graad en wyse van samewerking of assosiasie word in elke geval bepaal deur die graad van ooreenstemming ten opsigte van belydenis, kerkregering, erediens en die siening van die Christelike lewenswandel van die betrokke kerk of kerkgemeenskap.

70.4 Die besluit oor ’n aansoek of beëindiging van lidmaatskap van ’n ekumeniese organisasie word geneem met ’n tweederdemeerderheidstem van die Algemene Sinode.

6.5    Tussen-orde

Artikel 71

71.1 Met die oog op enige proses van Kerkhereniging van die Nederduitse Gereformeerde Kerkfamilie onderling, of kerkvereniging met ander gereformeerde kerke, stel die Algemene Sinode vir sodanige samewerking en/of samevoeging van werksaamhede reëlings vas.

71.2 Sodanige reëlings word in ʼn Tussen-orde omskryf, wat na die goedkeuring van die Algemene Sinode in die Kerkordeboek opgeneem word.

71.3 Waar ‘n Tussen-orde in stryd is met die Kerkorde of waar ‘n Tussen-orde nie vir ʼn bepaalde saak voorsiening maak nie, geld die Kerkorde.

71.4 Waar ‘n Tussen-orde in stryd is met die bepalings en reglemente van die samestellende sinodes of waar ‘n Tussen-orde nie vir ‘n bepaalde saak voorsiening maak nie, kan ‘n Tussen-orde eers in ‘n sinode gebruik word nadat  die goedkeuring van die betrokke sinode verkry is.

71.5 ʼn Tussen-orde is nie bepalend of bindend vir die vorm en inhoud van ‘n nuwe Kerkorde wat later in ‘n verenigde kerk saamgestel mag word nie.

71.6 ʼn Tussen-orde word gesamentlik opgestel en moet die goedkeuring dra van die gevolmagtigde verteenwoordigers van al die betrokke kerke wat in die proses van vereniging of hereniging met die Nederduitse Gereformeerde Kerk is.

71.7 ʼn Tussen-orde sal alleen van toepassing wees waar twee of meer regspersone van verskillende kerkverbande daartoe ooreenkom.

 

REGLEMENTE

1.      Reglement vir die bestuur van eiendomme, goedere en fondse

Hierdie Reglement moet saamgelees word met Reglement 20  van die Algemene Sinode (Kerkorde 2015).

  1. ALGEMEEN

1.1  Die opsig oor, die regering van en die tug in die Kerk is aan die vier gewone kerklike vergade­ringe van die Nederduitse Gereformeerde Kerk toevertrou, te wete die kerkrade, ringe, sinode en Algemene Sinode. (KO Art 18, 19).

1.2  Dit is Skriftuurlik en pligmatig dat die lidma­te voorsiening sal maak vir alle uitgawes van die Kerk.

1.3  Uit hierdie bydraes word vaste eiendomme verkry, goedere aangekoop en fondse opgebou vir die instandhouding en bevordering van die Kerk se werksaamhede.

1.4  Elke kerkvergadering maak die nodige voor­siening vir die sorgvuldige beheer van die stoflike aangeleenthede van die Kerk en lewer jaarliks verslag van sy rentmeesterskap aan die gemeente, ring of sinode soos die geval mag wees.  (KO. Art.57).

  1. KERKRAAD

2.1  Elke gemeente is ’n regspersoon met volle handelingsbevoegdheid en die kerkraad of sy gevolmagtigde(s) is sy orgaan.

2.2  Die Nederduitse Gereformeerde Gemeente ………… is dus die eienaar van alle roerende en onroerende bates wat deur die kerkraad beheer en verkry word en vaste eiendom word in die naam van die Nederduitse Gereformeerde Gemeente ………… geregistreer.

2.3 Volmag aan die kerkraad:

2.3.1    Die kerkraad is bevoeg om eiendomsregte­like handelinge te verrig, insluitend dié van verkry­ging, vervreemding en verbinding van onroerende eiendomme, ook sodanige waarvoor ander vol­gens die burgerlike wet ‘n besondere lasgewing vereis sou word.

2.3.2    Die kerkraad verleen magtiging aan een of meer van sy lede om dokumente namens hom te onderteken.

2.4 Gemeentefonds

2.4.1    Elke gemeente hou ‘n gemeentefonds waaruit die lopende uitgawes betaal word.

2.4.2    Hierdie fondse word verkry deur:

2.4.2.1    kollektes by openbare eredienste;

2.4.2.2    dankoffers (maandeliks of jaarliks);

2.4.2.3   funksies en ander inkomste/bydraes.

2.4.3    Die kerkraad stel jaarliks ‘n begroting van inkomste en uitgawes vir die volgende boekjaar op en lê dit saam met die geouditeerde state aan die ring voor.

2.4.4    Alle geldelike bydraes word by die kassier van die gemeente inbetaal.

2.5       Sinodale verpligtinge

Alle sinodale kollektes en verpligte bydraes word deur die kerkraad ingesamel en aan die Sinodale Kerkkantoor oorbetaal.

2.6       Boekhouding en kassier

2.6.1    Die kerkraad hou ‘n behoorlike finansiële rekord.

2.6.2    Die finansiële state word jaarliks deur ‘n geregistreerde ouditeur (geoktrooieerde rekenmeester) geouditeer.

2.6.3    Die pligte van ‘n Kassier

2.6.3.1   Die hou van behoorlike finansiële rekords.

2.6.3.2   Die uitreiking van kwitansies vir alle gelde ontvang en die deponering daarvan.

2.6.3.3   Die voorlegging van ‘n inkomste‑ en uitgawestaat by elke kerkraadsvergadering.

2.7       Aanstellings

Die kerkraad stel sy amptenare aan, betaal toepaslike vergoeding en hou toesig en beheer oor alle werksaamhede.

2.8       Verantwoording aan die gemeente

2.8.1    Die finansiële state word ná goedkeuring deur die kerkraad, deur die voorsitter en skriba/kassier onderteken.

2.8.2    Die kerkraad lê jaarliks die geouditeerde finansiële state vir ‘n tydperk van 14 dae aan die gemeente ter insae voor.

2.9       Verantwoording aan die ring

Die kerkraad lê jaarliks die geouditeerde finansiële state aan die ring voor met ʼn afskrif aan die sinodale kantoor.

2.10     Kerkraadsvergadering

Kerkraadslede ontvang geen vergoeding nie, ook nie vir die bywoning van kerkraadsvergaderings nie.

2.11     Litigasiebevoegdheid van die kerkraad

2.11.1    Die kerkraad besit die bevoegdheid om namens die gemeente enige regsproses in ‘n geregshof in te stel of te verdedig, insluitend die bevoegdheid om regsverteenwoordiging aan te stel, verkieslik na advies van die sinodale regskommissie.

2.11.2    In alle gevalle waar geen wettige kerkraad is nie, tree die ring namens die gemeente op.

  1. RING

3.1    Die Nederduitse Gereformeerde Kerk in ringsverband is ’n regspersoon met volle hande­lingsbevoegdheid en die ringsvergadering of sy gevolmagtigde(s) is sy orgaan.

3.2    Ringsfonds

3.2.1   Die ring moet ‘n fonds open waartoe die gemeentes binne sy ressort bydraes lewer soos die ring van tyd tot tyd mag besluit.

3.2.2   Die ringsfonds word aangewend vir die lopende uitgawes van die ring, ingesluit die koste verbonde aan die bywoning van gewone en buitengewone vergaderings van die ring.

3.2.3   Koste verbonde aan die bywoning van vergaderings van diensgroepe / taakspanne van die ring word deur die ringsfonds gedra.

3.2.4   Die skriba tree as kassier van die ring op, hou die ringsfonds in bewaring en administreer dit volgens opdrag van die ring.  By elke gewone ringsvergadering rapporteer hy die fonds aan die hand van behoorlike geouditeerde finansiële state.

3.3    Die ring is ook by magte om bedienings­fondse na behoefte te open en te administreer.

3.4    Die ring kontroleer jaarliks in hoeverre die gemeentes hul verpligtinge ten opsigte van die eweredige bydraes nagekom het.

3.5    Alle vaste eiendomme en verbande van die ring word geregistreer op die naam van ‘Die Ring van die Nederduitse Gereformeerde Kerk …………. (Meld naam)’.

3.6    Die ring besit die bevoegdheid om enige regsproses in ‘n geregshof in te stel of te verdedig, insluitend die bevoegdheid om regsverteen­woordiging aan te stel, verkieslik na advies van die sinodale regskommissie.

3.7    Die ring of sy gemagtigdes besit die bevoegdheid om die nodige dokumente te onderteken.

3.8    Die titel‑ en/of verbandaktes van alle ringseiendomme moet vir veilige en brandvrye bewaring by die sinodale kerkkantoor ingelewer word.

  1. DIE SINODE

4.1    Die Nederduitse Gereformeerde Kerk in sinodaleverband is ’n regspersoon met volle handelingsbevoegdheid en die Diensgroep vir Administrasie is sy orgaan.

4.2    Met uitsondering van sodanige reg van beheer as wat deur die sinode aan enige diens­groep opgedra is, of opgedra mag word in die uitvoering van sodanige diensgroep se pligte, het hy beheer oor alle fondse wat aan die Ned Geref Kerk in Namibië behoort.

4.3    Alle vaste eiendomme wat aan die sinode van die Ned Geref Kerk in Namibia behoort, asook alle huurkontrakte en alle verbande ten gunste van genoemde Kerk, word geregistreer op naam van: ‘Die Sinode van die Nederduitse Gerefor­meerde Kerk in Namibië’. Die algemene sekretaris ontvang magtiging en opdrag om alle sodanige stukke namens die sinode te onderteken (vgl punt 4.2 van NGKN Regl 2).

4.4    Bywoning van rings- en sinodale­vergade­rings

4.4.1    Kerklike vergaderinge vermy sovêr dit met behoud van die goeie orde kan geskied, onnodige koste.

4.4.2    Lede van kommissies wat op meer as een kommissie dien, moet toesien dat vergaderinge van die onderskeie kommissies waarop hul dien, sovêr moontlik op dieselfde plek in opvolging sal geskied, sodat reiskoste vir slegs een rit betaal sal word.

4.4.3    Vir die bywoning van meerdere vergade­ringe en vergaderinge van hul kommissies word aan alle afgevaardigde lede (stemgeregtig en adviserend) toelaes voorsien ter bestryding van die reis‑ en verblyfkoste teen ‘n tarief waarop die sinode van tyd tot tyd besluit.

4.4.4    Aan afgevaardigdes van ‘n ringsvergadering word slegs reistoelaes voorsien.

4.4.5    Lede wat op die kommissies van die Alge­mene Sinode dien, se reis‑ en verblyfkostes word deur die Algemene Sinode gedra.

4.4.6    Reiskoste vir elke afgevaardigde of kommis­sielid word soos volg bepaal:

4.4.6.1   ‘n Toelaag bereken volgens die sinodale aanbeveling tov reiskoste betaalbaar aan predi­kante vir die bywoning van meerdere vergade­rings.

4.4.6.2   Vergoeding word betaal tov slegs een voertuig per gemeente (nie per afgevaardigde).

4.4.6.3   Reiskoste tov reise na naaste aanslui­tingspunt van ouderling en predikant sal addisio­neel vergoed word.

4.4.6.4   Afgevaardigdes wat op las van die Sino­de op tydelike kommissies dien en vroeër moet afreis, word apart vergoed.

4.4.6.5   Vliegreiskoste van die naaste tuislug­hawe tot op die plek van die vergadering indien dit vir die sinode goedkoper uitwerk.

4.4.7    Geen reis‑ of verblyfkostes vir die bywoning van sinodale- en/of ringsvergaderinge word uitbe­taal aan afgevaardigdes van gemeentes wat ten tyde van die sitting van die betrokke vergadering nog nie hul eweredige bydraes betaal het of argiefstukke van die vorige jaar ingehandig het nie (vgl punt 7 van NGKN Regl 13, Bepl. 26.1.13.5 en 26.2).

4.4.8    Geen reis‑ of verblyfkostes sal uitbetaal word aan enige lid wat, na oordeel van die verga­dering, sonder wettige redes op die eerste dag van die vergadering afwesig is en/of wat sonder sy toestemming voor afloop van die vergadering vertrek nie.

4.4.9    Getuies wat opgeroep word om voor ‘n kerklike vergadering te verskyn, ontvang reis‑ en verblyftoelaes volgens die tariewe vir kerklike afgevaardigdes.

4.5   Predikante:  Pensioen, eggenote-versekering en mediesefonds

4.5.1    Pensioenfonds

Die Sinode van die Ned Geref Kerk in Namibië (alle konstituerende gemeentes inbegrepe) neem as werkgewers deel aan die DR Church in Namibia Retirement Fund. Die reëls van die fonds is by die sinodale kerkkantoor in Windhoek verkrygbaar.

4.5.2    Eggenote‑versekering

Die sinode van die Ned Geref Kerk in Namibië en alle kerkrade is ingeskakel by die eggenote‑verse­keringsvoordeel wat deur die Predikante‑ en Weduwee Pensioenfonds van die NG Kerk in Suid-Afrika geadministreer word.

4.5.3    Mediesefonds

Dekking onder ‘n geregistreerde mediesefonds is verpligtend vir alle werknemers wat daarvoor kwa­lifiseer. Die mate waarin die kerkvergadering finan­sieel verantwoordelikheid neem vir die maandpremie is deel van die vergoedings­on­der­han­de­ling. (Vgl Bep 13.3)

4.6   Sinodale werksaamhede

By wyse van die sinodale begro­tings word fondse vir die beharti­ging van die sinodale werksaam­hede bewillig.  Die onderskeie diensgroepe/ taakspanne wat belas is met die toesig oor die bepaalde werksaamhede van die kerk, beheer die onderskeie fondse vir hul arbeidsterrein.

4.7   Trustfondse

Die sinode stig trustfondse vir bepaalde werk­saamhede indien moontlik, elk met sy eie reglement waarvolgens dit beheer word.

4.8   Begroting

4.8.1   Die Diensgroep vir Administrasie (DGA) is verantwoordelik vir die opstel van die begroting, waarvolgens sinodaal‑goedgekeurde werksaam­hede in die daaropvolgende jaar verrig moet word.

4.8.2   In die opstel van die begroting moet reke­ning gehou word met:

  • die finansiële drakrag van die sinode;
  • besparing wat sovêr moontlik bewerkstellig word;
  • sinodale werksaamhede wat ten volle deur die sinodale begroting gedek word (maw nie afhanklik wees van aanvullende donasie-inkomste nie).

4.8.3   Die DGA lê die begroting vir goedkeuring voor aan die moderamen/ moderatuur.

4.8.4   Geen nuwe werksaamhede mag deur enige kommissie begin word of ‘n nuwe pos geskep word sonder vooraf goedkeuring daartoe deur die sinode/moderamen nie.

4.9   Eweredige bydraes

4.9.1    Berekening

Die sinode dra dit aan die DGA op om sekere be­grotingsbedrae jaarliks per eweredige bydrae­aanslae van die gemeentes te vorder.  Hy werk die onderskeie gemeentes se aanslae volgens ‘n vaste formule, wat deur die sinode bepaal word, uit.  Die eweredige bydrae‑aanslag is elke gemeente se wettige verpligting teenoor die kerk se werk.

4.9.2    Verantwoording

4.9.2.1    Oorbetaling

Gemeentes betaal die eweredige bydrae aan hulle toegesê so vroeg as moontlik in die finansiële jaar ‑ of maandeliks/kwartaalliks – aan die Kerkkantoor.

4.9.2.2    Aanpassing

In geval waar ‘n gemeente vanweë buitengewone omstandighede nie sy verpligtinge kan nakom nie, wend hy hom tot die ring wat die bevoegdheid het om onderlinge aanpassings te maak op so ‘n wyse dat die globale bedrag van die ring nie gewysig word nie.

4.9.2.3    Rapportering aan die Gemeentes

Aan elke gemeente word kwartaalliks ‘n staat voorsien van alle gelde wat die kerkkantoor tot op datum ten opsigte van sy aanslag ontvang het en aan die einde van die finansiële jaar word ‘n finale staat aan hom voorsien wat sy posisie weerspieël.

4.9.2.4    Verslag aan Ringe

Die D.G.A. rapporteer aan ringe oor gemeentes wat agterstallig is met eweredige bydraes.

4.10  Sinodale kollektes

Die sinode bepaal van tyd tot tyd sekere kollektes vir spesifieke sake wat by die eredienste opgeneem moet word.

  1. WYSIGING

Hierdie Reglement mag alleen deur die sinode van die Ned Geref Kerk in Namibië gewysig word.

2.      Reglement vir Diensgroep vir Administrasie (DGA)

  1. NAAM

Diensgroep vir Administrasie

  1. SAMESTELLING

Die Diensgroep vir Administrasie

2.1   bestaan uit vyf lede deur die Sinode aange­wys. Kundigheid tov finansies, menslike hulpbron­ne, regsaspekte en administrasie word by die benoeming in ag geneem. Sinodale amptenare neem adviserend sitting in die diensgroep.

2.2   kies sy eie voorsitter en ondervoorsitter. Die sekretariaat setel in die sinodale kerkkantoor.

2.3   kies een addisionele lid om saam met die voorsitter en ondervoorsitter die dagbestuur te vorm. Die algemene sekretaris en finansiële bestuurder dien ampshalwe adviserend in die dagbestuur.

2.4   vul self vakatures aan tov kundige lede met kennisgewing aan die algemene sekretaris.

2.5   het die reg om adviserende lede te koöpteer.

  1. PLIGTE VAN DIE DIENSGROEP

Die Diensgroep

3.1   behartig die finansiële besluitneming en boekhouding van alle sinodale fondse;

3.2   beheer en versorg vaste eiendomme van die sinode;

3.3   stel administratiewe personeel aan, bepaal toepaslike salarisskale, beheer alle administra­tie­we werksaamhede van die sinode en hou toesig daaroor;

3.4   stel ‘n geregistreerde ouditeur (geoktrooi­eerde rekenmeester) aan wat jaarliks die finansiële rekords van die sinode ouditeer;

3.5   moniteer deurlopend die instandhouding van vaste eiendom wat tot beskikking van inrigtings gestel is;

3.6   rapporteer aan ringe oor gemeentes wat agterstallig is met eweredige bydraes;

3.7   fasiliteer deurlopend wedersydse kommunikasie met die Moderamen.

  1. MAGTE VAN DIE DIENSGROEP

Die Diensgroep

4.1   mag taakspanne aanwys na die eis van omstandighede;

4.2   besit die alleenbevoegdheid om vaste eiendom vir die sinode te verkry, te beswaar, te verhuur of te vervreem;

4.3   keur jaarliks die begroting waarvolgens sinodaal-goedgekeurde werksaamhede in die daaropvolgende jaar gedoen moet word, goed;

4.4   mag namens die sinode ʼn regsproses in ʼn geregshof instel of verdedig;

4.5   magtig die algemene sekre­taris, of by sy afwesigheid die voorsitter van die DGA, om prokurasies en ander doku­mente wat vir ʼn regsproses nodig is, te onderteken.

  1. VERSLAG

Die diensgroep lewer verslag aan die sinode en in die interim tydperk aan die moderamen.

  1. WYSIGING

Slegs die Sinode van die NGKN kan die reglement wysig.

 

3.      Reglement vir vermeerdering, kombinering, eenwording en samesmelting van gemeentes

In die Kerkorde, Algemene Sinode 2015, verskyn hierdie reglement as Reglement 23.

  1. VERMEERDERING/AFSTIGTING VAN GEMEENTES

1.1   Algemene reëlings

1.1.1    Die uitbreiding van die kerk en die gevolglike vermeerdering van gemeentes is die roeping en plig van ’n groeiende en lewenskragtige kerk.

1.1.2    Indien ongesensureerde belydende lidmate oortuig is van die noodsaaklikheid van die stigting van ’n nuwe gemeente, moet hulle ’n skriftelike versoek tot die kerkraad rig.  Die versoekskrif moet die volgende insluit: (1) ’n ondersoek na die lewensvatbaarheid van ’n nuwe gemeente, (2) moontlike plekke van aanbidding, (3) begroting, (4) voorstelle oor leierskorps vir die gemeente en die toerusting van leiers.

1.1.3    Indien die kerkraad oordeel dat daar ge­noeg rede vir die stigting van ’n nuwe gemeente is, gee hy verlof dat die lidmate wat die nuwe gemeente wil vorm, mag oorgaan tot gemeente­stigting.  Dit beteken ook dat die betrokke lidmate ’n ooreenkoms met die kerkraad onderteken om die nuwe gemeente te stig.

1.1.3.1   Die ooreenkoms om die nuwe ge­meente te stig moet ook voorstelle bevat oor die wyse waarop die gemeente se bediening sal ge­skied en ook voorstelle oor die wyse waarop en wanneer ’n predikant bekostig sal word.

1.1.3.2   Wanneer die kerkraad oortuig is van die wenslikheid van die stigting van ’n nuwe gemeente en dat dit lewensvatbaar is, stuur die kerkraad die versoekskrif en die ooreenkoms kragtens Artikel 31.4 van die Kerkorde saam met aanbevelings oor die volgende sake aan die skriba van die ringskommissie:

1.1.3.2.1   die voorgestelde naam en grense van die nuwe gemeente;

1.1.3.2.2   of, indien die gemeente nie geogra­fies saamgestel word nie, die bedieningsfokus van die nuwe gemeente.  [Die bedieningsfokus sluit die volgende moontlike in: kerkplanting in snel­groeiende gebiede of gebiede waar die sosio-ekonomiese omstandighede verander; kerkplan­ting waar bestaande gemeentes nie meer aan bedieningsbehoeftes kan voldoen nie; kerkplan­ting waar geen gemeente funksioneer nie; kerkplanting waar bestaande gemeente(s) kwynend is soos blyk uit ’n dramatiese daling in lidmaatgetalle en ’n ernstige daling in finansiële vermoë van gemeente(s)];

1.1.3.2.3   die ooreenkoms tot gemeente-stigting;

1.1.3.2.4   aanverwante sake wat die aandag van die ring moet geniet.

1.1.4    Wanneer by die ring aansoek gedoen word om die stigting van ’n gemeente, beoordeel die ring die ingekome stukke en indien die ring oordeel dat die nuwe gemeente in staat sal wees om te bestaan, word verlof tot gemeentestigting gegee.

1.1.5    Die stigting van ’n nuwe gemeente geskied deur die ringskommissie op las van die ring op ’n vergadering waarvan vier weke vooraf in die Kerkbode kennis gegee is, en waarheen die belanghebbendes uit die betrokke gemeente(s) opgeroep is.  Die betrokke lidmate het deur die ondertekening van die ooreenkoms reeds die stigting van die gemeente goedgekeur en stem op hierdie vergadering nie weer oor die saak nie.

1.1.6    Op hierdie vergadering stel die ringskommissie die grense van die gemeente so duidelik moontlik vas en gee ’n noukeurige beskrywing van die grense van reeds bestaande gemeentes wat met die grense van die nuwe gemeente saamval.  Indien die ringskommissie toestemming gee dat die nuwe gemeente nie geografies saamgestel word nie, word die bedieningsfokus van die nuwe gemeente so duidelik moontlik bepaal (vergelyk 1.1.3.2.2 hierbo).

1.1.7    Op hierdie vergadering wat onder leiding van die ringskommissie staan, word die kerkraadslede van die nuwe gemeente met opsteek van hande verkies en wel deur die belydende lidmate wat deur hul handtekeninge reeds tot die stigting van die gemeente ooreengekom het.[40]

1.1.8    Die bevestiging van hierdie kerkraadslede geskied sonder afkondiging van hul name deur die konsulent of op sy versoek deur ’n ander predikant binne die kerkverband.  Indien daar teen ’n persoon wat verkies is, beswaar ingebring word, word sy/haar bevestiging uitgestel totdat die saak deur die kerkraad ondersoek is.

1.1.9    Die kerkraad benoem een van sy lede as die bewaarder van die boeke en dokumente van die gemeente totdat ’n skriba en/of kassier benoem is.  ’n Inventaris van die boeke en dokumente moet opgestel word en ’n duplikaat aan die konsulent oorhandig word.

1.1.10  Die koste van die ring(e) of ringskommis­sie(s) in verband met die stigting van nuwe gemeente(s) word deur die gemeente(s) gedra.

1.1.11  Indien die kerkraad op versoek van sy lidmate weier om voorbereidende stappe te doen of te laat doen met die oog op die stigting van ’n nuwe gemeente, het sodanige lidmate die reg om hulle na die ring met hul versoek te wend. ’n Afskrif van die versoekskrif met volle besonderhede moet minstens drie (3) weke voor die vergadering van die ring by die betrokke kerkraad vir kennisname ingedien word.

1.2       Wanneer meer as een gemeente en/of ring by die afstigting betrokke is

1.2.1    Indien dit blyk dat die beoogde nuwe gemeente uit gedeeltes van meer as een gemeente moet bestaan, terwyl die saak slegs deur lidmate van een gemeente aanhangig gemaak is, het die betrokke kerkraad die reg om die ander kerkraad(e) regstreeks om hul medewerking te nader.

1.2.2    Indien die aangrensende kerkraad(e) wat genader is, weier om voorbereidende stappe te doen of te laat doen met die oog op die stigting van ’n nuwe gemeente, het die betrokke kerkraad die reg om sy versoek aan die ring voor te lê.

1.2.3    Die ring(e) het die reg om te besluit dat maatreëls in die betrokke wyke van die gemeente(s) binne die grense van daardie ring(e) met die oog op moontlike afstigting getref word.

1.2.4    Waar die nuwe gemeente met lidmate uit gemeentes van meer as een ring gestig word, moet die betrokke ringe onderling besluit watter ring die stigting moet waarneem.

1.2.5    Wanneer die ring ’n opdrag tot stigting gee, moet die kerkraad dadelik die versoekskrif en ooreenkoms laat onderteken deur die lidmate wat deel van die nuwe gemeente wil wees.

1.2.6    Die kerkraad van elke gemeente wat deel van die nuwe gemeente uitmaak, moet die versoekskrif en die ooreenkoms saam met sy aanbevelings daaroor aan die ring voorlê.

1.3       Die ring kan self inisiatief neem

1.3.1    Waar ’n ring dit nodig ag, kan hy een of meer kerkrade opdrag gee om die stigting van ’n nuwe gemeente te ondersoek.  Die ring kan ook aan sy ringskommissie opdrag gee om ’n kerk­raad(e) te ontmoet en tot stigting van ’n nuwe gemeente(s) aan te spoor.

1.3.2    Ringe kan die stigting van ‘n nuwe gemeen­tes oor of binne bestaande gemeentegrense aanbeveel met inagneming van kategorieë, fokusgroepe, bedieningsverskei­denheid in omliggende gemeentes en bedieningsbehoeftes.

1.3.3    In buitengewone omstandighede kan ’n ring, wanneer geen kerkraad gevind kan word om ’n nuwe gemeente te stig nie, self poog om lidmate te vind wat oortuig is van die noodsaak­likheid van die stigting van ’n nuwe gemeente.  Die ooreenkoms tot nuwe gemeentestigting word in sulke buitengewone omstandighede in die lig van 1.3 hierbo met die ring gesluit.

1.3.4    In buitengewone omstandighede kan die sinodale verband aan die ring opdragte gee om die stigting van ’n nuwe gemeente te ondersoek.  Die sinodale verband kan in sulke omstandighede ’n kerkraad (e) ontmoet en tot stigting van ’n nuwe gemeente(s) aanspoor.

1.4       Kennisgewing van afstigting

1.4.1    Die skriba van die ringskommissie oorhandig aan die kerkraad van die nuwe gemeente ’n uittreksel uit die notule van die ringskommissie, bevattende die naam van die gemeente, beskrywing van die grense of, indien toepaslik, omskrywing van die bedieningsfokus, name van kerkraadslede, aanbevelings, genoem in 1.1.3.2 hierbo, die naam van die konsulent en ander sake waarby die nuwe gemeente belang mag hê.

1.4.2    Die skriba van die ringskommissie gee aan die skriba van die sinode se gevolmagtigde[41]  kennis van die stigting van die nuwe gemeente met vermel­ding van die grenslyne of, indien toepaslik, omskrywing van die bedieningsfokus, asook die name van die eerste lede van die kerkraad met die oog op publikasie in die Kerkbode.

1.4.3    Die skriba van die sinodale kommissie gee aan die Registrateur van Aktes kennis van die stigting van die nuwe gemeente.

1.4.4    Die naam van die nuwe gemeente word in die kennisgewing soos volg aangegee: Neder­duitse Gereformeerde Gemeente ………………….

1.4.5    Indien dit by die vermeerdering van gemeentes sou blyk dat verteenwoordigers nie aangewys is vir die ondertekening van dokumente en stukke namens die nuwe gemeente vir doeleindes van uitvoering van stigting nie, moet sulke dokumente of stukke geteken word deur die voorsitter en skriba van die ringskommissie van die ring binne wie se grense die te stigte gemeente geleë is.[42]

  1. KOMBINERING VAN GEMEENTES

Kombinasie beteken dat twee of meer gemeentes, wat selfstandig voortbestaan, kontraktueel ooreenkomste met mekaar aangaan ter wille van die effektiewe Evangeliebediening.

2.1   Prosedure vir kombinering

2.1.1    Die kerkraad stel ondersoek in na die moontlikheid van kombinasie as hy self oordeel dat dit nodig is of ook op versoek van ’n groep lidmate.

2.1.2    In alle gevalle van kombinasie word ’n geskrewe ooreenkoms opgestel en aan die betrokke kerkrade vir goedkeuring voorgelê. Indien van toepassing moet 2.4 van die Reglement vir die Bestuur van Diensverhoudinge by Ongeskiktheid en Onvermoë in ag geneem word. Ten minste 66% van die kerkraadslede van elke betrokke kerkraad moet die ooreenkoms goedkeur.

2.1.3    Nadat die kerkrade die kombinasie-ooreenkoms goedgekeur het, word die ooreen­koms op twee agtereenvolgende Sondae tydens die erediens aan elkeen van die betrokke gemeen­tes vir approbasie bekend gemaak, met vermel­ding dat besware daarteen binne sewe dae na die laaste bekendmaking skriftelik by die skriba ingedien moet word.

2.1.4    Nadat die gemeente approbasie verleen het, word die kombinasie-ooreenkoms aan die betrokke ring/ringskommissie vir goedkeuring en bekragtiging voorgelê. Nadat die ring die ooreen­koms bekragtig het, word dié ooreenkoms van krag of op ’n datum wat in die ooreenkoms bepaal word.

2.1.5    Die koste van die ring(e) of ringskommis­sie(s) met betrekking tot die kombinasie van gemeentes, word deur die gemeente(s) gedra.

2.1.6    Indien die kerkraad weier om op versoek van ’n groep lidmate die moontlikheid van kombinasie te ondersoek, het die lidmate die reg om hulle tot die ring met hulle versoek te wend.  ’n Afskrif van die versoekskrif moet minstens drie (3) weke voor die vergadering van die ring by die betrokke kerkraad vir kennisname deur die skriba van die ringskommissie ingedien word.

2.1.7    Wanneer meer as een ring by kombinasie betrokke is, moet vooraf, na ooreenkoms deur die ringe, by die sinode aansoek gedoen word vir hergroepering van die betrokke gemeentes wat wil kombineer.

2.1.8    Die ring kan self die inisiatief neem en waar hy dit nodig ag, aan twee of meer kerkrade op­drag gee om kombinasie te ondersoek. Die ring kan ook aan sy ringskommissie opdrag gee om die betrokke kerkrade te ontmoet en tot kombinasie aan te spoor.

2.1.9    Die kombinasie-ooreenkoms kan in beraad met die ringe en approbasie van die gemeentes na wedersydse kennisgewing en ooreenkoms gewysig of beëindig word as al die betrokke kerkrade in hulle aparte vergaderings hulle goedkeuring daaraan heg.

2.1.10  Wanneer die gemeentes wat wil kombi­neer nie vakant is nie, kan daar nie tot kombinasie oorgegaan word voordat die betrokke predikant(e) en die ring/ringskommissie tevrede is dat daar billike voorsiening vir die betrokke predikant(e) gemaak is nie.

2.1.11  Die beroeping en demittering van ’n predikant vir kombinasie-gemeentes geskied op ’n gesamentlike verga­dering van die betrokke kerkrade onder voorsit­terskap van die konsulent van die gemeente waar die vergadering plaasvind. Vir die gemeentes in die kombinasie word ’n konsulent benoem.  Die naam van die beroepene word op twee agter­eenvolgende Sondae tydens die erediens vir approbasie aan elke gemeente van die kombinasie bekend gemaak.

2.1.12  ’n Predikant moet in een van die kombinasie-gemeentes bevestig word.

2.1.13  ’n Predikant in kombina­sie-gemeentes, word deur die gemeente wat hom/haar beroep en bevestig het, afgevaardig na meerdere vergaderings. Hy/sy het egter as afge­vaardigde net een stem.  Elke kombinasie-ge­meente verkies en vaardig volgens voorskrif van die Kerkorde ook ’n ouderling/diaken af.

2.1.14  Die kombinasie-gemeentes is verplig om gesamentlik ’n aandeel in die sinodale pensioen­fonds vir die predikant te hou. Alle ander koste met betrekking tot die predikant moet in die ooreenkoms van kombinasie gereël word.

2.1.15  Die ooreenkoms met die predikant kan, na wedersydse kennisgewing, gewysig of beëindig word indien al die betrokke kerkrade, in hul aparte vergaderinge, hul goed­keuring daaraan heg.

2.1.16  Indien dit by die kombinering van ge­meentes sou blyk dat verteenwoordigers nie aangewys is vir die ondertekening van dokumente en stukke namens die gemeentes vir doeleindes van uitvoering van ooreenkomste nie, moet sulke dokumente of stukke geteken word deur die voorsitter en skriba van die ringskommissie van die ring in wie se gebied die kombinerende gemeentes geleë is.

  1. EENWORDING VAN GEMEENTES

Eenwording beteken dat ’n gemeente wat nie langer selfstandig wil of kan voortbestaan nie, ontbind en dat die betrokke lidmate by ’n ander bestaande gemeente(s) ingelyf word.

3.1   Prosedure vir eenwording

3.1.1    Die kerkraad van die gemeente wat wil ontbind, moet ’n besluit tot ontbinding neem en die kerkraad(e) van die gemeente(s) waarby die betrokke lidmate ingelyf word, moet toestemming tot inlywing gee.  Ten minste 66% van die dienende kerkraadslede van elke betrokke kerkraad moet ten gunste van eenwording besluit.

3.1.2    Die betrokke kerkrade moet oor die voorwaardes vir ontbinding en inlywing ooreen­kom.  Indien van toepassing moet 2.4 van die Reglement vir die Bestuur van Diensverhoudinge by Ongeskiktheid en Onvermoë in ag geneem word.

3.1.3    Die ooreenkoms waartoe die kerkrade gekom het, moet vir approbasie op twee agter­eenvolgende Sondae by al die openbare erediens­te van die betrokke gemeentes bekend gemaak word, met vermelding dat besware daarteen binne sewe dae na die laaste bekendmaking skriftelik by die skriba ingedien moet word.

3.1.4    Nadat die approbasie van die ongesensu­reerde belydende lidmate op dié wyse verkry is, word die ooreenkoms aan die betrokke ring(e) vir goedkeuring voorgelê. Nadat hierdie goedkeuring verkry is of op ’n datum wat in die ooreenkoms bepaal word, word die ooreenkoms van krag.

3.1.5    Aangesien hiermee ’n verandering van gemeentegrense geïmpliseer word, moet die ooreenkoms ’n duidelike omskrywing van grenslyne bevat.

3.1.6    Die betrokke ringskriba gee aan die skriba van die sinodale kommissie en aan die algemene sekretaris van die sinode kennis van die ontbinding van die gemeente, asook van die nuwe grenslyne van die inlywende gemeente(s).  Die skriba van die sinodale kommissie sorg vir die publikasie van bostaande feite in die Kerkbode.

3.1.7    ’n Afskrif van die ooreenkoms tussen die gemeentes word aan die saakgelastigde van die sinode op papier soos deur die argief voorgeskryf en in tweevoud gestuur.

3.1.8    Die kerkraad van die gemeente wat ontbind,  gee aan die Registrateur van Aktes kennis van die ontbinding en van die oordrag van sy eiendomme.

3.1.9    Die dienende kerkraadslede van die gemeente wat ontbind, dien ook, indien dit so ooreengekom word, in die inlywende gemeente.

3.1.10  Die onroerende eiendomme van die ont­bonde gemeente word, tensy anders ooreen­gekom, op die naam van die inlywende gemeente geregistreer en alle roerende goed van die ont­bonde gemeente, met die regte en verpligtinge daaraan verbonde, gaan op die inlywende gemeente oor.

3.1.11  Die eenwording van gemeentes kan alleen plaasvind wanneer die gemeente wat ontbind, va­kant is of, indien nie, as daar vir die predikant(e), na die oordeel van die ring, billike voorsiening gemaak is.

3.1.12  Indien dit by die eenwording van gemeen­tes sou blyk dat verteenwoordigers nie aangewys is vir die ondertekening van dokumente en stukke namens ’n gemeente wat ontbind het vir doel­eindes van uitvoering van ooreenkomste nie, moet sulke dokumente of stukke geteken word deur die voorsitter en skriba van die ringskom­mis­sie van die ring binne wie se grense die ontbinde gemeente geleë was.

  1. SAMESMELTING VAN GEMEENTES

Samesmelting beteken dat twee of meer gemeen­tes, wat nie langer selfstandig wil of kan voort­bestaan nie, afsonderlik ontbind om saam een totaal nuwe gemeente te stig binne dieselfde geografiese gebied as waarbinne die onderskeie samestellende gemeentes aanvanklik voor ontbinding bestaan het.

4.1   Prosedure

4.1.1    Die kerkrade van die onderskeie samesmeltende gemeentes neem afsonderlik ’n besluit tot samesmelting.

4.1.2    Aan alle ongesensureerde belydende lidmate van die onderskeie samesmeltende  gemeentes word aan die hand van ’n vraelys-stembrief geleentheid gebied om skriftelik aan te dui of hulle ten gunste van die samesmelting is al dan nie.

4.1.2.1    Die genoemde vraelys-stembrief word persoonlik en sonder enige stemwerwing deur die onderskeie kerkrade van die samesmeltende gemeentes aan elke ongesensureerde belydende lidmaat binne die bepaalde gemeente beskikbaar gestel.

4.1.2.2.   Dit is elke lidmaat se eie verant­woorde­likheid om toe te sien dat sy/haar voltooide vraelys-stembrief die kerkkantoor van sy/haar gemeente bereik voor/op die sperdatum wat deur die kerkraad bepaal is.

4.1.2.3    Goedkeuring moet van ’n meerderheid van die lidmate wat vraelys-stembriewe ingehandig het, verkry word alvorens met die proses van samesmelting voortgegaan kan word.

4.1.3    Nadat die goedkeuring van die lidmate volgens die prosedure onder 4.1.2. hierbo verkry is, kom die kerkrade afsonderlik én gesamentlik ooreen tot ’n samesmeltingsakte bevattende onder andere ’n duidelike grensbeskrywing van die nuwe gemeente, die posisie van die predikant(e) en kerkraadslede in die nuwe saamgestelde gemeente en reëlings in verband met die hantering van die onderskeie gemeentes se bates (roerend en onroerend), en elke kerkraad benoem twee persone om namens hom alle nodige dokumentasie te onderteken.

4.1.4    Die ooreenkoms (samesmeltingsakte) word vir approbasie op twee agtereenvolgende Sondae by al die openbare eredienste van die betrokke gemeentes bekend gemaak, met vermelding dat besware daarteen binne sewe dae na die laaste bekendmaking skriftelik by die skriba ingedien moet word.

4.1.4.1      Lidmate wat wil beswaar maak, moet dit skriftelik met gemotiveerde opgaaf van  redes doen voor die verstryking van die week eindigend na die tweede afkondiging.

4.1.4.2      Besware word aan die ringskommissie voorgelê vir oorweging van die geldigheid daarvan.

4.1.5    Nadat approbasie verkry is, word die ooreenkoms aan die ring voorgelê vir goedkeuring.

4.1.5.1      Die ringskriba gee kennis aan die skriba en saakgelastigde van die betrokke sinode.

4.1.5.2      Die kerkraad van die nuwe gemeente gee kennis aan die Registrateur van Aktes van die oordrag van eiendomme.

  1. KOMBINASIE VAN WERKSAAM­HEDEVAN GEMEENTES, RINGE EN SINODES/  GEMAGTIGDES VAN SINODES UIT VERSKILLENDE KERKVERBANDE

Kombinasie beteken hier dat twee of meer kerk­vergaderinge van verskillende kerkverbande, of kommissies van kerkvergaderinge, as deel van die soeke na kerklike eenheid in die NG Kerkfamilie, ten bate van die koninkryk van God en as gelyke deelgenote van mekaar, kontraktuele ooreen­komste aangaan vir die uitvoering van sekere gemeenskaplike werksaamhede.

5.1   Praktiese en kerkregtelike riglyne

5.1.1    Die aspekte of saak ten opsigte waarvan die partye ’n kombinasie beoog, moet duidelik omskryf word.

5.1.2    ’n Skriftelike ooreenkoms word opgestel wat alle regte, pligte en verantwoordelikhede (insluitende finansies) van die partye duidelik omskryf.

5.1.3    Die Reglement vir die Reëling van Eiendom­me, Goedere en Fondse moet by die opstel van die ooreenkoms in aanmerking geneem word.

5.1.4    Waar die standplaas of ander pos van ’n predikant kragtens die beoogde kontrak in gedrang kan kom, moet Artikel 12 van die Kerkorde in ag geneem word.

5.1.5    Indien dit die bedoeling is dat die gekombi­neerde liggaam die reg sal hê om sake te hanteer soos die beroep en indiensstelling van ’n predikant, moet aspekte soos konstituering, kworumvereistes, wyse van besluitneming, stemreg, befondsing, verantwoordelikheid vir die standplaas of aanstelling, pensioen, medies, administrasie ens. noukeurig uitgeklaar word.

5.1.6    Die kontrak moet dit duidelik stel dat die daarstelling van die gemeenskaplike doelwitte kragtens die kontraktuele ooreenkoms, nie die regte en verantwoordelikhede van die kontrakterende kerkvergaderinge/kommissies kan ophef of tot niet verklaar nie.

5.1.7    Die ooreenkoms kan voor die verstryking van die vasgestelde termyn gewysig of beëindig word indien die betrokke partye, na wedersydse kennisgewing, in hulle afsonderlike vergaderinge hulle goedkeuring daaraan heg.

5.1.8    Die kontrakterende party val steeds onder die regering, opsig en tug van sy/haar verant­woordelike  kerkvergadering.

5.2   Werkswyse

5.2.1    Die betrokke kerkvergaderinge as regspersone moet die skriftelike ooreenkoms afsonderlik in die onderskeie kerkvergaderinge goedkeur.

5.2.2    Nadat die kerkvergaderinge of hulle gevolmagtigdes onderling tot ’n ooreenkoms gekom het, moet die ring wat vir die opsig en tug van die predikant in diens van die liggaam verantwoordelik gaan wees. Die betrokke liggaam neem self verantwoordelikheid vir die bestuur van die diensverhouding en vir enige dissiplinêre optrede teen die predikant in diens van die liggaam.

4.      Reglement vir die prosedure wat gemeentes volg by die voorgestelde wysiging van belydenis

In die Kerkorde, Algemene Sinode 2015, verskyn hierdie reglement as Reglement 24.

  1. Die kerkraadlê sy aanbeveling oor die voorstel van die Algemene Sinode oor die wysiging van belydenis éérs aan die gemeente voor vir die instemming van die belydende lidmate. Nadat die instemming van twee derdes van die lidmate verkry is, finaliseer die kerkraad sy besluit met ʼn tweederdemeerderheid, waarna die finale besluit wéér op twee agtereenvolgende Sondae aan die gemeente vir approbasie voorgelê word.
  2. Die kerkraad besluit om die instemming van die gemeente soos in 1 hierbo genoem, op een van die volgende twee wyses te verkry:

2.1   Die instemming van belydende lidmate word per geslote stembrief verkry tydens ’n gemeentevergadering wat die kerkraad met die belydende lidmate van die gemeente belê het en waarvan daar by die erediens(te) op vier (4) agtereenvolgende Sondae vooraf kennis gegee is van beide die vergaderdatum en die inhoud van die voorstel.  By hierdie vergadering is twee waarnemers deur die ring of die ring se gevolmagtigde aangewys, teenwoordig.  Die voorsitter en skriba van die kerkraad tree op as voorsitter en skriba van hierdie vergadering.

2.1.1    Lidmate wat ’n wettige verskoning het waarom hulle nie die betrokke gemeentevergadering kan bywoon nie, kan hul stem vooraf per geslote stembrief uitbring. Hierdie stemme word getel nadat die stemming op die gemeentevergadering uitgebring is.

2.2   Die instemming van belydende lidmate word per geslote stembrief verkry wat persoonlik en sonder enige stemwerwing deur die kerkraad aan elke ongesensureerde belydende lidmaat van die gemeente beskikbaar gestel word.  Minstens veertien (14) dae moet na ontvangs toegelaat word vir die inhandiging van die stembrief.

2.2.1   Dit is die lidmaat se verantwoordelikheid om toe te sien dat die voltooide stembrief die kerkkantoor van die gemeente vóór of óp die sperdatum bereik. Die stemtelling vind plaas in die teenwoordigheid van twee waarnemers deur die ring of die ring se gevolmagtigde aangewys.

  1. Die tweederdemeerderheid van die gemeente se instemming word bepaal deur die getal uitgebragte stemme.
  2. Die kerkraad stel deurgaans alle pogings in werking om kerkskeuring te voorkom.

5.      Reglement vir die bestuur van diensverhoudinge by ongeskiktheid en onvermoë

In die Kerkorde, Algemene Sinode 2015, verskyn hierdie reglement as Reglement 17.

  1. ALGEMENE UITGANGSPUNTE

1.1   Elke  kerkvergadering  het  ’n  gevolmagtigde  wat  die  diensverhouding  tussen  die   gemeente/kerkverband as werkgewer en die predikant(e) as werknemer(s) bestuur. Die  kerkvergadering  se  gevolmagtigde  kan  kundiges  buite  die  gemeente/kerkverband  betrek.

1.2   In alle gevalle van diensbeëindiging ingevolge Artikel 12.7 van die Kerkorde word aan  die  Algemene  Taakspan  Predikantesake  kennis  gegee  van  die  predikant(e)  se  diensbeëindiging.

1.3   Kerkvergaderinge  moet,  waar  van  toepassing  in  samewerking  met  die  ring,  vir  elke  predikant ’n rekord hou waarin die aard van enige dissiplinêre oortreding, die optrede  van  die  werkgewer  ingevolge  Artikel  12  van  die  Kerkorde  en  die  rede(s)  vir  die  optrede aangedui word.

  1. PROSEDURE (WYSE VAN OPTREDE)

2.1   Gebrekkige bedieningsvaardigheid of dienslewering (ongeskiktheid) 

Indien  ’n  kerkraad  of  die  betrokke  ring  oordeel  dat  ’n  formele  ondersoek  na  die  bekwaamheid of geskiktheid van ’n predikant nodig is, word die saak op die agenda  van die kerkraad geplaas vir hantering aan die hand van die volgende prosedure, met  verslag aan die ring:

2.1.1    Die kerkraad wys  ‘n gevolmagtigde ondersoekliggaam aan wat saamgestel is uit drie lede van die kerkraad, ten minste een  lid van die laaste ringsvergadering deur die ring  se gevolmagtigde aangewys, en ten minste een lid deur die sinode se gevolmagtigde  aangewys.

2.1.2    Hierdie  ondersoekliggaam  ondersoek  die  bekwaamheid  of  geskiktheid  van  die  predikant.  Die  vereistes  vir  ’n  formele  ondersoek  is  dieselfde  as  die  vereistes  vir  ’n  tug-  en/of  dissiplinêre    ondersoek  (vergelyk  Reglement  vir  Tug  en  Dissipline),  aangepas vir die formele ondersoek na bekwaamheid of geskiktheid.

2.1.3    Die  besware  oor  ongeskiktheid  of  onbekwaamheid  wat  formeel  ondersoek  gaan  word, moet skriftelik onder die aandag van die predikant gebring word.

2.1.4    Indien bevind word dat die predikant onbevredigende diens lewer, moet die aard van  die  onbevredigende  diens  en  die  vereistes  waaraan  die  persoon  moet  voldoen,  skriftelik onder die persoon se aandag gebring word.

2.1.5    Die kerkraad en ring se gevolmagtigdes doen alles in sy vermoë om deur toepaslike  evaluering,  toerusting,  begeleiding  (leiding  en  advies)  en  berading  die  betrokke  predikant te help om bevredigende diens aan die gemeente te lewer.

2.1.6    ’n Redelike tyd word toegelaat vir die predikant om dienste te verbeter en te voldoen  aan die vereistes wat die kerkraad aan die persoon gestel het, waarna die predikant se  dienslewering weer geëvalueer word.

2.1.7    Die  kerkraad  oorweeg  ander  wyses  buiten  diensbeëindiging  om  die  aangeleentheid  reg te stel.

2.1.8    Indien die kerkraad se gevolmagtigde ondersoekliggaam tot die gevolgtrekking kom  dat  die  onbekwaamheid  of  ongeskiktheid  nie  uit  die  weg  te  ruim  is  nie,  kan  die  kerkraad die predikant uit diens van die gemeente ontslaan. Diensbeëindiging weens  gebrekkige  bedieningsvaardigheid  of  dienslewering  geskied  met  behoud  van  die  bevoegdheid van die predikant en die uitreiking van die Akte van Demissie.

2.1.9    In  gevalle  waar  die  predikant  in  diens  van  die  kerkverband  is,  versoek  die  kerkvergadering  sy  gevolmagtigde  wat  die  diensverhoudinge  hanteer,  om  met  die  bystand van die sinodale regs-/kerkordekommissie die bekwaamheid of geskiktheid  van die predikant formeel te ondersoek. Dieselfde prosedure, uiteengesit in 2.2.2 tot

2.2.8    hierbo, en indien nodig aangepas, word gevolg.

2.2   Swak gesondheid of besering (ongeskiktheid) 

Indien  ’n  kerkraad  of  die  betrokke  ring  oordeel  dat  ’n  predikant  weens  swak  gesondheid of besering  nie  meer sy/haar  diensverpligtinge  kan nakom nie, word die  saak  op  die  agenda  van  die  kerkraad  geplaas  vir  hantering  aan  die  hand  van  die  volgende prosedure, met verslag aan die ring:

2.2.1    Die kerkraad wys  ‘n gevolmagtigde ondersoekliggaam aan wat saamgestel is uit drie lede van die kerkraad, ten minste een lid van die laaste ringsvergadering deur die ring  se gevolmagtigde aangewys, en ten minste een lid deur die sinode se gevolmagtigde  aangewys,

2.2.2    Wanneer  alternatiewe  ondersoek  word,  word  daar  gekyk  na  die  aard  van  die  diensverpligtinge, die duur van die afwesigheid, die erns van die siekte of besering en  die moontlikheid van plaasvervangende diens.

2.2.3    In die  geval  van permanente ongeskiktheid,  word die moontlikheid  van  veranderde  diensverpligtinge  en/of  veranderde  werksomstandighede  en/of  die  beskikbaarheid  van  enige  geskikte  alternatiewe  werk  ondersoek  ten  einde  die  predikant  se  ongeskiktheid te akkommodeer.

2.2.4    Tydens die ondersoek kry die predikant die geleentheid om sy/haar kant van die saak  te  stel  en  om  met  voorstelle  te  kom.  Die  predikant  kan  deur  ’n  NG  Kerklidmaat  bygestaan word.

2.2.5    Indien die predikant tydens die uitvoering van ’n diensverpligting ernstig beseer of  siek  word,  rus  daar  ’n  swaarder  plig  op  die  gemeente/kerkverband  om  die  ongeskiktheid van die predikant te akkommodeer.

2.2.6    Die kerkraad kan, nadat alle moontlike alternatiewe ondersoek is, op billike gronde  besluit  om  ’n  predikant  weens  swak  gesondheid  of  besering  uit  diens  van  die  gemeente  te  ontslaan.  Diensbeëindiging  weens  mediese  ongeskiktheid  geskied  met  behoud  van  die  bevoegdheid  van  predikant  en  die  uitreiking  van  die  Akte  van  Demissie.

2.2.7    In  gevalle  waar  die  predikant  in  diens  van  die  kerkverband  is,  versoek  die  kerkvergadering  sy  gevolmagtigde  wat  die  diensverhoudinge  hanteer,  om  met  die  bystand van die sinodale regs-/  kerkordekommissie, die  mediese ongeskiktheid  van  die predikant formeel te ondersoek. Dieselfde vereistes, uiteengesit in 2.3.1 tot 2.3.6  hierbo, en indien nodig aangepas, word nagekom.

2.3   Die gemeente/kerkverband se bedryfsvereistes 

Indien ’n kerkraad of die betrokke ring oordeel dat ’n gemeente om finansiële redes  nie meer ’n predikant kan bekostig nie, word die saak op die agenda van die kerkraad  geplaas vir hantering aan die hand van die volgende prosedure met verslag aan die  ring:

2.3.1    Die kerkraad wys  ‘n gevolmagtigde ondersoekliggaam aan wat saamgestel is uit drie lede van die kerkraad waarin die gevolmagtigdes wat die diensverhoudinge en fondse  hanteer, verteenwoordig is, ten  minste een lid  van die  laaste ringsvergadering deur  die  ring  se  gevolmagtigde  aangewys,  en  ten  minste  een  lid  deur  die  sinode  se  gevolmagtigde aangewys,

2.3.2    Die  kerkraad  se  gevolmagtigde  bepaal  die  omvang  van  die  finansiële  probleem  en  wend daadwerklike pogings aan om oplossings te soek.[43]

2.3.3    Indien  diensbeëindiging  die  enigste  oplossing  blyk  te  wees,  pleeg  die  kerkraad  se  gevolmagtigde ondersoekliggaam oorleg met die predikant(e) wat waarskynlik deur  die beoogde diensbeëindiging geraak sal word.

2.3.4    Die oorlegplegende partye poog om eenstemmigheid te bereik oor:

2.3.4.1    geskikte maatreëls om die diensbeëindiging te vermy, dit tot die minimum persone  te beperk, die tydsberekening daarvan te verander en die nadelige gevolge daarvan  te versag;

2.3.4.2    die metode van selektering van die predikant(e) wie se dienste beëindig gaan word;  en

2.3.4.3    voorsiening by diensbeëindiging (uittreeloon of skeidingspakket).

2.3.5    Die  kerkraad  se  gevolmagtigde  ondersoekliggaam  voorsien  skriftelik  aan  die  predikant(e) met wie oorleg gepleeg word:

2.3.5.1    die redes vir die beoogde diensbeëindiging;

2.3.5.2    alternatiewe  wat  oorweeg  is  voordat  diensbeëindiging  voorgestel  is  en  die  redes  waarom elk van die alternatiewe verwerp is;

2.3.5.3    die aantal predikante wat waarskynlik geraak gaan word;

2.3.5.4    die voorgestelde metode van selektering van welke predikant(e) se diens beëindig  moet word;

2.3.5.5    die datum waarop die diensbeëindiging waarskynlik van krag sal word;

2.3.5.6    die voorgestelde voorsiening by diensbeëindiging (uittreeloon of skeidingspakket);

2.3.5.7    enige bystand wat die kerkraad beoog om aan te bied; en

2.3.5.8    die moontlikheid van ’n toekomstige beroep.

2.3.6    Die  betrokke  predikant(e)  word  geleentheid  gebied  om  vertoë  te  rig  oor  enige  aangeleentheid  waaroor  oorleg  gepleeg  word,  en  die  kerkraad  en  ring  se  gevolmagtigdes oorweeg die vertoë en reageer daarop. Indien die kerkraad en ring se  gevolmagtigdes nie daarmee eens is nie, word redes daarvoor verstrek.

2.3.7    Die kerkraad se  gevolmagtigde ondersoekliggaam selekteer die predikant(e) wie  se  diens  beëindig  gaan  word  volgens  maatstawwe  waaroor  die  oorlegplegende  partye  ooreengekom het of wat, indien daar nie eenstemmigheid is nie, billik en objektief is.

2.3.8    By  bereiking  van  ’n  ooreenkoms  en  na  ondertekening  daarvan  deur  die  oorlegplegende partye, beëindig die kerkraad die diens van die predikant(e). Indien  daar nie eenstemmigheid is nie, besluit die werkgewer op billike en objektiewe wyse  in  die  lig  van  die  voorgeskrewe  voorsiening.  Diensbeëindiging  weens  bedryfsvereistes  geskied  met  behoud  van  die  bevoegdheid  van  predikant  en  die  uitreiking van die Akte van Demissie.

2.3.9    In  gevalle  waar  die  predikant  in  diens  van  die  kerkverband  is,  ondersoek  die  kerkvergadering  se  gevolmagtigdes  wat  die  diensverhoudinge  en  fondse  hanteer  in  oorleg  met  die  sinodale  regs-/  kerkordekommissie  die  saak  formeel.  Dieselfde  vereistes,  uiteengesit  in  2.4.2  tot  2.4.8  hierbo,  en  indien  nodig  aangepas,  word  nagekom.

2.4   Gemeente/kerkverband se bedieningsvereistes 

’n  Predikant  se  diensverhouding  kan  ook  weens  tegnologiese  (bv.  gebrekkige  rekenaarvaardigheid),  strukturele  (bv.  oortollige  poste  by  kombinering,  eenwording  of  samesmelting  van  gemeentes)  of  soortgelyke  behoeftes  (bv.  nood  en  oorlewing,  werknemer se onaanpasbaarheid) van die gemeente/kerkverband beëindig word.

2.4.1    Indien  ’n  kerkraad  of  die  betrokke  ring  oordeel  dat  ’n  predikant  nie  meer  aan  die  bedieningsvereiste van die gemeente voldoen nie, word die saak op die agenda van  die  kerkraad  geplaas  vir  hantering  aan  die  hand  van  die  volgende  prosedure  met  verslag aan die ring:

2.4.1.1    Die  kerkraad  wys  gevolmagtigde ondersoekliggaam aan wat bestaan uit drie  lede  van  die  kerkraad  waarin  die  gevolmagtigdes  wat  die  diensverhoudinge  hanteer, verteenwoordig is, ten minste een lid van die laaste ringsvergadering deur  die  ring  se  gevolmagtigde  aangewys,  en  ten  minste  een  lid  deur  die  sinode  se  gevolmagtigde aangewys.

2.4.1.2    Die  kerkraad,  se  gevolmagtigde  ondersoekliggaam  bepaal  die  omvang  van  die  bedryfsvereistes  waaraan  die  predikant  nie  voldoen  nie  en  wend  daadwerklike pogings aan om oplossings te soek. Dieselfde prosedure, uiteengesit in 2.3.3 tot 2.3.9  hierbo, en indien nodig aangepas, word gevolg.

2.5   Voorsiening 

In gevalle van diensbeëindiging geld die volgende reëlings met betrekking tot billike  voorsiening:

2.5.1    Diensbeëindiging weens gebrekkige bedieningsvaardigheid of dienslewering 

2.5.1.1      In  die  geval  van  diensbeëindiging  weens  onbekwaamheid,  ’n  uittreeloon/  skeidingspakket gelyk aan ten minste twee weke se lewensonderhoud en toelaes vir  elke  voltooide  jaar  van  aaneenlopende  diens  by  die  betrokke  werkgewer,  asook  reëlings  in  verband  met  pensioendekking  en  die  werkgewer  se  bydraes  tot  die  mediese  fonds  en  groepversekering  vir  hierdie  periode.  In  die  verband  geld  ’n  minimum van 4 weke en ’n maksimum van 26 weke.

2.5.1.2      Die uitbetaling van alle uitstaande verlof ingevolge die bepalings van die Reglement  vir die Verlof van Predikante.

2.5.2    Diensbeëindiging weens mediese ongeskiktheid 

2.5.2.1      Wanneer ’n predikant weens mediese ongeskiktheid daarvoor kwalifiseer, ontvang  die  persoon  ongeskiktheidsvoordele  volgens  die  bepalinge  van  die  sinodale  pensioenfonds (vergelyk Artikel 14 van die Kerkorde).[44]

2.5.2.2      In die geval waar ’n reglement wat ongeskiktheidsvoordele reël nie van toepassing  is  nie,  ’n  uittreeloon/skeidingspakket  gelyk  aan  ten  minste  2  weke  se  lewensonderhoud en toelaes vir elke voltooide jaar van aaneenlopende diens by die  betrokke  werkgewer,  asook  reëlings  in  verband  met  pensioendekking  en  die  werkgewer se bydraes tot die mediese fonds en groepslewensversekering vir hierdie  periode.  In  die  verband  geld  ’n  minimum  van  4  weke  en  ’n  maksimum  van  26  weke.

2.5.2.3      Die uitbetaling van alle uitstaande verlof ingevolge die bepalings van die Reglement  vir die Verlof van Predikante.

2.5.3    Diensbeëindiging  weens  die  gemeente/kerkverband  se  bedienings-  en  bedryfsvereistes

2.5.3.1      In  die  geval  van  diensbeëindiging  weens  die  gemeente/kerkverband  se  finansiële  onvermoë  of  ander  bedryfsvereistes,  ’n  uittreeloon/skeidingspakket  gelyk  aan  ten  minste  twee  weke  se  lewensonderhoud  en  toelaes  vir  elke  voltooide  jaar  van  aaneenlopende  diens  by  die  betrokke  werkgewer,  asook  reëlings  in  verband  met  pensioendekking  en  die  werkgewer  se  bydraes  tot  die  mediese  fonds  en  groepsversekering vir hierdie periode.

2.5.3.2      Die uitbetaling van alle uitstaande verlof ingevolge die bepalings van die Reglement  vir die Verlof van Predikante.

  1. APPÈL

3.1   In  alle  gevalle  van  diensbeëindiging  het  die  predikant  die  reg  tot  appèl  ingevolge  Artikel  23  van  die  Kerkorde  en  die  Reglement  vir  Appèl  of  Beswaar.  By  diensbeëindiging ingevolge Artikel 12.7 van die Kerkorde word die predikant oor die  rede ingelig en herinner aan die reg tot appèl.

3.2   In die geval van die verlies van bevoegdheid (indien van toepassing by Artikel 12.7.1  van  die  Kerkorde),  het  ’n  predikant  die  reg  tot  appèl  na  die  Moderamen/Algemene  Sinode (vergelyk Artikel 65.2 van die Kerkorde).

 

6.      Reglement vir die Actuarius Synodi

Vir die uitvoering van sy ampspligte neem die actuarius synodi die volgende in ag:

  1. Hy is ampshalwe:

1.1      lid van die moderatuur,

1.2      lid en voorsitter van die Sinodale Taakspan Regte,

1.3      lid van die Algemene Taakspan Regte (AS Regl. 7).

  1. Tydens die sinode moet die aktuarius

2.1      aantekening hou van al die besluite van die sinode rakende die Kerkorde sodat hy dit in oorleg met die Sinodale Taakspan Regte in die Kerkorde kan opneem.

2.2      na die beste van sy vermoë die nodige advies aan die vergadering gee.

  1. Hy is saam met die Sinodale Taakspan Reg­te verantwoordelik om die Kerkorde, Bepalinge en Reglemente soos deur die Algemene Sinode en die Namibiese Sinode(s) gewysig vir publikasie gereed te maak; daarna oorhandig hy dit aan die Algemene Sekretaris vir publikasie.
  2. Hy bewaar korrespondensie en aanteke­ninge van alle sake waarin hy ampshalwe optree.
  3. Wanneer hy skriftelik daarom gevra word, bedien hy kerklike liggame, ampsdraers en lidmate van advies in verband met die uitleg en toepassing van die Kerkorde, Bepalinge en Reglemente, asook die besluite van die sinode.
  4. Hy reik namens die sinode ‘n Akte van Bevestiging uit aan alle proponente sodra hulle met die oplê van hande as predikante van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Namibië bevestig is met kennisgewing aan die Algemene Taakspan Predikantesake. (Bepaling 8.4.2)
  5. Ingeval ‘n predikant of proponent die regte en voorregte wat kragtens sy legitimasie aan hom toekom, verloor, of daarvan afstand doen, moet die aktuarius dit sonder versuim by die skriba van die Algemene Taakspan Predikantesake aanmeld. (KO Art 11)
  6. Die noodsaaklikste koste wat aan die uitvoering van sy pligte verbonde is, word uit die sinodale fonds bestry.
  7. Hy doen aan die Sinodale Taakspan Regte verslag van sy werk.
  8. VAKATURE

10.1     As daar ‘n vakature in die pos van die aktuarius ontstaan, vra die skriba van die Sinodale Taakspan Regte alle dokumente in sy besit op en hou dit in veilige bewaring.

10.2     Op voordrag van die Sinodale Taakspan Regte wys die moderatuur ‘n waarnemende aktuarius aan wat dan alle dokumente in ontvangs neem.

10.3     Die Moderamen wys ‘n vaste aktuarius aan; sy dit deur die bekragtiging van die benoeming deur die moderatuur, of deur iemand anders aan te wys wat op sy beurt al die dokumente in ontvangs neem.

 

7.      Reglement vir Appèl en beswaar

In die Kerkorde, Algemene Sinode 2015, verskyn hierdie reglement as Reglement 19.

  1. REG TOT REVISIE, APPÈL, BESWAAR OF GRAVAMEN

1.1   Besluite  van  kerklike  vergaderings  is  bindend,  maar  dit  kan  herroep,  gewysig  of  vervang word by wyse van revisie, appèl, beswaar of gravamen.

1.1.1   Revisie/hersiening  behels  die  hersiening  van  ’n  besluit  tydens  dieselfde  of  ’n  volgende vergadering op versoek van ’n lid van die vergadering.

1.1.2   Appèl en beswaar behels ’n beroep op ’n meerdere vergadering wanneer ’n lidmaat  en/of kerkvergadering verontreg voel oor ’n mindere kerkvergadering se besluit.

1.1.3   Gravamen word gebruik om op die Algemene Sinode ’n ernstige beroep te maak om ’n beslissing in sake die leer van die Kerk.

1.2   Besluite  wat  geneem  is,  mag  alleen  na  vooraf  kennisgewing  deur  ’n  lid  van  die vergadering  en  met  die  toestemming  van  die  vergadering,  in  revisie  geneem  word. Kennisgewing geskied óf tydens die vergadering waar die besluit(e) geneem is óf in die agenda vir die volgende vergadering.

1.2.1   Revisie kan toegestaan word indien oortuigend aangevoer word dat, in die bespreking van die saak waarom dit gaan, aan sekere aspekte daarvan glad nie of nie voldoende aandag gegee is nie en/of daar later inligting na vore gekom het wat hersiening van die besluit noodsaaklik maak.

1.2.2   Die  aansoek  om  revisie  word  op  skrif  gestel,  aan  die  vergadering  voorgelê  en  die vergadering  beslis  met  meerderheidstem  of  die  revisie  toegestaan  word.    Indien toegestaan, word die saak weer oopgestel vir bespreking en kan die vergadering tot ’n gewysigde of ander besluit kom of die vorige besluit kan gehandhaaf word of herroep word.

  1. REVISIE EN HERSIENING VAN BESLUITE

2.1   Besluite van dieselfde vergadering: 

2.1.1    Wanneer kennis van revisie gegee word, kan die redes verstrek word waarom revisie aangevra word, maar  ‘n beredenering van saak waaroor die besluit handel, word nie toegelaat nie.

2.1.2    Nadat kennis van revisie gegee is, besluit die vergadering of revisie toegestaan word.

2.1.3    Indien  revisie  toegestaan  word,  word  die  besluit  tydens  die  vergadering  in behandeling geneem op  ‘n tyd soos deur die voorsitter gereël

2.2   Besluite van die verlede: 

2.2.1    Kerkraadsvergaderings: 

Wanneer kennis van revisie gegee word, kan die redes verstrek word waarom revisie  aangevra word, maar  ‘n beredenering van die saak waaroor die besluite handel, word nie toegelaat nie.

2.2.1.1   Nadat  kennis  van  revisie  gegee  is,  besluit  die  vergadering  of  revisie  toegestaan  word.

2.2.1.2   Indien revisie toegestaan word, word die besluit by ‘n volgende vergadering in behandeling geneem.

2.2.2    Meerdere vergaderings: 

Besluite  van  meerdere  vergaderings  word  na  vooraf  skriftelike  kennisgewing  in  behandeling  geneem.  Verslae  van  kommissies  en  beskrywingspunte  waar  nuwe  aanbevelings  oor  vorige  besluite  gemaak  word,  word  geag  genoegsame  skriftelike  kennisgewing te wees.

2.3   Hantering van revisie: 

2.3.1    Wanneer die revisie behandel word, is die saak waaroor dit gaan oop vir bespreking,  en word  ‘n voorstel en amendement opnuut ingedien.

2.3.2    Indien  die  revisie-/hersieningsvoorstel  goedgekeur  is,  vervang  dit  die  vorige  besluit(e).

  1. APPÈL OF BESWAAR TEEN BESLUITE VAN DIE KERKRAAD

3.1    Lidmate van die gemeente wat ’n beswaar op grond van die Skrif, die Belydenis en/of  die  Kerkorde  teen  ’n  besluit  van  die  kerkraad  het,  kan  binne  die  toegelate  tyd  (vergelyk  7.2  en  7.3  hieronder)  skriftelik  by  die  ring  daarteen  appelleer  of  beswaar  aanteken. Die appellant of beswaarde gee daarvan kennis aan die kerkraad.

3.2    Die appèl- of beswaarskrif wat later daarop volg, word aan die skriba van die ring of  sy gevolmagtigde appèlliggaam gestuur.

3.3    Die kerkvergadering of sy gevolmagtigde appèlliggaam, kan waar toepaslik, die saak  éérs  vir  bemiddeling  en  versoening  verwys  (vergelyk  Funksionele  Besluite:  Riglyne  vir die Beslegting van Kerklike Geskille).

3.4    Indien geskilbeslegting nie die gewenste resultaat lewer nie, gaan die appèl of beswaar voort.

  1. APPÈL TEEN BESLUITE VAN DIE RING OF SY GEVOLMAGTIGDE

4.1    Lidmate of ’n kerkraad van ’n ringsgemeente wat ’n beswaar op grond van die Bybel,  die Belydenis en/of die Kerkorde teen die besluit(e) van die ring of sy gevolmagtigde  het, kan binne die toegelate tyd (vergelyk 7.2 en 7.3 hieronder) skriftelik by die sinode  daarteen  appelleer  of  beswaar  aanteken.  Die  appellant  of  beswaarde  gee  daarvan  kennis aan die ring.

4.2    Die appèl- of beswaarskrif wat later daarop volg, word aan die skriba van die sinode of  sy gevolmagtigde appèlliggaam gestuur.

4.3    Die kerkvergadering of sy gevolmagtigde appèlliggaam, kan waar toepaslik, die saak  éérs  vir  bemiddeling  en  versoening  verwys  (vergelyk  Funksionele  Besluite:  Riglyne  vir die Beslegting van Kerklike Geskille).

4.4    Indien geskilbeslegting nie die gewenste resultaat lewer nie, gaan die appèl of beswaar  voort.

  1. APPÈL OF  BESWAAR  TEEN  BESLUITE  VAN  DIE  SINODE  OF  SY  GEVOLMAGTIGDE 

5.1    Lidmate  of  ’n  kerkraad  of  ’n  ring  wat  ’n  beswaar  op  grond  van  die  Bybel,  die  Belydenis en/of die Kerkorde teen die besluit(e) van die sinode of sy gevolmagtigde  het,  kan  binne  die  toegelate  tyd  (vergelyk  7.2  en  7.3  hieronder)  skriftelik  by  die  Algemene Sinode daarteen appelleer of beswaar aanteken.  Die appellant of beswaarde  gee daarvan kennis aan die sinode.

5.2    Die  appèl-  of  beswaarskrif  wat  later  daarop  volg,  word  aan  die  skriba  van  die  Algemene Sinode gestuur.

5.3    Die kerkvergadering of sy gevolmagtigde appèlliggaam, kan waar toepaslik, die saak  éérs  vir  bemiddeling  en  versoening  verwys  (vergelyk  Funksionele  Besluite:  Riglyne  vir die Beslegting van Kerklike Geskille).

5.4    Indien geskilbeslegting nie die gewenste resultaat lewer nie, gaan die appèl of beswaar  voort.

5.5    Die beslissing van die Sinode of sy gevolmagtigde appèlliggaam is finaal ten opsigte  van daardie aangeleenthede wat tot sy bevoegdheid behoort.

  1. APPÈL OF  BESWAAR  TEEN  BESLUITE  VAN  DIE  ALGEMENE  SINODE OF SY GEVOLMAGTIGDE 

6.1    Lidmate of ’n kerkraad of ’n ring of ’n sinode wat ’n beswaar op grond van die Bybel,  die Belydenis en/of die Kerkorde teen die besluit(e) van die Algemene Sinode of sy  gevolmagtigde  het,  kan  binne  die  toegelate  tyd  (vergelyk  7.2  en  7.3  hieronder)  skriftelik  by  die  Algemene  Sinode  se  gevolmagtigde  appèlliggaam  (die  Algemene  Taakspan Regte ingevolge 3.1.5 van die Reglement vir die Algemene Taakspan Regte)  of  die  eersvolgende  Algemene  Sinode  daarteen  appelleer  of  beswaar  aanteken.  Die  appellant of beswaarde gee daarvan kennis aan die Moderamen of aan die Algemene  Sinode.

6.2    Die appèl- of  beswaarskrif  wat later op die  kennisgewing  volg, word aan die skriba  van die Algemene Sinode gestuur.

6.3    Ingevolge  Artikel  44.4  van  die  Kerkorde  kan  sake  in  verband  met  leergeskille  of  geskille tussen sinodes onderling of tussen sinodes en mindere vergaderinge by wyse  van appèl voor die Algemene Sinode of sy gevolmagtigde appèlliggaam dien.

  1. HANTERING VAN APPÈL OF BESWAAR DEUR KERKVERGADERINGE OF HULLE GEVOLMAGTIGDE APPÈLLIGGAME

7.1    Indien  ’n  kerkvergadering  nie  self  ’n  appèl  of  beswaar  aanhoor  nie,  word  ’n  appèlliggaam van minstens drie lede deur die kerkvergadering aangewys om die appèl  of beswaar te hanteer. Die appèlliggaam kan kundiges koöpteer. Die vergadering van  die appèlliggaam is ’n geslote vergadering.

7.2    ’n Lidmaat of ’n  kerkvergadering  wat  ’n appèlstuk of beswaarskrif wil indien, moet  binne  21  dae  nadat  die  vergadering  se  goedgekeurde  notule  beskikbaar  gestel  is,  of  nadat die bevindinge van ’n tug- en/of dissiplinêre ondersoek bekend gemaak is, by die  meerdere vergadering daarvan kennis gee.

7.3    Die appellant of beswaarde moet binne 21 dae nadat daar kennis van appèl of beswaar  gegee  is,  in  die  appèlstuk  of  beswaarskrif  aan  die  appèlliggaam  ’n  skriftelike  uiteensetting van die gronde van/redes vir die appèl of beswaar (ter sake dokumentasie  ingesluit) voorsien, anders verval die reg op appèl of beswaar.

7.4    In terme van Artikel 65.2 en 65.3 van die Kerkorde kan daar oor leerstellige sake en  bevoegdheidsaangeleenthede  van  gelegitimeerdes  tot  by  die  Algemene  Sinode  geappelleer word. Oor ander sake wat met die tug verband hou, kan daar nie verder as  die sinode geappelleer word nie.

7.5    Die skriba  van die appèlliggaam  verkry so gou moontlik nadat die  gronde  van/redes  vir die appèl of beswaar ingedien is, die kerkvergadering wat die besluit(e) geneem het  se  skriftelike  reaksie  daarop  (ter  sake  dokumentasie,  waaronder  alle  dokumente,  notules,  transkripsies,  ensovoorts,  moet  ingesluit  word)  en  besorg  dit  aan  die  appèlliggaam.

7.6    Die indiener van die appèlstuk of beswaarskrif word by die indiening van die appèl of  beswaar in kennis gestel dat, indien die appèl of beswaar van die hand gewys word,  die  uiteindelike  koste[45]  van  die  saak  van  die  appellant  of  beswaarde  gevorder  mag  word,  indien  die  betrokke  appèlliggaam  só  besluit.  Die  indiener  van  die  appèl  of  beswaar  moet  skriftelike  instemming  met  die  reëling  betuig.  Indien  die  appellant  of  beswaarde dit nie doen nie, verval die appèl of beswaar. Die appellant of beswaarde is  geregtig om vooraf ’n aanduiding te kry van die beraamde koste.

7.7    Die  appèlliggaam  vergader  binne  21  dae  na  die  ontvangs  van  die  appèlstuk  of  beswaarskrif en beslis so spoedig moontlik daaroor.

7.8    Die  appèlondersoek  geskied  op  grond  van  die  skriftelike  uiteensetting  van  die  appellant se appèlgronde of beswaarde se beswaarskrif (met ter sake dokumentasie) en  op  grond  van  die  skriftelike  reaksie  van  die  kerkvergadering  op  die  appellant  se  appèlgronde  of  die  beswaarde  se  beswaarskrif  (met  ter  sake  dokumentasie).  Die  appèlliggaam kan versoek of verlof gee dat mondelinge getuienis deur die appellant of  beswaarde en/of ’n verteenwoordiger(s) van die betrokke kerkvergadering aangehoor  word.

  1. GRAVAMEN

Benewens  die  reg  van  appèl  of  beswaar  kan  ’n  lidmaat  of  ’n  kerkvergadering  wat  beswaar op grond van die Skrif, die Belydenis en/of die Kerkorde teen ’n besluit van die  Algemene Sinode het, die beswaar by wyse van ’n gravamen aan die Algemene Sinode  voorlê. Indien die gravamen ontvanklik is, word dit vir oorweging aan die Algemene  Sinode voorgelê.

  1. MIDDELE TOT BESKIKKING VAN ’N APPÈLLIGGAAM

9.1    Na oorweging van ’n appèl kan die appèlliggaam, die appèl op een van die volgende wyses hanteer:

9.1.1    die appèl geheel of gedeeltelik toestaan, of

9.1.2    die appèl in geheel of gedeeltelik afwys, of

9.1.      indien  die  appèl  berus  op  wesenlike  onreëlmatighede,  stel  die  appèlliggaam  die  besluit van die betrokke kerkvergadering tersyde.

9.2    Indien die appèlliggaam die appèl in geheel of gedeeltelik toestaan, word die betrokke  kerklike  vergadering  se  besluit/uitspraak,  waar  van  toepassing,  na  die  betrokke kerkvergadering of gevolmagtigde ondersoekliggaam terugverwys vir hersiening.

9.3    Die  kerkvergadering  na  wie  die  saak  terugverwys  is,  kan  ‘ n  nuwe  gevolmagtigde ondersoekliggaam aanwys om die saak van nuuts af te ondersoek.

9.4    Indien die beswaar in ’n beswaarskrif gehandhaaf word, word die tersaaklike besluit(e) van die mindere kerkvergadering ter syde gestel.

  1. BESLISSING VAN DIE APPÈLLIGGAAM

10.1  Die appèlliggaam kom tot ’n beslissing oor die appèl of beswaar en notuleer ook die  rede(s)  daarvoor.  Die  appellant  of  beswaarde  en  die  kerkvergadering  teen  wie  se  besluit(e)  geappelleer of  beswaar aangeteken  is, word skriftelik in  kennis  gestel  van  die beslissing en die rede(s) daarvoor.

10.2  Indien die appèl betrekking gehad het op die bevoegdheid van ’n gelegitimeerde, word  die  Algemene  Taakspan  Predikantesake  binne  14  dae  in  kennis  gestel  van  die  beslissing van die appèlliggaam.

8.      Reglement van orde

  1. DIE AARD VAN KERKVERGA­DE­RINGS

Kerkvergaderings (kerkraad, ring, sinode) word met oop deure gehou, tensy die vergadering anders besluit.

  1. DIE BYEENKOMS VAN KERKVERGADERINGS

2.1    Die lede van kerkvergade­ringe kom byeen op ‘n plek en tyd soos vooraf bepaal.

2.2    Die KERKRAAD kies jaarliks ‘n voorsitter  uit die predikant(e) en ou­derlinge

2.3    Die RINGS­VERGADERING word deur die ringskommissie gelei. Die ring kies aan die einde van elke vierde gewone vergadering ‘n ringskommissie.

2.4    Die SINODE vergader onder die leiding van die moderatuur. Die moderatuur word tydens ‘n gewone vergadering verkies (vgl Bep 35.2.3.1.1)

  1. TEENWOORDIGHEID VAN LEDE EN VERSKONING VIR AFWESIGHEID

3.1    Al die lede is verplig om kerkvergaderings by te woon of om betyds (twv sekundi) kennis te gee as hulle nie teenwoordig kan wees nie.

3.2    Lede mag nie die vergadering sonder verlof van die voorsitter verlaat nie.

4    KWORUMS

4.1    Kerkraad

4.1.1    Vir gewone werksaamhede is die kworum vir ‘n kerkraads­vergadering meer as die helfte van die getal dienende kerkraadslede.  In buitenge­wone omstandighede moet ‘n kerkraad die ring vooraf versoek om toestemming te verleen dat die kworum vir gewone werksaamhede uit een derde van die getal dienende kerkraadslede bestaan.

4.1.2    Vir tug- en appèlsake word die kworum bepaal ooreenkomstig die vereistes vir suiwering van die vergadering  (sien NGKN Regl 11: 1.1 en 11: 8.1).

4.1.3    Vir gewone werksaamhede moet meer as die helfte van die aanwesige lede ten gunste van ‘n voorstel stem, om dit aanvaar te kry.

4.2    Meerdere vergaderings

4.2.1    Ringsvergaderings

4.2.1.1    Die getekende geloofsbriewe van alle afgevaardigdes moet ter vergadering by die skriba ingelewer word.

4.2.1.2    Meer as die helfte van die afgevaardigdes wie se geloofsbriewe ingehandig is, moet teenwoordig wees vir konstituering.

4.2.1.3    Vir tug- en appèlsake word die kworum bepaal ooreenkomstig die vereistes vir suiwering van die vergadering (sien NGKN Regl 11: 1.1en 11: 8.1).

4.2.1.4    Vir gewone werksaamhede is meer as die helfte van die getal lede op die presensielys ‘n kworum.

4.2.2    Sinodevergaderings

4.2.2.1    Die getekende geloofsbriewe van alle afgevaardigdes moet minstens twee weke voor die aanvang van die vergadering by die skriba van die moderamen ingehandig wees, wat dit, tesame met wysiginge (wat tot voor die vergadering by hom ingedien kan word), vir goedkeuring ter tafel lê.

4.2.2.2    Minstens die helfte van die afgevaar­dig­des wie se geloofsbriewe ingedien is, moet teen­woordig wees voor die vergadering gekonstitueer kan word.

4.2.2.3    Vir gewone werksaamhede is meer as die helfte van die getal op die presensielys ‘n kworum.

4.2.2.4    Vir tug- en appèlsake word die kworum bepaal ooreenkomstig die vereistes vir suiwering van die vergadering (sien NGKN Regl 11: 1.1en 11: 8.1).

  1. OPENING VAN KERKVERGADE­RINGS

5.1    Kerkraad

Die vergadering word onmiddellik na konstitue­ring deur die voorsitter met Skriflesing en gebed geopen.

5.2    Meerdere vergaderings

5.2.1    Die vergadering word on­middellik na die konstitue­ring geopen met ‘n gepaste rede deur die voorsitter van die ringskommissie/mode­ratuur of, by sy afwesigheid, deur iemand deur die rings­kommissie/moderatuur aangewys,

5.2.2    Elke dagsitting word deur die voorsitter, of deur een van die lede wat vooraf deur hom daartoe versoek is, met skriflesing en gebed geopen en met gebed afgesluit.

  1. VERKIESING VAN RINGSKOM­MISSIE / MODERATUUR

6.1    Die Ringskommissie word in ooreen­stemming met Bepaling 31.4.2.2 verkies en die Moderatuur in ooreenstemming met Bepaling 35.2.3.1.

6.2    By die verkiesing van bogenoemde ampsdraers word alle afgevaardigdes as genomineer beskou en word daar gevolglik direk tot stemming oorgegaan.

6.3    Wie die meeste stemme op hom verenig het, is gekies indien die getal stemme op hom uitgebring die volstrekte meerderheid van die aanwesige lede uitmaak.

6.4    Die opneem en tel van die stemme word aan ‘n taakspan opgedra wat vooraf deur die ringskommissie/moderatuur benoem is.

  1. STEMMING

7.1    Algemene bepaling

7.1.1    Elke lid van die vergadering moet stem. Vir ’n beslissing word ’n volstrekte meerderheid van stemme van die aanwesige lede vereis, behalwe in die gevalle waar die Kerkorde ’n tweederdemeerderheid vereis (Artikel 44.1 tot 44.4 en 70.4). Die voorsitter het ’n gewone maar nie ’n beslissende stem nie.

7.1.2    Oor alle sake, wat nie algemene instem­ming ontvang nie, word daar gestem of deur die opsteek van hande, of in die geval van konten­sieuse sake op geslote stemwyse indien die vergadering so besluit. Die meerderheid van stemme bepaal die besluit.

7.1.3    In die geval van ‘n voorstel met amendemen­te, word die amendemente eers tot stemming gebring in opgaande orde vanaf die laaste wat ingedien is, en daarna die voorstel soos deur die aanvaarde amendement(e) gewysig.  Slegs indien al die amendemente verwerp word, stem die vergadering oor die oorspronklike voorstel.  Na elke stemming word die uitslag of dit aanvaar of verwerp is, bekend gemaak.

7.1.4    Persone wat die vergadering in adviserende hoedanigheid bywoon, mag aan die bespreking deelneem, maar nie stem nie (sien ook punt 8.4.1.7 van hierdie Reglement) en mag ook nie voorstelle maak of sekondeer nie.

7.2    Verkiesing, beroeping en benoeming van persone

Indien die stemming op die kiesing/ beroeping/ benoeming van persone betrekking het, uitgeson­derd die aanwysing van diensgroepe/taakspanne (vgl punt 11 van hierdie reglement), geskied dit op geslote stemwyse op die volgende manier:

7.2.1    Eers word ‘n nominasielys gevorm met inagneming van punt 6.2 van hierdie reglement.  Elke stemgeregtigde lid mag persone nomineer, maar nie meer as die getal persone wat gekies moet word nie.

7.2.2    Vir die verkiesing van kerkraadslede en die beroeping van leraars het die belydende lidmate van die gemeente reg om soveel persone te nomineer as wat daar vakatures is. Hierdie nominasies moet vooraf skriftelik by die skriba van die kerkraad ingedien word.

7.2.3    Uit die name in die nominasielys stem elke stemgeregtigde vir soveel name as die getal persone wat gekies moet word.

7.2.4    Die persoon op wie die meeste stemme verenig word, is gekies indien die getal stemme op hom/haar uitgebring die volstrekte meerderheid van die aanwesige lede uitmaak.

7.2.5    Indien een of meer van die vereiste aantal nie die volstrekte meerderheid van stemme van die aanwesige lede op hom/haar verenig het nie, vind daar ‘n nuwe stemming plaas en wel uit die name wat die hoogste getal stemme verkry het en saam ‘n volstrekte meerderheid vorm.

7.2.6    Indien daar ʼn staking van stemme is, word die benodigde getal deur die beslissing van die lot gevel.

7.2.7    Indien die getal op die stemlys presies dieselfde of minder as die getal vakatures is, moet daar vir of teen elke persone gestem word tensy ‘n onbestrede mosie aanvaar word wat vra dat alle genomineerdes as verkose verklaar word.

7.2.8    Die verkiesing van afgevaardigdes na die Algemene Sinode word gereël volgens Bep 35.1.4.

7.2.9    Die verkiesing van diensgroepe/ taakspanne word volgens punt 11 van hierdie reglement gereël.

7.3    Vorming en suiwering van die nominasielys by stemming vir persone

7.3.1    Alleen die name van persone wat nie onder amptelike kerklike tug is nie, mag op die groslys geplaas word.

7.3.2    Daar moet geen ooreen­koms of afspraak met ie­mand hoegenaamd gemaak word nie.

7.3.3    By verkiesing van kerk­raadslede: ‘n kerkraad het desverkiesend die reg om ‘n pre‑advies taakspan te benoem wat die name van lidmate voorlê wat op die groslys geplaas word.  Enige lid van die vergadering, die konsulent uitgesonderd, en belydende lidmate van die gemeente behou die reg om ook te nomineer.

7.3.4    By beroeping van predikante in ‘n gemeente: ‘n kerkraad het desverkiesend die reg om ‘n kommissie van pre-advies te benoem wat die name van minstens drie leraars voorlê wat op die groslys geplaas word. Enige lid van die vergadering, die konsulent uitgesonderd, en belydende lidmate van die gemeente behou die reg om ook te nomineer (Sien Alg Sin 2013 Funksionele Besluit 5.2 en punte 7.2.1 en 7.2.2 van hierdie reglement).

7.3.5    By beroeping van predikante met opdrag diens in kerkverband:  Die betrokke kerkvergadering wat beheer uitoefen oor die betrokke werksaamheid, identifiseer ‘n geskikte persoon.  Die vergadering doen dit volgens geykte kerklike voorskrifte nl nominasies en stemming.  Wanneer ‘n persoon só aangewys word, onderhandel die kerkvergadering met hom / haar en ‘n gemeente wat gewillig is om sodanige leraar te beroep, oor die dienskontrak.  Ná finalisering van die kontrak, beslis die kerkraad op ‘n beroepsvergadering met ja- of nee-stemme oor die beroep (vgl Bep 6.5.3 en 6.11.).

7.3.6    Nadat die nominasielys opgestel is, mag die voorsitter of kommissie van pre-advies, voordat daar tot stemming oorgegaan word, inligting verstrek in verband met die genomineerdes, met dien verstande dat hierdie medede­ling positief, saaklik, beheers en nie propagandisties sal wees nie.

  1. DIE BEHANDELING VAN SAKE

8.1    Die agenda

8.1.1    Die agenda vir ’n ­kerkraadsvergadering word deur die voorsitter opgestel vir goed­keuring deur die kerkraad.

8.1.2    Die agenda vir ’n ringsver­gadering word deur die skriba in oorleg met die ringskommissie opgestel en moet indien enigsins moont­lik, twee weke voor die tyd in die hande van die afge­vaar­digdes wees.

8.1.3    Die agenda vir die sinode­vergadering word deur die moderatuur opgestel en moet indien enigsins moontlik ses weke voor die vergadering in die hande van alle belanghebbendes wees.

8.2    Optrede van die voorsitter

8.2.1    By die voorbring van sake volg die voorsitter die orde wat vir hom die geskikste voorkom.  Hy dra die sake wat behandel moet word duidelik voor en gee by die behandeling daarvan die nodige inligting.  As die geleentheid dit vereis, mag hy wenke aan die hand doen om die vergadering te help om tot ‘n besluit te kom.

8.2.2    In voorkomende gevalle wat betref die leiding van die vergadering, waarvoor geen voorsiening in hierdie reglement gemaak is nie, handel die voorsitter volgens gebruik en eie oordeel.  In die geval van beswaar teen die handelswyse van die voorsitter, beslis die vergadering.

8.3    Spreekbeurte en aan­spreekvorme

8.3.1    By die behandeling van sake is elke lid op ‘n spreekbeurt geregtig.

8.3.2    As twee of meer lede gelyktydig opstaan, beslis die voorsitter wie die eerste aan die beurt kom

8.3.3    Alles wat betrekking het op die orde by die beraad­sla­ging kry voorrang.

8.3.4    Die inleier van ’n be­skry­wingspunt of ‘n voorstel word beperk tot ’n spreek­beurt van nie meer as tien minute nie behalwe met spesiale toestemming van die vergadering.

8.3.5    Ander sprekers word beperk tot ‘n spreekbeurt van nie meer as vyf minute nie, behalwe met spesiale toestemming van die vergadering.

8.3.6    Geen lid van die verga­de­ring is geregtig op meer as een spreekbeurt oor dieselfde saak nie, behalwe in geval van ‘n verduideliking, of as die vergadering daartoe verlof gee, of as daar van die reg tot repliek gebruik gemaak word of as ‘n amendement ingedien word.

8.3.7    Die indiener van ‘n voorstel het reg tot repliek, dog nie die indiener van ‘n amendement nie.

8.3.8    Elke lid van die vergadering, hetsy in skriftelike of mondelinge voordrag wend hom tot die voorsitter.  Wanneer hy op die opmerkings van ander lede reageer, behalwe in kerkraadsver­gaderinge, mag hy geen name noem nie.  Hy onthou hom van alles wat strydig is met die agting wat aan ‘n kerklike vergadering verskuldig is.

8.4    Voorstelle, amendemente, beskrywings­punte, mosies van orde, inspraak en versoekskrifte

8.4.1    Algemeen: kerkraad, ring en sinode

8.4.1.1    Voorstelle en amendemente van afgevaardigdes en lede moet skriftelik ingedien word en deur die voorsteller en sekondant onderteken wees.

8.4.1.2    Aanbevelings van staande of tydelike diensgroep/taakspanne word as voorstelle aan die vergadering beskou. Lede van die vergadering behou die reg om amendemente tydens die vergadering in te dien.

8.4.1.3    Die lid van die vergadering wat eerste opstaan, nadat die voorsitter ‘n saak aan die orde gestel het, het die reg om die vergadering met ’n voorstel /amende­ment (in die geval van ‘n voorstel deur ’n diensgroep/taakspan of van ‘n insender van ‘n beskrywingspunt) te dien.

8.4.1.4    Geen voorstel of amende­ment mag deur die voorsitter ontvang word voordat hy die saak aan die orde stel nie.

8.4.1.5    ‘n Voorstel of amendement wat reeds ter tafel is, mag nie sonder die verlof van die vergadering teruggetrek word nie.

8.4.1.6    ‘n Mosie van orde is ‘n voorstel wat betrekking het op:

  • die volgorde waarin sake ter tafel moet kom, of
  • dat die bespreking van ‘n bepaalde saak opgeskort of beëindig word, of
  • die verwysing van ‘n bepaalde saak, of
  • dat van ‘n bepaalde saak afgestap word.

8.4.1.7    ‘n Ordemosie kan op enige tydstip gedurende die bespreking ingedien word en daaroor word dadelik sonder bespreking gestem.  Dit word aan die oordeel van die voorsitter oorgelaat om die mosie terug te hou as hy van mening is dat dit aangewend word om ‘n behoorlike bespreking van die onderwerp te voorkom.

8.4.1.8    Persone wat ’n kerk­ver­gadering in adviserende hoedanigheid bywoon mag nie voorstelle maak of sekondeer nie.

8.4.1.9    Nie‑gesensureerde lidmate van gemeentes mag versoekskrifte by kerkvergaderinge indien en het die reg tot inspraak (Vgl Bep 3.9 en NGKN Riglyn 3.)

8.4.2    Net vir sinodevergaderings

8.4.2.1    Beskrywingspunte (deur kerkvergade­ringe) en aanbevelings (deur diensgroepe/ taakspanne van die sinode in hulle verslae) word minstens drie maande tevore aan die algemene sekretaris gestuur.

8.4.2.2    Die moderatuur verwys beskrywings­punte na tydelike diens­groepe/taakspanne en die insender van beskrywingspunte, voorstelle en amendemente kry die geleent­heid om hulle saak voor die tydelike diens­groepe/taakspanne te stel.

8.4.2.3    Beskrywingspunte, voorstelle of amen­demente wat veranderinge aan bepalinge en reglemente ten doel het, moet in sodanige vorm wees as waarin die voorstellers meen dat dit in die kerkorde­boek opgeneem moet word.

8.4.2.4    Spoedeisende sake van besondere en algemene belang mag deur die vergadering in behandeling geneem word indien die vergadering daartoe besluit na raadpleging en aanbeveling van die moderatuur.

8.4.2.5    Die  moderatuur kan sake in die agenda wat kerkordelike of finansiële implikasies het, na tydelike diens­groepe/taakspanne verwys wat die sinode met kerkordelike/finansiële advies bedien sonder om hulle uit te spreek oor die meriete van die betrokke aangeleenthede.

  1. REVISIE

9.1   Besluite wat eenmaal deur kerkvergade­rings geneem is (kerkraad, ring, sinode), mag in dieselfde vergadering (aan die einde) in revisie geneem word,

9.1.1    mits daar vooraf kennis­gewing van revisie was;

9.1.2    mits die aansoeker sy gronde vir revisie duidelik gestel het en

9.1.3    mits die verga­de­ring die gronde beoordeel het en eenparig goedkeuring vir revisie gegee het.

9.2   Indien goedkeuring tot revisie nie verkry word nie, kan die saak by wyse van ’n voorstel na die eersvolgende vergadering geneem word, wat de novo oor die saak kan besluit.

9.3   Gronde vir revisie

Revisie kan toegestaan word indien oortuigend aangevoer word dat (onder andere):

9.3.1    sekere aspekte in die bespreking glad nie of nie voldoende aandag ontvang het nie;

9.3.2    daar later inligting na vore gekom het wat hersiening van die besluit noodsaaklik maak.

9.4   Revisie Van Besluite By Meerdere Vergaderings.

9.4.1    By meerdere vergaderinge kan revisie van ‘n besluit nie geneem word op dieselfde sitting as waarop die besluite geneem is nie.

9.4.2    Kennis van revisie mag wel gegee word op dieselfde sitting waarop die besluit geneem is.

9.4.3    By die sinode word elke punt van revisie na die tydelike taakspan: regte verwys.  Die aansoeker kry geleentheid om sy redes persoonlik aan die tydelike taakspan: regte voor te lê. Na oorweging daarvan doen die tydelike taakspan: regte verslag met aanbeveling aan die sinode.  Indien revisie deur die sinode toegestaan word, dien die saak voor die vergadering by ‘n geleentheid soos deur die moderatuur bepaal.

9.5   Vergelyk ook KO Art. 23 en NGKN Regl 7 oor appèlle na ‘n meerdere vergadering.

  1. VERSLAE

10.1     Verslae van diens­groepe/taakspanne kan voor ‘n kerkraadsvergadering aan die lede beskikbaar gestel word en kan as vertroulik hanteer word

10.2     Verslae van diensgroepe/taakspanne van die ring, moet minstens ‘n maand voor die ringsver­gadering by die skriba van die ringskommissie wees wat dit saam met ander toepaslike stukke minstens twee weke voor die ringsvergadering aan afgevaardigdes beskikbaar stel.

10.3     Die verslae van diensgroepe/taakspanne van die sinode, moet algemene sekretaris minstens drie maande voor die sinode bereik en moet minstens ses weke voor die aanvang van die sinode aan alle afgevaardigdes besorg word saam met alle toepaslike stukke.

  1. AANWYSING VAN DIENSGROEPE/TAAK­SPANNE VAN KERKVERGA­DERINGS (SIEN BEP 25)

Diensgroepe/taakspanne

11.1     Diens­groepe/taakspanne van kerkverga­deringe (die ringskommissie [Bep 31.4.2] en moderatuur [Bep 35.2.3] uitgesonder) word deur die opsteek van hande goedgekeur.

11.1.1     By die kerkraad nadat lede die geleent­heid gehad het om te kenne te gee in welke diensgroep/taakspan hulle wil dien;

11.1.2     by die ring op voordrag van ‘n tydelike taakspan, vooraf deur die ringskommissie benoem;

11.1.3     by die sinode op voordrag van ‘n tydelike taakspan deur die moderatuur saamgestel.

11.2     Vakatures ontstaan in diensgroepe/ taakspanne van meerdere kerkver­gaderings deur die dood, vertrek, afsetting of skrif­telike bedanking van lede (lg aan die adres van die skriba van die betrokke diensgroep/taakspan).

11.3     Vakatures wat só ontstaan word aangevul deur die kerkvergadering waaruit die verteenwoordiger moet kom. Die betrokke vergadering gee kennis van die benoeming aan die algemene sekretaris.

Tydelike taakspanne

11.4     Tydelike taakspanne word in geval van:

11.4.1     die kerkraad deur die voorsitter benoem;

11.4.2     die ring deur die ringskommissie aangewys;

11.4.3     die sinode deur die moderatuur aangewys.

11.5     Tydelike taakspanne van die sinode:

11.5.1     behandel beskrywingspunte wat na hulle verwys is en dien die sinode met aanbevelings daaroor.  Insenders mag die betrokke punt by die tydelike kommissie persoonlik toelig;

11.5.2     mag vóór die aanvang van die sinode met hulle werksaamhede begin;

11.5.3     maak nie aanbevelings oor die verslae van staande diensgroep/taakspanne nie (met inagneming van punt 8.4.2.5 van hierdie reglement), tensy daar ‘n beskrywingspunt oor dieselfde saak is wat nuwe aspekte na vore bring of wanneer ‘n saak deur die sinode na hulle verwys word.

11.6     Kerkvergaderinge kan ook van lidmate gebruik maak om in diensgroepe/taakspanne te dien.

11.7     diensgroe­pe/taakspanne moet self die opdragte wat op hulle van toepassing is in die notule vind, dit uitvoer en daaroor verslag doen.

  1. NOTULE

12.1     Die skriba, indien nodig met behulp van ‘n assistent skriba(s) deur die vergadering/ notule­taakpan verkies, teken sake wat behandel word en besluite wat geneem is, aan. Alle voorstelle en amendemente wat ingedien word, ook die wat nie aanvaar word nie, word in die notule opgeneem.

12.2     Die notule van elke sittingsdag van meerde vergaderings kan deur ’n notuletaakspan versorg word en tydens die volgende sitting aan die verga­dering voorgelê vir goedkeuring en deur die moderator en skriba geteken.

12.3     Die notule van die finale sitting word by die eerste vergadering van die ringskommissie / moderatuur voorgelê vir goedkeuring en onderteke­ning.  In die geval van die kerkraad word die notule by die volgende gewone vergadering vir goedkeuring voorgelê en deur voorsitter en skriba geteken.

12.4     In die geval van meerdere vergaderinge kan die opdragte uitgevoer word nadat die notule goedgekeur is.  In die geval van kerkraadsvergaderings kan die opdragte uitgevoer word nadat die besluit geneem is.

9.      Reglement vir die Ringskommissie

1    SAMESTELLING

1.1    Die ringskommissie word saamgestel soos voorgeskryf in Bep 31.4.2.2.

2    KONSTITUERING EN VERGADE­RINGS

2.1    Die ringskommissie kies sy eie voorsitter en skriba.

2.2    Indien nodig, roep die skriba die sekundi in volgorde op na vergaderings.

3    WERKSAAMHEDE VAN DIE KOMMISSIE

Die ringskommissie:

Algemeen

3.1    neem spoedeisende sake in behandeling;

3.2    voer alle opdragte van die ring uit;

3.3    tref toepaslike reëlings om vakatures te vul wat op diensgroepe/taakspanne van beide die ring en die sinode mag ontstaan;

3.4    neem na die eis van omstandighede dringende tussentydse verslae van visitasie-taakspanne in behandeling (vgl Bep 31.3.6).

Met betrekking tot beroeping en bevestiging van predikante

3.5    adviseer ʼn beroepende kerkraad oor die opstel van ʼn beroepsbrief (NGKN Regl 15:5.2);

3.6    kontroleer of daar aan al die kerkordelike vereistes voldoen is vóórdat ʼn predikant in ʼn gemeente bevestig word (NGKN Regl 15:2.2.2 – 4.7.3);

3.7    sien by beroepe uit die NG Kerkfamilie             etoe dat aan die vereistes vir opleiding en legitimasie van die NG Kerk voldoen word (NGKN Regl 15:1.3);

3.8    oorweeg aansoeke om uitstel van beroep in terme van Bep 6.3.2;

3.9    oorweeg aansoeke om uitstel van bevestiging in terme van Bep 8.3.1;

Met betrekking tot appèlle

3.10  neem appèlle teen besluite van kerkrade wat deur kerkrade, kerkraadslede en lidmate ingebring word, in behandeling indien die ring nie oor ʼn gevolmagtigde appèlkommissie beskik nie (NGKN Regl 7);

Met betrekking tot ondersoek van beweerde tugwaardige sondes

3.11  benoem op versoek van ʼn kerkraad of geïmpliseerde ʼn ondersoekkommissie om namens ʼn kerkraad ʼn ondersoek oor beweerde tugwaardige sondes te doen (Art 63.4 en 64);

Met betrekking tot gemeentestigting

3.12  stig in opdrag van die ring gemeentes volgens die prosedure in NGKN Regl 3 omskryf (sien ook Bep 31.3.1.3);

3.13  stel die grense van die nuwe gemeente vas en beskrywe dit soos voorgeskryf in punt 1.1.6 van NGKN Regl 3;

Met betrekking tot kombinasie van gemeen­tes

3.14  neem kombinasieooreen­komste tussen gemeentes in behandeling met die oog op bekragtiging (NGKN Regl 3: 2);

Met betrekking tot samestelling van kerk­rade

3.15  belê in terme van Bep 27.2 ʼn gemeente vergadering met die oog op verkiesing van kerkraadslede indien daar minder as die minimum aantal kerkraadslede in ʼn gemeente oorbly;

Met betrekking tot die ringsfonds

3.16  Hou toesig oor en admi­nistreer die ringsfonds (NGKN Regl 1: 3).

 

 

10.    Reglement vir die Namibiese Kuratorium[46]

  1. NAAM

Namibiese Kuratorium

  1. SAMESTELLING

2.1   Die Sinode wys tydens elke gewone vergadering ’n  kuratorium aan wat bestaan uit ten minste 4 lede met twee sekundi.

2.2   Die kuratorium word saamgestel uit die Aktuarius van die sinode, en drie lede waarvan minstens een uit DEGNOS.

2.3   Die kuratorium het die reg tot koöpsie.

  1. VERGADERING

Die kuratorium vergader ten minste 2 maal per kalender jaar.

  1. OPDRAG

Die opdrag van die kuratorium is:

4.1   Om in oorleg met die Algemene Kuratorium die prosedures vir toelating, opleiding, legitime­ring en bevestiging van gemeentelike begeleiers in die sinodale gebied op ’n kontekstueel toepaslike wyse te hanteer.

4.2   Om die inhoud en samestelling van ’n toepaslike kurrikulum vir teologiese skoling en opleiding van gemeentelike begeleiers vas te stel, deurlopend te evalueer en aan te pas wanneer nodig.

4.3   Hou ’n register van alle studente wat ge­keur is vir enige vorm van teologiese skoling en opleiding in stand.

4.4   Doen verslag aan die moderamen en die Sinode.

  1. BEGROTING

Die kuratorium se lopende uitgawes word bekos­tig uit die Teologiese Opleidings en Vormingsfonds.

 

 

 

11.    Reglement vir tug en dissipline

In die Kerkorde, Algemene Sinode 2015, verskyn hierdie reglement as Reglement 18

  1. WANGEDRAG: PREDIKANTE[47]

1.1      ’n Tug- en/of dissiplinêre verhoor teen ’n predikant wat in diens van ’n gemeente is, geskied deur die ring of sy gevolmagtigde tugliggaam.

1.2      ’n Tugverhoor teen ’n predikant wat in diens van die kerkverband is, geskied deur die ring of sy gevolmagtigde tugliggaam, onder wie se opsig die predikant staan.

1.3      ’n Dissiplinêre ondersoek teen ’n predikant wat in diens van die kerkverband staan, geskied deur die kerkvergadering of sy gevolmagtigde ondersoekliggaam, in wie se diens die predikant staan.

1.4      Indien die dissiplinêre ondersoek teen ’n predikant ook ’n ondersoek na ’n tugwaardige sonde insluit, wys die betrokke ring in oorleg met die ander kerkvergadering ’n gevolmagtigde tug- en dissiplinêre liggaam aan, en bekragtig die ring die bevindinge en tugmaatreëls, terwyl die ander kerkvergadering die bevindinge en dissiplinêre maatreëls bekragtig.

1.5      In geval van tug- en/of dissiplinêre optrede weens wangedrag deur ’n predikant, tree die tugliggaam volgens Hoofstuk 5 van die Kerkorde en die Reglement vir Kerklike Tug en Dissipline op.

  1. SAMESTELLING VAN DIE KERKLIKE TUGLIGGAAM

2.1      Tugverhore na beweerde tugwaardige sondes en/of dissiplinêre oortredings wat as wangedrag geklassifiseer kan word1 , word deur ’n kerklike tugliggaam hanteer wat óf die kerkvergadering self kan wees óf ’n gevolmagtigde tugliggaam van die kerkvergadering.

2.2      Elke kerkvergadering met tug- en/of dissiplinêre verantwoordelikheid, besluit of die vergadering self die tug- en/of dissiplinêre verhore gaan doen en of daar van ’n gevolmagtigde tugliggaam gebruik gemaak gaan word.

2.3      Indien ’n kerkraad van ’n gevolmagtigde tugliggaam gebruik maak om ’n tug- en/of dissiplinêre verhoor te doen, wys die kerkraad ’n tugliggaam van ten minste vyf lede aan. Hierdie kerkraadstugliggaam word saamgestel uit minstens drie ouderlinge van die gemeente en twee lede soos deur die ringskommissie aangewys. Ander kundige lidmate van binne of buite die gemeente kan ook gekoöpteer word as volwaardige lede van die tugliggaam.

2.4      Indien ’n ring van ’n gevolmagtigde tugliggaam gebruik maak in ’n tugverhoor, verwys die ring die hele aangeleentheid na die ringstugliggaam vir hantering. Die ringstugliggaam bestaan uit ʼn minimum van vyf lede, waarvan drie lede deur die ring aangewys word en twee lede deur die sinode aangewys word. Hierdie name word uit ʼn lys van goedgekeurde lede aangewys, wat by die vorige sinodevergadering en ringsvergadering goedgekeur is vir die doel. Die ringskommissie stel in oorleg met die sinodale regspan die ringstugliggaam saam. Ander kundige lidmate van binne of buite die ring kan ook gekoöpteer word as volwaardige lede van die ringstugliggaam. Al die lede moet die goedkeuring van die betrokke partye wegdra.

2.5      ’n Kerkraadslid wat in ’n kerklike tugliggaam dien en aan ’n verhoor deelneem, behou sittingsreg in die tugliggaam tot die verhoor voltooi is, al verstryk die kerkraadslid se ampstermyn tydens die duur van die verhoor.

2.6      Indien ’n situasie ontstaan waartydens óf die kerklike tugliggaam óf die aangeklaagde/geïmpliseerde oordeel dat ’n regverdige en billike verhoor nie kan plaasvind met die huidige samestelling van die kerklike tugliggaam nie, het beide die reg om, met opgaaf van rede(s), aansoek te doen dat ’n ander kerklike tugliggaam saamgestel word om die verhoor te hanteer.

2.6.1    In geval van ’n kerklike verhoor deur die kerkraad of sy gevolmagtigde, word die ring of sy gevolmagtigde versoek om ’n ander kerklike tugliggaam aan te wys om as gevolmagtigde van die betrokke kerkraad die ondersoek te doen.

2.6.2    In geval van ’n kerklike verhoor deur die ringstugliggaam, word die sinode of sy gevolmagtigde versoek om ’n ander tugliggaam aan te wys om as gevolmagtigde van die betrokke ring die ondersoek te doen.

  1. AANBRING VAN KLAG, GERUG OF VERSLAG

3.1      Die tugwaardige sondes waarna in Artikel 61 van die Kerkorde en dissiplinêre oortredings waarna in Artikel 63 van die Kerkorde verwys word, kom op een van drie maniere voor die betrokke kerkvergadering of sy gevolmagtigde tugliggaam vir verhoor:

3.1.1    deur ’n nadelige gerug; of

3.1.2    deur ’n skriftelike klag; of

3.1.3    deur ’n skriftelike verslag aan die kerkvergadering wat voortvloei uit amptelike werksaamhede van die gevolmagtigde van die kerkvergadering wat die diensverhoudinge hanteer.

  1. AANVANKLIKE HANTERING VAN DIE KLAG, GERUG OF VERSLAG

4.1      By ontvangs van ’n klag, gerug of verslag en vóórdat besluit word om dit te verhoor: 83

4.1.1    word die kerkvergadering of die gevolmagtigde tugliggaam gesuiwer van die persone oor wie die klag, gerug of verslag gaan, asook van die klaer of aanbringer van die gerug of verslag;

4.1.2    stel die kerkvergadering of sy gevolmagtigde tugliggaam eers vas of die klag, gerug of verslag tot ’n verhoor na ’n beweerde tugwaardige sonde(s) en/of dissiplinêre oortreding(s) in die geval van wangedrag kan lei; en

4.1.3    probeer die kerkvergadering of die gevolmagtigde tugliggaam eers om, waar toepaslik, die saak deur herderlike sorg, versoeningsaksie, kerklike mediasie of die hantering daarvan as ’n geskil, op te los. Indien so ’n proses nie die gewenste resultaat lewer nie, gaan die verhoor voort.

4.2      Indien besluit word om ’n beweerde tugwaardige sonde en/of dissiplinêre oortreding nie te verhoor nie, moet die klaer of aanbringer van die gerug of verslag, asook die aangeklaagde/geïmpliseerde, skriftelik daarvan in kennis gestel word.

4.3      ’n Klag, gerug of verslag wat ontvang word, word nadat dit ter tafel geneem is, die besit van die betrokke kerkvergadering of sy gevolmagtigde tugliggaam en kan nie sonder toestemming van die betrokke kerkvergadering of sy gevolmagtigde tugliggaam teruggetrek word nie.

4.4      Indien ’n lidmaat of ampsdraer voor of tydens ’n verhoor na aanleiding van ’n klag, gerug of verslag oor die persoon bedank, gaan die bevoegde kerkvergadering of sy gevolmagtigde tugliggaam voort om die verhoor te hanteer, die nodige besluit(e) te neem en die Algemene Taakspan Predikantesake skriftelik daarvan in kennis te stel.

  1. OPSKRIFSTELLING VAN DIE AANKLAG

5.1      Indien besluit word om die beweerde tugwaardige sonde en/of dissiplinêre oortreding te verhoor, word die aanklag waarteen die aangeklaagde/geïmpliseerde verwerend moet optree, deur die tugliggaam op skrif gestel.

5.1.1    In die geval van ’n klag of gerug kan die tugliggaam die klaer of die aanbringer van die gerug adviseer met betrekking tot die formulering van die aanklag.

5.1.2    In die geval van ’n verslag formuleer die tugliggaam self die beweerde tugwaardige sonde en/of dissiplinêre oortreding wat verhoor moet word.

5.2      ’n Geformuleerde aanklag wat verhoor word, moet skriftelik die aard, plek en tyd van die beweerde tugwaardige sonde en/of dissiplinêre oortreding vermeld.

  1. BESORGING VAN DIE KLAGSKRIF

Die klagskrif moet ten minste 7 dae vóór die aanvang van die verhoor skriftelik aan die aangeklaagde/geïmpliseerde besorg word.

  1. DIE MOONTLIKHEID VAN STUITING

7.1      By beweerde ergerlike wangedrag[48] deur ’n ampsdraer mag die ring of sy gevolmagtigde tugliggaam, na ontvangs van die klag, gerug of verslag, die aangeklaagde/geïmpliseerde in die diens stuit. Die betrokke kerkvergadering of tugliggaam moet die aangeklaagde/geïmpliseerde ampsdraer vooraf skriftelik kennis gee van die voorneme om die persoon in die amp te stuit. Hierdie kennisgewing moet ’n kort en saaklike uiteensetting bevat van die beweerde ergerlike wangedrag en die aangeklaagde/geïmpliseerde uitnooi om skriftelike vertoë te rig voordat ’n besluit tot stuiting gefinaliseer word.

7.2      Hierdie stuiting geskied met kennisgewing aan die aangeklaagde/geïmpliseerde en die instansie in wie se diens die persoon staan.

7.3      Stuiting behels die opskorting van lidmaatsregte en ampsvoorregte. Stuiting is nie ’n tug- en/of dissiplinêre handeling of -maatreël nie, maar dien slegs om al die betrokkenes te beskerm en ’n vry en regverdige verhoor moontlik te maak.

  1. DIE MOONTLIKHEID VAN ’N VOORLOPIGE ONDERSOEK

8.1      Die tugliggaam kan ’n voorlopige ondersoek deur van sy lede laat doen. Die doel van die voorlopige ondersoek is om inligting vir die verhoor in te win en vir die tugliggaam ʼn aanduiding te gee oor die verloop van die kerklike verhoor.

8.1.1   Die lede wat die voorlopige ondersoek doen, berei ’n verslag voor vir die tugliggaam wat tot ’n bevinding(e) oor die verdere ondersoek moet kom.

8.1.2    Die verslag moet slegs feitelike inligting betreffende die voorlopige ondersoek bevat, naamlik:

8.1.2.1    ’n beskrywing van die inhoud en verloop van die ondersoek; en

8.1.2.2    stawende skriftelike bewyse.

8.1.3    Die verslag bevat geen bevinding(e) na aanleiding van die ondersoek of aanbevelings betreffende skuld of onskuld en moontlike tug- en of dissiplinêre maatreëls nie.

8.2      Die verslag van die voorlopige ondersoek dien voor die tugliggaam wat ’n bevinding(e) maak en besluite neem tydens die verhoor van die aanklag(te).

8.3      Die vereistes vir die voorlopige ondersoek is dieselfde as dié vir die tugliggaam wat tot die finale bevinding(e) en besluite moet kom (behalwe 9.1.6).

8.4      Deelname aan ’n voorlopige ondersoek ontneem hierdie lede nie van sittingsreg in die betrokke kerkvergadering of sy gevolmagtigde tugliggaam nie.

  1. VEREISTES VIR ’N TUG- EN/OF DISSIPLINÊRE VERHOOR

9.1      Ooreenkomstig Artikel 59.2 van die Kerkorde gee die kerkvergadering of sy gevolmagtigde aan die volgende uitvoering tydens die verhoor:

9.1.1    Niemand met ’n botsende belang ten opsigte van die saak wat verhoor word, mag deel wees van ’n tugliggaam wat ’n tug- en/of dissiplinêre verhoor doen en besluite daaroor neem nie.

9.1.2    Die tugliggaam word gesuiwer van die partye (die klaer(s), aanbringer(s) van die gerug of verslag, die aangeklaagde(s)), moontlike getuies, persone wat in die eerste of tweede graad aan die partye verwant is en ander persone wat een of ander persoonlike belang by die saak het.

9.1.3    Vergaderings wat tug- en/of dissiplinêre verhore hanteer, is geslote vergaderings.

9.1.4    Klaer(s), aangeklaagde(s) en getuies moet voldoende geleentheid kry om hulle saak te stel.

9.1.5    Die partye is nie geregtig op iemand wat namens hulle optree nie, maar kan bygestaan word deur ’n NG Kerklidmaat van die eie of ’n ander gemeente. Indien die klag(te) van sodanige ergerlike aard is dat die aangeklaagde/geïmpliseerde uit diens van die gemeente/kerkverband ontslaan kan word, het die tugliggaam die diskresie om regsverteenwoordiging aan die partye toe te staan.

9.1.6    Die verhoor na ’n beweerde tugwaardige sonde en/of dissiplinêre oortreding vind deurentyd plaas in die teenwoordigheid van die klaer(s) en die aangeklaagde(s). Vrae deur al die aanwesiges kan oor en weer gestel word. Die betrokke tugliggaam kan self ook getuies oproep en getuienis aanbied om tot ’n behoorlike bevinding in sy verhoor te kom. Die partye self kan in die loop van die saak verdere getuienis aanbied om lig op die saak te werp.

9.1.7    Indien enige van die partye weier om voor die betrokke kerklike tugliggaam te verskyn of die voortgang van die verhoor verhinder, kan die tugliggaam met opgaaf van rede(s) die verhoor in afwesigheid van die party voortsit.

9.1.8    Die lede van ’n tugliggaam wat tot ’n bevinding(e) en besluite in ’n tug- en/of dissiplinêre verhoor kom, moet almal vir die volle duur van die verhoor teenwoordig wees.

9.1.9    Ná die aanhoor van die partye en die getuies, kom die tugliggaam tot sy skriftelike bevinding(e). Indien ʼn aangeklaagde/geïmpliseerde aan ’n tugwaardige sonde en/of dissiplinêre oortreding skuldig bevind word, word getuienis eers ter versagting en verswaring aangehoor alvorens daar op ’n tug- en/of dissiplinêre maatreël besluit word.

9.1.10 Die bevinding(e) oor skuld of onskuld en besluit(e) oor die toepassing van ’n tug en/of dissiplinêre maatreël(s) deur ’n kerkvergadering of sy gevolmagtigde tugliggaam, gaan met opgaaf van rede(s) gepaard.

  1. KOSTE

10.1    Die koste van ’n tug- en of dissiplinêre verhoor wat koste vir duplisering, vergaderkoste en ander koste insluit, is vir die rekening van die betrokke kerkvergadering. Die sinode neem verantwoordelikheid vir die sinodale lede wat op ‘n betrokke tugliggaam aangewys is.

10.2    Alle koste wat deur die partye self aangegaan is om of die klag in te dien en/of die klag te verdedig, sowel as vir die koste van hulle getuies is vir hulle eie rekening.

  1. VOORSIENING IN DIE GEVAL VAN DIENSBEËINDIGINGE IN TUGEN/OF DISSIPLINÊRE VERHORE

In gevalle van diensbeëindiging geld die volgende reëlings met betrekking tot billike voorsiening:

11.1    Die uitbetaling van alle uitstaande verlof ingevolge die bepalings van die Reglement vir die Verlof van Predikante.

11.2    In gevalle van summiere ontslag word behuisingsvoordele vir 30 dae na die ontslag voorsien.

11.3    In gevalle van ontslag op ’n datum soos besluit deur die kerkvergadering, word lewensonderhoud, toelaes en behuisingsvoordele voorsien soos ooreengekom tot op dié datum.

  1. KENNISGEWING AAN DIE ALGEMENE TAAKSPAN PREDIKANTESAKE

12.1    In alle gevalle waar die kerkvergadering of sy gevolmagtigde tugliggaam ’n tug- en of dissiplinêre maatreël teenoor ’n proponent, predikant of emeritus toegepas het (selfs al het die persoon bedank – vergelyk 3.4 hierbo), word die sinodale regs- /kerkordekommissie én die Algemene Taakspan Predikantesake binne 14 dae deur die tugliggaam voorsien van die skriftelike bevinding(e) en die besluit(e).

12.2    Die Algemene Taakspan Predikantesake word deur die kerkvergadering of sy gevolmagtigde skriftelik in kennis gestel indien ’n party appèlleer teen die bevinding(e) en die besluit(e) van ’n tugliggaam rakende ’n proponent, predikant of emeritus.

12.3    Die Algemene Taakspan Predikantesake word onverwyld deur die betrokke kerkvergadering of sy gevolmagtigde in kennis gestel wanneer ’n tug- en of dissiplinêre maatreël opgehef word of ’n verdere tug- en/of dissiplinêre maatreël toegepas word rakende ’n proponent, predikant of emeritus.

 

12.    Reglement vir die tussen-kerklike diensgroep Namibië

Die Reglement is op aanvraag by die Sinodale Kerkkantoor verkrygbaar.

 

13.    Reglement vir die Skriba van die ringskommissie

Dit staan ringe vry om die pligte wat in hierdie reglement aan die skriba van die ringskommissie opgedra word, òf aan een van die verkose lede van die ringskommissie op te dra, òf ‘n addisionele lid te koöpteer vir die taak.

Algemeen

1    Hy roep in opdrag van die ringsvoorsitter na raadpleging van die ringskommissielede die gewone en buitengewone ringsvergaderings byeen, ontvang die verslae wat ingestuur word en doen die voorbereidende werk vir die hou van die vergadering (kyk Bep 26.2, 29 en 31).

2    Hy tree op as skriba van die ringskommissie, roep die kommissie op las van die voorsitter byeen of in geval van laasgenoemde se afwesigheid of betrokkenheid by ‘n tugondersoek, roep hy na oorleg met die ander lid, die ringskommissie byeen met oproeping ook van die eerste sekundus.

3    Hy doen aan die ringskommissie verslag van sy werk.

Notulering

4    Hy moet die eise van punte 12.1 tot 12.3 van NGKN Regl 8 ten opsigte van die notulering van die handelinge van die vergaderings van die ring en ringskommissie stiptelik nakom.

5    Wanneer notulering van die handelinge van die ring op skriftelike verslae gegrond is (tw waar die bepaalde verslag aan die orde gestel word en bloot na aanleiding van sy numerering genotuleer word, “kennis geneem”, “goedgekeur”, ens) MOET die skriba toesien dat die bepaalde verslag op ARGIEFPAPIER ingedien word sodat dit ‘n integrale deel van die notule en sy afskrif (kyk 7 van hierdie reglement) kan vorm.

6    Hy hou ‘n aparte notuleboek aan waarin ‘n gesertifiseerde, ware en getroue afskrif van die notules bewaar word.

Argivale verantwoordelikheid

7    Binne twee maande na afloop van die ringsvergadering stuur hy die oorspronklike agenda en notules van die vergadering tesame met al die bylaes wat daarby hoort, volgens Vorm 4.3 aan die argivaris.

8    By elke gewone ringsvergadering oorhandig hy sy ringsnotuleboek, bylaes en korres­pon­den­sie, asook alle ingekome Vorms 1.4 tot 1.6 en Dooplidmaat‑ en Lidmaatre­gis­ter­afskrifte aan die Argiefkommissie vir uitvoering van Bep 31.4.3.

Finansiële verantwoordelikhede

9    Hy tree op as kassier van die ringsfonds (NGKN Regl 1: 3.1).

10  By elke gewone ringsvergadering oorhandig hy die finansiële registers van die ringsfonds aan die ringsfondsekommissie vir uitvoering van Bep 31.4.4

Verantwoordelikheid met betrekking tot Jaarboek

11  Onmiddellik na afloop van die ringsvergadering stuur hy die ringsgegewens aan die kompilator van die Jaarboek vir publikasie.

Kommunikasie van besluite

12  Na afloop van die ringsvergaderings word alle beskrywingspunte van die sinode aan die algemene sekretaris gestuur.

13  Alle ringsbesluite wat op kerkrade en gemeentes betrekking het, moet so gou moontlik ná die ringsvergadering aan kerkrade tuisgebring word.

14  Ringsbesluite wat die werkterrein van ‘n bepaalde kommissie/diensgroep/taakspan van die sinode raak, moet binne ses weke na afloop van die vergadering aan die algemene sekretaris tuisgebring word.

Verantwoordelikhede met betrekking tot gemeentes

15  Hy neem al die pligte waar wat in NGKN Regl 3 in verband met die stigting van die nuwe gemeentes aan hom opgedra is.

16  Hy doen verslag van bevestiging van leraars aan die ringskommissie (Bep 8.3.2).

 

14.    Reglement vir die bevoegdheid van predikante, proponente en emeriti

In die Kerkorde, Algemene Sinode 2015, verskyn hierdie reglement as Reglement 11.

  1. ALGEMENE UITGANGSPUNTE

1.1    Daar moet by elke aspek van die reëling van die bevoegdheid (wat verpligtinge en regte insluit) van predikante, proponente en emeriti daarvan uitgegaan word dat dit Christus is wat sy kerk deur Sy Woord en die Heilige Gees regeer en dat Hy dit doen deur persone wat Hy daartoe roep, toerus en in sy diens stel.

1.2    Die bevoegdheid vir die uitvoering van die werk van die predikant is nie geleë in bepaalde vermoëns of besondere kwaliteite, of ’n aparte geestelike stand wat beklee is met ’n blywende eer of mag en wat deur die daad van ordening verkry word nie. Daar bestaan  nie  so  iets  soos  ’n  ampsbevoegdheid  wat  aan  die  persoon  kleef  en  aan sodanige persoon sekere regte en bevoegdhede verleen sonder dat die betrokkene die amp binne gemeentelike verband beklee nie.

1.3    ’n Persoon kan predikant wees indien die persoon op wettige wyse beroep is, die nodige approbasie verkry het, en in ’n gemeente bevestig is (vergelyk Artikel 5 en 8 van  die  Kerkorde).  Die  amp  van  predikant  funksioneer  dus  binne gemeentelike verband met dien verstande dat persone in 2.3 hieronder genoem, naamlik diegene wat  deur  die  kerkverband  benoem is vir diens aan die kerkverband, deur ’n gemeente beroep en in ’n gemeente in die amp bevestig kan word. Predikante in diens van die kerkverband het beperkte ampsbevoegdheid en kan in terme van Artikel 9 van die Kerkorde slegs die bediening van Woord, die bediening van die sakramente en die diens van die gebede op uitnodiging van ’n gemeente behartig. Indien ’n predikante in diens van die kerkverband óók as predikant in ’n gemeente bevestig is, beskik daardie persoon oor volle ampsbevoegdheid.

  1. DIE BEVOEGDHEID VAN PREDIKANT

2.1    Die volgende geld vir die verkryging van die bevoegdheid van predikant:

2.1.1    ’n Predikant is ’n persoon wat

2.1.1.1    die innerlike roeping van die Here ontvang het,

2.1.1.2    die teologiese opleiding volgens die voorskrifte van die Algemene Sinode deurloop het,

2.1.1.3    aan ’n ondersoek ten opsigte van leer en lewe en die geskiktheid vir die bediening onderwerp is,

2.1.1.4    gelegitimeer en beroepbaar gestel is,

2.1.1.5    deur ’n gemeente beroep of die kerkverband benoem is, en

2.1.1.6    in die amp of vir diens aan die kerkverband bevestig is.

2.2    Elke predikant wat in ’n gemeente in die amp bevestig is, beskik oor volle ampsbevoegdheid en beklee die amp soos omskryf in Artikel 9 van die Kerkorde.

2.3    Elke  predikant  wat  vir  diens  aan  die  kerkverband  bevestig  is,  beskik  oor  beperkte ampsbevoegdheid (vergelyk 2.2 hierbo). Hierdie persone is

2.3.1    Predikante wat  deur die  kerkverband  benoem is om as NG Kerkdosente teologiese studente aan die kerklik-goedgekeurde teologiese opleidingsentra  van die NG Kerk op te lei;

2.3.2    Predikante wat deur die kerkverband benoem is vir diens aan ringe, sinodes en die Algemene Sinode; en

2.3.3    Predikante wat deur die kerkverband benoem is vir diens aan instansies soos die Bybelgenootskap, die Kapelaansdienste of ander instansies wat deur die Algemene Sinode, of die Moderamen namens die Algemene Sinode, goedgekeur is.

2.4    ’n Proponent wat in terme van 2.3.2 en 2.3.3 hierbo benoem is, verkry nie die bevoegdheid van predikant nie, maar behou die bevoegdheid van proponent.

2.5    Indien die man of vrou van ’n predikant in diens van ’n gemeente of die kerkverband verplaas word, en dit meebring dat demissie verleen moet word, word die diensverhouding beëindig met die behoud van bevoegdheid van predikant.

2.6    Persone wat ingevolge die Artikel 12.7.2 en 12.7.3 óf ingevolge die Reglement vir Vaste Termynposte óf ingevolge 2.5 hierbo demissie ontvang het, behou die bevoegdheid om predikant te wees met dien verstande dat hulle hul jaarliks vóór 31 Maart  by  die  Algemene  Taakspan  Predikantesake  aanmeld  met  vermelding  van  die  rede(s)  waarom  die  bevoegdheid  van  predikant  steeds  behou  moet  word.  Hierdie  aanmelding  moet  vergesel  wees  van  ’n  vertroulike  aanbeveling  oor  die  persoon  se  gemeentelike  meelewing,  uitgereik  deur  die  kerkraad  van  die  gemeente  waar  die  persoon lidmaat is. Sodanige persone beskik oor beperkte ampsbevoegdheid en kan in  terme van Artikel 9 van die Kerkorde slegs die bediening van Woord, die bediening  van  die  sakramente  en  die  diens  van  die  gebede  op  uitnodiging  van  ’n  gemeente  behartig.

  1. DIE BEVOEGDHEID VAN PROPONENT

3.1    ’n  Proponent  is  ’n  persoon  wat  die  vereiste  teologiese  opleiding  deurloop  het,  gelegitimeer is en beroepbaar is.

3.2    Proponente mag op uitnodiging van ’n kerkraad die Woord tydens eredienste en ander  geleenthede verkondig.

3.3    Persone  wat  op  grond  van  Artikel  11  van  die  Kerkorde  óf  met  die  oog  op  verdere studie  demissie  ontvang  het  (vergelyk  Reglement  vir  Verlof  van  Predikante,  5.4  en 5.5),  verloor  die  bevoegdheid  van  predikant,  maar  behou  die  bevoegdheid  van proponent.

3.4    Proponente wat die ouderdom van 60 jaar bereik het en hulle voornemens om nie weer  voltyds  in  die  bediening  te  staan  nie  skriftelik  aan  die  Algemene  Taakspan Predikantesake  bekendgemaak  het,  word  in  die  Kerkbode  en  in  die  Jaarboek bekendgestel as “nie beroepbaar nie”. Hulle behou egter net soos proponente wat die normale  aftree-ouderdom  van  65  jaar  bereik  het,  preekvergunning  en  kan  dus  op  uitnodiging  van  ’n  gemeente  die  Woordbediening  behartig.  Persone  wat  reeds  by  legitimasie  die  normale  aftree-ouderdom  van  65  jaar  bereik  het,  ontvang  die  bevoegdheid  om  beroep  te  word  in  terme  van  die  Reglement  vir  Vaste  Termynposte  (vergelyk 4.).

3.5    Proponente  moet  hulle  jaarliks  vóór  31  Maart  by  die  Algemene  Taakspan Predikantesake  aanmeld  ten  einde  aan  te  dui  of  hulle  steeds  beskikbaar  is  vir  beroeping. Hierdie aanmelding moet vergesel wees van ’n vertroulike aanbeveling oor  die persoon se gemeentelike meelewing, uitgereik deur die kerkraad van die gemeente  waar die persoon lidmaat is.

3.6    Aangesien  proponente  onder  die  opsig  van  die  kerkraad  staan,  word  dit  van  die  kerkraad verwag om op die hoogte te bly met die posisie van proponente wat onder sy opsig val.

  1. DIE BEVOEGDHEID VAN EMERITUS

4.1    ’n Emeritus is ’n predikant wat ingevolge Artikel 14 van die Kerkorde geëmeriteer het.

4.2    ’n Emeritus behou die bevoegdheid van predikant en kan in terme van Artikel 9 van  die Kerkorde die bediening van Woord, die bediening van die sakramente en die diens van die gebede op uitnodiging van ’n gemeente behartig.

4.3    ’n Emeritus is beroepbaar in terme van die Reglement vir Vaste Termynposte (vergelyk 4.)

4.4    ’n Emeritus kan voortgaan om as huweliksbevestiger op te tree.

4.5    Ter wille van die behoorlike instandhouding van die bevoegdheidsregister moet emeriti  tot op ouderdom 70 jaarliks vóór 31 Maart by die Algemene Taakspan Predikantesake aanmeld.

  1. BEDIENINGSONTWIKKELING

5.1    In terme van die Plegtige Legitimasieverklaring is alle gelegitimeerdes van die Kerk  verplig om voortgesette bedieningsontwikkeling te ondergaan.

5.2    Gelegitimeerdes moet, ter wille van hulle eie bedieningsontwikkeling en die welwese  van die gemeente, inskakel by die mentorprogram van die Kerk.

  1. VERANDERING VAN TOEGEKENDE BEVOEGDHEID VAN PREDIKANT EN PROPONENT

6.1    Persone  aan  wie  die  Algemene  Taakspan  Predikantesake  die  bevoegdheid  van  predikant, proponent of emeritus toegeken het, behou hierdie bevoegdheid, ook al sou  die  Algemene  Sinode  hierdie  reglement  wysig,  mits  die  oorspronklike  voorwaardes  wat in hulle geval gegeld het, dieselfde bly.

6.2    Predikante, proponente en emeriti van die Kerk wat leraar wil word in ’n ander denominasie van gereformeerde belydenis, kan vooraf by die Algemene Taakspan Predikantesake aansoek doen om beroepbaar te bly binne die NG Kerk terwyl die persoon in die ander denominasie werk.

6.3    Predikante wat om bona fide redes[49] die bediening wil verlaat, kan ’n aansoek rig aan  die Algemene Taakspan Predikantesake wat deur die predikant, die kerkraad en ring gemotiveer word.

6.3.1    Die Algemene Taakspan Predikantesake hanteer die aansoek.

6.3.2    Indien die aansoek suksesvol is, ontvang sodanige predikant verlof om die bevoegdheid van proponent te behou.

6.3.3    Vir die behoorlike instandhouding van die bevoegdheidsregister moet sodanige persone jaarliks vóór 31 Maart by die Algemene Taakspan Predikantesake aanmeld.

  1. VERLIES VAN BEVOEGDHEID

7.1   Persone hou op om predikant óf, waar van toepassing, emeritus te wees indien hulle

7.1.1    nie meer die werk verrig soos in 2.2 en 2.3 hierbo omskryf nie, behoudens 2.6 hierbo;

7.1.2    in ’n politieke bestuursliggaam dien of hulle as politieke kandidaat in ’n verkiesing vir enige vlak van regering beskikbaar stel;

7.1.3    hulle deur woord of daad van ’n Nederduitse Gereformeerde gemeente afskei;

7.1.4    ’n  skriftelike  bedanking  by  die  betrokke  kerkvergadering  of  sy  gevolmagtigde  ingedien het en dit aanvaar word (vergelyk 7.5 hieronder);

7.1.5    skriftelik aan die Algemene Taakspan Predikantesake  kennis  gee dat hulle die amp van predikant neerlê, met kennisgewing aan die ring onder wie se opsig hulle val;

7.1.6    dit deur tughandeling verloor (vergelyk Artikel 64.5.4 van die Kerkorde).

7.2   Persone hou op om proponent te wees indien hulle

7.2.1    in ’n politieke bestuursliggaam dien of hulle as politieke kandidaat in ’n verkiesing  vir enige vlak van regering beskikbaar stel;

7.2.2    hulle deur woord of daad van ’n Nederduitse Gereformeerde gemeente afskei;

7.2.3    skriftelik  aan  die  Algemene  Taakspan  Predikantesake  kennis  gee  dat  hulle  afstand  doen van hulle bevoegdheid as proponent;

7.2.4    dit deur tughandeling verloor (vergelyk Artikel 64.5.4 van die Kerkorde).

7.3   Wanneer  ’n  persoon  ophou  om  predikant,  proponent  of  emeritus  te  wees,  word  die  volgende prosedure gevolg:

7.3.1    Die  betrokke  kerkvergadering  stel  die  Algemene  Taakspan  Predikantesake  van  die  verlies van bevoegdheid in kennis.

7.3.2    Die  persoon  besorg  die  Akte  van  Legitimasie  via  die  skriba  van  die  ring/ringskommissie aan die Algemene Taakspan Predikantesake terug.

7.3.3    Die Algemene Taakspan Predikantesake gee in die Kerkbode kennis van die verlies  van bevoegdheid.

  1. HERTOELATING TOT DIE BEDIENING

8.1    Eertydse  predikante  of  proponente  mag  slegs  langs  die  volgende  weg  weer  gelegitimeer word:

8.1.1    Die persoon doen skriftelik aansoek by die ring onder wie se opsig gestaan word.

8.1.2    Hierdie  ring  ondersoek  die  aangeleentheid  met  inagneming  van  Artikel  66.4.5  van  die Kerkorde. In die geval van ’n eertydse predikant word die getuienis ingewin van  al die kerkrade en ringe binne wie se gebied die persoon woonagtig was tydens en  sedert die bevoegdheid verloor is. Getuienis kan ook van kerkrade en ringe ingewin  word waar die persoon woonagtig was voordat daar uit die bediening getree is. In die  geval  van ’n eertydse proponent word sover  moontlik die  getuienis ingewin  van al  die kerkrade en ringe binne wie se gebied die persoon woonagtig was voor én nadat  proponentsbevoegdheid verloor is.

8.1.3    Die ring voorsien die sinode/sinodale kommissie/moderamen binne wie se gebied die  ring val, van al die tersaaklike stukke, ’n verslag en aanbevelings.

8.1.4    Die skriba van die sinode/sinodale kommissie/moderamen stuur die dokumentasie en  die verslag aan die Algemene Taakspan Predikantesake met die oog op advies.

8.1.4.1    Wanneer ’n sinode/sinodale kommissie/moderamen die aansoek behandel, word die  applikant  ingevolge  7.2  van  die  Reglement  vir  die  Opleiding  en  Legitimasie  van  Predikante  ter  vergadering  ondersoek  met  inagneming  van  die  Artikel  66.4.4  en  66.4.5  van  die  Kerkorde.  Indien  die  uitslag  positief  is,  word  die  persoon  na  ’n proponentskommissie  vir  colloquium  doctum  verwys.  In  die  geval  van  Artikel  66.4.5  van  die  Kerkorde  word  die  applikant  se  aansoek  na  die  Algemene  Sinode/Moderamen  verwys  vir  beslissing  alvorens  vir  colloquium  doctum  aangemeld mag word (vergelyk 9. hieronder).

8.1.4.2    Wanneer ’n aansoek voor ’n sinode self gebring word, mag die applikant tydens die  vergadering  deur  ’n  kommissie  ondersoek  word,  met  inagneming  van  al  die  vereistes  hierbo  gestel.  Indien  die  uitslag  positief  is,  word  ’n  aanbeveling  dienooreenkomstig  voor  die  vergadering  gelê.  Indien  die  aanbeveling  van  die  kommissie  negatief  is,  mag  die  betrokke  applikant  die  aansoek  voor  die  volle  vergadering verdedig of by ’n volgende sinode ’n nuwe aansoek indien.

8.1.4.3    Indien die sinodale kommissie die aansoek weier, word dit met opgawe van rede(s)  skriftelik  aan  die  applikant  bekendgemaak.  Teen  die  beslissing  van  die  sinodale  kommissie/moderamen  mag  die  applikant  by  die  sinode  appèl  aanteken,  of  by  ’n  latere geleentheid ’n nuwe aansoek indien.

8.1.4.4    Indien  ’n  applikant  om  redes  wat  volgens  die  oordeel  van  die  vergadering  aanvaarbaar is, versoek om nie ter vergadering te verskyn nie, word die aansoek in  die persoon se afwesigheid behandel.

8.2    Nadat  ’n  kandidaat  goedkeuring  verkry  het  om  aan  te  meld  vir  colloquium  doctum, moet dit binne 18 maande geskied.

8.3    Na bevredigende colloquium doctum by die proponentskommissie, word die applikant  by die Algemene Taakspan Predikantesake vir legitimasie aanbeveel.

8.4    Eertydse  predikante  wat  weer  gelegitimeer  word,  beskik  oor  die  bevoegdheid  van  proponent.  Bevestiging  in  ’n  gemeente  na  die  aanname  van  ’n  beroep  geskied  weer  met oplegging van hande.

  1. HERTOELATING TOT  DIE  BEDIENING  VAN  PERSONE  WAT  IN  ARTIKEL 66.4.5 GENOEM WORD 

9.1    Waar ’n eertydse predikant of proponent in terme van Artikel 66.4.5 van die Kerkorde  aansoek om hertoelating tot die bediening doen, moet kerkvergaderinge bykomend aan  \die volgende aandag gee:

9.1.1    Daar moet duidelike getuienis van berou en bekering wees.

9.1.2    Daar moet voldoende getuienis wees dat die kerklike tug tot sy reg gekom het.

9.1.3    Daar moet genoegsame getuienis wees dat die hertoelating tot die bediening sonder  skade vir die Kerk gedoen kan word.

9.1.4    Die  tydsverloop,  rugbaarheid,  omvang  van  die  skade,  restitusie,  herstel  van  verhoudinge,  die  heil  van  die  Kerk,  geskiktheid  vir  die  bediening  en  doelbewuste  weerhouding van die ampspligte van predikant moet ook in oorweging geneem word.

  1. HERTOELATING TOT DIE BEDIENING VAN PERSONE WAT DIE NG KERK VERLAAT HET

10.1    ’n  Eertydse  predikant  of  proponent  wat  na  ’n  ander  kerk  of  godsdienstige  groep  oorgegaan het, sedertdien weer lidmaat van ’n Nederduitse Gereformeerde gemeente  geword  het  en  begeer  om  weer  tot  die  bediening  van  die  Woord  in  die  NG  Kerk  toegelaat te word, moet dieselfde prosedure volg soos in 8.1 tot 8.4 hierbo vermeld.

10.2    Die colloquium doctum word afgeneem in terme van 7.1 tot 7.3 en 7.7 tot 7.9 van die  Reglement vir die Opleiding en Legitimasie vir Predikante.

  1. TOELATING TOT DIE BEDIENING VAN PREDIKANTE UIT ANDER KERKE 

11.1  ’n  Predikant  in  diens  van  ’n  gereformeerde  kerk  met  wie  die  NG  Kerk  formele  ekumeniese bande het, kan tot die evangeliebediening in die NG Kerk toegelaat word,  indien  voldoen  word  aan  die  vereistes  gestel  onder  7.4  van  die  Reglement  vir  die  Opleiding en Legitimasie vir Predikante.

  1. VERTOË IN VERBAND MET BEVOEGDHEID

12.1  ’n Persoon wat deur ’n beslissing van die Algemene Taakspan Predikantesake rakende  die persoon se bevoegdheid veronreg voel, kan met voorlegging van nuwe gegewens  ’n  beroep  doen  op  ’n  volgende  vergadering  van  die  Algemene  Taakspan  Predikantesake.

12.2  ’n Persoon wat nog steeds verontreg voel ten opsigte van die Taakspan Predikantesake  se beslissing, kan ‘n verdere beroep doen op die Algemene Sinode/Moderamen.

12.3  ’n  Persoon  wie  se  bevoegdheid  geraak  word  deur  die  kennisgewing  van  ’n  ondersoekliggaam in ’n tug- en/of dissiplinêre ondersoek (vergelyk Artikel 64.5.4.3 en  65.5.4.4  van  die  Kerkorde),  kan  skriftelike  vertoë  aan  die  Algemene  Taakspan  Predikantesake  rig,  voordat  die  Algemene  Taakspan  Predikantesake  daaraan  uitvoering gee.

  1. BEVOEGDHEIDSREGISTER– FOOIE EN PUBLIKASIE

13.1  Benewens alle ander bepalings, moet elke persoon wat oor bevoegdheid beskik en dit  wil behou, jaarliks vóór 31 Maart op die verlangde wyse by die Algemene Taakspan  Predikantesake aanmeld. Elke aanmelding moet vergesel wees van die betaling van die  voorgeskrewe  registrasiefooi  soos  deur  die  Bedryfspan  van  die  Algemene  Sinode  jaarliks vasgestel.

13.2  Die  basiese  inligting  soos  vervat  in  die  bevoegdheidsregister  word  in  die  Jaarboek  gepubliseer. In die Jaarboek word vir die onderskeie kategorieë voorsiening gemaak.  Enige  foutiewe  inligting  moet  onverwyld  deur  die  betrokke  persoon  of  kerkvergadering  onder  aandag  van  die  Algemene  Taakspan  Predikantesake  gebring  word. Regstellings geskied in die Kerkbode.

 

15.    Reglement vir beroeping, bevestiging, demissie en emeritaat van predikante

In die Kerkorde, Algemene Sinode 2015, verskyn hierdie reglement as Reglement 12.

  1. ALGEMEEN

1.1     ’n Predikant word beroep vir diens aan die gemeente of benoem vir diens aan die kerkverband (vergelyk Artikel 8.1 en 8.2 van die Kerkorde).

1.2     ’n Predikant kan beroep, bevestig en uitgestuur word vir die gemeente se sending-/getuienisaksie of vir sending-/getuienisdiens saam met ander kerke of sendingorganisasies (vergelyk 2.5.1.2 en 2.8 van die Reglement vir die Sending/Getuienis van die NG Kerk).

1.3     Gelegitimeerdes van die ander lidkerke van die NG Kerkfamilie kan in die NG Kerk beroep en bevestig word, op voorwaarde dat

1.3.1    die beroepene aan die vereistes van die NG Kerk vir opleiding en legitimasie voldoen (vergelyk Funksionele Besluite: Beroepbaarheid van Predikante binne die Familie van NG Kerke), of

1.3.2    die Algemene Steunspan Predikantesake op aanbeveling van die ring goedgekeur het dat die beroepene met beperkte opdrag bevestig kan word (vergelyk Funksionele Besluite: Beroeping met Beperkte Opdrag).

1.4     Gelegitimeerdes van ander gereformeerde kerke met wie die NG Kerk in terme van ’n bilaterale ooreenkoms in volle verhoudinge staan, kan met inagneming van spesifieke vereistes wat die NG Kerk stel, in die NG Kerk beroep en bevestig word (vergelyk 4.3.1 en 4.7.1 van die Reglement vir die Verhouding tot Ander Kerke en Groepe).

1.5     Die bepalings van hierdie Reglement is van toepassing by die beroeping, bevestiging, demissie en emeritaat van predikante in voltyds-onbepaalde, tentmaker- en vaste termynposte.

  1. BEROEPING VIR DIENS AAN GEMEENTE

2.1     Die kerkraad van die gemeente beroep ’n predikant vir diens aan die gemeente en kry daarvoor die goedkeuring van die lidmate van die gemeente en die ring.

2.2     Voordat die beroepsbrief afgestuur word, moet

2.2.1    die goedkeuring (approbasie) van die gemeente deur afkondiging verkry word; en

2.2.2    die ring of sy gevolmagtigde kommissie skriftelik bevestig dat daar aan al die kerklike vereistes vir die uitbring van die beroep voldoen is.

2.2.3    Besware teen ’n beroep of beroepene word by die betrokke ring of ringskommissie ingedien, wat dit volgens die bepalinge van die betrokke sinodale gebied hanteer (vergelyk ook 8. hieronder).

2.2.4    Indien nie aan die vereistes voldoen is nie, word die beroep deur die ring of sy gevolmagtigde ongeldig verklaar.

  1. BENOEMING VIR DIENS AAN KERKVERBAND

3.1     Die ring, sinode of Algemene Sinode se gevolmagtigde benoem ’n predikant vir diens aan die kerkverband en kry daarvoor die goedkeuring van die kerkverband.

3.2     Voordat die benoemingsbrief afgestuur word, moet

3.2.1    die goedkeuring (approbasie) van die kerkverband deur bekendmaking van die benoeming in die Kerkbode verkry word; en

3.2.2    die betrokke sinodale regs-/kerkordekommissie of sy gevolmagtigde skriftelik bevestig dat daar aan al die kerklike vereistes vir die benoeming voldoen is.

3.2.3    Besware teen ’n benoeming of benoemde word by die betrokke sinode of sy gevolmagtigde ingedien, wat dit volgens die bepalinge van die betrokke sinodale gebied hanteer.

  1. PROSEDURE BY BEROEPING

4.1     Die kerkraad bepaal die posvereistes en kan die pos in die Kerkbode bekend stel.

4.2     Die kerkraad stel ’n groslys op een of meer van die volgende wyse saam:

4.2.1    lede van die kerkraad kan tydens die beroepsvergadering name op die groslys plaas; en/of

4.2.2    die ringskommissie en/of die Algemene Steunspan Predikantesake kan deur die kerkraad versoek word om vooraf name op die groslys te plaas; en/of

4.2.3    die lidmate van die gemeente kan versoek om by die skriba van die kerkraad name in te gee vir vooraf plasing op die groslys; en/of

4.2.4    die naam van die beroepende gemeente en die datum van die beroepsvergadering kan onder amptelike berigte in die Kerkbode geplaas word en gelegitimeerdes kan sodoende versoek word om hulle name tesame met ’n curriculum vitae aan die skriba van die kerkraad te stuur vir vooraf plasing op die groslys.

4.3     Die kerkraad van die beroepende gemeente kan aan gelegitimeerdes wie se name vooraf op die groslys geplaas is, ’n vraelys stuur waarin bedieningsgerigte vrae gestel word.

4.4     Die kerkraad kan ’n curriculum vitae aanvra van enige persoon wie se naam vooraf op die groslys geplaas is.

4.5     Vertroulikheid word gehandhaaf ten opsigte van die persoonlike inligting van diegene wie se name op die groslys geplaas is.

4.6     Indien die kerkraad van ’n pre-advieskommissie gebruik maak, word die name met die beskikbare inligting aan die kommissie voorgelê.

4.6.1    Die pre-advieskommissie bepaal aan die hand van die posvereistes wie die geskikte persone vir die pos is.

4.6.2    Die pre-advieskommissie lê die name van minstens drie geskikte persone in alfabetiese volgorde aan die kerkraad voor, tesame met al die ander name op die groslys.

4.6.3    Die pre-advieskommissie kan inligting oor persone wie se name op die groslys is, sonder beïnvloeding aan die kerkraad voorsien.

4.7     Op versoek van die kerkraad en met opgaaf van rede(s), kan die ring of sy gevolmagtigde goedkeuring verleen dat minder as drie (3) name op die groslys geplaas word.

4.8     Die beroeping vind op geslote stemwyse plaas en wel soos volg:

4.8.1    Die aanwesige kerkraadslede moet ’n kworum wees.

4.8.2    Elke lid van die vergadering moet stem.

4.8.3    Persone wat die vergadering in adviserende hoedanigheid bywoon (waaronder die verteenwoordiger van die ring en die lede van die pre-advieskommissie wat nie kerkraadslede is nie), kan aan die bespreking deelneem, maar mag nie stem nie.

4.8.4    Die persoon op wie die meeste stemme verenig word, is verkies indien die getal stemme op die persoon uitgebring die volstrekte meerderheid van die aanwesige stemgeregtigdes uitmaak.

4.8.5    Indien ’n persoon nie ’n volstrekte meerderheid van stemme kry nie, vind daar ’n verdere stemming plaas uit die name wat die hoogste getal stemme gekry het en saam ’n volstrekte meerderheid vorm.

4.8.6    Indien daar ’n staking van stemme is wat nie deur verdere stemming opgelos kan word nie, geskied die beslissing deur die lot.

4.9     In gevalle waar die benoeming deur die kerkverband geskied, sien die kerkvergadering toe dat aan die toepaslike vereistes van hierdie gedeelte van die Reglement voldoen word.

  1. BEROEPSBRIEF

5.1     Die kerkraad stel die beroepsbrief op.

5.2     ‘n Verteenwoordiger van die ring, wat nie lidmaat van die betrokke gemeente is nie, adviseer die kerkraad in die opstel van die beroepsbrief.

5.3     In die geval van benoeming deur die kerkverband, word die advies deur die betrokke sinodale regs-/kerkordekommissie gegee.

5.4     Die beroepsbrief is die diensaanbod wat aan die hand van Artikel 9 van die Kerkorde die diensopdrag en in terme van Artikel 13 van die Kerkorde die diensvoordele van die beroepene omskryf.

5.5     In gevalle van benoeming deur die kerkverband, word die nodige aanpassings gemaak ten opsigte van die diensopdrag en diensvoordele.

5.6     Onderhandeling rakende beskikbaarheid vir die pos en enige diensvoorwaardes, kan slegs plaasvind nadat die beroep uitgebring is.

  1. KENNISGEWING VAN BEROEP

6.1     Die voorsitter van die kerkraadsvergadering gee dadelik aan die gelegitimeerde wat beroep is, kennis van die beroep wat uitgebring is.

6.2     Die Kerkbode word onverwyld deur die skriba in kennis gestel van die uitbring van die beroep (later ook van die aanneming of bedanking daarvan).

  1. GOEDKEURING VAN BEROEP

7.1     Waar ’n predikant na ’n gemeente beroep word, word die naam van die beroepene op twee agtereenvolgende Sondae tydens die erediens aan die gemeente vir goedkeuring (approbasie) deur die gemeente bekendgemaak.

7.2     So gou doenlik na die laaste bekendmaking van die beroep en nadat die tyd vir besware verby is, lê die voorsitter van die kerkraad die betrokke stukke aan die skriba van die ring of sy gevolmagtigde voor.

7.3     Die ring of sy gevolmagtigde kontroleer of daar aan die volgende kerkordelike vereistes vir die uitbring van die beroep voldoen is:

7.3.1    skriftelike bevestiging van die Algemene Steunspan Predikantesake dat die beroepene na ’n gemeente van die Kerk beroepbaar is;

7.3.2    skriftelike bevestiging van die beroepene se huidige gemeente dat die persoon lidmaat is;

7.3.3    skriftelike bevestiging van die verteenwoordiger van die ring tydens die beroepsvergadering dat die korrekte kerkordelike prosedures gevolg is met die uitbring van die beroep;

7.3.4    die voltooide beroepsbrief behoorlik onderteken is deur die gevolmagtigdes van die kerkraad;

7.3.5    skriftelike bevestiging van die huidige ring onder wie se opsig die beroepene staan, dat daar geen tug en/of dissiplinêre ondersoek teen die beroepene hangende is nie en/of dat die persoon beroepbaar is; en

7.3.6    bevestiging deur die beroepende vergadering dat geen wettige beswaar teen die beroep uitgebring is nie.

7.4     Waar ’n benoeming deur die kerkverband gemaak word (vergelyk Artikel 8.2 van die Kerkorde), verkry die vergadering wat die benoeming maak die goedkeuring van die kerkverband deur bekendmaking van die benoeming in die Kerkbode en word die stukke genoem in 7.3.1 tot 7.3.6 hierbo aan die sinodale regs-/kerkordekommissie voorgelê vir goedkeuring.

7.5     Indien nie aan die vereistes voldoen is nie, word die beroep deur die ring of sy gevolmagtigde, of die benoeming deur die sinodale regs-/kerkordekommissie, ongeldig verklaar.

7.6     Sodra die beroep deur die ring of sy gevolmagtigde of die benoeming deur die sinodale regs-/kerkordekommissie goedgekeur is, word die beroepsbrief of benoemingsbrief aan die beroepene of benoemde gestuur vir oorweging van die beroep of benoeming.

7.7     Die beroepene het na ontvangs van die beroepsbrief ’n maksimum van veertien (14) dae om die beroep te aanvaar of te bedank, tensy uitstel daartoe deur die kerkraad verleen word.

  1. BESWARE TEEN BEROEP

8.1     Enige ongesensureerde belydende lidmaat van die beroepende gemeente, het die reg om tot 24 uur na die tweede afkondiging van die beroep, skriftelike beswaar met opgawe van rede(s) by die kerkraad in te dien.

8.2     Besware mag slegs gegrond wees op bepaalde klagtes teen die leer of lewe van die beroepene, of op grond van klagtes insake onreëlmatigheid in verband met die uitbring van die beroep.

8.3     Besware teen die beroep ingebring, word soos volg hanteer:

8.3.1    Die besware word by die skriba van die kerkraad ingedien, wat die voorsitter versoek om spoedeisend die kerkraad byeen te roep om die besware in behandeling te neem.

8.3.2    Indien die besware handel oor onreëlmatighede gedurende die beroepingsproses, verwys die kerkraad dit na die ring of sy gevolmagtigde vir beslissing.

8.3.3    Indien die besware handel oor die leer of lewe van die beroepene, doen die kerkraad navraag daaroor by die ring onder wie se opsig die beroepene staan.

8.3.4    Indien die besware ongegrond is, word voortgegaan met die beroep.

8.3.5    Indien dit blyk dat die besware gegrond is, word die beroep deur die ring of sy gevolmagtigde ongeldig verklaar.

8.3.6    Indien die ring die beroep ongeldig verklaar, gee die kerkraad aan die beroepene daarvan kennis met opgaaf van rede(s) en kan ’n ander beroep uitgebring word.

  1. DIENSOOREENKOMS

9.1     Na oorweging van die bepalings van die beroepsbrief en enige onderhandelinge daaromtrent, word die diensooreenkoms waarvolgens die predikant in diens van die gemeente of die kerkverband gaan tree, finaal opgestel.

9.2     Die diensooreenkoms bevat inhoudelik die volgende:

9.2.1    Identifikasie van die partye.

9.2.2    Aanhef.

9.2.3    Diensomskrywing: Algemene diensverpligtinge (vergelyk Artikel 9 van die Kerkorde) met gepaardgaande spesifieke verwagtinge.

9.2.4    Vergoeding en byvoordele (vergelyk Artikel 13 van die Kerkorde).

9.2.5    Die wedersydse erkenning deur die partye dat hulle geskrewe ooreenkoms onderhewig is aan die bepalinge van die Kerkorde en die besluite van die Algemene Sinode en die betrokke sinode soos van tyd tot tyd gewysig.

9.2.6    Aanvangsdatum:

9.2.6.1   In die geval van predikante in diens van gemeentes of in diens van die kerkverband, die datum van demissie uit die vorige gemeente of werkkring.

9.2.6.2   In ander gevalle waar ’n beroep aanvaar is, is die aanvangsdatum die datum van bevestiging of ’n datum van indienstreding soos ooreengekom.

9.2.7    ’n Verklaring deur die beroepene dat daar geen hangende of dreigende tughandeling teen die persoon is nie en dat persoon aan die Plegtige Legitimasieverklaring getrou sal bly.

9.2.8    Die partye se handtekeninge met getuies en datum van ondertekening as aanvaarding dat ’n diensooreenkoms tussen die partye tot stand kom.

9.3     Die finale diensooreenkoms van ’n predikant in diens van ’n gemeente word deur die ring of sy gevolmagtigde en in geval van ’n predikant in diens van die kerkverband deur die betrokke sinodale regs-/kerkordekommissie goedgekeur. Hierna word die finale ooreenkoms deur beide partye onderteken en kan die bevestiging plaasvind met inagneming van die ander vereistes vir bevestiging.

9.4     Hierdie diensooreenkoms kan van tyd tot tyd gewysig word met instemming van beide partye en skriftelike goedkeuring van die ring of sy gevolmagtigde in die geval van ’n predikant in diens van ’n gemeente, of die betrokke sinodale regs-/kerkordekommissie in die geval van ’n predikant in diens van die kerkverband.

  1. BEVESTIGING

10.1 Die bevestiging van ’n predikant vir diens aan ’n gemeente geskied nadat:

10.1.1 die beroepende kerkraad die volgende stukke by die ring of sy gevolmagtigde ingedien het:

10.1.1.1 ’n afskrif van die getekende dienskontrak;

10.1.1.2 ’n afskrif van die beroepene se Akte van Demissie uit die vorige werkkring óf ’n getuigskrif van eervolle ontslag in die geval van diens aan ’n instansie buite die kerkverband óf die Akte van Legitimasie in die geval van ’n proponent wat beroep is;

10.1.1.3 ’n afskrif van die beroepene se attestaat van die vorige gemeente wat by die beroepende gemeente ingedien is; en

10.1.1.4 ’n skriftelike bevestiging van die pensioenkantoor dat die beroepene se pensioen in orde is.

10.1.2  die ring of sy gevolmagtigde kommissie skriftelik bevestig het dat aan die kerkordelik vereistes (vergelyk 10.1.1 hierbo) voldoen is.

10.2   Die bevestiging van ’n predikant in diens aan die kerkverband geskied nadat:

10.2.1    die kerkvergadering wat die benoeming gemaak het of sy gevolmagtigde die volgende stukke by die betrokke sinodale regs-/kerkordekommissie ingedien het:

10.2.1.1    ’n afskrif van die getekende dienskontrak;

10.2.1.2    ’n afskrif van die benoemde se Akte van Demissie uit die vorige werkkring óf ’n getuigskrif van eervolle ontslag in die geval van diens aan ’n instansie buite die kerkverband óf die Akte van Legitimasie in die geval van ’n proponent wat beroep is;

10.2.1.3    ’n afskrif, indien van toepassing, van die benoemde se attestaat, uitgereik deur die vorige gemeente en ingedien by ’n (ander) gemeente van die NG Kerk; en

10.2.1.4    ’n skriftelike bewys van die pensioenkantoor dat die benoemde se pensioen in orde is.

10.2.2     die betrokke sinodale regs-/kerkordekommissie skriftelik bevestig het dat aan die kerkordelike vereistes (vergelyk 10.2.1 hierbo) voldoen is.

10.3   Die skriba van die beroepende vergadering of die kerkvergadering wat die benoeming gemaak het, rig ’n uitnodiging aan al die predikante in diens van die ringsgemeentes óf in diens van die breër kerkverband om die bevestiging by te woon.

10.4   Die bevestiging in ’n gemeente geskied deur ’n bedienaar van Woord in diens van die gemeente óf die konsulent of ’n ander predikant met bevoegdheid in die NG Kerk deur die konsulent daartoe versoek.

10.5 Die bevestiging in die kerkverband geskied deur ’n predikant met bevoegdheid in die NG Kerk deur die betrokke kerkvergadering of sy gevolmagtigde daartoe aangewys.

10.6 Die bevestiging van ’n proponent geskied met oplegging van hande waarmee die bevoegdheid van predikant verkry word.

10.7   Die bevestiging vind so spoedig moontlik plaas nadat aan die kerkordelike vereistes voldoen is.

10.8   Die kerkraad of ander kerkvergadering stel die betrokke ring, die sinodale kantoor, die Algemene Steunspan Predikantesake en die Kerkbode onverwyld in kennis van die bevestiging, met vermelding van:

10.8.1 die basiese biografiese besonderhede van die persoon wat bevestig is;

10.8.2 die vorige gemeente/werkkring;

10.8.3 die datum waarop die bevestiging plaasgevind het;

10.8.4 die gemeente waarin die persoon bevestig is;

10.8.5 die naam van die persoon wat die bevestiging waargeneem het;

10.8.6 die moontlike verandering in bevoegdheid wat plaasgevind het.

10.9   In die geval van ’n proponent of ’n bevoegde bedienaar uit ’n ander gereformeerde kerk wat bevestig is, word:

10.9.1  die betrokke sinodale kantoor versoek om aansoek te doen om die aanstelling as huweliksbevestiger; en

10.9.2  die aktuarius van die sinode versoek om ’n Akte van Bevestiging uit te reik.

  1. DEMISSIE

11.1   ’n Predikant wat ’n beroep na ’n ander gemeente aangeneem het of ’n benoeming vir diens aan die kerkverband aanvaar het, stel die kerkraad of ander kerkvergadering skriftelik daarvan in kennis.

11.2   Die betrokke kerkvergadering in wie se diens die predikant gestaan het, maak die predikant op vererende wyse los van die gemeente of ander werkkring deur die uitreiking van die Akte van Demissie.

11.3 Die Akte van Demissie word onderteken deur die voorsitter en skriba van die betrokke kerkvergadering.

11.4 Die verlening van demissie geskied tydens ’n vergadering of erediens deur die voorsitter of ander lid van die betrokke kerkvergadering.

11.5   Demissie word verleen nadat:

11.5.1    die beroeps- of benoemingsbrief én die getekende nuwe diensooreenkoms aan die ring of sy gevolmagtigde/betrokke sinodale regs-/kerkordekommissie voorgelê is; en

11.5.2    die ring of sy gevolmagtigde/betrokke sinodale regs-/kerkordekommissie skriftelike bevestiging ontvang het dat alle uitstaande verpligtinge teenoor die predikant met betrekking tot vergoeding, verlof en ander diensvoordele nagekom is.

11.6   Die Akte van Demissie uitgereik deur ’n kerkraad, dien ook as attestaat vir oorplasing van lidmaatskap na die volgende gemeente.

11.7   ’n Predikant wat uit diens van die gemeente of die kerkverband bedank, of weens tug- en/of dissiplinêre handeling uit diens van die gemeente of uit diens van die kerkverband ontslaan is (vergelyk Artikel 64.5.4 van die Kerkorde), ontvang by diensbeëindiging ’n dienssertifikaat.

  1. EMERITAAT

12.1   Predikante in diens van gemeentes of die kerkverband, moet by bereiking van ouderdom vyf-en-sestig (65) emeriteer.

12.2   Geen predikant kan na emeritering in ’n voltyds-onbepaalde pos in diens wees nie (vergelyk Reglement vir Vaste Termynpos vir diens as emeritus tussen ouderdom 65 en 70).

12.3   Die ring, onder wie se opsig ’n predikant by emeritering staan, reik aan die predikant by emeritering die Akte van Emeritaat uit.

12.4   Die Akte van Emeritaat word onderteken deur die voorsitter en skriba van die ring.

12.5 Die skriba van die ring stel die betrokke sinodale kantoor, die pensioenkantoor, die Algemene Steunspan Predikantesake én die Kerkbode van die emeritering in kennis.

12.6 Die Akte van Emeritaat kan tydens ’n vergadering of erediens namens die ring oorhandig word.

 

16.    Reglement vir die verlof van predikante

Sinodale amptenare ingesluit – In die Kerkorde, Algemene Sinode 2015, verskyn hierdie reglement as Reglement 16.

  1. ALGEMENE BEPALINGE

1.1    Die kerkraad of sy gevolmagtigde reël alle verlof waarop ’n predikant in terme van die diensooreenkoms geregtig is.

1.2    Die  predikant  doen  op  voorgeskrewe  wyse  by  die  kerkraad  of  sy  gevolmagtigde  aansoek om  verlof te neem. Verlof,  met die  uitsondering  van siekteverlof, kan slegs  geneem word nadat die aansoek goedgekeur is.

1.3    Alle verlof wat geneem word, word genotuleer en in ’n verlofregister aangeteken wat  elke  ses  maande  deur  die  kerkraad  en  jaarliks  deur  die  ring  in  sitting  gekontroleer  word.

1.4    Indien  ’n  predikant  in  diens  van  die  kerkverband  is,  word  alle  verlof  gereël,  goedgekeur  en  gekontroleer  deur  die  kerkvergadering  of  sy  gevolmagtigde  as  verteenwoordiger van die werkgewer.

1.5    Verlof is nie van een diensverhouding na ’n ander oordraagbaar nie.

2    JAARLIKSE VERLOF 

2.1    ’n Predikant is geregtig op 42 kalenderdae dae jaarlikse verlof met volle besoldiging  vir  elke  twaalf  maande  van  diens  in  die  gemeente/kerkverband,  tensy  anders  ooreengekom is.

2.2    Jaarlikse verlof val ’n predikant pro rata vanaf indienstreding toe.

2.3    Die  kerkvergadering  of  sy  gevolmagtigde  en  die  predikant  kom  ooreen  wanneer  die  jaarlikse verlof geneem kan word. Indien ’n ooreenkoms nie bereik word nie, kan die  kerkvergadering of sy gevolmagtigde besluit wanneer die predikant verlof moet neem.

2.4    Jaarlikse  verlof  kan  nie  geneem  word  gedurende  ’n  tydperk  van  kennisgewing  van  diensbeëindiging nie.

2.5    Jaarlikse  verlof  word  in  die  jaar  waarin  dit  verdien  is,  geneem.  Hoogstens  21  kalenderdae kan na die volgende jaar oorgedra word. Opgehoopte verlof word binne  die eerste ses maande van die volgende jaar geneem.

2.6    Jaarliks moet minstens 21 kalenderdae aaneenlopende gewone verlof geneem word.

2.7    Gewone  verlof  is  slegs  op  datum  van  diensbeëindiging  uitbetaalbaar.  Die  pro  rata  gedeelte van die huidige jaar se ongebruikte verlof en die goedgekeurde opgehoopte  verlof wat van die vorige jaar oorgedra is, kan tot ’n gesamentlike maksimum van 30  kalenderdae uitbetaal word. Uitbetaling geskied volgens heersende wetgewing.

  1. SIEKTEVERLOF

3.1    Die kerkvergadering of sy gevolmagtigde kan aan ’n predikant siekteverlof met volle  lewensonderhoud en toelaes toestaan.

3.1.1    Siekteverlof  word  bereken  teen  120  kalenderdae  en  word  in  siklusse  van  drie  jaar  toegestaan.

3.1.2    In  die  geval  van  oorskryding  van  toegekende  siekteverlof  binne  ’n  siklus  van  drie  jaar, kan ’n predikant kies om beskikbare vakansieverlof aan te wend vir siekteverlof.  Indien  geen  toegekende  siekteverlof  of  vakansieverlof  meer  beskikbaar  is  nie  en  swak gesondheid steeds verhinder dat diensverpligtinge doeltreffend verrig kan word,  kan die predikant aansoek doen vir verdere siekteverlof. Indien die kerkvergadering  die aansoek goedkeur, neem die kerkvergadering of sy gevolmagtigde ’n besluit oor  vergoeding  vir  ’n  ooreengekome  tydperk  en  tref  gepaste  reëlings  vir  plaasvervangende diens.

3.1.3    By ’n aansoek om siekteverlof vir meer as 3 kalenderdae kan die kerkvergadering of  sy gevolmagtigde aandring op ’n verslag van ’n geneesheer om te bepaal:

3.1.3.1      waarom die predikant nie gesond genoeg is om diens te verrig nie; en

3.1.3.2      hoe lank die afwesigheid na verwagting sal duur alvorens normale diens hervat kan  word.

3.1.4    Die  kerkvergadering  of  sy  gevolmagtigde  sal  die  reg  hê  om  op  koste  van  die  predikant ’n mediese sertifikaat van ’n geneesheer aan die kerkvergadering voor te lê,  voordat siekteverlof goedgekeur word.

3.1.5    Indien die siekteverlof 120 kalenderdae per drie jaar siklus oorskry, word die advies  van  die  ring  of  sy  gevolmagtigde  ingewin  met  die  oog  op  die  voortgang  van  die  bediening in die gemeente.

4    VERLOF VIR BEDIENINGSONTWIKKELING 

4.1    ’n  Minimum  van  6  en  ’n  maksimum  van  12  kalenderdae  verlof  vir  bedieningsontwikkeling  per  jaar  word  aan  die  predikant  toegeken,  tensy  anders  ooreengekom.

4.2    Verlof  vir  bedieningsontwikkeling  val  ’n  predikant  pro  rata  vanaf  datum  van  indienstreding toe.

4.3    Verlof  vir  bedieningsontwikkeling  word  toegestaan  nadat  die  kerkvergadering  of  sy  gevolmagtigde die betrokke kursus/program goedgekeur het.

4.4    Verlof vir bedieningsontwikkeling kan nie oorgedra word na ’n volgende jaar nie.

  1. STUDIEVERLOF[50]

5.1    Studieverlof is ’n vergunning en die kerkvergadering en die predikant moet in die lig  van plaaslike omstandighede ooreenkom oor studieverlof.

5.2    Wanneer ’n kerkvergadering en die predikant ooreenkom oor deeltydse studie, is die  predikant slegs geregtig op deeltydse vergoeding.

5.3    Wanneer  ’n  kerkvergadering  en  die  predikant  ooreenkoms  oor  voltydse  studie  vir  minder as ses maande, voorsien die predikant vir die duur van die studietydperk in eie  lewensonderhoud en is toelaes nie betaalbaar nie.

5.4    Indien voltydse studie langer as ses maande duur, is ’n predikant verplig om demissie  by die kerkvergadering te ontvang.

5.5    Die  predikant  tref  self  reëlings  met  die  Algemene  Taakspan  Predikantesake  met  betrekking tot behoud van proponentsbevoegdheid by demissie weens verdere studie.

5.6    Die predikant is verplig om eers opgehoopte verlof te gebruik voordat die persoon kan  aanspraak maak op studieverlof. ’n Predikant kan aansoek doen om ’n terugskrywing  van verlof wat vir toepaslike studie gebruik is, mits ’n kursus(se) wat vooraf deur die  kerkvergadering goedgekeur is, suksesvol voltooi is.

  1. KRAAMVERLOF

6.1    ’n Vroulike predikant is geregtig op ‘n maksimum van 4 maande kraamverlof wat soos  volg toegestaan word, tensy anders ooreengekom:

6.1.1    ’n maksimum van 4 weke voor die verwagte datum van geboorte en ’n minimum van  6 weke na die geboorte kan geneem word;

6.1.2    volle lewensonderhoud en toelaes is vir die minimumtydperk van 10 weke (vergelyk  6.1.1) betaalbaar; en

6.1.3    die  vergoedingskomponent  vir  die  restant  van  die  kraamverlof  word  tussen  die  predikant en die kerkvergadering of sy gevolmagtigde onderhandel.

6.2    Aanwas van jaarlikse verlof vind tydens kraamverlof plaas.

  1. OPENBARE VAKANSIEDAE

7.1    ’n  Predikant  is  geregtig  op  openbare  vakansiedae.  Indien  die  predikant  ’n  diensverpligting  het,  kom  die  persoon  en  die  kerkvergadering  of  sy  gevolmagtigde  ooreen op ’n gepaste reëling.

7.2    Die  gemeente/kerkverband  en  die  predikant  kan  met  mekaar  in  die  dienskontrak  ooreenkom dat jaarlikse verlof nie verleng word met die openbare vakansiedae wat in  die verlofsiklus val nie.

7.3    By gebrek aan ’n skriftelike ooreenkoms, word ‘n predikant se verlof verleng met elke  openbare vakansiedag wat in die verloftydperk val.

  1. VERLOF VIR GESINSVERANTWOORDELIKHEDE[51]

’n Predikant is, met die oog op gesinsverantwoordelikhede, geregtig op 3 dae menslikheidsverlof per jaar, wat nie oploopbaar is nie.

  1. SABBATSTYD[52]

9.1    Predikante  is  bo  en  behalwe  verlof,  met  goedkeuring  van  die  kerkvergadering  of  sy  gevolmagtigde, geregtig op sabbatstyd.

9.2    Die toekenning van sabbatstyd is onderhewig aan die volgende voorwaardes:

9.2.1    Na  verloop  van  drie  jaar  in  dieselfde  werkkring,  is  ’n  predikant  geregtig  op  30  kalenderdae sabbatstyd.

9.2.2    Sabbatstyd kan nie opgehoop word nie.

9.2.3    Sabbatstyd word aaneenlopend geneem.

9.2.4    Gedurende  sabbatstyd  is  die  predikant  nie  vir  ampspligte  in  die  gemeente  of  diens  aan die kerkverband beskikbaar nie.

9.2.5    Sabbatstyd geskied met volle lewensonderhoud en toelaes.

9.2.6    Na die sabbatstyd gee die predikant terugvoer aan die kerkvergadering.

9.2.7    Sabbatstyd kan nie van een gemeente/werkkring na ’n ander oorgedra word nie.

9.2.8    Sabbatstyd is nie by diensbeëindiging uitbetaalbaar nie.

 

17.    Reglement vir voltyds-onbepaalde termynposte

In die Kerkorde, Algemene Sinode 2015, verskyn hierdie reglement as Reglement 13.

  1. AARD

1.1     ’n Voltyds-onbepaalde pos vir ’n predikant is ’n voltydse pos met ’n onbepaalde termyn.

1.2     ’n Predikant in ’n voltyds-onbepaalde pos:

1.2.1    verrig die ampspligte van Artikel 9 van die Kerkorde in ’n gemeente soos in die diensooreenkoms vervat;

1.2.2    verrig die pligte in die kerkverband soos in die diensooreenkoms vervat;

1.2.3    ontvang volle lewensonderhoud van die gemeente of die kerkverband;

1.2.4    mag nie buite die kerkverband deeltydse diens aan ’n ander werkgewer lewer nie.

  1. SKEP VAN POS

2.1     Vanaf die stigting tot die ontbinding van ’n gemeente beskik die gemeente oor ’n pos vir predikant wat óf voltyds óf deeltyds vir ’n onbepaalde óf bepaalde termyn gevul word.

2.2     Die vulling van die pos vir predikant in die gemeente kan met die goedkeuring van die ring of sy gevolmagtigde vir ’n tyd opgeskort word, terwyl die kerkraad met die hulp van die ring of sy gevolmagtigde na ander wyses kyk waarop die gemeente bedien kan word (kombinering, eenwording of samesmelting).

2.3     Die beroeping van ’n predikant vir die vulling van ’n voltyds-onbepaalde pos in die gemeente, kan alleen geskied nadat die kerkraad die ring of sy gevolmagtigde oortuig het van die finansiële volhoubaarheid van die pos en die ring of sy gevolmagtigde daartoe goedkeuring verleen het.

2.4     Die ring of sy gevolmagtigde se goedkeuring word ook verlang by die vulling van ’n voltyds-onbepaalde pos by meerdere bediening in die gemeente.

2.5     Die ring of sy gevolmagtigde adviseer die kerkraad met die opstel van die diensooreenkoms.

2.6     Vergoeding en ander diensvoordele vir ’n voltyds-onbepaalde pos is in ooreenstemming met die sinodale riglyne vir die vergoedingspakket vir predikante, tensy anders ooreengekom.

2.7     ’n Voltyds-onbepaalde pos is pensioendraend met die volgende vereistes:

2.7.1    ’n predikante in voltyds-onbepaalde pos se pensioenbydraevlak word bereken volgens die ooreengekome bydraekategorie;

2.7.2    die werkgewer bepaal die werkgewerbydrae tot die Pensioenfonds aan die hand van die reëls van die Pensioenfonds;

2.7.3    die werkgewer se bydrae bepaal die ooreenstemmende bydraekategorie van die werknemer; en

2.7.4    die minimum bydraekategorie is 100%.

2.8     Nadat die ring of sy gevolmagtigde die pos en die beroepsbrief goedgekeur het, kan die kerkraad oorgaan tot beroeping.

2.9     By die skep van ’n voltyds-onbepaalde pos in die kerkverband, sien die betrokke kerkvergadering toe dat aan die toepaslike vereistes van hierdie Reglement voldoen word.

  1. BEROEPING EN BEVESTIGING

3.1     By die beroeping en bevestiging word uitvoering gegee aan die voorskrifte van Artikel 8 van die Kerkorde en die Reglement vir die Beroep, Bevestiging, Demissie en Emeritaat vir Predikante.

3.2     ’n Predikant wie se pos van ’n tentmakerpos of ’n vaste termynpos na ’n voltyds-onbepaalde pos verander word, se diensooreenkoms word dienooreenkomstig gewysig, goedgekeur en onderteken, sonder om weer beroep en bevestig te word.

  1. AFVAARDIGING NA MEERDERE VERGADERINGE

’n Predikant in ’n voltyds-onbepaalde pos word na meerdere vergaderinge afgevaardig.

  1. DIENSBEËINDIGING

5.1     ’n Predikant in ’n voltyds-onbepaalde pos tree by aanvaarding van ’n beroep of by bereiking van die normale aftree-ouderdom uit diens van die gemeente/kerkverband.

5.2     By diensbeëindiging/aanvaarding van emeritaat, stel die kerkvergadering die Algemene Steunspan Predikantesake daarvan in kennis.

 

18.    Reglement vir tentmakerposte

In die Kerkorde, Algemene Sinode 2015, verskyn hierdie reglement as Reglement 14.

  1. AARD

1.1   ’n Tentmakerpos vir ’n predikant is ’n deeltydse[53] pos vir ’n onbepaalde termyn.

1.2   ’n Tentmakerpos vertoon die karakter van ’n gewone pos vir predikant. ’n Tentmaker is ’n predikant wat deeltyds, soos ooreengekom, die ampspligte van Artikel 9 van die Kerkorde vervul.

  1. SKEP VAN POS

2.1   Indien die gemeente ’n tentmakerpos vir ’n predikant wil skep, of om finansiële of ander redes ’n bestaande voltydse[54] pos in ’n tentmakerpos wil omskep, doen die kerkraad ’n gemotiveerde voorlegging aan die ring of sy gevolmagtigde.

2.2   Die ring of sy gevolmagtigde keur, met inagneming van die gemeente se bedienings­behoeftes en finansiële omstandighede, die tentmakerpos goed.

2.3   Die ring of sy gevolmagtigde adviseer die kerkraad met die opstel van die diensooreen­koms.

2.3.1    Uitvoering word gegee aan die tersaaklike voorskrifte van Artikel 8 van die Kerkorde, die Reglement vir Beroep, Bevestiging, Demissie en Emeritaat van Predikante, ander toepaslike bepalinge in reglemente[55] en verbandhoudende besluite.

2.3.2    ’n Tentmakerpos kan nie geskep word om die bevoegdheid van predikant te verkry of te behou nie, of om sitting in kerklike vergaderinge te verkry nie.

2.3.3    Gegewe die sinodale riglyne word in dieselfde gemeente in proporsionele terme gelykwaardigheid in diensvoordele gehandhaaf tussen ’n voltydse en deeltydse pos.

2.3.4    ’n Tentmakerpos is pensioendraend, onderworpe aan die volgende vereistes:

2.3.4.1    ’n predikant in ’n tentmakerpos se pensioenbydraevlak word bereken volgens die ooreengekome bydraekategorie;

2.3.4.2    die werkgewer bepaal die werkgewerbydrae tot die Pensioenfonds aan die hand van die reëls van die Pensioenfonds;

2.3.5    ’n Tentmakerpos het duidelik omskrewe bedieningsverpligtinge wat met die amp van predikant in direkte verband staan.

2.4   Nadat die ring of sy gevolmagtigde die pos en die voorgestelde diensooreenkoms goedge­keur het, kan die kerkraad oorgaan tot beroeping.

2.5   By die skep van ’n tentmakerpos in die kerkverband, sien die betrokke kerkvergadering toe dat aan die toepaslike vereiste van hierdie reglement voldoen word.

  1. BEROEPING

3.1   By die beroeping en bevestiging word uitvoering gegee aan die voorskrifte van Artikel 8 van die Kerkorde en die Reglement vir die Beroep, Bevestiging, Demissie en Emeritaat vir Predikante..

3.2   ’n Predikant wie se pos van ’n voltydse pos na ’n tentmakerpos verander word, se diensooreenkoms word dienooreenkomstig gewysig, goedgekeur en onderteken, sonder om weer beroep en bevestig te word.

  1. AFVAARDIGING NA MEERDERE VERGADE­RINGE

’n Predikant in ’n tentmakerpos word na meerdere vergaderinge afgevaardig.

  1. DIENSOOREENKOMS MET DIE ANDER WERKGEWER(S)

5.1   By die aangaan van ’n diensooreenkoms met ’n tentmaker, bepaal die kerkraad sy voor­waarde(s) vir die tentmaker se diens aan die ander werkgewer(s).

5.2   Die aangaan van alle toekomstige diensoor­eenkomste met ander werkgewers, moet vooraf deur die kerkraad goedgekeur word.

  1. DIENSBEËINDIGING

6.1   ’n Predikant in ’n tent­ma­kerpos tree by aanvaarding van ’n beroep of by bereiking van die normale aftree-ouderdom uit diens van die gemeente/kerkverband.

6.2   By diensbeëindiging/aanvaarding van emeritaat, stel die kerkvergadering die Algemene Taakspan Predikantesake daarvan in kennis.

 

19.    Reglement vir vaste termynposte

In die Kerkorde, Algemene Sinode 2015, verskyn hierdie reglement as Reglement 15

  1. AARD

1.1   ’n Vaste termynpos vir ’n predikant is ’n pos met ’n omskrewe termyn (met ’n aanvangs- en einddatum) en ’n omskrewe taak. Na verstryking van die termyn en na voltooiing van die taak, termineer ’n vaste termynpos.

1.2   ’n Vaste termynpos kan voltyds of deeltyds gevul word.

  1. SKEP VAN POS

2.1   Indien die gemeente ’n vaste termynpos vir ’n predikant wil skep, doen die kerkraad ’n gemotiveerde voorlegging aan die ring of sy gevolmagtigde.

2.2   Die ring of sy gevolmagtigde keur, met inag­neming van die gemeente se bedienings­behoeftes en finansiële omstandig­hede, die vaste termynpos goed.

2.3   Die ring of sy gevolmagtigde adviseer die kerkraad met die opstel van die diensooreen­koms.

2.3.1    Uitvoering word gegee aan die tersaaklike voorskrifte van Artikel 7 van die Kerkorde en verbandhoudende bepalinge en besluite.

2.3.2    ’n Vaste termynpos kan nie geskep word om die bevoegdheid van predikant te verkry of te behou nie, of om sitting in kerklike vergaderinge te verkry nie.

2.3.3    Gegewe die sinodale riglyne word in dieself­de gemeente gelykwaardigheid in diensvoordele gehandhaaf tussen ’n vaste termynpos en ’n pos vir ’n onbepaalde termyn.

2.3.4    ’n Vaste termynpos is pensioendraend, tensy die predikant wat die pos vul en die betrokke kerkvergadering goedkeuring van die trustees van die sinodale pensioenfonds verkry het om by ’n ander wetlik-goedgekeurde pensioenfonds in te skakel, of om by hoë uitsondering by die trustees van die sinodale pensioenfonds vrystelling van inskakeling te kry.

2.3.5    ’n Vaste termynpos het duidelik omskrewe bedieningsverpligtinge wat met die amp van predikant in direkte verband staan.

2.4   Nadat die ring of sy gevolmagtigde die pos en die voorgestelde diensooreenkoms goedge­keur het, kan die kerkraad oorgaan tot beroeping.

2.5   By die skep van ’n vaste termynpos in die kerkverband, sien die betrokke kerkvergadering toe dat aan die toepaslike vereiste van hierdie reglement voldoen word.

  1. BEROEPING

3.1   Die kerkraad beroep in ooreenstemming met die kerklike voorskrifte en finaliseer in oorleg met die ring die diensooreenkoms in ooreenstem­ming met Artikel 7.4 tot 7.7 van die Kerkorde.

3.2   ’n Predikant wat in dieself­de gemeente om ’n vaste termynpos aansoek doen en in die pos aangestel word, word nie weer beroep en bevestig nie.

  1. EMERITI

4.1   ’n Emeritus kan tot op ouderdom 70 jaar, met goedkeuring van die ring, in ’n vaste termyn­pos beroep word waarna die emeritus finaal uit kerklike diens tree. ’n Emeritus kan nie ná ouder­dom 70 in ’n vaste termynpos aangestel word nie.

4.2   By bereiking van die normale aftree-ouder­dom (65 jaar), moet geëmeriteer word sonder dat pensioen noodwendig geneem word.

4.3   ’n Emeritus kan weer diens in dieselfde gemeente aanvaar, slegs indien

4.3.1    ’n vaste termynpos volgens die voorgeskre­we prosedure geskep is (vergelyk 2.1 tot 2.5 hierbo);

4.3.2    alle verpligtinge by emeritaat nagekom is;

4.3.3    sy mediese geskiktheid bepaal is;

4.3.4    ’n nuwe diensooreenkoms aangegaan word;

4.3.5    beroeping en bevestiging in die pos plaasgevind het;

4.3.6    bydraes tot die pensioenfonds voortgesit word; en

4.3.7    die ander vereistes van hierdie reglement nagekom word.

4.4   ’n Emeritus wat by aanvaarding van ’n vaste termynpos reeds pensioen ontvang, is vrygestel van pensioenbydraes. Diens in die vorige gemeente kan nie aanvaar word nadat pensioen reeds ontvang word nie (vergelyk 4.3.6).

  1. TERMYN

5.1   Die termyn vir ’n vaste termynpos duur nie langer as drie jaar nie.[56]

5.2   By verstryking van die termyn, kan die pos vir ’n maksimum van twee jaar deur dieselfde of ’n ander predikant gevul word, op voorwaarde dat die ring of sy gevolmagtigde instemming daartoe verleen en ’n nuwe diensooreenkoms tot stand kom.

  1. AFVAARDIGING NA MEERDERE VERGADE­RINGE

’n Predikant in ’n vaste termynpos word na meerdere vergaderinge afgevaardig.

  1. DIENSBEËINDIGING EN BEHOUD VAN BEVOEGDHEID

7.1   ’n Predikant in ’n vaste ter­mynpos tree op datum van die verstryking van die termyn uit diens van die gemeente/ kerkverband.

7.2   ’n Predikant in ’n vaste ter­mynpos kan vóór verstryking van die termyn weens wangedrag, ongeskiktheid en bedryfs­vereistes uit diens van die gemeente/kerkverband ontslaan word (vergelyk die Reglement vir die Bestuur van Diensverhoudinge by Wangedrag, Ongeskiktheid en Onvermoë).

7.3   ’n Emeritus in ’n vaste termynpos se diens word beëindig nie later nie as die laaste dag van die maand waarin die ouderdom van 70 jaar bereik is.

7.4   By diensbeëindiging na verstryking van die termyn, stel die kerkvergadering die Algemene Taakspan Predikantesake daarvan in kennis.

7.5   By diensbeëindiging na verstryking van die termyn, word die bevoegdheid van predikant/emeritus behou.

 

20.    Reglement vir die gebeurlikheidsfonds

Vir die doeleindes van hierdie publikasie word slegs die doel van die fonds opgeneem ten einde die aanwendingsmoontlikhede van die fonds onder die aandag van die kerkverband te bring. Die volledige reglement is by die sino­dale kantoor beskikbaar.

  1. DOELSTELLING

Die fonds het ten doel om as gebeurlikheidsreser­we te dien en hulp te verleen aan:

  • kommissies van die sinode wat, in geval van onvoorsiene tekorte op die goedgekeurde begroting, in finansiële krisis beland;
  • gemeentes wat as gevolg van droogte of enige ander ramptoestand tydelik in nood verkeer en nie deur die salarisondersteuningsfonds gehelp kan word of genoegsaam gehelp kan word nie.

Aansoeke om aanwending van die fonds word aan die algemene sekretaris gerig.

 

21.    Reglement vir die salarisondersteuningsfonds

Vir die doeleindes van hierdie publikasie word slegs die doel van die fonds opgeneem ten einde die aanwendingsmoontlikhede van die fonds onder die aandag van die kerkverband te bring. Die volledige reglement is by die Sinodale Kantoor beskikbaar.

3      DOELSTELLING

Om gemeentes te subsidieer waar die bediening as noodsaaklik geïdentifiseer word en die gemeente(s) finansieel nie in staat is om ‘n Predikant te onderhou nie.

Gemotiveerde aansoeke om toekennings uit die fonds word op Vorm 4.5 deur die betrokke Kerkraad aan die Moderamen gerig.

22.    Reglement vir die teologiese opleiding en vormingsfonds

Vir die doeleindes van hierdie publikasie word slegs die doel van die fonds opgeneem ten einde die aanwendingsmoontlikhede van die fonds onder die aandag van die kerkverband te bring. Die volledige reglement is by die Sinodale Kantoor beskikbaar.

2      DOELSTELLINGS

2.1   Om persone te finansier wat in opdrag van die Moderamen met besondere studie besig is.

2.2   Om predikante van die kerkverband te finansier om kursusse, seminare ens, by te woon met die doel om hom/haar binne die gerasionaliseerde opset van die sinode as “spesialis(te)” op die terrein van ʼn bepaalde diensgroep, taak- en/of aksiespan op te lei/beter toe te rus.

2.3   Om manuskripte wat volgens die oordeel van die moderamen vir die Ned Geref Kerk in Namibië van besondere betekenis is en waarvoor geen ander uitgewer of finansier gevind kan word nie, te publiseer en te versprei.

Aansoeke om aanwending van die fonds word aan die adres van die algemene sekretaris gerig.

 

23.    Reglement vir die Vennootskapstrustfonds

Vir die doeleindes van hierdie publikasie word slegs die doel van die fonds opgeneem ten einde die aanwendingsmoontlikhede van die fonds onder die aandag van die kerkverband te bring. Die volledige reglement is by die Sinodale Kantoor beskikbaar.

  1. DOEL

Die doel van die fonds is om finansiële steun te gee aan die werksaamhede van die sinode met betrekking tot haar koninkryksroeping in die gemeenskap in terme van:

  • versorginsdiente gelewer aan sorgbehoe­wende lidmate en ander persone wat hulle in inrigtingsversorging bevind;
  • gesinsorg en ondersteuningsdienste;
  • die implementering van barmhartigheids- en ontwikkelingsprojekte wat van tyd tot tyd binne die verstaan van die NG Kerk se roeping in Namibië geïdentifiseer word.


BELEIDSBESLUITE

1. Bevoegdheid van Geestelike werkers (2006)

Die Sinode wys kerkrade en ringe op die moontlikheid om via die Nam. Kuratorium van die Sinode en Algemene Taakspan Regte aansoek te doen vir die legitimasie en ordening van ʼn persoon met ʼn spesifieke opdrag. (2006)  (Sien Funks Besluit van die AS pt. 9.1.)

 

2. Homoseksualiteit (2016)

  1. Die 17de vergadering van die Namibiese sinode van die NG Kerk (NGKN) neem kennis van uiteenlopende standpunte rakende die beoordeling van selfdegeslag seksuele verhoudings, ook standpunte wat op die Bybel gegrond is. Terwyl ons die integriteit aanvaar van gelowiges wat kan saamleef met die 2015-besluit van die Algemene Sinode, is die getuienis van die meerderheid van afgevaardigdes dat dáárdie besluit nie te rym is met hulle verstaan van die Skrif nie.
  2. Ons wil graag die teologiese gesprek oor selfdegeslag seksuele verhoudings laat voortgaan en versoek die moderamen om saam met ander Christelike geloofsgemeenskappe ’n gesprek te inisieer waar deelnemers sal oefen in die geloofwaardige lees en helder uitleg van die Skrif ten opsigte van gesagvolle leiding met betrekking tot etiese vraagstukke.
  3. Ons getuig dat ons etiese lewe oor die volle spektrum van die lewe strek en moedig navolgers van Christus aan om konsekwent te wees in hulle profetiese vermaning oor etiese vergrype in die samelewing. Die sinode is egter hartseer oor die oënskynlike gebrek aan entoesiasme onder gelowiges om etiese uitdagings anders as seksuele sake aan te pak.
  4. Ons getuig dat ons die Bybel nou só verstaan oor selfdegeslag seksuele verhoudings:

ons vertrekpunt is die bybel en die liefde van christus

  • Die Bybel is ons uitgangspunt en in ons nadenke oor selfdegeslag seksuele verhoudings soek ons eerlik na maniere om die Bybelse waardes betekenisvol binne die konteks te interpreteer.
  • Ons aanvaar die liefde van Christus as die enigste geldige grondhouding waarop verhoudinge binne die geloofsgemeenskap gebaseer word. Alle mense is geskep na die beeld van God, die verlossing in Christus is vir alle mense en die Gees is uitgestort op alle gelowiges. Daarom aanvaar ons die menswaardigheid van alle mense. Ons aanvaar ook in goeie trou mense met ‘n oriëntasie tot selfdegeslag seksuele verhoudings se belydenis van hulle egte saligmakende geloof in God Drie-enig as ‘n geloof wat alleen berus op die genadige soenverdienste van Jesus Christus, ons Here.

Die onverklaarbare werklikheid van oriëntasie tot selfdegeslag seksuele verhoudings vra pastorale sensitiwiteit en begrip

  • Ons kan nie anders as om die bestaande werklikheid van mense met ‘n selfdegeslag seksuele oriëntasie te erken nie. Net soos wat daar baie ander werklikhede in die skepping is wat ons nie kan verklaar nie, kan ons ook ten spyte van baie navorsing en studie, nie afdoende verklaar hoekom dit is dat sommige mense se oriëntasie so is nie. Ons getuig dat die Bybel in geen taal praat oor die onverstaanbare werklikheid van hierdie soort oriëntasie by ‘n klein persentasie mense nie. In die Bybel word slegs deurlopend gepraat oor die neiging tot die praktyk van selfdegeslag seksuele verhoudings tussen merendeels mans. Ons besef en aanvaar dat mense met sodanige natuurlike oriëntasie nie bloot afwykende, immorele of sondige keuses maak om op so ‘n manier mens te wees nie.
  • Deur die erkenning van die werklikheid van ‘n menslik-onverklaarbare  oriëntasie tot selfdegeslag seksuele verhoudings by sommige  mense, aanvaar ons die verantwoordelikheid om hierdie mense met ‘n pastorale gesindheid van sensitiwiteit en begrip te aanvaar en respekvol te behandel as medemense voor die aangesig van die lewende God wat hulle as mens geskep het. Mag die Gees van Christus sy gemeente daarvan bewaar om in ‘n gesindheid van onverdraagsaamheid en geestelike hoogmoed, veroordelend, homofobies en verkleinerend aan enige mens te dink of teenoor hom/haar op te tree. Waar lidmate van die NGKN só teenoor mense met ’n selfdegeslag seksuele oriëntasie opgetree het, het ons skromelik in ons roeping tot genadige liefdesdiens in die Naam van Christus gefaal.

Die Bybel wys dade van selfdegeslag seksuele verhoudings af

  • Ons besef dat daar in die Bybel eksplisiete vermelding  is van ‘n verskeidenheid van seksuele optredes wat afwyk van God se oorspronklike bedoeling met seksualiteit. Praktyke soos buite-egtelike geslagsverkeer, bloedskande, verkragting, egbreuk/huweliksontrou, prostitusie en egskeidings word onomwonde in die Bybel vermeld. Vreemd genoeg word hierdie optredes nie elkeen op presies dieselfde wyse in die Bybel beoordeel en/of afgewys nie. Die twee seksuele optredes wat in die Bybel op die skerpste wyse veroordeel word, is prostitusie en selfdegeslag seksuele verhoudingsgedrag.
  • Dat die sondige natuur van die mens se verval uiteraard ook in dade van seksuele aard na vore kom, maak dit nie die goddelike gegewe van menslike seksualiteit as sodanig sondig nie. Dit wat die Bybel ons egter oor die aard en gevolge van sonde leer, is ook van toepassing op praktyke wat in teenstelling tot God se bedoeling met seksualiteit gepleeg word. Sonde vernietig die mens se lewenspotensiaal en lei tot die ewige geestelike dood. Om die gawe van ons seksualiteit uit te leef op ander maniere as wat God daarvoor gewil het, is, soos ook die ondoelmatige uitlewing van enige ander gawe wat die Skepper aan die mens toevertrou het, sonde in die oë van die Here.
  • Dit is opvallend dat die Bybel nêrens eksplisiet berig omtrent spesifieke dade van geslagsgemeenskap binne selfdegeslag seksuele verhoudings nie. Daar word slegs op indirekte wyse hierna verwys of oor die neiging daartoe gepraat en dan wel in ernstige veroordelende taal.
  • Op grond van deeglike eksegetiese ondersoek is dit op geen manier tans vir ons in ons interpretasie van die Bybel moontlik om selfdegeslag seksuele dade te aanvaar en te regverdig nie. Dit strook volgens die Bybel nie met God se oorspronklike bedoeling vir menslike seksualiteit nie.
  • Ons erken die diskresie van kerkrade om die verskille oor selfdegeslag seksuele verhoudings in gemeentes in die gees van Christelike liefde te hanteer.

Ons getuig dat die Bybel ’n selibate lewe vra van mense met ’n selfdegeslag seksuele oriëntasie

  • Ons glo dat die Bybel duidelik is oor die goddelike gegewe van menslike seksualiteit. Ons verstaan dat seksualiteit primêr deur God bedoel is om die menslike geslag te laat voortplant binne die ruimte van gesinne, gegrond op ‘n onverbreekbare egverbintenis en trouverbond tussen ‘n man en ‘n vrou wat mekaar liefhet. Dit is ook die ruimte waarbinne die mens vreugde vind in die beoefening van sy/haar seksualiteit, omdat die mens daarmee, ten spyte van die gebrokenheid van die skepping, met die hulp van die Gees van Christus tog daarna streef om te voldoen aan die wil van God self. Die kerk het immers deur die eeue heen getuig dat die goddelik-bedoelde uitlewing van die mens se seksualiteit in ‘n verhouding van trou, die een hoedanigheid van die mens is wat hom / haar op die mees lewens-vervullende wyse in verhouding tot ‘n medemens bring.
  • Wanneer ons dus mense met ’n oriëntasie tot selfdegeslag seksuele verhoudings in ‘n pastorale gesindheid van aanvaarding as lidmate aanvaar, kan ons nie anders nie as om hulle te versoek om die verantwoordelikheid van die selibate lewe te aanvaar en hulle te weerhou van praktyke van geslagsgemeenskap in selfdegeslag seksuele verhoudings. Ons kies dit nie in eie reg en terwille van selfhandhawing nie, maar omdat ons nie anders kan nie as om sover dit binne ons begrip en vermoë is, getrou te bly aan ons verstaan van God se oorspronklike bedoeling met menslike seksualiteit soos die Bybel daaroor praat.
  • Hierdie oproep tot ’n selibate lewe is nie bedoel om mense met ’n selfdegeslag seksuele oriëntasie te na te kom, te veroordeel of te verontreg nie.  Eerder word dit gebore uit ‘n eerlike en opregte poging om in ons menslike swakheid, niks anders te wil wees of na te streef as om Christus, ons Here, te ken en aan Hom gehoorsaam te wees uit dankbaarheid vir sy onverdiende en onbegryplike genade in ons lewe nie.
  • Ons is dankbaar vir alle lidmate met ’n selfdegeslag seksuele oriëntasie wat selibaat lewe en verseker hulle van ons voorbidding en liefde.
  • Ons vra ernstig dat kerkrade die versoek tot ’n selibate lewe met sensitiewe deernis en die nodige berading aan mense met selfdegeslag seksuele oriëntasie sal rig.

Seksuele oriëntasie verhinder nie lidmaatskap nie

  • Alle mense, ongeag hulle seksuele oriëntasie, is ingesluit in God se liefde en hulle word op grond van hulle doop en geloof as lidmate van die kerk van Christus aanvaar. Onder lidmaatskap verstaan ons toegang tot die sakramente, toegang tot die ampte en onderworpenheid aan die kerklike tug. Ons onderneem om teologie-studente met ‘n selfdegeslag seksuele oriëntasie wat selibaat lewe, tot die predikantsamp toe te laat.

 

3. Namibiese Roepingsverklaring (2003)

  1. Ons glo die lewende Here het Hom aan ons verbind. Aan hierdie verbintenis hou ons vas. Net die evangelie van Jesus Christus bring heelheid en vrede. Christus maak ons profete wat hierdie evangelie oral met integriteit verkondig. Ons getuig van hierdie hoop wat in ons leef.
  2. Jesus het gesê ons moet mekaar liefhê. Soos Christus ons liefhet, moet ons ook mekaar liefhê. As ons mekaar liefhet, sal almal weet dat ons sy dissipels is. In gehoorsaamheid aan ons Koning Jesus, vat ons met alle Christene hande om saam te werk sodat die Koninkryk kan kom.
  3. God roep ons om hier in Namibië die volheid van Christus se liefde te leef. Dit doen ons as priesters deur daadwerklike aksies van diens en opoffering. Ons is geroep om te wees wie ons in Christus is: Sout vir die aarde en lig vir die wêreld.
  4. Ons glo in Jesus Christus wat opgestaan het uit die dood, opgevaar het na die hemel, wat sit aan die regterhand van die Vader, wat weer sal kom in heerlikheid, wie se Koningsheerskappy geen einde sal hê nie. Daarom gaan ons die toekoms hoopvol en met verwagting tegemoet. Ons het ʼn Here. Ons is sy Kerk. Ons het ʼn toekoms. (2003)

 

4  Namibiseringsbeleid (1991)

  1. Die sinode beklemtoon die belangrikheid daarvan dat die omvattende Koninkryksgetuienis van die Ned Geref Kerk hier te lande, steeds in die Namibiese konteks homself sal realiseer.
  2. Die sinode beklemtoon dat dit belangrik is dat veral die poste van predikante in die Ned Geref Kerk in Namibië mettertyd en sover moontlik, deur Namibiese burgers wat aan die toelatingsvereistes vir bedienaars van die Woord van die Ned Geref Kerk voldoen, gevul word. Met die oog hierop versoek die sinode kerkrade om:

2.1      te adverteer in die amptelike tydskrifte wanneer ʼn beroep in ʼn vakante pos vir predikant uitgebring moet word om sodoende NG-bedienaars van die Woord wat gebore Namibiërs is of Namibiese burgerskap verkry het, geleentheid te gee om aansoek in te dien;

2.2      die sinode se Namibiseringsbeleid in gedagte te hou, asook die probleme in verband met toekomstige verkryging van werk of verblyfpermitte vir NG- bedienaars van die Woord wat nie Namibiese burgers is nie.

2.3      in biddende opsien om leiding van die Heilige Gees ernstig te oorweeg om NG-bedienaars van die Woord te beroep wat oor Namibiese burgerskap beskik.

3    Die sinode versoek kerkrade om aansoeke vir werk- of verblyfpermitte vir bedienaars van die Woord via die sinodale kerkkantoor te kanaliseer (1991)

 

5.      Verskillende benaminge vir predikantsposte, (2006)

1    Die Sinode wys daarop dat benamings soos “hulp-leraar” en “tydelike leraar’ asook “kontrakpos” en “emeritus-pos” liewer nie gebruik moet word nie.

2    Die Sinode keur die volgende woord-omskrywings goed:

  • Termyn (bepaalde) pos – dit is ʼn pos wat met die goedkeuring van die ring geskep is vir ʼn bepaalde termyn en vir ʼn spesifieke taak en waarheen ʼn predikant beroep en bevestig word.
  • Tentmakerpos – dit is ʼn deeltydse pos waar ʼn predikant na ʼn gemeente beroep is en daar bevestig is en vir ʼn vasgestelde gedeelte van sy tyd slegs ʼn gedeelte van sy lewensonderhoud van die gemeente ontvang (Vergelyk Nam KO 2012, Regl’e 15 en 16).

 

6  Gesindheid by tughandeling (2006)

Omdat ons verklaar dat ons aan mekaar verbind is, doen die sinode ʼn beroep op alle lidmate om nie ʼn amptelike tugpad te begin voor hulle nie die pad van Mat 18 geloop het nie. Die sinode versoek eweneens kerkvergaderinge om in die hantering van tugsake, die beginsels van Mat 18 konsekwent toe te pas. (2006)

 

RIGLYNE EN REËLS

1. Riglyne vir die beslegting van kerklike geskille

Hierdie Riglyne is dieselfde as die Algemene Sinode Funskionelebesluit 34.

  1. Ampsdraers en lidmate poog allereers om onderlinge konflik op ʼn persoonlike en pastorale wyse op te los.
  2. ʼn Kerkvergadering kan, waar konflik onder sy aandag kom, persone benoem om die oplossing daarvan te begelei.
  3. Oplossing word bereik wanneer:

3.1    ʼn alternatief as oplossing vir die probleem gevind is wat vir al die betrokkenes aanvaarbaar is, of

3.2    die betrokkenes ooreenkom om ruimte vir mekaar te maak om van mekaar te kan verskil en met mekaar versoen.

  1. In die hantering van konflik geld onder meer die volgende:

4.1    Duidelikheid moet verkry word oor die presiese aard en omvang van die konflik.

4.2    Alle betrokkenes moet volle geleentheid kry om hulle siening van die saak te stel.

4.3    Die begeleier(s) tree altyd so op dat hy/sy nie by die konflik betrokke raak nie.

4.4    Alle betrokkenes behoort hulle volle samewerking te gee om ʼn oplossing te bereik.

4.5    Die begeleiers rapporteer aan die kerkvergadering wat hulle benoem het.

4.6    ʼn Kerkvergadering kan ook ʼn ander kerkvergadering vra om die hantering van die konflik oor te neem.

 

2.      Riglyne vir gemeentes wat te klein word om volle pos vir predikant te dra

  1. LEWENSONDERHOUD VAN LERAAR

1.1    Die gemeente in wie se diens ‘n predikant staan, is volgens die Woord en volgens die Kerkorde van die Ned Geref Kerk verantwoordelik vir sy volle lewensonderhoud, (salaris en alle toelaes). Die skaal wat van tyd tot tyd deur die Algemene Sinode neergelê word, dien as riglyn. (Vgl KO art 13, Bep 13.1.1).

1.2    Wanneer ‘n kerkraad beplan om ‘n beroep uit te bring, deeglik besin word of die gemeente in staat sal wees om vir die afsienbare toekoms die Bybelse verantwoordelikheid tov ten opsigte van hulle leraar na te kom. Indien die kerkraad wel oortuig is dat hy dit kan doen en ‘n beroep uitbring, doen hy ‘n werk(s)-aanbod (die beroepsbrief) aan die beroepe leraar. Indien die beroepene gelei voel om die beroep te aanvaar, word ‘n diensooreenkoms onderhandel wat deur beide partye geteken word. Hierdie diensooreenkoms mag onder geen omstandighede later eensydig gewysig word indien die finansiële posisie van die gemeente verswak nie. Sodanige wysiging is kontrakbreuk.

1.3    Indien ‘n kerkraad wel na verantwoordelike beroeping en met ‘n verantwoorde bedieningspraktyk deur omstandighede buite sy beheer (bv. grootskaalse verhuising van lidmate) in finansiële probleme beland, bly EEN van die volgende moontlike optredes (in rangorde) vir die kerkraad oop:

1.3.1       Hulp uit die Salaris Ondersteuningsfonds (vgl NGKN Regl 21);

1.3.2       Oorgaan tot ‘n tentmakersbediening (vgl NGKN Regl 18);

1.3.3       Beroepbaarstelling van leraar (vgl 2.6.4 by NGKN Regl 5);

1.3.4       Kombinasie van gemeentes (Bep 13.1.4.2, NGKN Regl 3);

1.3.5       Eenwording van gemeentes; (Vgl. Bep 13.1.4 ‑ 13.1.6, NGKN Regl 3)

Die prosedure wat by elk van hierdie moontlikhede gevolg moet word, word in par. 2 verder verduidelik.

  1. KERKREGTELIKE MOONTLIKHEDE VIR GEMEENTES IN FINANSIËLE NOOD

2.1    Salaris Ondersteuningsfonds

2.1.1    Die Salaris Ondersteuningsfonds bied slegs oorbruggingshulp vir ‘n gemeente wat tydelik in finansiële nood verkeer. Prosedure vir aansoek word in NGKN Regl 21 beskryf. Indien hierdie hulp nie voldoende is nie, kan die volgende moontlikheid oorweeg word (sien par 2.2).

2.2.2    Indien ‘n gemeente met finansiële probleme besluit om ‘n proponent te beroep, bestaan die moontlikheid van hulpverlening uit die Algemene Bedieningsfonds. Hierdie fonds is oospronklik deur die Algemene Sinode geskep weens die ooraanbod van proponente wat die kerk op ‘n stadium beleef het. Die doel van die fonds is om gemeentes in staat te stel om bykomende poste vir proponente te skep en só die groot getal werklose gelegitimeerdes van die kerk uit die nood te help. Streng gesproke geld hierdie fonds dus nie vir gemeentes met slegs een predikantspos nie! In die jongste verlede het die doel van die Algemene Bedieningsfonds uitgebrei om ook voorsiening te maak vir hulp by kerkplantings. Gemeentes wat wel hiervan wil gebruik maak, moet asb self verdere navrae doen.

2.2    Tentmakerbediening (Vgl NGKN Regl 18)

2.2.1          Predikante tans in diens van gemeentes

Indien ‘n gemeente finansieel nie in staat is om ‘n bestaande predikantspos langer ten volle te dra nie, mag daar met verlof van die volle ring, nie die Ringskommissie nie, tot ‘n tentmakersbediening oorgegaan word.

2.2.2          Nuwe poste wat deur ‘n gemeente geskep word

Indien ‘n gemeente ‘n pos vir meerdere bediening skep, maar nie in staat  is om ‘n predikantspos ten volle te dra nie, mag daar met verlof van die volle ring tot die beroeping van ‘n leraar vir tentmakerbediening oorgegaan word.

2.2.3          Prosedure vir implementering

Die prosedure vir beroeping van ‘n leraar vir die tentmakerbediening word omskryf in NGKN Regl 18 (vgl ook Bep 31.3.6.)

2.3    Beroepbaarstelling van leraar

Indien dit vir ‘n gemeente finansieel onmoontlik word om langer sy leraar voltyds te onderhou en daar nie ‘n moontlikheid bestaan om oor te gaan tot ‘n tentmaker­bediening nie, of indien die leraar nie daartoe bereid is nie, mag die kerkraad na raadpleging van die ring, by die moderatuur aansoek doen dat die leraar beroepbaar gestel word. Sodanige optrede veronderstel dat die gemeente daarna (nadat die leraar ‘n beroep aanvaar en vertrek het) een van twee opsies sal uitoefen:

2.3.1          in kombinasie met ‘n ander gemeente gaan (NGKN Regl 3);

2.3.2          tot eenwording met ‘n ander bestaande gemeente oorgaan (NGKN Regl 3).

  1. KOMBINASIE VAN GEMEENTES (NGKN REGL 3)

3.1       Indien ‘n kerkraad tot hierdie oplossing besluit, geld die volgende DRIE VOORWAARDES

3.1.1       Slegs een leraar tussen twee, of meer gemeentes;

3.1.2       Opstel van ‘n kontraktuele ooreenkoms;

3.1.3       Gewilligheid van die leraar;

3.2       Twee gemeentes kan slegs in kombinasie gaan, indien daar ‘n vakante leraarspos van een van die gemeentes bestaan. Indien wel, is die prosedure soos volg:

3.2.1       Die dagbesture van die twee kerkrade hou samesprekings waartydens ‘n kontraktuele ooreenkoms opgestel word. Hierdie dokument moet die volgende insluit:

3.2.1.1    Diensverpligtinge en dienstye van die leraar.

Dit verwys na die aantal weke per maand wat die leraar in elke gemeente werksaam sal wees, met verwysing na die relatiewe poslading in elke gemeente (3/8 pos teenoor 5/8 pos, of 1/2 pos teenoor ½ pos, of ¼ pos teenoor ¾ pos). L.W.: Hierdie leraar sal verantwoordelik wees om alle ampspligte (Art 9, Bep 9) in albei gemeentes na te kom;

3.2.1.2    Salarisverpligting van elke gemeente.

Dit word bereken volgens die poslading van die betrokke gemeente met ‘n aanduiding van die wyse van uitbetaling (datum van oorbetaling, aftrekorder, ens). Vir spesiale ritte tussen die twee gemeentes moet die leraar volgens die normale kilometertarief van die sinode vergoed word.

3.2.1.3    Domisilie van die leraar.

Dit bepaal die gemeente waar hy sal woon en waar die amptelike kerkkantoor vir die pos sal setel. Hierdie kerkkantoor neem volle verantwoordelikheid vir die administrasie verbonde aan die leraarspos. Die administrasie van die pos sluit onder andere in:

  • Uitbetaling van salaris en alle toelaes van die leraar,
  • instandhouding van die pensioenfonds en mediese fonds van die leraar, ens.

Die ander kerkraad mag geen direkte uitbetalings doen nie, maar betaal slegs sy maandelikse bydrae oor aan die domisilie‑kerkraad.

3.2.1.4    Die wyse van verandering en moontlike opsegging van die kontraktuele ooreenkoms en kombinasie.

3.3       Bogenoemde kontraktuele ooreenkoms moet daarna volledig deur die twee kerkrade afsonderlik goedgekeur word.

3.4       ‘n Kombinasie‑klousule moet deur die voorsitter en skriba van albei kerkrade onderteken word, net soos in geval van ‘n beroepsbrief. Ook die leraar moet op die kombinasie‑klousule teken dat hy gewillig is tot ‘n “kombinasie‑pos”. Die kombinasie‑klousule moet die datum van kombinasie aandui. (Sien voorbeeld van kombinasie‑klousule in par 3.9)

3.5       Na finalisering en goedkeuring van die kontraktuele ooreenkoms deur beide kerkrade en die ondertekening van die kombinasie‑klousule, moet approbasie in al die betrokke gemeentes verkry word. Dit beteken dat die besluit tot kombinasie in die betrokke gemeentes vanaf die kansel afgekondig moet word op twee agtereenvolgende Sondae (sien KO Art 5; en Bep 15.2).

3.6       Nadat approbasie van al die betrokke gemeentes verkry is (dws geen besware ingebring is na twee afkondiginge nie), moet die kombinasie‑klousule en die kontraktuele ooreenkoms aan die huidige beroepsbrief van die leraar geheg word en aan die Ringskommissie deurgestuur word vir goedkeuring.

3.7       Nadat goedkeuring van die kombinasieklousule en kontraktuele ooreenkoms van die Ringskommissie ontvang is (net soos in geval van ‘n beroep en beroepsbrief), word die leraar in die nuwe gemeente(s) bevestig (sien KO Art 5). Bevestiging in sy ou gemeente is nie weer nodig nie.

3.8       Beide ooreenkomste se geldigheid is onderhewig aan die goedkeuring van die Ringskommissie en moet as sodanig in die ooreenkomste vervat word.

4   VOORBEELD VAN KOMBINASIEKLOUSULE

1   Hiermee verklaar die kerkraad van …………. (naam van gemeente A)

  1. sowel as die kerkraad van ……………. (naam van gemeente B)
  2. dat hulle besluit het om op ………….. (datum van inwerkingstelling van kombinasie)
  3. luidens NGKN Regl 3, in kombinasie te gaan,
  4. volgens die aangehegte kontraktuele ooreenkoms,
  5. dat elke kerkraad onderneem om alle verpligtinge volgens die kontraktuele ooreenkoms na te kom en
  6. dat die leraar gewillig is om in die gekombineerde pos te dien.

ONDERTEKENING:

Hiermee verklaar ek ………………………………… (volle name van leraar) dat ek gewillig is om my beroepsbrief van die gemeente ………………………….. (naam van huidige gemeente) so te wysig dat ek vanaf gemelde datum, volgens die aangehegte kontraktuele ooreenkoms, die kombinasie‑pos van die gemeentes …………………. en ………………….. aanvaar.

…………………….

(Handtekening van leraar)

…………………………..

(Handtekeninge van alle lede van die kerkrade wat die ooreenkoms goedgekeur het)

…………………….

(Datum van goedkeuring/ondertekening)

 

3. Inspraak deur lidmate by kerkvergaderinge

Interpretasie van Bep 3.9.6

1   KENNISGEWING VAN VERGADERINGS

Omdat lidmate volgens hierdie bepaling reg tot inspraak by kerklike vergaderings het (kerkraad, ring, sinode), sal kerkvergaderings hulle kennisgewing vooraf aan lidmate moet bekendmaak met verwysing na datum, plek en agendapunte. Dit kan gedoen word deur die opplak van ʼn kennisgewing op ʼn kerklike kennisgewingbord, ʼn kennisgewing vanaf die kansel, of (in die geval van kerkrade) by wyse van aanduiding op die kerkalmanak – met verwysing: “Agenda beskikbaar by skriba.

  1. ORDELIKE VERLOOP

Indien lidmate van hulle reg gebruik wil maak om inspraak op agendapunte van ʼn kerkvergadering te lewer (kerkraad, ring, sinode), het hulle dan (luidens par 1) die volle geleentheid tot insae in die agenda gehad. Die reg om inspraak te lewer moet egter uitgeoefen word op ʼn ordelike manier. Elke kerkvergadering moet derhalwe sy eie ordereëlings tref, oor die prosedure vir inspraak van lidmate, dws sodat die ordelike verloop van die vergadering enersyds nie belemmer word nie, en die reg van lidmate andersyds nie ingekort word nie.

  1. PROSEDURE IN INSPRAAK

Elke kerkvergadering stel vooraf sy “prosedure vir inspraak van lidmate” op, notuleer dit (of neem dit op in sy eie reglement van orde) en maak dit ook so bekend aan die gemeente. Die volgende minimum vereistes behoort in die prosedure van die kerkraad aangeteken te wees:

3.1    Vooraf kennisgewing en tydsbeper­king

Lidmate moet ʼn redelik tyd vooraf aan die voorsitter (of skriba) van die vergadering skriftelik kennis gee dat hulle ʼn vergadering wil bywoon om inspraak te gee. (Bv minstens 1 week vooraf vir ʼn kerkraad, 1 maand vooraf vir die ring, 3 maande vooraf vir die sinode (vgl punt 8.1 van NGKN Regl 8 en Bep 28.1).

3.2    Inhoud van kennisgewing

In die kennisgewing sal die lidmaat die volgende moet aandui:

3.2.1          wie die aansoeker is wat gaan praat (naam, telefoon, adres);

3.2.2          oor watter punt van die bestaande agenda gepraat gaan word;

3.2.3          ʼn kort en bondige beskrywing van sy standpunt;

3.2.4          ʼn kort verklaring van die gronde van sy standpunt;

3.2.5    of die inspraak slegs mondelings sal geskied en of daar ʼn aanvullende skriftelike voorlegging gemaak gaan word.

Die “Prosedure vir inspraak van Lidmate” sal moet bepaal dat skriftelike voorleggings ook die voorgeskrewe tydsbeperking in ag moet neem (sien pt 3.1 hierbo). Dit is nodig vir behoorlike kennisname en voorbereiding deur die lede van die kerkvergadering (kerkraad, ring, sinode).

3.3    Staande voorskrifte van die Regle­ment van Orde (NGKN Regl 8)

Die “Prosedure vir inspraak van Lidmate” sal ʼn duidelike verwysing na Bep 21 moet hê, nl dat alle kerklike vergaderings hulle aan die voorskrifte van die sinode se “Reglement van Orde” moet hou, veral met verwysing na punt 8 van NGKN Regl 8 oor die behandeling van sake. Derhalwe moet lidmate – wat inspraak wil lewer – vooraf daaraan herinner word dat hulle hulle ook aan daardie voorskrifte moet hou. Ter wille van duidelikheid moet die volgende aspekte in die “prosedure” uitgewys word:

3.3.1          Tydens die vergadering word slegs die voorsitter aangespreek (8.3.8);

3.3.2    die voorsitter bring sake aan die orde soos dit vir hom geskik lyk en gee (indien nodig) verduidelikings en inligting wanneer ʼn punt bespreek word (8.2.1);

3.3.3    lidmate het slegs ʼn eenmalige spreekbeurt van 5 minute (8.3.1, 8.3.5, 8.3.6);

3.3.4    slegs lede van die kerkraad kan voorstelle maak. Lidmate wat die kerkraad besoek, het nie daardie reg nie (8.4.1.1, vgl daarby 8.3.4);

3.3.5    omdat slegs lede wat voorstelle ingedien het die reg tot repliek het (8.3.6), het lidmate wat die vergadering vir inspraak bywoon geen reg tot repliek nie (dws ʼn tweede spreekbeurt).

3.4    In persoon of in absentia

Die “prosedure” sal ook moet bepaal of ʼn lidmaat ʼn voorlegging “in persoon” moet doen, en of dit “in absentia” gedoen kan word (alleen dmv ʼn voorlegging). Hieroor moet die kerkraad self besluit. Indien die kerkvergadering besluit dat ʼn voorlegging in persoon móét geskied, word die punt nogtans bespreek en afgehandel, selfs al sou die persoon – weens watter omstandighede ookal – nie opdaag nie, met inagneming van die inhoud van die skriftelike voorlegging.

3.5    Woordvoerder

Die “prosedure” sal ook moet duidelik maak dat geen woordvoerder toegelaat sal word om namens die betrokke lidmaat te praat nie (bv ʼn prokureur).

Ander belangrike aspekte wat in die prosedure aangespreek moet word:

  1. OOP OF GESLOTE DEURE:

Al drie die kerkvergaderinge (kerkraad, ring, sinode) word met oop deure gehou (punt 1 van NGKN Regl 8). Wanneer ʼn vergadering egter sy deure sluit, of gesuiwer word (bv in gevalle van tug), word lidmate se reg tot inspraak op daardie punt opgeskort en moet hulle die vergadering verlaat (verwys NGKN Regl 11: 3.1.1 en 8.1). Dit staan bv ʼn kerkraad vry om na goeddunke die deure te sluit – nadat ʼn lidmaat op ʼn betrokke agendapunt aangehoor is – dws om die debat verder sonder enige besoekers te voer en tot ʼn besluit te kom.

  1. NUWE SAKE

5.1   Indien ʼn lidmaat ʼn saak wil opper wat nie op die bestaande agenda verskyn nie, kan hy/sy sodanige versoek skriftelik aan die voorsitter rig – binne een week nadat die agenda by die skriba ter insae was en minstens een week voor die vergadering (sien punt 8.1 van NGKN Regl 8). Die voorsitter plaas dit voorlopig op die agenda en gee so kennis aan die lidmaat, hangende die goedkeuring van die kerkraad. Die goedkeuring en finalisering van die agenda geskied normaalweg net na konstituering van die vergadering – nog voor enige besoekers toegelaat word. Word die punt deur die kerkraad goedgekeur, dan word dit normaalweg deel van die agenda en word dit bespreek op die besondere plek in die agenda, soos bepaal deur die voorsitter.

5.2   Word ʼn agendapunt – wat deur ʼn lidmaat opgegee is – nie by konstituering deur die kerkraad goedgekeur as agendapunt nie, dan word die punt onder korrespondensie geplaas. Wanneer die vergadering by korrespondensie kom (aan die einde van die vergadering), spreek hulle hulle as vergadering uit oor die versoek mbt die volgende vergadering. Indien die versoek goedgekeur word, word dit op die agenda geplaas vir die volgende vergadering. Indien dit afgekeur word, was daar geen sodanige punt nie.

Kommentaar: Die kerkraad behou die reg om te besluit wat op sy agenda verskyn. Lidmate kan nie toegelaat word om sake wat nie by die kerkraad tuishoort nie, op die agenda te plaas nie (KO Art 21, 22). Daar moet ook toegesien word dat die kerkraad nie herhaaldelik met dieselfde saak “lastig geval” word nie en dat die voorskrifte van revisie omseil word nie. Daarom word die “sif” ingebou soos in 5.1 en 5.2 hierbo gestel.

  1. GEEN DEBATVOERING

In die lig van wat hierbo in par 3.3.3 gesê is, is dit duidelik dat lidmate nie toegelaat kan word om aan die gewone debatvoering in die kerkraad deel te neem nie. Hulle het slegs inspraak oor die betrokke punt waarvoor hulle gevra het, indien dit goedgekeur is.

  1. GESLOTE STEMMING

Ter wille van die goeie verhoudinge in ʼn gemeente kan dit ook verstandig wees as die kerkraad (vooraf) besluit om – in gevalle waar sake van lidmate op die agenda kom – per geslote stembriefie te stem. Dit behoort dan ook so in die “prosedure” opgeneem te word.

  1. BLOTE BYWONING

Omdat die drie kerkvergaderings met ope deure gehou word, mag enige lidmaat enige van hierdie drie vergaderings (sonder vooraf kennisgewing) as waarnemers bywoon, mits die teenwoordigheid van sodanige lidmate nie die ordelike verloop van die vergadering versteur nie (bv indien dit ʼn groot groep word). Indien steurnis voorkom, mag die vergadering besluit om die deure te sluit. Besoekers is dan verplig om die vergadering te verlaat. Tydens die vergadering is besoekende lidmate verplig om hulle aan die ordereëlings van die betrokke vergadering te hou, maar het geen spreekreg nie. (Sinodale Regskommissie, Mei 2000)

 

4. Riglyne vir die invul van registers

  1. ALGEMEEN

1.1    Noodsaak van ’n lidmateregister

1.1.1    Elke gemeente moet ’n lidmateregister vir doop- en belydende lidmate hê – óf ’n hand­geskrewe (of getikte) register óf ’n gerekenariseerde register óf albei.

1.2 Kontrolering

1.2.1 Kontroleer gegewens deeglik voor elke inskrywing in ’n register om te verseker dat name, vanne, gemeentename en datums korrek is. Die voorletters en vanne van leraars; die name en vanne van alle ander persone; die name van gemeentes; en alle datums moet volledig en korrek verstrek word.

1.2.2 Ten einde die juiste geboortedatum en die spelling van name vir inskrywing in die register te verseker, moet die ouer(s) by die aanmelding vir die doop die dokument toon wat by die registrasie van die kind se geboorte uitgereik is. Ongeregistreerde dooplidmate moet vóór belydenisaflegging ’n doopseel inlewer.

1.3 Afkortings

Die name en vanne van persone en die name van gemeentes moet volledig en korrek verstrek word. Afkortings soos BFN vir Bloemfontein en PE vir Port Elizabeth, en populêr-gebruikte maar nie-amptelike name soos “Groote Kerk” vir Kaapstad en “Bosmanstraat-kerk” vir Pretoria is ontoelaatbaar. Die korrekte name verskyn in die Jaarboek van die NG Kerk.

1.4 Skryfwyse van datums

Datums word volgens die agtsyferstelsel, in die orde van dag, maand, jaar geskryf en met punte verdeel. [Voorbeeld: 3 April 2015 word as 03.04.2015 geskryf]

1.5 Geen herhalingstekens

Geen herhalingstekens of woorde soos “do” of “ditto” is toelaatbaar nie.

1.6 Alfabetiese inskrywings

Inskrywings geskied in alfabetiese orde. Vanne soos Van der Merwe en Van Rensburg kom onder die letter V. ’n Van soos Janse(n) van Rensburg, waar die Janse(n) ’n deel van die van uitmaak en die betrokke persoon dit self so gebruik, kom onder J.

1.7 Ooplaat van reëls

Ter wille van ruimtebesparing word daar normaalweg geen reël tussen twee inskrywings in die lidmateregisters vir doop- en belydende lidmate oopgelaat nie. Om dieselfde rede begin die inskrywings van elke volgende nuwe jaar of termyn nie telkens op ’n nuwe bladsy nie. Waar dit nodig geag word om ’n nuwe jaar of termyn aan te dui, kan ’n reël oopgelaat word, met toevoeging van die jaartal.

1.8 Opmerkingskolom

1.8.1    As algemene reël geld dat niks vermeld mag word wat lasterlik is of ’n stigma dra nie. Opmerkings soos “buite-egtelik”, “vader onbekend” of “enkelouer” is heeltemal ontoelaatbaar.

1.8.2    Inligting wat in die opmerkingskolom van die dooplidmateregister verstrek word, moet verklarend wees ten opsigte van buitengewone omstandighede wat die kerkregtelike posisie van die doopouers, dopeling of bedienaar van die doop raak, of wat op die wese en implikasie van die sakrament betrekking het.

1.8.2.1    Waar die vader of moeder byvoorbeeld nie ’n belydende lidmaat van ’n gemeente is nie, of om ’n ander rede nie by die doop teenwoordig is nie, moet die dooplidmateregister aandui dat die betrokke ouer nie die doopbelofte afgelê het nie. In so ’n geval word met die opmerking “Vader/Moeder lê belofte alleen af” volstaan. Waar by ’n registerinskrywing addisionele inligting van nut kan wees, mag dit – met eerbiediging van die gestelde riglyn – in die opmerkingskolom aangeteken word, selfs al maak die Reglement nie spesifiek daarvoor voorsiening nie.

1.8.2.2    In die geval waar iemand na belydenis gedoop, deur doopouers aangeneem, óf na ouderdom van 7 jaar gedoop word, word dit in die opmerkingskolom aangeteken met verwysing na die datum van die kerkraadsbesluit. [Voorbeelde: “Na oud 7 gedoop. KR 10.02.2015” of “Gedoop na belydenis. KR 10.02.2015”]

 

  1. WYSIGINGS EN/OF AANVULLINGS

2.1    Begripsomskrywing

2.1.1    Rektifikasie [regstelling] beteken om ’n fout in die register, byvoorbeeld “Johannis” tot “Johannes” of 20.04.1967 tot 21.04.1967, reg te stel.

2.1.2    Naamsverandering beteken om ’n bepaalde voornaam of van, byvoorbeeld “Petrus” deur “Hermanus” of “Conradie” deur “Nienaber”, soos dikwels by aanneming gebeur, te vervang.

2.1.3    Versuimde registrasie is die aanvulling van inligting in die register vir doop- of belydende lidmate wat deur versuim direk na die gebeurtenis agterweë gebly het.

2.2    Vorms en adres

2.2.1    Aansoeke vir wysiging/aanvulling word in tweevoud [Sien 2.4 hier onder] op die voorgeskrewe vorm of in die voorge­skrewe formaat en met die nodige bewysstukke/stawende dokumente ingedien

2.2.1.1    by die kerkraad van die gemeente waar die doop plaasgevind het,

2.2.1.2    of in die geval van ’n belydende lidmaat, by die kerkraad van die gemeente waar die inskrywing versuim of foutief is

2.2.1.3    of, wanneer die oorspronklike inskrywing nie opgespoor kan word nie, waar die belydende lidmaat tans aangeteken is.

2.3    Bewysstukke

2.3.1    Ten opsigte van ’n rektifikasie en naamsverandering is die vereiste bewysstukke/stawende dokumente as volg:

2.3.1.1    In die lidmateregister: ’n identiteitsdokument of ’n geboortesertifi­kaat.

2.3.1.2    In die dooplidmateregister: ’n identiteitsdokument of ’n geboorteser­tifi­kaat.

2.3.1.3    In die dooplidmateregister vir ’n wettige aanneming: die aannemingsorder en ’n identiteitsdoku­ment of ’n geboortesertifikaat. Die nommer en datum van die aannemingsorder moet agter die name van die aanneemouers geskryf word. Aangesien die moeder se nooiensvan nie op dié order verskyn nie, moet dit verkry en duidelik op die aansoekvorm ingevul word.

2.3.2    Vereiste bewysstukke/stawende dokumente vir ’n versuimde inskrywing van ’n doop:

2.3.2.1    Skriftelike verklarings van twee betroubare en ongesensureerde lidmate, doopouers uitgesluit, dat die betrokke persoon wel gedoop is

2.3.2.2    of ’n skriftelike verklaring deur die leraar wat die doop waargeneem het, vergesel van ’n afdruk van die betrokke bladsy in die doopkladboek en, indien beskikbaar, ’n doop- of lidmaatskapkaart/-boekie of ’n foto van die gebeurtenis.

2.3.3    Vereiste bewysstukke/stawende dokumente vir ’n versuimde inskrywing van ’n belydenisaflegging:

2.3.3.1    skriftelike verklarings verkry van twee betroubare en ongesensureerde lidmate dat die betrokke persoon wel belydenis van geloof afgelê het

2.3.3.2    of ’n verklaring deur die betrokke leraar vergesel van ’n afdruk van die betrokke bladsy in die lidmaatskapkaart/-boekie.

2.4    Prosedure

2.4.1    Tydens ’n kerkraadsvergadering gaan die kerkraad die aansoek na en keur dit goed.

2.4.2    Hierna word albei die voltooide aansoekvorms saam met die bewysstukke by die argivaris ingedien. [Die aansoek kan ook per e-pos in PDF-formaat ingedien word in welke geval die duplikaat nie nodig is nie. Die nodige bewysstukke moet steeds aangeheg word.]

2.4.3    Die argivaris kontroleer of die aansoek aan al die vereistes voldoen, teken die wysiging/aanvulling in die betrokke registerafskrif aan en stel die kerkraad daarvan in kennis.

2.4.4    Die skriba van die kerkraad bring nou die goedgekeurde wysiging in die oorspronklike register aan.

2.5    Aantekening in registers

2.5.1    Geen skrappings in die registers is toelaatbaar nie. Die korrekte besonderhede word met rooi ink bo die foutiewe gegewens, wat in alle gevalle met rooi ink onderstreep word, ingeskryf. In die opmerkingskolom word daar, ook met rooi ink, aangeteken dat die argivaris dit goedgekeur het, met verwysing na die datum. Die amptenaar wat die wysiging aanbring, parafeer dit met vermelding van sy/haar amp. [Voorbeeld: Arg 10.02.2015 KM Skriba]

2.5.2    By versuimde registrasie word die inskrywing in rooi ink gedoen in die register van die jaar waarin en so naby moontlik aan die plek waar dit versuim is, met, indien nodig, ’n verwysingsnota.

2.5.2.1    In die opmerkingskolom word daar, ook in rooi ink, die nodige aantekening gemaak. Die amptenaar wat die wysiging aanbring, parafeer dit met vermelding van sy/haar amp. [Voorbeeld: Vers reg. Arg. 11.09.2015. ARB Skriba].

2.5.2.2    Indien die inskrywing nie by die spesifieke jaar waar dit versuim is, gedoen kon word nie, moet ’n verwysingsnota by die jaar waar die inskrywing moes plaasgevind het (byvoorbeeld 1983), aangebring word. [Voorbeeld: Jooste, Pieter N – sien 2015].

2.5.3    ’n Skryffout wat in die lopende jaar begaan is, moet dadelik (sonder aansoek om rektifikasie) reggestel word deur die fout met rooi ink te onderstreep en die regstelling in rooi ink daarbo in te skryf. Die skriba parafeer dit.

2.5.3.1    In die registerafskrifte word die korrekte besonderhede dan sonder meer oorgeskryf.

2.5.3.2    ’n Skryffout word gemaak wanneer die skriba wel die korrekte besonderhede ontvang het, maar ’n fout maak met die inskryf daarvan in die register en dit dadelik opmerk.

2.5.4    ’n Naamsverandering in die lopende jaar word hanteer soos in 2.5.1 hier bo.

2.5.5    Waar die persoon se van verander is, moet ’n verwysing in rooi ink gemaak word by die relevante plek. [Byvoorbeeld: “Van der Merwe, Pieter N – Sien by Jooste, Pieter N” moet by die V’s ingevoeg word as die persoon se van van “Jooste” na “Van der Merwe” verander is]

2.6.   Afskrif

2.6.1    Waar ’n gemeente slegs ’n gerekenariseerde register het, moet daar steeds jaarliks ’n Doop- en Lidmaatregisterafskrif gedruk en bewaar word, benewens die stel wat na die Argief versend moet word [Sien 6 hier onder]. Wysigings (soos bedoel in hierdie paragraaf 2) word op hierdie afskrifte (in die gemeente se besit) gedoen én in die gemeente-administrasieprogram.

2.6.2    Die alternatief is dat ’n nuwe stel registerafskrifte vir die betrokke jaar gedruk word, nadat die data op die gemeente-administrasieprogram gewysig is. Dit nuwe stel word saam met die verouderde stel en die goedkeuringsbrief van die Argief bewaar.

  1. DOOPLIDMATEREGISTER

3.1    Van en voornaam

3.1.1    Die dopeling

3.1.1.1    Die dopeling word geregistreer onder die van soos dit op sy/haar identiteitsdokument verskyn met die name van die biologiese ouers voluit geskryf.

3.1.2    Die ouers

3.1.2.1    Slegs die nooiensvan van die moeder word saam met haar volle voorname ingeskryf en nie haar getroude van nie, maar as haar nooiensvan en haar getroude van dieselfde is, word “geb.” duidelikheidshalwe voor haar nooiensvan geskryf. [Byvoorbeeld: Louise geb. Dippenaar]

3.1.2.2    Alle voorname van ouers en dopelinge word voluit geskrywe.

3.1.2.3    Waar die vader of moeder nie ’n belydende lidmaat van ’n gemeente is nie, of om ’n ander rede nie by die doop teenwoordig is nie, moet die lidmateregister vir dooplidmate dit aandui dat die betrokke ouer nie die doopbelofte afgelê het nie (Sien 1.8.2.1 hierbo).

3.2    Buite-egtelike kind

3.2.1    Die dopeling word langs die gewone weg geregistreer.

3.2.2    Slegs die nooiensvan en voornaam van die moeder word ingeskryf. Indien dit ’n weduwee of geskeide vrou is, word haar getroude van in hakies langsaan aangebring [Byvoorbeeld: “Susan Spies (nou Nel)”]. Die reël vir die vader se naam word oopgelaat. In die opmerkingskolom word aangebring: “Moeder lê belofte alleen af” (Sien ook 1.8.2.1 hierbo).

3.3    Aangenome kind

3.3.1    Waar ’n dopeling voor die doopbediening aangeneem is, word die dopeling onder die van van die aannemende ouers ingeskryf en word die name van die aannemende ouers voluit in die ouerkolom ingeskryf.

3.3.2    Indien die kind na die doopbediening aangeneem word en hy/sy ’n ander van kry, word die voorgeskrewe weg vir naamsverandering gevolg (Sien 2 hier bo). Onder geen omstandighede mag die naam van die oorspronklike ouers geskrap word nie. Ter wille van die alfabetiese orde moet ’n verwysing in rooi ink van die nuwe van na die ou van in die betrokke register gemaak word (Sien 2.5.5 hier bo).

3.3.3    Indien slegs die van van die kind verander is, sonder dat die kind wettiglik aangeneem is, kan die name van die ouers nie verander word nie.

3.3.4    By die uitreiking van ’n doopseel of ’n dooplidmaatskapsertifikaat word die volle name van die aannemende ouers sonder meer ingevul.

3.4    Kind in pleegsorg

3.4.1    Waar die dopeling voor die doopbediening in pleegsorg geneem is, word die dopeling onder sy/haar eie van ingeskryf, terwyl die naam van die pleegsorgouers voluit in die ouerkolom verskyn. In die opmerkingskolom word die datum van die kerkraadsbesluit aangeteken. [Voorbeeld: KR 26.02.2015]

3.4.2    Indien die kind na die doopbediening aangeneem word en hy/sy ’n ander van kry, word die voorgeskrewe weg vir naamsverandering gevolg (Sien 2 en veral 2.5.5 hier bo). Onder geen omstandighede mag die naam van die oorspronklike ouers geskrap word nie.

3.5    Doop van kinders ouer as sewe jaar

3.5.1    In die opmerkingskolom moet van die doop van ’n kind van sewe jaar en ouer rekenskap gegee word met vermelding van die datum van die kerkraadsbesluit. [Voorbeeld: KR 26.02.2015]

3.6    Doop van kinderhuiskinders ouer as sewe jaar

3.6.1    ’n Ongedoopte kinderhuiskind van sewe jaar en ouer wie se kinderhuisplasing min of meer ’n permanente vorm aangeneem het, en wat dit begeer, kan gedoop word. Die implikasie is dat ’n persoon of persone naas die eie, pleeg- of aanneemouer by die doop op die formulier kan antwoord en vir die geestelike opvoeding van ’n kinderhuiskind verantwoordelikheid kan neem.

3.6.2    Die kinderhuis of gemeente kan nie korporatief as pleegouer optree vir doeleindes van die aflê van en die uitvoering van die doopbelofte nie. Kerkrade kan wel, nadat die biologiese ouers, waar moontlik, daaroor geraadpleeg is, lidmate van die gemeente wat bereid is om verantwoordelikheid te neem vir die verbondsopvoeding, aanwys om as doopgetuies of geestelike voogde op die formulier te antwoord by die bediening van die doop aan ’n kinderhuiskind van sewe jaar of ouer.

3.6.3    Die dopeling word in die Dooplidmateregister geregistreer onder die van soos dit op sy/haar identiteitsdokument/geboortesertifikaat verskyn met die name van die biologiese ouers voluit geskryf.

3.6.3.1    Indien die naam van een of albei van die biologiese ouers nie bekend is nie, word daar in die betrokke ouerkolom aangeteken dat dit nie beskikbaar is nie. [Voorbeeld: Vader se naam nie beskikbaar nie]

3.6.3.2    Indien die kinderhuiskind ’n buite-egtelike kind is, word slegs die voornaam en nooiensvan van die moeder ingeskryf. Indien die moeder ’n weduwee of geskeide vrou is, word haar getroude van in hakies langsaan aangebring [Byvoorbeeld: “Susan Spies (nou Nel)”]. Die reël vir die vader se naam word in hierdie geval dus oopgelaat (Sien ook 1.8 en 3.2.2 hier bo).

3.6.4    Die volle voorname en van van die doopgetuies wat as doopouers optree, kom voluit in die volgende twee reëls in die kolom vir die ouers. Die nooiensvan van ’n vrou word ingeskryf met haar getroude van in hakies.

3.6.5    In die opmerkingskolom moet van die doop van ’n kinderhuiskind ouer as sewe jaar rekenskap gegee word met vermelding van die datum van die kerkraadsbesluit. [Voorbeeld: KR 26.02.2015]

3.7    Onopspoorbare bewys van dooplidmaatskap

Waar geen dooplidmaatinskrywing opgespoor kan word nie, maar die dooplidmaat (of die dooplidmaat se ouers/voogde) ’n verklaring ingedien het dat hy of sy wel gedoop is en die kerkraad met die verklaring tevrede is [Gebruik 2.3.2 hier bo as riglyn], word die persoon in die lidmateregister ingeskryf. In die opmerkingskolom word aangeteken dat ’n verklaring ingelewer is asook die datum van die kerkraadsbesluit. [Voorbeeld: Verklaring ingel. KR 10.06.2015]

3.8    Doop in ’n ander gemeente

3.8.1    In die geval waar met toestemming van die plaaslike kerkraad die doop in ’n ander gemeente bedien word, registreer die skriba van die gemeente waar die doop bedien is, die doop in die doop­lid­mate­register, maar reik gelyktydig ’n bewys van dooplidmaatskap uit wat aan die gemeente waar die dopeling woonagtig is, gestuur word vir registrasie in dié gemeente se dooplidmate­register.

3.8.2    Die skriba wat die dooplidmaatskap oorplaas, teken in die opmerkingskolom aan van watter gemeente toestemming vir die doop ontvang is. [Voorbeeld: Toest. Maitland]

3.9    Doop van kinders uit ander kerke

In die opmerkingskolom moet van die doop van kinders uit ander erkende kerke rekenskap gegee word deur die kerk te vermeld in die opmerkingskolom. [Voorbeeld: Van RKK Kaapstad]

3.10  Doop van kinders uit buiteland

3.10.1  As lidmate wat net tydelik in die buiteland woon, hulle kind in ’n ander gemeente as hulle tuis­gemeente in Suid-Afrika wil laat doop, moet hulle die skriftelike toestemming van hulle tuis­gemeente verkry. Sien verder 3.8 hier bo.

3.10.2  Waar lidmate wat permanent in die buiteland woon en daar by ’n gemeente inskakel, hulle kind in Suid-Afrika wil laat doop, moet hulle die skriftelike toestemming van hulle gemeente in die buiteland verkry. Die doopgesprek word deur die leraar waar die kind gedoop gaan word, gevoer en na die doop registreer die skriba die doop in die dooplidmateregister, maar reik gelyktydig ’n bewys van dooplidmaatskap uit wat aan die gemeente waar die dopeling woonagtig is, gestuur word vir registrasie. Die opmerkingskolom word voltooi soos in 3.8.2 of 3.9.1.

3.10.3  Waar lidmate wat permanent in die buiteland woon en nie daar by ’n gemeente kan inskakel nie, hulle kind in Suid-Afrika wil laat doop, vra die kerkraad van die gemeente waar hulle wil laat doop, hulle attestate aan vanaf die gemeente waar hulle lidmate was voordat hulle geëmigreer het. Die doopgesprek word deur die leraar waar die kind gedoop gaan word, gevoer en na die doop registreer die skriba die doop in die dooplidmateregister.

3.11  Volwasse doop

3.11.1  Waar ’n volwassene na belydenis gedoop word, word die inskrywing in beide die dooplid­materegister en die belydende lidmateregister gedoen en word dit in die opmerkingskolom aangeteken met ’n verwysing na die datum van kerkraadsbesluit. [Voorbeeld: Gedoop na belydenis. KR 12.03.2015]

3.11.2  Die name van die ouers word steeds voluit in die dooplidmateregister geskryf. Indien die name van die ouers onbekend is, word in die ouerkolom aangeteken: “Name nie beskikbaar nie”. Sien ook 1.8.2.2 hier bo.

3.11.3  Die doopinskrywing van ’n getroude vrou geskied onder haar nooiensvan met die huidige van tussen hakies. [Voorbeeld: Rossouw (nou Nel)]

3.12  Doop na moeder se hertroue

3.12.1  In die geval waar ’n weduwee of ’n geskeide vrou weer trou en die kinders uit die vorige huwelik nog gedoop moet word, word die kinders geregistreer onder die van van die natuurlike (biologiese) vader. Albei die natuurlike ouers se name moet steeds in die ouerkolom aangeteken word. In die opmerkingskolom word aangeteken dat die moeder die belofte alleen afgelê het en dat die vader oorlede is of dat die egpaar geskei is. [Voorbeelde: Vader oorlede op 12.12.1981. Moeder lê belofte alleen af / Geskei op 12.12.1981. Moeder lê belofte alleen af]

3.12.2  Alleen indien die kind se van langs geregtelike weë verander is, kan die kind by die doop onder die nuwe van geregistreer word en slegs indien bogenoemde ouer se nuwe man of vrou die kind wettiglik aangeneem het, kan sy /haar naam, in plaas van die biologiese ouer s’n, in die ouerkolom aangeteken word. In so ’n geval moet die dokumentêre bewys (aannemingsorder in geval van wettige aanneming) aan die betrokke kerkraad voorgelê word. Verder word presies gehandel soos in 3.3.1 uiteengesit.

3.12.3  Indien so ’n aanneming eers na die doop plaasvind, moet langs die voorgeskrewe weg aansoek om naamsverandering in die dooplidmateregister gedoen word (Sien 2.3.1.3, asook 2.4 en 2.5).

3.13  Doopgetuies

3.13.1  Die inskrywing van die name van doopgetuies by ’n “normale doop” word ontmoedig omdat dit eintlik geen kerklike doel dien nie.

3.13.2  Die name van getuies wat as doopouers optree kom in die ouerkolom en wel onder die ruimte vir die ouers se name. Dit gebeur egter slegs wanneer die ouers nie self die dopeling ten doop kan bring nie. Sulke gevalle moet hoogs uitsonderlik wees en deur die kerkraad goedgekeur word en so in die opmerkingskolom aangeteken word [Voorbeeld: Doopgetuies lê belofte af. KR 26.02.2015]. Die naam van die wettige ouers word normaalweg in die ouerkolom geskryf.

3.13.3  Die voorname en van van die doopgetuies word voluit geskryf. Die nooiensvan van die vrou word ingeskryf met haar getroude van in hakies.

3.14  Oorgekom van en vertrek na ’n ander gemeente

3.14.1  Wanneer ’n dooplidmaat met of sonder sy/haar ouers na ’n ander gemeente vertrek, reik die skriba ’n bewys van dooplidmaatskap uit wat in die nuwe gemeente ontvang, afgelees en in die dooplidmateregister ingeskryf word. Die geboortedatum en datum van doop en die naam van die leraar wat die doop bedien het, moet ook op die uitgereikte bewys van dooplidmaatskap verskyn.

3.14.2  Die dooplidmateregister word verder net soos die lidmateregister voltooi. Sien 4.2.1 tot 4.2.5 hier onder.

3.15  Lidmaatskap oor gemeentegrense heen

3.15.1  Sien 4.5.1 hier onder.

  1. DIE BELYDENDE LIDMATEREGISTER

4.1    Aflegging van geloofsbelydenis

4.1.1    Die datum van belydenisaflegging en die geboortedatum van die belydende lidmaat word in die betrokke kolom ingeskryf. Wanneer die belydende lidmaat na ’n ander gemeente vertrek, moet die geboortedatum op die uitgereikte attestaat/bewys van lidmaatskap verskyn.

4.1.2    Wanneer ’n vrou belydenis aflê, word dit onder haar nooiensvan in die register aangeteken en die van behou sy deurgaans in lidmateregisters vir belydende lidmate aan hoeveel gemeentes sy daarna ook al mag behoort en hoeveel male sy ook al mag trou. Dit kan alleen verander word as sy haar nooiensvan wettig laat verander en dan ook aansoek doen om naamsverandering in die lidmateregister vir belydende lidmate. Waar ’n vrou uit ’n ander gemeente of kerk kom en haar getroude van verskyn op die attestaat/bewys van lidmaatskap/verklaring, moet sy nogtans onder haar nooiensvan aangeteken word. Telkens word haar geldende getroude van in hakies bygevoeg. [Voorbeeld: Dippenaar (nou Odendaal)].

4.1.3    Sien 3.11.1 hier bo vir iemand wat na belydenis gedoop is.

4.2    Oorgekom van en vertrek na ’n ander gemeente

4.2.1    In die geval van ’n lidmaat wat by wyse van attestaat of bewys van lidmaatskap uit ’n ander gemeente kom, word die naam van die betrokke gemeente in die regte kolom ingeskryf. Die datum van inskrywing in die register geld as datum van aankoms in die gemeente.

4.2.2    In die geval van ’n vertrekkende lidmaat word die datum wanneer en die gemeente waarheen hy/sy vertrek, in die betrokke kolom ingeskryf op die plek waar die naam oorspronklik in die register ingeskryf is.

4.2.3    Waar ’n getroude vrou by wyse van attestaat of bewys van lidmaatskap van ’n ander gemeente (Sien 4.2.1) oorkom, word haar naam en nooiensvan soos dit op die attestaat of bewys van lidmaatskap voorkom, in die register ingeskryf. Die huidige van word tussen hakies geskryf (Sien ook 4.1.2).

4.2.4    Aangesien ’n predikant se akte van demissie ook sy/haar attestaat is, word sy/haar bevestigingsdatum as die datum van sy/haar oorkoms aangeteken.

4.2.5    Wanneer ’n persoon te sterwe kom, moet dit teen sy/haar naam in die opmerkingskolom aangeteken word. [Byvoorbeeld: Oorl 10.02.2011]

4.3    Oorkoms van ’n ander kerk of Christelike groep

4.3.1    Waar ’n persoon uit ’n ander kerk wil oorkom, doen hy/sy self die nodige om te bedank/bewys van lidmaatskap van die vorige kerk te verkry.

4.3.2    Waar ’n persoon uit ’n ander kerk wil oorkom en – na die voorgeskrewe prosedure – lidmaat van die gemeente word, word die korrekte naam van die vorige kerk in die kolom “VAN WAAR” geskryf en in die opmerkingskolom die datum van die kerkraadsbesluit aangeteken.

4.3.2.1    Lidmate uit kerke wat die Drie Formuliere van Enigheid onderskryf:

4.3.2.1.1    Die kerkraad besluit oor die aansoek om lidmaatskap.

4.3.2.1.2    In die opmerkingskolom van die register word verwys na die datum van die kerkraadsbesluit. [Voorbeeld: KR 10.06.2015].

4.3.2.2    Lidmate uit ander kerke:

4.3.2.2.1    Die aansoeker voltooi Vorm 6 (Verklaring vir ondertekening deur lidmate van ander kerkgenoot­skappe). Nadat daar aan die vereistes voldoen is wat vir die betrokke persoon geld of bepaal is, besluit die kerkraad oor die aansoek om lidmaatskap. In die opmerkingskolom van die register word verwys na die betrokke vorm en datum van die kerkraadsbesluit. [Voorbeeld: Vorm 6; KR 10.06.2015]

4.4    Vertrek na ’n ander kerk

4.4.1    Waar ’n persoon na ’n ander kerk wil oorgaan, bedank hy/sy self en beteken dit die beëindiging van lidmaatskap van die Ned Geref Kerk. Die prosedure van 4.6 hier onder word gevolg.

4.5    Lidmaatskap oor gemeentegrense heen

4.5.1    In alle gevalle waar die kerkraad ’n besluit moes neem, moet die datum van die kerkraadsbesluit in die opmerkingskolom aangeteken word. [Voorbeeld: KR 10.02.2015]

4.6    Verlies van lidmaatskap en herregistrasie

4.6.1    Aangesien die NG Kerk geen interkerklike attestaat of bewys van lidmaatskap het nie en die oorgaan van lidmate by wyse van ’n “Verklaring insake lidmaatskap” (Vorm 7) moet geskied, moet verlies van lidmaatskap (byvoorbeeld: oorgaan na ’n nie-erkende kerk of afsnyding) en oorgaan na ’n erkende kerk (byvoorbeeld: om huweliksredes na ’n kerk met ’n gereformeerde belydenis) op presies dieselfde wyse hanteer word deur die uitreiking van ’n Vorm 7 ná besluit deur die Kerkraad.

4.6.1.1    Indien verlies van lidmaatskap gedurende die jaar van oorspronklike registrasie geskied, word dit in die opmerkingskolom aangeteken dat die lidmaatskap verval het. Die datum van die kerkraadsbesluit word ook vermeld. [Voorbeeld: Lm verval. KR 10.02.2015.]

4.6.1.2    Indien verlies van lidmaatskap buite die jaar van oorspronklike registrasie geskied, word dit by die oorspronklike inskrywing in die opmerkingskolom, met verwysing na die datum van die kerkraadsbesluit, aangeteken. Met vermelding van die naam, jaar van inskrywing en datum van die kerkraadsbesluit, word die saak per brief aan die Argief oorgedra vir aantekening in die betrokke registerafskrif.

4.6.1.3    Indien die naam van die kerk waarheen die persoon oorgegaan het, bekend is, moet dit ook in die opmerkingskolom aangeteken word. [Voorbeeld: Lm verval. Oor na RKK. KR 10.02.2015.]

4.6.1.4    Wanneer ’n persoon by wyse van belydenisaflegging of oorkoms weer lidmaat word, word dit so in die register aangeteken met verwysing na die kerk en die datum van die kerkraadsbesluit in die opmerkings­kolom.

4.6.1.5    Waar ’n persoon ’n gemeente verlaat sonder om by ’n ander kerk aan te sluit en dan weer na berou na die kerk terugkeer, moet hy/sy weer belydenis van geloof aflê en dit moet so in die register aangeteken word. By verlating word in die opmerkingskolom aangeteken dat die lidmaatskap verval het.

4.7    Onopspoorbare bewys van lidmaatskap

4.7.1    Waar geen lidmaatinskrywing opgespoor kan word nie, maar die lidmaat ’n verklaring ingedien het dat hy of sy wel belydenis van geloof afgelê het in ’n Ned Geref gemeente en die kerkraad daarmee tevrede is, word die persoon in die lidmateregister ingeskryf. In die opmerkingskolom word aangeteken dat ’n verklaring ingelewer is asook die datum van die kerkraadsbesluit. [Voorbeeld: Verklaring ingel. KR 10.06.2015]

  1. HUWELIKSREGISTER(OPSIONEEL)

5.1    In elke gemeente word die huwelike wat daar bevestig word in ’n huweliksregister aangeteken (gebruik die “Kerklike Huweliksaantekening­boek”, beskikbaar by Bybel-Media). Hierdie huweliksregister is nie die huweliksbevestiger se huweliksregister nie, maar ’n register van huwelike wat in die betrokke kerkgebou of gemeente bevestig is.

5.2    Hierdie registers word sover moontlik ook deur die kerkraad se argiefkommissie gekontroleer en moet, net soos in die geval van ander registers, na die Argief gestuur word wanneer dit nie meer deur die gemeente benodig word nie.

  1. REGISTERAFSKRIFTE

6.1    Alle afskrifte moet ’n korrekte en getroue weergawe van die oorspronklike registerinskrywings wees. Vertrekkende lidmate word nie aangeteken nie, behalwe as hulle vertrek het in dieselfde kerkjaar as wat hulle aangekom het.

6.1.1      As ’n register egter gebrekkig aangelê is, beteken dit nie dat die gebreke in die afskrifte herhaal moet word nie. Die gegewens in die register moet met ander woorde in hul korrekte vorm oorgeskryf of-getik word. Die kerkraad moet die afskrifte nagaan:

6.1.1.1       deur al die besonderhede in die lidmateregister vir dooplidmate met dié in die doopkladboek te vergelyk;

6.1.1.2       deur die name in die lidmateregister vir belydende lidmate met die attestate/bewyse van lidmaatskap en die lys van name van persone wat belydenis afgelê het, te vergelyk;

6.1.1.3       deur die teenblaaie van die lidmaatsertifikaat- en attestaatboek met die lidmateregisters vir belydende lidmate te vergelyk en

6.1.1.4       deur die besonderhede in die afskrifte noukeurig met dié in die lidmateregisters vir doop- en belydende lidmate te vergelyk.

6.1.2      Die parafering en handtekening van die kommissie/persone deur die kerkraad aangewys, beteken dat die afskrifte nagegaan, waar nodig gekorrigeer en uiteindelik as korrek gesertifiseer is. Alle wysigings moet ook geparafeer word.

6.2    Voltooiing van die registerafskrifte

6.2.1    Op die voorblad verskyn slegs die naam van die gemeente en die tydperk waaroor die afskrifte strek. Die naam van die gemeente en die jaartal word verder op elke bladsy aangedui.

6.2.2    Lê die binneblaaie soos ’n boek oop. Begin met die inskrywings op die agterkant van die eerste blad en gaan dan voort soos dit in die register voorkom. Nommer die bladsy so dat wanneer die “boek” oop lê, die registrasieruimte op elkeen van die twee velle dieselfde nommer kry.

6.2.3    Daar mag geen bladsye tussenin oopgelaat word nie. Moet dus nie elke letter van die alfabet op ’n nuwe bladsy begin nie. Hoogstens mag daar tussen die name wat met verskillende letters van die alfabet begin, ’n reël oopgelaat word.

6.2.4    Geen gewone regstelling mag bo-oor ’n skryffout van die registerhouer aangebring word nie. Die fout moet met rooi ink onderstreep en die regstelling in rooi ink daarbo ingeskryf word. Alle regstellings word geparafeer. Let wel: ’n gewone regstelling of korreksie is geen wysiging of rektifikasie nie.

6.2.5    Op die laaste bladsy van die afskrifte en net onder die laaste inskrywing sertifiseer die kerkraad dat die afskrifte ’n korrekte en getroue weergawe van die oorspronklike register is. Elke binnebladsy word ook regs onder klein en netjies geparafeer.

6.2.6    Voltooide afskrifte moet nie opgerol of gevou word nie.

6.3    Gebrekkige registerafskrifte

Die kerkraad moet toesien dat alle stukke wat deur die argief vir verbetering, aanvulling of vervanging na hulle kerkraad terugverwys is, binne vier weke aan die Argivaris terugbesorg word. (Sien ook Reglement 4.3: 3.2.9).

6.4 Registersrekenaar

6.4.1    Waar gemeentes hulle registers en/of registerafskrifte op rekenaar doen, geld al die voorskrifte soos reeds genoem. Sien veral 1.2 tot 1.6 hierbo.

6.4.2    Let ook op die volgende vereistes (Sien Reglement 4.3: 2.2.2 tot 2.2.5):

6.4.2.1    Die papier wat gebruik word, moet duursame A4-papier wees wat 100 gram per vierkante meter weeg. Argiefpapier is beskikbaar by Bybel-Media.

6.4.2.2    Drukwerk moet met netjiese en leesbare lettertipes gedoen word met ink wat nie maklik verbleik of uitgewis kan word nie.

6.4.2.3    Die spasiëring tussen lyne mag nie kleiner as die huidige spasiëring wees nie. Indien ongelinieerde papier gebruik word, moet lyne daarop aangebring word. Inskrywings moet steeds genommer word.

6.4.2.4    Daar moet voorsiening gemaak word vir presies dieselfde kolomme in dieselfde volgorde as in die oorspronklike registers (dit hoef nie noodwendig dieselfde wydte te wees nie). Indien ongelinieerde papier gebruik word, moet kolomlyne daarop aangebring word.

6.4.2.5    Drukwerk moet op beide kante van die papier wees, met genoeg spasie vir inbinding (lê die binneblaaie soos ’n boek oop – die regterkantlyn van die linkerbladsy en die linkerkantlyn van die regterbladsy moet ten minste twee sentimeter wees).

6.4.2.6    Sommige van die rekenaar sagteware programme wat gebruik word om afskrifte van lidmate­registers te druk, kan nie al die vereistes van 6.4.2 hier bo nakom nie. Dit word egter wel onder bepaalde omstandighede deur die Argief aanvaar. Skakel asseblief vooraf met die Argief om te verneem of ’n bepaalde pakket se drukstukke vir die Argief aanvaarbaar is.

 

5. Reëls van die Mediesefonds

Dekking onder ʼn geregistreerde Mediesefonds is verpligtend vir alle werknemers wat daarvoor kwalifiseer. Meeste van die gemeentes is as groep ingeskakel by Namibia Medical Care. Die reëls van hierdie fonds is by die Sinodale Kantoor beskikbaar.

 

6. Die Ned Geref Kerk en ander Christelike kerke en groepe

Vergelyk AS Regl 22:1-3

  1. BEPALING VAN DIE VERHOUDING TOT ANDER KERKE EN GROEPE

1.1    Die Woord van God is die primêre maatstaf en basis by die bepaling van die NG Kerk se houding teenoor en verhouding tot ander kerke en godsdienstige groepe.

1.2    Hoe ʼn kerk die Bybel verstaan, die hoofsaak van die boodskap van die Bybel interpreteer en dit op die lewe toepas, staan uitgedruk in die kerk se belydenisskrif(te).

1.3    Die belydenisgrondslag wat die NG Kerk onderskryf en waaraan hy hom gebonde ag, is:

1.3.1    Die drie ekumeniese belydenisse, nl. die Apostoliese Geloofsbelydenis, die Geloofsbely­denis van Nicea en die Geloofsbelydenis van Athanasius, wat die NG Kerk met die meeste ander Christelike kerke deel.

1.3.2    Die drie Formuliere van Eenheid, nl. die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls, wat die NG Kerk met ʼn aantal gereformeerde kerke deel en wat die eiendomlike van die NG Kerk is.

1.4    Die NG Kerk se belydenisgrondslag is ondergeskik aan die Bybel en moet steeds daaraan getoets word.

1.5    Dit is nie voldoende dat ʼn belydenis op papier staan of dat iemand dit op ʼn stadium in die verlede onderskryf het nie. Daar moet ook gevra word of ʼn bepaalde kerk en sy lidmate hulle daardeur gebonde ag en of die belydenis in ʼn godvrugtige lewe konkreet word.

1.6    Die gesamentlike kriteria vir bepaling van die NG Kerk se houding teenoor en verhouding tot ander kerke en groepe is dus die wil van God Drie-enig soos in die Bybel weergegee, en weerspieël in

  • die Belydenis
  • die Kerkorde
  • die erediens
  • die Christelike lewenswandel, diens en getuienis.

(Sien Agenda van die Algemene Sinode 1994, bl 66, punt 14.2.1 tot 14.2.5 vir ʼn bespreking van dié kriteria).

2    GROEPERINGE VAN DIE CHRISTENDOM

2.1    Om kerke en Christelike groepe in te deel, is moeilik omdat sekeres in meer as een kategorie pas en ander nêrens. Verder moet daar rekening gehou word met die feit dat kerke nie staties is nie, maar gedurig besig is om te verander en dat sekere kerke gekenmerk word deur ʼn patroon van wyduiteenlopende modaliteite wat onder een struktuur gehuisves word. Oor die aard en graad van die NG Kerk se verhouding tot onderstaande kerke word deur die Algemene Sinode beslis (vgl ook 3.1.2, 3.1.4, 3.2 en 3.3).

2.2    Hier word uitgegaan van die groot groeperinge van die Christendom soos dit in die geskiedenis ontvou het, nl.

2.2.1          Gereformeerde kerke

Waaronder die Familie van NG Kerke, die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika, die Afrikaanse Protestantse Kerk, die Presbiteriaanse Kerke (Uniting Presbyterian Church in Southern Africa, Evangelical Presbyterian Church), die Church of England in Southern Africa, die United Congregational Church of Southern Africa, die Volkskerk van Afrika, die Calvyn Protestantse Kerk en die Rynse Kerk.

2.2.2          Ander Protestantse kerke

Waaronder die Lutherse kerke, die Anglican Church of South Africa (die Anglikaanse Kerk), die Methodist Church of Southern Africa, die Baptiste Kerke (in onderskeiding van die charismatiese baptiste kerke) en die Evangelies Gereformeerde Kerk.

2.2.3          Pinkster en Charismatiese kerke

  • Die pinkstergroepe, bv. die Apostoliese Geloofsending van Suid-Afrika, die Volle Evangelie Kerk,  die Pinkster Protestantse Kerk en die Assemblies of God.  Charismatiese groepe, bv. die Hatfield Christian Church/Centre en Rhema.
  • Ander, bv. die Kerk van die Nasarener, Lede in Christus en die Sewende Dag Adventiste[57].

2.2.4          Nie-Reformatoriese Kerke

Waaronder die Rooms Katolieke Kerk en die Oosters Ortodokse Kerke.

2.2.5          Afrika Onafhanklike Kerke

2.2.6          Ander groepe

Waaronder die Jehovasgetuies, die Christian Science, die Church of Jesus Christ of the Latter Day Saints (die Mormone) en die Apostelkerke (die Ou Apostel Kerk, die Nuwe Apostel Kerk, die Apostel Eenheid, die Twaalf Apostels, ensovoorts).

  1. PRAKTIESE TOEPASSING VAN DIE KRITERIA

3.1    Samewerking met ander Christelike Kerke

3.1.1    Die NG Kerk sal alles doen om op ʼn verantwoordelike wyse, sonder prysgawe van die eie standpunt, met ander Christelike kerke saam te stry vir die behoud van die Christelike lewensbeginsels.

3.1.2    Die graad en wyse van samewerking sal in elke geval bepaal word deur die graad van ooreenstemming ten opsigte van belydenis, kerkorde, erediens en siening van die Christelike lewenswandel van die betrokke kerk (vgl 1.6 hierbo).

3.1.3    Ekumene moet deur alle kerkver­gaderinge beoefen word te wete die Algemene Sinode, sinodes, ringe en kerkrade. Dit is nodig om te beklemtoon dat plaaslike ekumene op die agenda van elke kerkraad moet bly.

3.1.4    Die Algemene Sinode bepaal die beleid oor die aard en graad van ekumeniese verhoudinge (vgl KO Artikel 70).

3.2      Verlening van kerklike voorregte sonder oordrag van lidmaatskap

3.2.1          Die doop

3.2.1.1    Die doop word aan kinders van lidmate van kerke uit die eerste vier groeperinge, wat nie die verbondsdoop verwerp nie, bedien, mits hulle skriftelike verlof daartoe van die betrokke kerkraad of instansie van die kerk waaraan hulle behoort, ontvang het.

3.2.1.2    Lidmate van kerke uit die eerste vier groeperinge wat nie die verbondsdoop verwerp nie, kan, met toestemming van hulle eie kerkraad en na die dooponderhoud, toegelaat word om saam met hulle eggenoot/eggenote, wat lidmaat van die NG Kerk is, by te staan by die doopbediening van hulle kinders en ook op die vrae te antwoord.

3.2.1.3    Lidmate van kerke wat die verbondsdoop verwerp, persone uit groepering 5 en 6, asook mense wat Christus bely, maar nie formeel aan ʼn kerk behoort nie, kan na die dooponderhoud toegelaat word om saam met hulle eggenoot/ eggenote, wat lidmaat van die NG Kerk is, by te staan by die doopbediening van hulle kinders sonder dat die vrae aan hulle gestel word en hulle daarop moet antwoord.

3.2.1.4    Die kerkraad van ʼn NG gemeente kan aan lidmate toestemming verleen om hulle kinders in ʼn gemeente van ʼn kerk uit die eerste twee groeperinge (vgl 2.2.1 en 2.2.2 hierbo) te laat doop.

3.2.2          Die nagmaal

3.2.2.1    In gemeentes van die NG Kerk mag besoekers die nagmaal gebruik op voorwaarde dat hulle toegang en vrymoedigheid daartoe in hulle eie gemeentes het.

3.2.2.2    Die volgende sou as moontlike voorbeeld kon dien van ʼn uitnodiging tot deelname aan die nagmaal: “Aangesien die kerk van Christus meer omvattend is as slegs hierdie gemeente word elkeen van u wat u persoonlike verlossing in Jesus Christus gevind het, in u eie gemeente toegang tot die nagmaal en vrymoedigheid daartoe het en wat u kan vereenselwig met die leer oor die nagmaal, soos dit in die formulier aan u voorgehou is, uitgenooi om aan hierdie nagmaalsfees deel te neem. Wie egter die genadewerk van God minag en tog deelneem, eet en drink ʼn oordeel oor hulle self.”

3.2.2.3    In ekumeniese verhoudinge op sowel gemeentelike as sinodale vlak word wedersydse toeganklikheid al dan nie van die betrokke kerke bespreek en dienooreenkomstige gedragswyses bepaal.

3.2.2.4    Lidmate van ʼn NG gemeente kan op besoek in ʼn ander kerk nagmaal gebruik indien daardie kerk dit toelaat. Lidmate behoort dus voortdurend ingelig te word oor die sin van die nagmaal en die implikasies wat dit het vir die wyse waarop ʼn mens as nagmaalsgas in ander gemeentes en kerke optree. Hierdie inligting kan verskaf word deur die prediking, die inkleding van die liturgie en die kategese.

3.3   Oorkoms na ʼn NG-gemeente

3.3.1          Algemeen

3.3.1.1    Geloof in die God van die Heilige Skrif soos dit in die Formuliere van Eenheid tot uitdrukking kom, is die enigste voorwaarde om aan ʼn NG gemeente as gemeente van Christus te behoort.

3.3.1.2    Lidmaatskap van alle NG gemeentes is oop vir enige gelowige wat die belydenis van hierdie kerk aanvaar.

3.3.1.3    Die opneem van lidmate uit ander kerke is in beginsel en praktyk ʼn gemeentelike aangeleentheid wat onder die toesig van die kerkraad en in ooreenstemming met die amptelike ordereëlings plaasvind.

3.3.1.4    In elke geval waar iemand uit ʼn ander kerk of groep na ʼn NG gemeente wil oorkom/ terugkom, moet ʼn deeglike pastorale gesprek gevoer word oor alle aspekte van die leer en lewe van so iemand (vgl hier ook 1.6 hierbo) en oor die beweegredes vir die aansoek.

3.3.1.5    Tydens hierdie pastorale gesprek moet rekening gehou word met die feit dat nie alle lede van ʼn bepaalde kerk dieselfde geestelike ingesteldheid en geestelike peil het of dieselfde opvattinge huldig nie.

3.3.2          Aanvaarding van doop

3.3.2.1    Die doop van persone uit ander kerke word aanvaar mits dit

  • geskied het in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees;
  • met water bedien is, en
  • bedien is deur ʼn persoon wat afgesonder is vir die bediening van die Woord en die sakramente.

3.3.2.2    Die doop van persone wat in een van die Apostelkerke (waaronder die Ou Apostel Kerk, die Nuwe Apostel Kerk, die Apostel Eenheid en die Twaalf Apostels) gedoop is, word nie aanvaar nie.

3.3.3          Belydende lidmaatskap

3.3.3.1    In die pastorale gesprek met persone wat uit kerke uit die eerste twee groeperinge van kerke na ʼn NG gemeente wil oorkom, word gelet op punte van verskil in leer en lewe sodat die persoon die leer van die NG Kerk heelhartig kan onderskryf.

3.3.3.2    Van persone uit kerke uit groepering 3 en 4 word naas die pastorale gesprek ook gedeeltelike of volledige onderrig met belydenis van geloof voor ʼn kommissie van die kerkraad of voor die gemeente vereis.


Voetnote

[1]     Vergelyk Artikel 10 van die Kerkorde.

[2]    “Predikant” verwys na “bedienaar van die Woord”, “leraar”, “evangeliedienaar” en het die begrippe ooreenstemmende betekenisse. Waar in hierdie Kerkordeboek na die manlike verwys word, sluit dit ook die vroulike in en omgekeerd, tensy spesifiek anders vermeld.

[3]    Vergelyk die Kerkorde Artikel 55.

[4]     Vergelyk die Reglement vir die Opleiding en Legitimasie van Predikante, 4.1.1.

[5]     Vergelyk die Reglement vir die Opleiding en Legitimasie van Predikante, 4.1.2.

[6]     Vergelyk Reglement vir die Beroep, Bevestiging, Demissie en Emeritaat van Predikant en Beleid, Funksionele Besluite en Riglyne, punt 5

[7]     Bona fide redes is wanneer ’n predikant bedank uit die werkkring sonder dat daar enigsins sprake is van dissiplinêre en/of tugoptrede. Redes kan inhou dat die predikant vir die huidige nie die weg oopsien om voort te gaan met die bediening nie.

[8]     Met die toekenning van proponentsbevoegdheid kan die volgende ook oorweeg word, naamlik: “dra die ander betrekking ’n geestelike karakter wat regstreeks met die verkondiging van die Woord in verband staan en ten bate van die Nederduitse Gereformeerde Kerk geag word”?

[9]    Vergelyk die Reglement vir die Bestuur van Diensverhoudinge by Ongeskiktheid en Onvermoë.

[10]   Vergelyk die A tot Z-beleid vervat in die Kerkordeboek of geplaas op die webblad van die NG Kerk www.ngkerk.org.za.

[11]   Vergelyk Funksionele Besluite: Predikant: aftreeouderdom.

[12]   Vergelyk die Reglement vir Vaste Termynposte, 4.

[13]   Vergelyk Artikel 48.3.5 van die Kerkorde.

[14]   Vergelyk Artikel 4 en 21 van die Kerkorde.

[15]   Vergelyk die Reglement vir Appèl en Beswaar, 1.1.2, 1.3 en 2 tot 6.

[16]   Vergelyk Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 30. Die beginsel word gehandhaaf dat alle predikante, ouderlinge en diakens in die kerkraad (kerkraad en/of gedesentraliseerde kerkrade) moet dien (vergelyk Artikels 26.2 en 27.1).

[17]   Gedesentraliseerde kerkrade word saamgestel uit die predikant(e), ouderlinge en diakens, aangewys deur die kerkraad. Met die term “gedesentraliseerde kerkraad” word enige groepering in die gemeente verstaan.

[18]   Vergelyk die Reglement vir Vermeerdering, Kombinering, Eenwording en Samesmelting van Gemeentes.

[19]   Dit staan ringe vry om die pligte wat in NGKN Regl 12 aan die skriba van die ringskommissie opgedra word, óf aan een van die verkose lede van die ringskommissie op te dra, óf ʼn addisionele lid te koöpteer vir die taak.

[20]   Die onderskeie sinodes het verskillende benaminge (bv. moderamen, diensraad, sinodale dienskommissie) vir die liggaam wat die funksies van die sinodale kommissie verrig.

[21]  Appèl/beswaar is ingedien teen die Algemene Sinode 2015 se goedkeuring van Artikel 35.7.  Op grond hiervan is die inwerkingtreding van die AS 2015-besluite oor die uitbreiding van die belydenisgrondslag opgeskort tot na die afhandeling van die appèlle. Die opskorting beteken nie die nietigverklaring van genoemde besluite nie.

[22] Gemeentelike Ontwikkeling: Bv Jeug en families, Spiritualiteit en erediens, Fasilitering, Fokus bedieninge, Vrouebediening, Mannebediening, Leerstellige besinning; Leierskapsontwikkeling: Bv Predikanteversorging (oa mentoraatskap, en standplaasverwisseling),  Ontwikkeling van administratiewe personeel, Ontwikkeling van kerkrade, kerkraadslede en gemeenteleiers; Gemeenskapsroeping: Maatskaplike werk, Bejaardesorg, Getuienis, Publieke gesprek en gemeenskaps­ont­wikkeling

[23]   Vergelyk die Reglement vir die Algemene Sinodale Moderamen.

[24]   ’n Sinode/ring wat in ’n staat buite die Republiek van Suid-Afrika funksioneer, behartig die openbare getuienis en die verhouding en ooreenkomste met daardie staat en ander samelewingsverbande, namens die kerkverband.

[25]   Hierdie Artikel moet saamgelees word met die Reglement vir Kerklike Goedere.

[26]   Vir die wyse waarop die besluit van kerkrade oor die verandering van die belydenisgrondslag van die NG Kerk hanteer word ten einde die instemming en approbasie van ten minste twee derdes van belydende lidmate van gemeentes met die besluit te verkry, vergelyk die Reglement vir die Prosedure wat Gemeentes volg by die Voorgestelde Wysiging van Belydenis.

[27]   Onder ’n bevoegde predikant wat eredienste kan lei, word verstaan ’n persoon met ampsbevoegdheid in die NG Kerk of ’n ander kerk van gereformeerde belydenis. Wanneer ’n kerkraad aan ’n persoon wat nie sodanig bevoeg geag word nie ’n uitnodiging rig om ’n erediens te lei, word daar strydig met die Kerkorde gehandel (Handelinge Algemene Sinode 1998, bl 409, 1.19.2.2). Vergelyk die Reglement vir die Verhouding tot ander Kerke en Groepe.

[28]   Vergelyk Funksionele Besluite: Riglyne vir die lei van eredienste deur ouderlinge

[29]   Vergelyk Funksionele Besluite: Doop.

[30]   Vergelyk Artikel 48.3.1 tot 48.3.3 van die Kerkorde met voetnota.

[31]   Die meriete van so ’n versoek word deur die kerkraad beoordeel.

[32]   Vergelyk Funksionele Besluit: Nagmaal: gereelde viering van die nagmaal.

[33]   Vergelyk Funksionele Besluit: Nagmaal: praktyk van toelating van kinders by die nagmaal.

[34]   Vergelyk die Reglement vir die Verhouding tot ander Kerke en Groepe, 3.2.2.1 en 3.2.2.2.

[35]   Hierdie Artikel moet saam gelees word met die Reglement vir Kerklike Goedere.

[36]   Vergelyk die Reglement vir Tug en Dissipline.

[37]   Vergelyk die Reglement vir Appèl en Beswaar.

[38]   Vergelyk die Reglement vir die Reëling van die Bevoegdheid van Predikante en Proponente.

[39]   Vergelyk die Reglement vir die Verhouding tot ander Kerke en Groepe.

[40]   Die Namibiese sinode het hierby die addisionele reëling getref dat die vergadering eers die aantal ouderlinge en diakens wat verkies moet word, vasstel. Voorts moet die helfte van die kerkraadslede wat verkies is en deur die lot aangewys word, tydens die eerste daaropvolgende jaarlikse bevestiging van kerkraadslede aftree (Bep. 15.4.1). Indien sodanige verkiesing agter gedurende die tweede helfte van die jaar plaasvind sal hierdie aftreding tydings die volgende jaar se jaarlikse bevestiging van kerkraadslede verkies. (Vgl. Punt 16 van Regl C2 van 1999.)

[41]   Verskillende sinodes het verskillende name (bv. moderamen, diensraad, sinodale dienskommissie) vir ’n liggaam wat die funksies van die sinodale kommissie verrig.

[42]   Die Namibiese sinode het hierby die volgende addisionele reëlings getref: (1) Die kerkraad van die nuutgestigte gemeente moet binne drie maande ná die stigting ’n leraar beroep. (2) Koste van ringsweë aangegaan in verband met die stigting van die nuwe gemeente asook die vasstelling of verandering van grenslyne by die stigting van sodanige gemeente, word deur die ring gedra. (3) Geskille wat ontstaan by die afstigting van ’n gemeente tussen gemeentes onderling, of tussen kerkrade en die ringskommissie, of tussen die afstigtende gemeente en die ringskommissie, word voor die ringsvergadering gebring vir beslissing. (4) Geskille wat tussen ringe by die stigting van nuwe gemeentes mag ontstaan, word na die moderamen verwys vir beslissing.

[43]   Voorbeelde is: voortgesette diens teen verminderde diensvoordele en -verpligtinge, tentmakerbediening, aanstelling  in ’n ander pos, standplaasverwisseling en kombinasie.

[44]   Kerkrade moet hulle voor die beëindiging van diens weens mediese ongeskiktheid vergewis van die bepalinge van  die betrokke reglement.

[45]   Die  koste  van  ’n  appèlsaak  word  beperk  tot  die  billike  koste  verbonde  aan  die  vergader-,  reis-,  duplisering-  en  administratiewe uitgawes.

[46]   Die moderamen het in Februarie 2016 besluit dat die die Kuratorium voortaan uit 1 verteenwoordiger uit elke ring, die Aktuarius van die sinode, die predikant met opdrag Renovaré en die Algemene Sekretaris sal bestaan.  Die moderamen het voorts goedgekeur dat die kuratorium nou reeds op hierdie wyse saamgestel word al sal die reglementswysiging eers by die eersvolgende sinode afgehandel kan word.

[47]   Wangedrag deur ’n predikant as werknemer in diens van ’n gemeente/kerkverband, kan ook ’n tugwaardige sonde wees. Die term tug word gebruik vir die kerklike handeling waarmee ’n predikant as lidmaat en ampsdraer in verband met gemeentelike verhoudinge (leer en lewe) opgevoed, tot orde geroep en getug kan word. Die term dissipline word gebruik vir die kerklike handeling waarmee ’n predikant as werknemer in verband met diensverhoudinge opgevoed, tot orde geroep en gedissiplineer kan word. ’n Tug- óf dissiplinêre verhoor kan dus plaasvind, maar wanneer beide tug en dissipline ter sprake is, word daar na ’n tug- én dissiplinêre verhoor verwys.

[48]   Ergerlike wangedrag kan onder meer die volgende behels: owerspel, onsedelikheid, egskeiding, moord, meineed, diefstal en leerdwaling.

[49]   Bona fide redes is wanneer ‘n predikant uit sy werkkring bedank sonder dat daar enigsins  sprake is van tug- en/of dissiplinêre optrede. Redes kan inhou dat die predikant vir die huidige nie die weg oopsien om met die bediening  voort te gaan nie.

[50] Vir volledige beskrywing van Studieverlof, vergelyk Bestuurshandleiding vir Diensverhoudinge, Hoofstuk 2, 15.7.

[51]   Verlof vir Gesinsverantwoordelikheid is in die volgende gevalle van toepassing: geboorte van kind, siekte van kind,  of die dood van die werknemer se huweliksmaat, ouer, aanneemouer, grootouer(s), broer of suster, kind, aangenome  kind of kleinkind.

[52]   Predikante wat in terme van hulle diensooreenkomste nog op langverlof geregtig is (wat nou uitfaseer) of langverlof  vir  ’n  ander  gelykwaardige  diensvoordeel  (soos  verhoogde  mediese-  of  pensioenvoordele)  prysgegee  het,  is  nie  sonder meer op sabbatstyd geregtig nie. Daaroor moet opnuut onderhandel en ooreengekom word.

[53]   Die begrip ‘deeltyds’ verwys na die bediening van ’n predikant wat in ’n bepaalde gemeente bevestig is en wat volgens diensooreenkoms vir ’n vasgestelde gedeelte van sy tyd slegs ’n gedeelte van sy lewensonderhoud van die gemeente ontvang.

[54]   Die begrip ‘voltyds’ verwys na die bediening van ’n predikant wat in ‘n bepaalde gemeente bevestig is en wat volgens diensooreenkoms sy volle lewensonderhoud van die gemeente ontvang.

[55]   Vergelyk onder meer bepaling 2.4.2 van die Reglement vir die Bestuur van Diensverhoudinge by Wangedrag, Ongeskiktheid en Onvermoë.

[56]   Verwagtinge moet nie geskep word dat die pos gekontinueer word nie. Diensooreenkomste moet nie na verstryking van die termyn stilswyend voortgesit word nie.

[57]  Hierdie twee kerke word vir praktiese redes hier geplaas